Vinnige feite

Nasionale Vrouemonument, Bloemfontein
  • Die monument is op 16 Desember 1913 amptelik onthul.
  • ’n Oorlogsmuseum kan ook by die Nasionale Vrouemonument aangetref word. Dié museum spog met aandenkings uit die Anglo-Boereoorlog, onder meer wapens en ander voorwerpe uit daardie tyd.
  • ’n Entjie van die monument is ’n sementblad met wawielspore, wat daar aangebring is tydens die simboliese ossewatrek van 1938.
  • Die instandhouding van die monument word deur Afrikaanse organisasies en instellings behartig en is private eiendom.

Die Nasionale Vrouemonument is in 1913 in die suide van Bloemfontein in die Vrystaat opgerig, ter nagedagtenis aan die vroue en kinders wat van 1899 tot 1902 tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gesterf het. 1

Onder leiding van pres. Marthinus Theunis Steyn (die laaste president van die Vrystaatse Republiek) is daar in Februarie 1907 ʼn konferensie in Bloemfontein gehou om die oprigting van ʼn monument ter nagedagtenis aan die bykans 28 000 vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog omgekom het, te bespreek. Daar is kort ná afloop van hierdie gesprek met ʼn geldinsamelingsveldtog begin, en vier jaar later was daar R20 000 vir dié doel ingesamel. Die beeldhouer Anton van Wouw en die argitek Frans Soff was onderskeidelik vir die ontwerp en die bou van die monument verantwoordelik. ʼn Addisionele 5 000 pond is later ingesamel omdat Van Wouw se ontwerp 11 000 pond sou kos en pres. Steyn 4 000 pond vir instandhouding geoormerk het. 2

Gedurende 1912 was daar bedenkinge oor die oprigting van die monument. Die grootste teenkanting het van Engelssprekende lede van die stadsraad gekom. Hulle was bekommerd wat die gevolg sou wees op die versoeningspolitiek so kort ná die oorlog. Ná hewige debat is daar egter ingestem om met die bou van die monument voort te gaan.

Emily Hobhouse

Die monument bestaan uit ʼn 37 meter hoë gedenknaald van bruin sandsteen met ʼn beeldgroep aan die voetstuk en geskiedkundige panele aan weerskante. Die beeldgroep is deur Emily Hobhouse geskets. Die roerende beelde bestaan uit twee vroue. Die eerste vrou sonder ʼn kappie hou haar sterwende kind vas. Die tweede vrou tuur in die verte terwyl sy na die Here uitroep om die onreg te aanskou. Die sentrale beeldgroep simboliseer smart en hoop, terwyl die reliëfpanele die ervarings van die vroue en kinders tydens die oorlog uitbeeld. Die beeldgroep word deur ʼn “fluistermuur” omring, wat enige geruis of klanke wat naby die muur aan die binnekant gemaak word, reg rondom eggo.

Onthulling

Die monument is op 16 Desember 1913 amptelik onthul. Meer as 20 000 mense was teenwoordig, en pres. Steyn se vrou, mev. Rachel  Isabella (Tibbie) Steyn, het die onthulling waargeneem. Pres. Steyn was glad nie meer gesond tydens die onthulling nie. Hy het dit wel bygewoon, maar sy boodskap moes voorgelees word. Hy het mense daaraan herinner dat dit nie help om monumente vir die dooies op te rig, terwyl die lewendes toegelaat word om in armoede en ellende te verval nie. Hy het ook gewaarsku dat die Afrikaner sou ophou bestaan as hy volhard met sy verdeeldheid. Dit was ’n klaarblyklike verwysing na die verskille in die destydse politiek en die breuk in Afrikanergeledere. Kort daarna het die Nasionale Party tot stand gekom.

Prins van Wallis kranslegging Vrouemonument, 1925

Emily Hobhouse, die heldin van talle vroue en kinders wat in konsentrasiekampe was, het vir die geleentheid uit Engeland gekom, maar moes weens haar swak gesondheid op Beaufort-Wes vertoef. Haar toespraak is toe ook voorgelees. Onder die ander sprekers was genls. Louis Botha, C.R. de Wet, J.H. de la Rey en J.B.M. Hertzog, asook dr. D.F. Malan, ds. Willem Postma en oudpres. F.W. Reitz. Daar is ook besluit om ʼn Godsman, ʼn staatsman en ʼn krygsman aan die voet van die monument te begrawe. Die keuse het op dr. J.D. Kestell, pres. Steyn en genl. De Wet geval.

J.D. Kestell
Hobhouse oorskot in Tweetoringkerk, 1926

Daar is ook enkele grafte binne die ringmuur, onder meer dié van pres. M.T. Steyn, wat in 1916 oorlede is kort nadat hy siek geword het terwyl hy besig was om ’n kongres van die Oranje-Vrouevereniging toe te spreek. Mev. Tibbie Steyn is langs haar man begrawe. Ook genl. Christiaan de Wet, wat hom in die Boere se guerrillastryd teen die Britte onderskei het, is aan die voet van die Nasionale Vrouemonument begrawe. 3 Nadat Emily Hobhouse in 1926 in Engeland oorlede is, is haar as in die voetstuk van die gedenkskuil geplaas.

Hobhouse begrafnis, 1926

Die Vrouemonumentkommissie het deur die jare probeer sorg dat niks in die omgewing van die monument opgerig word wat ʼn blik op die monument belemmer nie. Niks moet met die oorheersende sentraliteit en boodskap van die monument in sy omgewing bots nie. Daarom is ander gedenktekens en beelde by die monument óf plat op die grond, óf buite die lyn van ’n behoorlike blik op die monument aangebring, byvoorbeeld die 44 konsentrasiekampgedenkstene langs die geplaveide paadjie na die monument; die beelde Banneling (1983), Afskeid (1986) en Bittereinder (1994); en die plate vir die honderdjarige herdenking van die Vrede van Vereeniging in 2002.

Program onthulling Bannelingbeeld, 1983

Tuin van Herinnering

Die Tuin van Herinnering voor die ingang na die Oorlogsmuseum hou ook met hierdie wens rekening. Daar is ook gedenkplate op die regterkantse muur van die trappe na die binnehof van die monument: een deur mev. Nellie Swart in 1963 met die 50-jarige bestaan van die monument en een deur die aktrise – Wilna Snyman – met die eeufees in 2013.

’n Entjie van die monument is ’n sementblad met wawielspore, wat daar aangebring is tydens die simboliese ossewatrek van 1938. Om die Groot Trek van honderd jaar tevore te gedenk, was daar in 1938 verskillende geselskappe wat met ossewaens deur die land getrek het.

’n Oorlogsmuseum kan ook by die Nasionale Vrouemonument aangetref word. Dié museum spog met aandenkings uit die Anglo-Boereoorlog, onder meer wapens en ander voorwerpe uit daardie tyd. 4

Die instandhouding van die monument word deur Afrikaanse organisasies en instellings behartig en is private eiendom.

Woordbank

konsentrasiekampe Kampe waar gevangenes in ʼn oorlog deur die vyand aangehou word.
konferensie Groot, formele vergaderings waar baie mense ’n paar dae lank byeenkom om belangrike sake soos politiek, ekonomie, wetenskap, ens., te bespreek
geoormerk Aangewys; afgesonder; gereserveer, opsy gesit. 
volhard Om aan te hou probeer.
krygsman Stryder; vegter.
guerrillastryd Dis ʼn ongewone wyse waarop oorlog gevoer word. Tydens aanvalle val klein groepies soldate vinnig aan en beweeg dan weer vinnig terug na hul skuilings.
belemmer Kniehalter; ongedaan maak.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Oktober 2021 | Bygewerk op 8 Augustus 2024