Vinnige feite

  • Toe Leyds in Suid-Afrika aangekom het, was die reis so lank (twee dae per trein na Kimberley, toe met ʼn poskoets na Potchefstroom en toe nog ʼn dag na Pretoria) dat hy sy verbasing uitgespreek het dat Transvaal so groot soos Frankryk was! 3
  • Leyds is op 26 Junie 1888 as staatsekretaris benoem. Die wet het egter vereis dat die staatsekretaris dertig jaar oud moes wees, en Leyds was slegs 29. Daarom is hy eers op 2 Mei 1889 ingesweer (belofte aflê om goeie werk te doen). 2
  • Toe president Kruger in 1900 in Europa aangekom het, het hy ʼn heldeontvangs gekry. Toe hy in Parys aangekom het, was die mense se geesdrif oor Kruger so indrukwekkend dat die trane oor Leyds se wange gerol het. 4
  • Leyds het geleidelik die Transvalers begin liefkry, maar het erken dit was soms moeilik om van almal te hou. So het ʼn deputasie hom eenmaal voorgekeer en verplig om sy baard te laat groei, sodat hy ouer en waardiger kon lyk. Dit het net omtrent ʼn jaar geduur voor hy dit afgeskeer het. 3

In 1909 het Jan Smuts, beroemde Boeregeneraal en eerste minister, verklaar dat naas president Paul Kruger, Willem Johannes Leyds (1859-1940) die grootste figuur in die Transvaalse geskiedenis ná 1884 was. Paul Kruger het Leyds sy “regterhand” genoem. 1 En tog het nog baie min mense van hom gehoor. Wie was W.J. Leyds?

Jan Smuts

Vroeë jare

Willem Johannes (W.J.) Leyds is op 1 Mei 1859 in Magelang, Java, wat destyds ʼn Nederlandse kolonie (besitting) was, gebore. Vandag is dit Indonesië. Hy was die tweede seun van Willem Johannes Leyds en sy vrou, Trijntje van Beuningen van Helsdingen. 2 Leyds se pa was ʼn skoolhoof, maar is oorlede toe Leyds net ses jaar oud was. Sy ma het toe besluit om met haar vyf kinders na Nederland terug te keer. 3

Leyds het uitstekend op skool presteer. Ná skool wou hy graag medies studeer, maar kon dit nie bekostig nie. Hy het toe ʼn beurs gekry om ʼn onderwyskursus by die Rijkskweekschool voor onderwijzers en onderwijzeressen in Haarlem te voltooi, 1 waarna hy ʼn tyd lank skoolgehou het. 2

Op twintigjarige ouderdom het Leyds genoeg geld gespaar om by die Amsterdamse Universiteit in te skryf. Hy het ook in die aande op sy eie Grieks en Latyn studeer. Teen hierdie tyd het hy besef dat daar nie vir hom ʼn toekoms in die mediese rigting was nie, en daarom het hy sy fokus na regte verskuif. Sy ambisie was om ʼn doktorsgraad in die regte te verwerf, waarna hy in sy pa se voetspore wou volg en in Indonesië gaan werk. 1

Amsterdamse Universiteit

Universiteite was in daardie jare baie duur. Leyds moes dwarsdeur sy studies aanhou werk, en hy het skoolgehou en ekstra klasse gegee om genoeg geld te hê om van te lewe. 1 Hy was egter ʼn briljante student en het in 1884 sy doktorsgraad met lof (met onderskeiding) voltooi. 2

Ontmoeting met Kruger en besluit om na Suid-Afrika te kom

In 1884 het Paul Kruger, die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), of Transvaal, soos dit algemeen bekend was, Europa besoek. Hy wou onder andere ʼn bekwame (goed met sy werk) regsgeleerde kry om die ZAR se staatsprokureur (die regsgeleerde wat namens die regering optree) te word. 2 Op advies van Leyds se professors het Kruger en Leyds mekaar die eerste keer ontmoet ʼn dag ná Leyds se doktorsgraadgradeplegtigheid. Al was hy net 25 jaar oud, het Kruger vir Leyds die pos as staatsprokureur aangebied. 1

Leyds was aanvanklik huiwerig om die pos te aanvaar, want sy vrou wou nie in Suid-Afrika gaan woon nie. Nogtans het hulle uiteindelik ingestem, en in Augustus 1884 het hulle per boot na Suid-Afrika vertrek. Op 13 Oktober 1884 het hy in Pretoria in diens van die Transvaalse regering getree. 3

Staatsprokureur, 1884-1888

Leyds het ʼn blywende invloed op die ontwikkeling van die Transvaal se regsstelsel en staatsdiens gehad. Sy pos as staatsprokureur het ʼn wye reeks funksies ingesluit. Hy was byvoorbeeld die hoofaanklaer (iemand wat ander mense in die hof aankla) van die staat, en hy moes toesig hou oor die polisie en tronke. 1

Leyds was ook die tussenganger tussen Transvaal en die Nederlandse (soms Hollandse genoem) regering. Hy wou graag Brittanje en die Kaapkolonie se invloed in Transvaal verminder deur Nederlandse invloed te versterk. Hy het die Nederlanders betrek in die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM) wat in 1887 opgerig is, met die doel om ʼn oosterspoorlyn (spoorweg tussen Pretoria en Delagoabaai – vandag se Maputo) te bou. Hy en Kruger het ook moeite gedoen om onderwysers en staatsamptenare (mense wat vir die regering werk) uit Nederland te werf om in Transvaal te kom werk. Sommige mense was krities teenoor hierdie sogenaamde “Hollanderbeleid” van Kruger en Leyds. 2

Staatsekretaris, 1888-1898

Die Transvaalse staatsekretaris was die tweede hoogste amp (openbare werk wat iemand doen) in die Transvaalse regering, naas die staatspresident, en het tot ʼn groot mate die regering se beleid (program van aksie) bepaal. 2 Leyds is in Januarie 1889 as staatsekretaris aangestel, ʼn pos wat hy sou beklee tot net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (ABO) in 1899. 3 Die aanstelling was vir Leyds ʼn persoonlike mylpaal (ʼn belangrike gebeurtenis in sy lewe).

As staatsekretaris het Leyds die staatsdiens (die departemente wat die administrasie van die staat behartig) hervorm, hy was verantwoordelik vir belangrike korrespondensie (stuur en ontvang van briewe), asook alle reëlings rondom die oosterspoorlyn. Alle belangrike wette is deur hom opgestel. Reëls en regulasies (voorskrifte wat mens moet nakom) wat moes ingestel word as gevolg van die ontdekking van goud op die Witwatersrand – en die instroming van duisende vreemdelinge (Uitlanders) in Transvaal in – was sy verantwoordelikheid. Die Uitlanders het vir Leyds verantwoordelik gehou vir die feit dat hulle nie stemreg gehad het nie. In buitelandse sake moes hy deurentyd waak teen die Britse begeerte om in Transvaal in te meng. 2

Sy populariteit en sukses word bewys deur die feit dat hy twee keer deur die Volksraad (parlement) as staatsekretaris herverkies is. 4

Leyds het in hierdie tien jaar sy stempel op die Transvaalse staatsdiens afgedruk (beïnvloed), en ʼn groot rol in die Transvaal se binnelandse en buitelandse sake gespeel het. 1 Transvaal het goeie vooruitgang gemaak. Die ontdekking van goud het beteken die regering se inkomste het gegroei, en Leyds kon die geld gebruik om meer regeringsamptenare aan te stel, meer regeringsdienste te lewer en meer openbare werke, soos brûe en staatsgeboue, te laat oprig. 2

Besoeke aan Europa in die laat 1890’s

In Desember 1895 het Leyds om gesondheidsredes Europa besoek. Terwyl hy in Berlyn in Duitsland was, het die Jameson-inval plaasgevind. Dit was ʼn poging deur die Kaapse premier Cecil John Rhodes, in samewerking met Britse regeringsamptenare en mynmagnate (ryk mense met baie mag) van Johannesburg, om die Transvaalse regering oor te neem. Die Duitse keiser (koning), Wilhelm II, het in reaksie op die inval ʼn boodskap van ondersteuning aan Kruger gestuur. Omdat Leyds in Duitsland was, het die Britte gedink Leyds was betrokke by die boodskap. Dit was nie so nie – Leyds was nie eers van die telegram bewus nie. 2

Arrestasie van Leander Starr Jameson, 1896

Op 5 Maart 1896 het hy met die Britse minister van kolonies, Joseph Chamberlain, vergader. Ná die gesprek het hy besef dat die Britte inderdaad daarop uit was om Transvaal weer ʼn Britse kolonie te maak. Toe hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy onmiddellik begin om Transvaal voor te berei op ʼn moontlike militêre botsing met Brittanje. 2

Leyds was net vir ʼn kort rukkie terug in Suid-Afrika voordat hy weer na Europa vertrek het om die Transvaalse gesant (ambassadeur) in Europa te word. As ambassadeur het hy aan verskeie lande, waaronder Frankryk, Duitsland en Portugal, besoek afgelê om hul goeie gesindheid vir Transvaal te werf. 2

Die spanning tussen Transvaal en Brittanje het intussen toegeneem. Die Britte het volgehou dat Transvaal nié ʼn soewereine staat was nie (Transvaal het nie die oppermag oor hulle eie sake gehad nie). Leyds het volgehou dat Transvaal wél soewerein was, en dat Brittanje nie die reg gehad het om in Suid-Afrika in te meng nie. 2

Buitengewone gesant in Europa

In 1898 is Leyds as Transvaalse buitengewone gesant in Europa benoem. 2 Teen daardie tyd het die spanning tussen Transvaal en Brittanje vinnig toegeneem, en oorlog het onvermydelik gelyk. Leyds het die Transvaalse regering gewaarsku dat indien daar oorlog sou uitbreek, nie een van die groot Europese lande Transvaal te hulp sou snel nie. Nogtans het die Transvalers op Duitsland gereken. 2

Leyds se rol in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902)

In Oktober 1899 het die spanning uitgeloop op die Anglo-Boereoorlog. Leyds het in Europa ʼn sleutelrol gespeel om vir die Boere ondersteuning te probeer werf, deur die Boeresaak voor Europese regerings en die Europese publiek te verdedig. 1

Talle Europeërs het inderdaad skenkings (somtyds in die geheim) aan die Boere gemaak, in die vorm van geld, krygstuig (oorlogsgereedskap), mediese bystand en voorrade. Leyds moes toesien dat dit die Transvalers bereik. 1 Gedurende die oorlog was Brittanje skuldig aan volkeregskendings (om regsbepaling wat tussen lande bestaan, te beskadig), byvoorbeeld die verskroeideaardebeleid, en hy het dit bestry. Toe Brittanje die Boererepublieke in 1900 geannekseer het, het hy ʼn aandeel gehad daarin dat die ander Europese lande die anneksasie nié erken het nie. 2

In Julie 1900 het die Transvaalse regering sy geheime fondse onder Leyds se persoonlike beheer geplaas. Hy het dit gebruik om die Boere se oorlogspoging te ondersteun, en ná die oorlog het hy die oorblywende fondse vir die heropbou van Transvaal benut. 3

Leyds het die reëlings getref vir die Boeredeputasie van C.H. Wessels, A.D. Wolmarans en Abraham Fischer na Europa. 2 Toe Kruger in 1900 na Europa gekom het, het Leyds hom ontvang en vir hom besoeke aan staatshoofde en publieke toesprake gereël. Hulle het gehoop dit sou iemand in Europa inspireer om hulp aan die Boere te verleen. Ten spyte van al die opwinding in Europa rondom Kruger se besoek, wou geen regering die Britte teenstaan nie. 3

Ná die oorlog het Leyds die reëlings getref vir die Boeredeputasie van generaals Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet, wat na Europa gekom het om fondse bymekaar te maak vir die opbou van die Boererepublieke. 2

Generaal Koos de la Rey
Christiaan de Wet

Kruger se dood

Leyds en Kruger het ná die oorlog in Europa gebly, en hulle het ʼn hegte vriendskap gehad tot Kruger in 1904 oorlede is. 2 Hy het die woorde van Kruger se bekende laaste boodskap geskryf en Kruger dit laat onderteken. Ná Kruger se dood in Switserland het Leyds die lyk laat balsem (die liggaam so voor te berei dat dit nie vergaan nie) en dit na Kaapstad vergesel. Alfred Milner, wat op daardie stadium in beheer van Suid-Afrika was, wou nie hê dat Leyds na Transvaal toe reis vir die begrafnis nie. Hy het dus vernederende voorwaardes (beperkings wat gestel word voor iets aanvaar word) vir Leyds gegee om Transvaal binne te gaan, wat Leyds verwerp het. Daarom het hy eerder teruggedraai, maar ongelukkig die begrafnis gemis. 3

Kruger se begrafnis

Bedrywighede ná die oorlog

Leyds het verskeie boeke oor die politieke geskiedenis van Suid-Afrika geskryf. 3 Hy het Suid-Afrika ʼn paar keer besoek, en vir beide Botha en Smuts raad gegee oor politieke sake. 1 Hy het egter nie weer deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse politiek nie. 2

Hy het die republiek se fondse gebruik om skole, soos die Christelik-Nasionale Onderwys- (CNO-)skole, asook nuwe Nederlands-Afrikaanse koerante te befonds (geld daarvoor verskaf). Dit het gehelp om die Afrikaners op te hef, en het sodoende gehelp om die Britte se beleid van verengelsing teen te werk. 3

Verhouding met Kruger

Leyds en Kruger het in kultuur en belangstelling dramaties verskil. 2 Tog het hulle mekaar goed leer ken in die vyftien jaar wat hulle saamgewerk het, 3 uitstekend oor die weg gekom. Hulle verhouding was ʼn hartlike een van respek, steun en vertroue. 2 Leyds het Kruger as man van inbors (goeie karakter en eienskappe) beskou wat respek verdien het vir sy intellek en waardigheid. Hy het Kruger beskou as ʼn leier wat verbasend modern in sy denke was en nie omgegee het om met jonger mense saam te werk en na nuwe idees te luister nie. 3

ʼn Insident het hierdie verhouding mooi uitgebeeld. Toe Leyds ná een van sy togte Europa toe in Pretoria aangekom het, het Kruger hom self op die stasie kom oplaai. Dit was ʼn teken van eer – dat die president jou op die stasie kom haal! 4

President Paul Kruger

Evaluering

Leyds was ʼn merkwaardige man met ʼn sterk persoonlikheid. Hy was ʼn uiters bekwame diplomaat, en hardwerkend. 2

Leyds het nooit ʼn Afrikaner in die kulturele sin geword nie, met ander woorde hy het nooit Afrikanergewoontes en tradisies aangeneem nie. In Pretoria het hy eerder vriende gemaak met ander Nederlanders. 1 Dit het egter nie weg gevat van die erns waarmee hy trou aan sy aangenome vaderland gesweer en dit uitgeleef het nie. 2 Hy het hieroor geskryf: “Ek het my hart aan die Afrikaanse saak verpand, en my hele loopbaan daaraan gewy.” 1

Hy was ʼn uitstekende historikus. Die Universiteit van Pretoria in 1934 en die Universiteit van Stellenbosch in 1939 het eredoktersgrade aan hom toegeken. 2 Generaals J.B.M. Hertzog en Jan Smuts, beide eerste ministers van Suid-Afrika, het hom bedank vir sy bydrae tot die Afrikanergeskiedenis. 3

Barry Hertzog

Persoonlike lewe

Leyds was van jongs af uiters intelligent en ʼn briljante student. 3 Hy het ʼn fotografiese geheue gehad, wat hy so beskryf het: “My brein is soos ʼn fotografiese plaat: Dit hou alles vas wat eenmaal daaraan vertoon is, en hou dit vir goed. Ek het altyd met die grootste gemak geleer. Dit is ʼn aangebore gawe.” 1

Hy het baie van kuns gehou en het as negejarige só gereeld ʼn kunsgalery besoek dat hulle vir hom permanente toegang gegee het, al was jong kinders nie gewoonlik welkom nie. As jong mens het hy ook deelgeneem aan gimnastiek en skerm. Hy kon goed skaak speel, en was in later jare ʼn erelid van die Pretoriase skaakklub. 1

Hy het vroeg van musiek en sang begin hou. Op universiteit het hy ál sy vrye tyd aan musiek spandeer. So het hy byvoorbeeld in ses weke geleer om tjello te speel, en hy en sy vriende het soms in mense se privaat huise opgetree 1

Toe hy sy eerste salaris ontvang het (ʼn klomp swaar silwer muntstukke), het hy huis toe gehardloop en met die woorde “Dit is vir u” die muntstukke in sy moeder se skoot gegooi. Dat hy iets kon teruggee vir sy moeder se opofferings, was een van sy gunstelingherinneringe. 1

Leyds het sy toekomstige vrou, Louise Wilhelmina Suzanna Roeff, op vyftienjarige ouderdom ontmoet. Hulle het in 1884 getrou, enkele weke ná hy sy doktersgraad ontvang het. 1 Hulle het drie kinders gehad. Ná haar dood het hy in 1907 met Anna Castens getrou. Daar was geen kinders uit die tweede huwelik nie. 2

Woordbank

hoofaanklaer Iemand wat ʼn ander aankla, soos beskuldigdes in ʼn hof.
amp Openbare werk wat iemand doen.
staatsamptenare Iemand wat ʼn openbare pos het, byvoorbeeld in diens van die regering.
balsem Om die liggaam van ʼn mens met spesiale olies en chemiese middels te behandel om te keer dat dit vergaan.
befonds Geld vir iets verskaf.
bekwame Goed wees in jou werk.
beleid ʼn Program vir die bestuur van iets.
gesant Ambassadeur.
inbors Jou karakter en goeie eienskappe.
ingesweer Iemand ʼn belofte laat aflê om sy/haar werk goed te doen.
keiser Koning.
kolonie Gebied wat ʼn oorsese besitting van ʼn ander land is.
korrespondensie Die proses van briewe/e-posse stuur en ontvang.
krygstuig Oorlogsgereedskap.
magnate ʼn Baie ryk persoon wat daarom ook baie mag het.
met lof Met onderskeiding.
mylpaal Belangrike gebeurtenis in ʼn mens se lewe.
regulasie ʼn Reël of voorskrif wat ʼn mens moet nakom.
soewereine Het die oppermag of hoogste gesag.
staatsdiens Die gesamentlike departemente wat die administrasie van ʼn staat behartig.
staatsprokureur Die regspersoon wat namens die regering optree.
stempel afdruk Beïnvloed.
volkeregskending Om regsbepalings wat tussen lande bestaan, te beskadig.
Volksraad Parlement. Die Volksraad was tussen 1910 (met Uniewording) en 1994 (toe die eerste demokratiese verkiesing plaasgevind het) die wetgewende liggaam in Suid-Afrika. 5
voorwaardes ʼn Beperking/bepaling wat gestel word voordat iets aanvaar word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor W.J. Leyds

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor W.J. Leyds

Só klink die volkslied van Transvaal (“Kent gij dat volk”)

Die Jameson-inval

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Februarie 2023 | Bygewerk op 18 April 2024