Vinnige feite

  • In daardie tyd was die goudprys internasionaal vasgestel. Die Randmagnate kon dus nie kies vir watter bedrag hulle hul goud verkoop nie. 6
  • Die Randmagnate was ook bekend as die Randhere.
  • Die enigste padbrug tussen Suid-Afrika en Rhodesië (vandag Zimbabwe) is die Beitbrug, vernoem na Alfred Beit. 5
  • As dit by leefstyl kom, was Rhodes die uitsondering. Hy kon nie verstaan hoekom mense so baie geld wou spandeer aan spoggerigheid as daar soveel treinspore was om in Rhodesië (vandag Zimbabwe) te bou nie. 1
  • In 1914 moes Eckstein bedank as gevolg van anti-Duitse gevoel in die Eerste Wêreldoorlog. Phillips het by hom oorgeneem as voorsitter van Central Mining. 1

In 1886 is goud op die Witwatersrand ontdek – die rykste goudneerslae in die wêreld! In ’n kort tydjie het ’n klein groepie mans ál die goudmyne beheer. In daardie tyd was hulle van die rykste mense in die wêreld 1 – mens kan amper sê, hulle was die Elon Musks van hul era. Die Britse pers (koerante) het hulle gou ’n naam gegee, naamlik die Randmagnate. 2

Volgens die woordeboek is ’n magnaat ’n ryk en invloedryke sakeman. En omdat hulle sakemanne aan die Rand (Witwatersrand) was, is hulle die Randmagnate genoem.

Die opkoms van die Randmagnate

Kort ná die goud ontdek is, was daar duisende kleims (grond wat ’n delwer afpen sodat hy daar vir minerale kan grawe) en myners. Die goud was egter moeilik om te ontgin (bewerk en ontwikkel). Mens het toerusting, plofstof, tegnologiese kennis (van moderne en wetenskaplike masjiene, toerusting en maniere van dinge doen) en geld nodig gehad. Die vroeë myners het dus hul kleims aan ryker myners verkoop, wat op húl beurt dit weer aan groter mynmaatskappye verkoop het. 3

Die mynmagnate (eienaars van mynmaatskappye wat daarom baie mag het) het tussen 1890 en 1892 besluit om hul kapitaal en kennis saam te voeg en mynhuise te vorm. 3

Hulle het ’n stelsel geskep waarvolgens vyf of ses mynhuise beheer sou uitoefen oor al die mynmaatskappye 4 deur aandele in almal te koop. 2 Waar hulle geld nodig gehad het, het hulle saamgewerk om buitelandse beleggers (iemand wat geld in iets belê) te kry om in die mynhuise te belê. 5

Die man op die voorgrond van die aksie was Alfred Beit. Hy het Rand Mines Limited besit, saam met sy kollegas Herman Eckstein en Lionel Phillips. 3 Daar is algemeen na Rand Mines verwys as Corner House. 6 Ander mynhuise was Johannesburg Consolidated Investment Company van Barney Barnato, 3 J.B. Robinson se Randfontein Estates Gold Mining Company, en Abe Bailey se South African Townships, Mining and Finance. 1

Barney Barnato
Lionel Phillips
Herman Eckstein
Corner House

Cecil John Rhodes, die latere eerste minister van die Kaapkolonie, het ook betrokke geraak toe sy maatskappy, Gold Fields of South Africa, aandele in Rand Mines gekoop het. 6 Teen 1893 was daar tien groot mynhuise op die Witwatersrand, en hulle het ál die myne beheer. 1

Cecil John Rhodes

Die Randmagnate was meestal Britte, asook ’n paar Franse en Duitsers. 1 Buiten Beit, Rhodes, Barnato, Eckstein en Phillips, was ander bekendes Charles Rudd, Julius Wernher en Jules Porgès. 5 Onder die Randmagnate was Beit waarskynlik die populêrste (gewildste) en Wernher die mees gerespekteerde. Eckstein was ook baie bekend, asook natuurlik Rhodes. 1

Julius Wernher
Jules Porgès

Die samewerking het hulle gebaat (hulle het voordeel daaruit getrek), en die mynmaatskappye was uiters winsgewend en het massiewe dividende (deel van die wins wat aandeelhouers in ’n maatskappy kry) betaal. 6 Omdat hulle nie met mekaar gekompeteer het nie, kon hulle al die goud wat hulle geproduseer het, verkoop. 2

Diamantmark op delwerye

Aangesien soveel geld nodig was om die goud te ontgin, het die magnate wat alreeds geld op die diamantmyne in Kimberley gemaak het, daardie geld op die Witwatersrand gebruik. 1 Hierdie magnate was nie bloot gelukkig nie: hulle het hard gewerk, het goeie administratiewe en finansiële vaardighede aangeleer, en het ná hul ervaring by Kimberley besef hoe bruikbaar meganisering (werk deur masjiene in plaas van mense of diere gedoen) en tegnologie was. 2

Kimberley, 1888

Koerante

Baie van die Randmagnate het invloed buite die mynboubedryf gehad. Hulle het onder meer koerante beheer omdat die pers soveel invloed gehad het. So is die Cape Argus beheer deur Rhodes, die Transvaal Leader het behoort aan Eckstein, en die Rand Daily Mail en Sunday Times aan Abe Bailey. Die Sunday Times is spesiaal gestig, want daar was ’n ander koerant, Standard and Diggers’ News, wat baie vyandig teenoor die Randmagnate was en eerder die mynwerkers se belange wou beskerm. 1

Probleme

Die Randmagnate se wins het natuurlik afgehang van hoeveel geld hulle kon maak. Een manier was om koste te bespaar en een van die grootste uitgawes was arbeidskoste (werkers se lone). 6 Hulle het in 1887 die Kamer van Mynwese gestig wat die mynhuise se beleide (program vir die bestuur daarvan) oor lone gekoördineer het (om iets so te reël dat mense wat daarby betrokke is, goed saamwerk en die bes moontlike resultaat behaal) en gehelp het om werkers te vind. 4

Hulle het baie gespook (al jou kragte inspan om iets te probeer bereik) met die Transvaalse regering. Daar was wydverspreide korrupsie (om op ’n oneerlike manier jou mag te gebruik om jouself te bevoordeel), en baie regeringsamptenare moes omgekoop word. Die regering het ’n stelsel van konsessies gehad (vergunning deur die regering om alleen besigheid te doen) vir die verskaffing van water, elektrisiteit en dinamiet. 3 Die konsessies was basies monopolieë (die reg van ’n maatskappy om alleen met ’n produk handel te dryf), en dit het tot hoë pryse vir hierdie produkte en dienste gelei.

Paul Kruger, die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), wou nie ’n doeaneunie (unie wat belasting op in- en uitvoergoedere sou uitskakel) met die Kaap en Natal toelaat nie, gevolglik was dit duur om produkte in te voer. Daar was ook aan die begin net een treinmaatskappy wat goedere in die Transvaal kon inry, en daarom kon hulle hul eie prys vasstel. 6

President Paul Kruger

Net omdat hulle almal egter dieselfde doelwitte en probleme gehad het, beteken dit geensins dat die Randmagnate om dieselfde vuur gesit het nie. Sommige het die ZAR, alhoewel nie noodwendig vir Kruger nie, ondersteun, soos Robinson en Barnato. 2 Ander was sterk teen die Boere gekant, soos Wernher, Phillips en Rhodes. Rhodes was só sterk teen die regering gekant dat hy die mislukte Jameson-inval van 1895 beplan het om die regering te probeer omverwerp. 1

Party van die Randmagnate was regverdig en eerlik, soos die Wernher-Beit-Eckstein-groep (maatskappy), maar ander, soos Barnato, was by korrupsie en omkopery betrokke. Robinson is skuldig bevind aan bedrog omdat hy winste van sy aandelehouers weggesteek het. 1

Leefstyl

Die pers het die Randmagnate ook soms “Gold Bugs” of “Park Lane Millionaires” genoem as gevolg van hul “uitspattige onthale, hul opgesmukte vroue met blink juwele, en die wilde gejaag na sosiale status en prestasies”, soos een Britse koerant geskryf het. Terwyl hulle in Londen was, het hulle by eksklusiewe (wat ander nie kan bekostig nie) klubs uitgehang en groot wonings in Park Lane (’n ryk deel van Londen) en landgoedere (spoggerige plase, gewoonlik met ’n groot, deftige huis) besit. Hulle het spandabelrig (om links en regs geld uit te gee) geleef, en het perdgery, gejag en geskiet. 1

Eerste van die Randlord-huise, Hohenheim

Dié wat in Suid-Afrika gewoon het, het in Parktown, Johannesburg gewoon, wat ver van die mynskagte en fabrieke geleë (op ’n bepaalde plek) was. 3 Baie van hulle het nie eens in Johannesburg gewoon nie, maar in Kaapstad of oorsee, en het ander mense betaal om hul sake te bestuur. Wernher, byvoorbeeld, was in 1903 vir die eerste keer op die Witwatersrand. Teen die einde van die eeu het die meeste van hulle permanent in Londen gewoon. 1

Onder gewone mense in Suid-Afrika is baie van die Randmagnate, met ’n paar uitsonderings, gehaat. Die Suid-Afrikaanse koerant De Burger het selfs ’n karikatuur (’n lawwe, komiese voorstelling van iemand) genaamd Hoggenheimer geskep wat die Randmagnate in koerante uitgebeeld het. 2

Einde

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het die era van die Randmagnate tot ’n einde gekom. Vier van hulle was alreeds dood voor 1914, onder wie Rhodes wat in 1902 gesterf het. 1

Nalatenskap

Die Randmagnate het ’n geweldige groot nalatenskap gelaat. Hulle het die kennis, vaardigheid, geld en tegnologie na die Witwatersrand gebring wat nodig was om die goud uit die grond te haal. Indirek was hulle ook verantwoordelik vir baie van die infrastruktuur wat saam met die myne gekom het, soos paaie, brûe en treinspore. 5

Party Randmagnate het geld spandeer op kuns, veral Robinson, Beits en Wernher. Phillips het nie so ’n groot versameling gehad nie, maar wel die inisiatief geneem om die Johannesburgse kunsgalery te stig, en ander te kry om geld aan die museum te skenk. Rhodes, Beit en Wernher het byvoorbeeld groot skenkings vir onderwys in Suid-Afrika gemaak. 1 Universiteite soos die Universiteit van die Witwatersrand, Rhodes-Universiteit en die Universiteit van Kaapstad het deels ontstaan as gevolg van hierdie skenkings. 5

Universiteit van die Witwatersrand
Rhodes-Universiteit

Aan die negatiewe kant het die “nalatenskap” van die Randmagnate ook die swak behandeling van die werkers op die myne ingesluit. Die kampongs (behuising vir arbeiders in groot geboue) en haglike omstandighede waarin werkers geleef het, was aan hul pogings om arbeidskoste laag te hou te wyte. 5

Sommige van hulle het Britse imperialisme (wanneer een land oor ander lande regeer) opgestook, en was deels verantwoordelik vir die entoesiasme waarmee die Britte betrokke geraak het in Suider-Afrika aan die einde van die 19de eeu. 1 [Lees hier oor imperialisme.]

Woordbank

aandele Deel wat iemand in ’n saak, eiendom of onderneming het.
arbeid Werk.
gebaat Voordeel kry.
beleggers Iemand wat geld in iets belê.
beleide ’n Program wat die beginsels van ’n groep bevat.
dividende Winsaandeel, uitkering, bonus.
doeane Belasting op in- en uitvoergoedere.
eksklusiewe Wat aan ’n bepaalde groep behoort en nie met ander gedeel word nie, of wat ander nie kan bekostig nie.
geleë In ’n bepaalde plek/posisie wees.
genie Buitengewoon begaafd; baie slim.
haglike In ’n baie slegte toestand; uiters swak.
imperialisme ’n Politieke stelsel waarin een land oor baie ander lande regeer.
kampongs Behuising vir arbeiders in groot geboue, veral by ’n myn.
karikatuur ’n Lawwe, komiese voorstelling van iemand, wat in ‘n mate waar is en hom/haar verspot laat lyk.
kleims ’n Stuk grond wat in die ou dae deur ’n delwer afgepen is sodat hy daarop kan delf (op soek na minerale kan grawe).
konsessies Vergunning deur ’n owerheid om alleen besigheid te doen.
gekoördineer Iets so reël dat die mense wat daarby betrokke is, goed saamwerk en die bes moontlike resultaat behaal.
korrupsie Wat op ’n oneerlike/onwettige manier sy/haar mag gebruik om hom-/haarself te bevoordeel.
landgoedere ’n Spoggerige plaas of ander stuk grond buite ’n dorp/stad, gewoonlik met ’n groot, deftige huis en ’n ryk eienaar.
magnaat ’n Baie ryk persoon wat daarom ook baie mag het.
meganisering Die werk deur masjiene in plaas van mense/diere laat doen.
monopolie ’n Reg wat ’n maatskappy het om alleen met ’n bepaalde produk handel te dryf.
ontgin Iets (begin) bewerk/ontwikkel.
opsmukte Oordrewe/te veel versier, verfraai, optooi.
pers Koerante en die mense (joernaliste/verslaggewers) wat vir hulle skryf.
populêrste Gewild, bemind/geliefd.
uitgehang Kuier, vertoef.
uitspattige Oordadig, oordrewe.
spandabelrig Wat links en regs geld uitgee.
gespook Baie hard werk; al jou kragte inspan om iets te probeer bereik.
tegnologiese Nuwe masjiene, toerusting en maniere om dinge te doen wat op moderne kennis van die wetenskap en rekenaars gegrond is. 7

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Randmagnate

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Randmagnate

Die minerale revolusie

Ontdekking van goud

Randhere van die Witwatersrand

Hoekom is goud so waardevol?

ʼn Kort reis deur Rhodes se lewe

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Februarie 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024