Vinnige feite

  • Daar is meer as 100 000 bekende spesies plante, diere en swamme in Suid-Afrika. Wetenskaplikes meen dat daar nog minstens 50 000 spesies in die land is wat nog nie ontdek en/of benoem is nie. 10
  • Inheemse diere kom ongelukkig nie meer sommer net enige plek in die land voor nie. Suid-Afrika het 19 nasionale parke gestig om sy natuurlike skoonheid en wild te beskerm. Saam maak die parke sowat 3% van die land se totale landmassa uit. 11
  • Biodiversiteitbrandpunte in Suid-Afrika sluit die hele Kaapse Blommeryk, gedeeltes van die Maputaland-Pondoland-Albany-streek, en die Vetplant-Karoo in. Oos-Suid-Afrika is een van die wêreld se toptien-koraalrif-brandpunte. Die Kaapse Plooigordel is ’n belangrike varswater-ekostreek. 7
Foto: iStock

As ons praat van “inheemse” diere, verwys ons na diere wat op ’n bepaalde plek voorkom – lank voordat mense hul natuurlike habitat en leefwyse versteur het. Ons is besonder gelukkig hier in Suid-Afrika, want ons het wonderlike inheemse diere, soos die leeu, die luiperd, die sebra, die olifant en die buffel, wat ’n besoek aan enige wildbewaringsgebied in Suid-Afrika baie opwindend maak. Een van die redes waarom buitelandse toeriste na ons land toe kom, is om hierdie diere in hul natuurlike habitat te besigtig.

Nota: In hierdie artikel verwys ons nie na insekte, reptiele, visse en voëls nie. Ons het so ’n ryke skat daarvan dat ons dit nie alles in een artikel kan bespreek nie.

‘n Mens sal meerkatte dikwels op hul agtervoete sien staan, besig om die omgewing vir gevaar te fynkam.

Inheems versus endemies

Voorat ons die diere self bespreek, gou ’n aantekening oor terminologie. Jy het dalk al in ander artikels oor natuurlewe die terme inheems (in Engels: indigenous) en endemies (in Engels: endemic) teëgekom. Hoewel albei betrekking het op die verspreiding van plante en diere, beteken dit nie presies dieselfde nie.

Die woord inheems verwys na organismes wat al eeue lank in ’n bepaalde gebied voorkom. Inheemse diere het ’n bepaalde rol en plek in die ekosisteem gekry. Die dier het aangepas by die unieke omstandighede van die gebied, en het in die gebied ook natuurlike vyande wat keer dat die diere te vinnig vermeerder. ’n Dier soos die springbok is byvoorbeeld inheems aan Suid-Afrika, want hier is al letterlik honderde jare lank springbokke. 1

Ons gebruik die term endemies om te verwys na inheemse organismes wat net in ’n bepaalde streek van hierdie groter gebied voorkom. Ons kan hier weer die voorbeeld van die springbok gebruik. Hoewel springbokke inheems aan Suid-Afrika is, tref ’n mens hulle nie dwarsoor die land aan nie. 1 Daar is byvoorbeeld springbokke in die Kgalagadi-oorgrenspark, maar nie in die Krugerwildtuin nie. 2 Dit is omdat springbokke endemies is aan die droër Noord-Kaap en nie aan Limpopo nie.

Die Kgalagadi-oorgrenspark.

As ’n dier nie inheems is nie, is hy …

Ons verwys na diere wat nie natuurlikerwys in ’n bepaalde streek voorkom nie as uitheems of eksoties (in Engels: exotic of alien). Ons gebruik die woord eksoties ook as ons wil sê iets is vreemd en opwindend, maar as dit oor natuurlewe gaan, beteken dit die plant of dier is deur mense of menslike bedrywighede ingevoer en gevestig in ’n streek waar dit nie natuurlikerwys voorkom nie. 3

Die kanarie is ‘n voorbeeld van ‘n eksotiese dier.

Eksotiese diere word meestal doelbewus ingevoer omdat die diere vir die mens mooi of nuttig is. Honde, kamele, kanaries, goudvisse en beeste is byvoorbeeld alles eksotiese diere, en dit is vir ons lekker of nuttig om hulle aan te hou. Soms voer ons eksotiese diere in en sit hulle in dieretuine, sodat ons hulle van naderby kan bekyk. 3 Tiere en koalas in Pretoria se dieretuin is voorbeelde daarvan.

Soms word eksotiese diere, soos die koala, in dieretuine geplaas sodat mense hulle van naderby kan besigtig.

Een van die groot gevare van eksotiese diere is dat hulle nie binne die nuwe ekosisteem natuurlike vyande het nie, en te vinnig kan vermeerder. As dit gebeur, word só ’n dier ’n pes, en verwys ons daarna as ’n indringer (in Engels: invader). 3 Een van die grootste indringers in Suid-Afrika is die waterhiasint wat die Hartbeespoortdam so verstop, maar daar is ook visse, voëls, insekte en soogdiere wat indringers is. In Suid-Afrika is die gryseekhoring en die huismuis indringers. As jy ’n volledige lys van alle indringerspesies in Suid-Afrika wil sien, kan jy dit by hierdie skakel aflaai. 4

Ons nasionale dier

As ons oor ons inheemse diere praat, kan ons gerus by die bekendste een begin. Suid-Afrika se bekendste inheemse dier is waarskynlik die springbok omdat dit ons nasionale dier is. Hierdie bok is as die nasionale dier gekies vanweë sy unieke voorkoms en sy belangrike rol in die land se geskiedenis en kultuur. Die springbok is ’n mediumgrootte bok met ’n rooibruin pels en ’n wit pens. Die springbok kom in die droër dele van Suider-Afrika voor en is die enigste lid van die wildsbokfamilie wat inheems aan die streek is. 5

Die Groot Vyf

Ná die springbok, is die sogenaamde Groot Vyf waarskynlik ons bekendste inheemse diere. Die Groot Vyf is die leeu, die luiperd, die olifant, die renoster en die buffel. Hulle het hierdie naam gekry omdat jagters vroeër jare hierdie diere as die gevaarlikste beskou het en elke jagter dus die heel graagste hierdie diere as ’n trofee wou hê. Deesdae verwys gewone mense só na hulle omdat dit die diere is wat ’n mens die graagste in ’n wildtuin wil sien. 6

Ander inheemse spesies

Natuurlik is daar heelwat ander inheemse diere ook in die land. Soogdiere wat uniek is aan Suid-Afrika sluit in die Kaapse grysbok, die Kaapse hoefystervlermuis, die Kaapse stekelmuis, die klaasneusmuis, die rivierkonyn, die bontebok, die Kaapse klipspringer, die Kaapse koedoe en die blouduiker. Uitgestorwe, endemiese soogdiere sluit die kwagga en die bloubok in. Die Kaapse bergsebra is ’n endemiese subspesie. 7

Die bloubok is ‘n uitgestorwe, endemiese soogdier.

Nog interessante en unieke diere wat buitelanders graag in Suid-Afrika wil sien, is die hiëna, wildehond, ystervark, rooikat, ietermagô, ratel, erdvark, meerkat en die vlakvark. 8

Wildehonde

Die diere wat in ons land inheems is, is aangepas vir ons klimaatstoestande. Dit beteken hulle leef in savannes of in droë gebiede waar daar min of ongereeld water is, en hulle het nie – soos ysbere en die bison (’n soort wilde buffel met groot horings en ’n lang kinbaard) – dik pelse om hulle teen sneeu en ys te beskerm nie.

Dink maar aan die kameelperd met sy lang nek wat blare hoog bo in bome kan bykom, die gemsbok wat so min water nodig het dat hy tot in die Kgalagadi kan oorleef, die seekoei wat goed by ons vlak riviere aangepas het, die vinnige jagluiperd wat sy prooi op ’n grasvlakte kan inhardloop, en die suidelike noordkapperwalvis wat hier aan ons kus voorkom omdat die water se temperatuur hom pas. 9

Die gemsbok is goed aangepas om in droë gebiede te oorleef.

Woordbank

eksoties Sinoniem: uitheems; wat nie natuurlikerwys in ’n bepaalde gebied voorkom nie en deur mense of menslike aktiwiteit ingevoer is.
endemies Inheemse dier of plant wat in ’n bepaalde streek van ’n groter gebied voorkom.
habitat Vindplek van ’n bepaalde organisme (dier of plant); woonplek; woongebied; verblyfplek.
indringer ’n Uitheemse (eksotiese) organisme wat geen natuurlike vyande in die nuwe gebied het nie en so vinnig vermeerder dat dit die inheemse diere- en plantlewe bedreig.
inheems Wat natuurlikerwys in ’n gebied voorkom en oor eeue by daardie gebied aangepas het.
trofee Oorwinningsteken of prys. In hierdie geval word die vel, kop, horings, of tande van ’n wilde dier wat geskiet is, as oorwinningsteken van die wildjagter uitgestal sodat ander dit kan sien.
uitheems Sinoniem: eksoties; wat nie natuurlikerwys in ’n bepaalde gebied voorkom nie en deur mense of menslike aktiwiteit ingevoer is.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

10 diere wat uniek aan Suid-Afrika is

Wilde diere in Suid-Afrika

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 1 Februarie 2024 | Bygewerk op 19 Februarie 2024