Vinnige feite

  • Die Afrikaanse naam vir die dier (bison) kry ons uit Nederlands (bison) wat dit via Oud-Frans (bison) uit Latyn (bison) gekry het. Die Latynse woord is ’n leenwoord uit Proto-Germaans (wisand). Spreek hierdie Proto-Germaanse woord vinnig uit, dan sal jy hoor hoe naby dit aan “bison” klink. Dit is ook van hierdie Proto-Germaanse woord waarvandaan die ander naam vir die Europese bison – die wisent kom. Inderwaarheid het “bison” en “wisent” dus presies dieselfde geskiedenis. 14
  • Die bison is die VSA se nasionale dier. Dit het eers in 2016 gebeur, eintlik maar baie onlangs. 15 Die Amerikaanse adelaar (in Engels: bald eagle) is meer bekend as ’n nasionale simbool en word gewoonlik op heraldiek gebruik.
  • Die bison is Noord-Amerika se grootste landsoogdier. 15
  • Al is hulle so groot, kan hulle tot 64 km/h hardloop. Dit is vinniger as wat ’n mens in stadsverkeer mag ry! 15
  • Hulle is ook baie rats, al is hulle groot. Hulle kan baie vinnig omdraai, oor hoë drade spring en goed swem. 4
  • Die bynaam vir ’n bisonkalf is “red dog”. Dis omdat hulle rooibruin is as hulle nog klein is. 4
  • Die Yellowstone Nasionale Park in die noordelike deel van die VSA is die enigste gebied waar bisons nog altyd voorkom. Dit beteken die trop van 5 900 diere wat in daardie deel van Montana leef, is afstammelinge van die eerste bisons wat in die VSA aangekom het. 4
  • Een van die bekendste karakters in die geskiedenis van die bison, is Buffalo Bill. Hy was ’n bisonjagter, soldaat en spoorsnyer wat later ’n wêreldbekende toneelgroep, Buffalo Bill’s Wild West and Congress of Rough Riders of the World, gestig het waarmee hy die lewe in die sogenaamde “Wilde Weste” uitgebeeld het. 16
  • Grasvlaktes is goeie weiveld, en groot getalle grasvretende wilde diere kom gewoonlik daar voor. Tog is die manier waarop daar na die grasvlaktes in die verskillende wêrelddele verwys word, soms verwarrend. Dis eintlik dieselfde ding – groot, aaneenlopende stukke grasveld wat goeie weiding vir wilde diere en vee bied – dit het net verskillende name na gelang van waar dit in die wêreld voorkom. In Noord-Amerika staan dit bekend as “prêrie” (die Engelse spelling is “prairie”), in Suid-Amerika is dit die “pampas”, in Europa is dit die “steppe” en in Afrika is dit die “savanna” of “savanne”. 17
Foto: iStock

‘n Bison (in Afrikaans uitgespreek BIE-son) is ‘n groot, bruin, wollerige dier met krulhorings wat ons gewoonlik op foto’s van die Verenigde State van Amerika (VSA) se wildtuine en natuurparke sien. Hulle behoort aan dieselfde wetenskaplike familie as beeste, die Bovidae.

As jy navorsing oor die bison doen, sal jy opmerk dat daar in sommige ouer bronne ook na hierdie diere as “buffels” verwys word. In sommige ouer woordeboeke word die Engelse woord “bison” ook in Afrikaans as “Amerikaanse buffel” vertaal, en baie Engelssprekendes verwys na hierdie diere as “buffalo”.

Dit is egter nie korrek nie – daar is ’n verskil tussen buffels en bisons. Wetenskaplikes onderskei op grond van DNS en ander eienskappe tussen diere, en daarom onderskei ons tussen buffels, waterbuffels en bisons. As jy na die wetenskaplike klassifikasie hier onder kyk, sal jy sien dat die drie diere familie is, maar nie aan dieselfde genus behoort nie.

Familie Genus Spesie
Afrika-buffel Bovidae Syncerus caffer 1
Waterbuffel Bovidae Bubalus bubalis 2
Bison Bovidae Bison bison 3

Lees gerus ook ons artikels oor die buffel en die waterbuffel om meer oor die ander diere in hierdie familie te leer.

Beskrywing

Gewone naam bison; wisent
Wetenskaplike naam Bison bison; Bison bonasus
Familie Bovidae
Klas soogdier
Dieet herbivoor
Grootte (sonder die stert) 1,5-2 m hoog
Gewig 700-900 kg 3

Die oumense wat bisons “buffels” genoem het, was darem nie heeltemal dom nie. Bisons, waterbuffels, buffels en beeste verskil wél, maar hulle deel ook ’n hele paar eienskappe: Hulle is tropdiere, hulle is herkouers en hulle het almal hoewe. Jy sal dalk ook in Engelse navorsingsbronne die woord “ungulate” teëkom. Dit is die Engelse woord vir ’n gehoefde dier. 3

Bisons lyk duidelik anders as die ander Bovidae: Hulle is groter, het lang hare wat hulle in staat stel om in die sneeu te oorleef, en op hul kenne maak die hare ’n kenmerkende baardjie. Bisons het ook ’n opvallende boggel en ’n lae agterlyf. Hulle het ’n breë kop wat hulle nie hoër as hul skouers kan lig nie, en het kort horings. 3

Bisonbulle is heelwat groter en swaarder as die koeie, soos wat dit baie keer in die diereryk gebeur. Bisonkalfies is gewoonlik rooibruin by geboorte en dan later donkerbruin, maar so nou en dan is daar ’n kalfie wat sonder kleur gebore word. Sulke wit bisons is deur die inheemse Amerikaners as baie kosbaar beskou. 3

Soorte bisons

As ons oor bisons praat, dink die meeste mense dadelik aan die Amerikaanse dier. Dit is reg so, dit is ’n dier wat wydverspreid in die VSA voorkom, en dit is hulle nasionale dier, 4 soos wat die springbok ons nasionale dier is.

Daar is egter meer as een soort bison. Die tabel hier onder sit die soorte en subspesies uiteen.

B. bison Die bekende bison wat vandag nog in die VSA voorkom, met die grootste verspreiding. Groot en swaar, met ’n harige lyf en kort horinkies wat buitentoe en boontoe krul. Neus is meer agtertoe as die voorkop. 5 Twee subspesies is geïdentifiseer: die vlaktebison (in Engels: plains bison) of Bison bison bison, wat op die grasvlaktes van die VSA voorkom, en die woudbison of Bison bison athabascae, wat in die verre noorde van Alaska en Kanada voorkom. 3
B. bonasus Ook bekend as die wisent. Kom in Europa voor. Het in die wildernis uitgesterf, maar is met behulp van teelprogramme weer hervestig. Minder harig as die Amerikaanse bison, horings krul meer vorentoe, neus is meer vorentoe as die voorkop. 5
B. latifons Uitgesterf. Dier met lang horings. Het in Colorado voorgekom. 3
B. priscus Uitgesterf. Ook bekend as die steppebison. Dik pels. Het in groot dele van Europa en Asië voorgekom. 3

In hierdie artikel bespreek ons die Amerikaanse bison met sy subspesies, en die Europese bison. Ons verwys nie verder na die uitgestorwe diere nie.

Verspreiding en habitat

Amerikaanse bison

Die Amerikaanse bison kom vandag voor in die sentrale dele van die land, want dit is waar die groot grasvlaktes is (ook prêrie en in Engels: prairie). Hulle is grasvreters, en hulle is groot, wat beteken dat hulle groot gebiede nodig het waar hulle kan wei.

Deesdae se bisontroppe kom meestal voor in natuurparke en bewaringsgebiede in Alaska, Arizona, Kansas, Minnesota, Missouri, Nebraska, Suid-Dakota, Texas, Utah, Wisconsin en Wyoming. Hierdie troppe is deel van die federale regering se bewaringsinisiatief. Afgesien daarvan is daar verskeie inheemse Amerikaanse stamme wat bisons op hul stamgrond hervestig het, en ander nieregeringsinsiatiewe soos Turner Enterprises, The American Prairie Foundation en die World Wildlife Fund het ook troppe vir bewaring gevestig. 6

Wetenskaplikes meen dat die Amerikaanse bison wat vandag in dié land voorkom, afstammelinge is van diere wat ongeveer 100 000 jaar gelede vanuit Oos-Europa oor die Bering-landbrug na die VSA gemigreer het. Die VSA en Rusland word geskei deur die Beringstraat, ’n smal stuk see tussen die Stille en Arktiese Oseaan. Duisende jare gelede was daar nog ’n strokie land waaroor mense en diere kon migreer. Ons verwys na hierdie strook land as die Bering-landbrug. 3

Oor die eeue kon bisons op Noord-Amerika se grasvlaktes vermeerder en gedy, totdat daar enorme troppe oor die Noord-Amerikaanse Laagvlakte (in Engels: North American Great Plains) gewei het. Wetenskaplikes beraam dat hierdie troppe saam tot soveel as 60 miljoen diere kon gehad het. 7 Die grootste troppe was wes van die Mississippi-rivier tot by die Rotsgebergte (in Engels: the Rockies), maar daar was selfs bisons in die woude oos van die Mississippi. 8

Deesdae is hul getalle baie minder, hoofsaaklik as gevolg van die mens wat hulle gejag het en hul natuurlike habitat vir plase en ander ontwikkeling gebruik. Ongeveer 31 000 diere is in bewaringsgebiede in Amerika en 400 000 word kommersieel aangehou. Dit beteken hulle word soos beeste aangehou vir hul vleis, daarom word hulle nie vir bewaringsdoeleindes getel nie. 3

Die woudbison (Bison bison athabascae) kom deesdae net voor in bewaringsgebiede in Alaska en die Kanadese provinsies Alberta, Brits-Columbië, die Noordwestelike Gebiede en die Yukon. Die meeste van hierdie dele van Noord-Amerika is baie onherbergsaam en yl bevolk. Daar is tans tussen 5 000 en 7 000 volwasse diere van hierdie subspesie oor. 9

Bisons in die Yellowstone Nasionale Park.

Europese bison of wisent

Die Europese bison het eens op ’n tyd oor die hele Europa voorgekom, van die sentrale dele in Frankryk tot in Rusland. Hul getalle het egter stelselmatig afgeneem, hoofsaaklik as gevolg van jag en die ontwikkeling van hul habitat. In 1927 is die laaste vrylopende Europese bison geskiet, en daar was toe net sowat 60 diere in dieretuine en privaat bewaringsgebiede oor. 10

Gelukkig het omgewingsaktiviste besef dat dit ’n enorme verlies vir die planeet sal wees as dié diere uitsterf. Teelprogramme is van stapel gestuur, en sedert die 1950’s is daar genoeg diere geteel dat hulle weer in die natuur vrygelaat kon word. Deesdae kry ’n mens vrylopende Europese bisons in Duitsland, Switserland, Pole, Belo-Rusland en Litoue. Die grootste trop vrylopende Europese bisons van ongeveer 1 000 diere kom voor in die Bialowieza-oerwoud, ’n oorgrensgebied tussen Pole en Belo-Rusland. 10

Gewoontes

Bison is tropdiere. Dit beteken hulle beweeg saam in groot groepe sodat dit vir roofdiere moeiliker is om hulle te vang. Binne die groot kudde is daar kleiner troppe bisonkoeie wat saam beweeg en in ’n groep na hul kleintjies omsien. Die bisonbulle loop meestal alleen of in ’n trop saam met ander bulle. Sulke troppe bulle kan uit tot 30 diere bestaan. Die troppe koeie en bulle kom gewoonlik net tydens paartyd bymekaar. 11

Binne die troppe koeie en bulle is daar ’n hiërargie. Dit beteken sommige diere is belangriker as ander, en dit word gewoonlik bepaal deur hul ouderdom en hul grootte. Bisons wat vroeg in die seisoen gebore word, is geneig om groter te word as die diere wat later in die seisoen gebore word, en die groter diere is dan die dominante diere. 11

Bisons is plantvreters. Hulle dieet bestaan hoofsaaklik uit gras, maar hulle sal ook blomme, struike en bome se blare vreet. Gedurende die dag sal hulle twee uur lank wei, en dan rus om te herkou. Daarna beweeg hulle na ’n nuwe gebied om verder te wei. In die winter, as die gras toegesneeu is, beweeg hulle hul koppe heen en weer om die sneeu weg te vee. 11

Bisonkoeie kan van 2 jaar af kleintjies kry. Bulle is eers op ses jaar gereed om te paar. Die paarseisoen is van Junie tot September, en gedurende hierdie tyd is ’n bul baie aggressief. Hy beskerm dan sy koeie teen ander bulle, en sal maklik op hulle afstorm en met sy groot kop stamp. 11

Die koei gee geboorte aan ’n enkele rooibruin kalfie weg van die res van die trop. Ná ’n paar dae is die kalfie sterk genoeg om saam met die res van die trop te beweeg, en die kalf bly dan vir ’n jaar lank by die ma. Verskalfies (vroulike kalfies) bly deel van die trop, en bulkalfies word alleenlopers of skakel in by die bultrop. 11

Bewaringstatus

Die Amerikaanse bison

Die inheemse Amerikaanse stamme wat op die Laagvlakte gewoon het, het feitlik hul hele bestaan uit hierdie diere gemaak. Hulle het die bison gejag vir vleis, met die vel tente en klere gemaak, en die horings en bene gebruik om gereedskap mee te maak. Daar was ’n balans in die natuur tussen die mens en dié dier, want die inheemse stamme het geweet hulle is van bisons vir hul bestaan afhanklik. 12

Met die koms van die Europeërs het dinge vir die bison verander. Soos wat setlaars na die binneland beweeg het, het hulle bisons gejag vir kos, en die bison se natuurlike habitat oorgeneem om plase te vestig. Die Amerikaanse regering het die groot troppe ook doelbewus uitgewis om dit vir die inheemse stamme onmoontlik te maak om te oorleef. 7

Teen die 1890’s was daar minder as 1 000 bisons in die VSA oor. 7 Danksy boere en ander mense wat hard gewerk het vir die diere se oorlewing, is wette gemaak om die bison te beskerm. As gevolg daarvan het hul getalle weer gestyg, en is daar gelukkig nie meer ’n gevaar dat hulle sal uitsterf nie. 3

Die Europese bison

Gedurende die laaste elf jaar het die getal Europese bisons toegeneem van 2 500 tot ongeveer 7 500, wat dit een van die grootste suksesverhale in moderne bewaring maak. 10

Daar is ’n organisasie wat spesies oor die wêreld heen monitor om te bepaal of die spesie se voortbestaan bedreig word. Dié organisasie se naam is die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (in Engels: International Union for the Conservation of Nature). Hierdie unie het ’n lys waarop hulle aandui hoe naby of ver die bepaalde spesie van uitsterf is, en volgens hierdie organisasie is die Amerikaanse en Europese bison “amper bedreig” (in Engels: near threatened). 13 Hoewel die bewaringsprogramme vir dié diere suksesvol is, is daar nog steeds faktore wat bisons bedreig, soos veesiektes, oorloë, wildstropery en die mens wat die diere se habitat in beslag neem. 11

Woordbank

aggressief Die eienskap dat die dier maklik baklei.
alleenlopers ’n Dier wat alleen woon en nie deel is van ’n trop nie.
boggel ’n Homp op ’n mens of dier se skouers.
danksy Te danke aan; as gevolg van die positiewe bydrae van iets of iemand.
DNS Die afkorting vir deoksiribonukleïensuur, die stof in elke lewende organisme waarin die unieke eienskappe van die spesie opgeneem is.
dominante Die eienskap dat dit belangrik is en die meeste gesag afdwing.
gedy Goed aard en dan vinnig vermeerder.
gehoefde dier ’n Wetenskaplike beskrywing van ’n groep diere wat almal hoewe het. Dit sluit onder andere in beeste, skape, bokke, buffels, bison, perde, donkies en sebras. Die Engelse naam vir hierdie diere is ungulates.
genus ’n Wetenskaplike klassifikasie laer as familie en hoër as spesie.
heraldiek Wapens en ander tekens van ’n belangrike persoon, familie, gebied of land waarmee die lede van die bepaalde groep hulle vereenselwig.
herbivoor Plantvretende dier.
herkouers Grasvretende dier met verskeie pense wat die gras ’n paar keer moet kou om dit behoorlik te verteer. Die Engelse naam vir hierdie diere is ruminants.
hervestig Weer in ’n gebied gaan plaas nadat dit daar uitgeroei is.
hiërargie ’n Rangorde waarin sommige lede belangriker is as ander.
hoewe Die harde deel van sommige diere se pote.
in beslag neem Vat; opneem; gewoonlik op ’n negatiewe manier bedoel.
in staat stel Moontlik maak.
inheemse Amerikaners Mense wat van die begin af in Amerika voorgekom het en nie die afstammelinge is van setlaars nie. Die ou woord wat ons nie meer gebruik nie, is Indiaan.
kommersieel Die eienskap van iets dat dit gebruik word om handel te dryf.
kudde Versameling diere, gewoonlik ’n groot groep wat uit verskeie troppe bestaan.
gemigreer Van een gebied na ’n ander beweeg.
monitor Nagaan, veral met behulp van statistiek.
Noord-Amerikaanse Laagvlakte ’n Plat gebied in die sentrale deel van die VSA en Kanada. In Engels bekend as die North American Great Plains of net Great Plains.
omgewingsaktiviste Iemand wat hom/haar beywer vir die bewaring van die omgewing.
onherbergsaam Die eienskap van ’n plek dat dit nie maklik is om daar te woon nie, gewoonlik omdat die terrein rof is of die klimaat nie gemaklik is nie.
oorgrensgebied ’n Gebied wat weerskante van ’n grens tussen twee of meer lande val.
prêrie ’n Ander naam vir die grasvlaktes van Noord-Amerika.
rats Die eienskap dat ’n mens of dier vinnig kan beweeg.
setlaars Iemand wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon.
stelselmatig Bietjies-bietjies soos wat die tyd verloop het.
suksesverhale Die geskiedenis van ’n bepaalde ding of persoon se sukses. Dit hoef nie ’n storie te wees nie, dit kan werklike geskiedenis wees.
trop ’n Groep diere, dikwels ouers en kleintjies, wat saam in ’n bepaalde gebied hou ter wille van oorlewing.
tropdiere ’n Dier wat die gewoonte het om in ’n trop voor te kom.
van stapel gestuur ’n Plan, program, projek of veldtog begin.
verskalfies ’n Vroulike kalf. Ook: vers of versie.
verwarrend Eienskap van iets wat veroorsaak dat ’n mens nie seker is wat aangaan nie.
vrylopende Die eienskap dat ’n dier nie in ’n hok of kamp aangehou word nie.
wildstroper Diewe wat wilde diere vang.
wydverspreid Die eienskap dat iets oor ’n groot gebied versprei is.
yl bevolk Die eienskap dat daar nie baie mense woon nie.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die Amerikaanse bison

Die Europese bison

Hoe ’n trop bisons lyk en hoe ’n bisonbul klink

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023