Vinnige feite

  • Die Hertzogprys is vyf keer aan hierdie geliefde skrywer toegeken.
  • Hy is op Sutherland gebore – ’n dorpie wat ook bekend is vir sy sterre en yskoue winters.
  • Hy was een van vier seuns en sy broer W.E.G. Louw was ook ’n belangrike digter.
  • N.P. van Wyk Louw word beskou as Afrikaans se grootste digter.
  • Sy digbundel Tristia is in 2005 aangewys as die beste digbundel nóg in Afrikaans.

Die gesogste prys in die Afrikaanse letterkunde – die Hertzogprys – is vyf keer aan hom toegeken. Dis meer as aan enige ander skrywer. Boonop was hy tot dusver die enigste skrywer om dié prys vir poësie, drama én prosa te verwerf. 1 Party sê hy is Suid-Afrika se grootste digter, maar wie was hierdie man? 2 Wie was N.P. van Wyk Louw?

N.P. van Wyk Louw in sy studeerkamer in Johannesburg afgeneem.

N.P. van Wyk Louw, die seun van Sutherland

Die Karoo-dorpie Sutherland is vandag veral bekend om twee redes: As die ideale sterrekykbestemming, en as een van die koudste plekke in die land. 3 Dis egter nie al waarvoor dié dorpie – sowat 270 km noordoos van Kaapstad – bekend is nie. Dit is ook die geboortedorp van Nicolaas Petrus van Wyk Louw, beter bekend as N.P. van Wyk Louw, een van Afrikaans se grootste skrywers. 4

Louw het sommer vroeg-vroeg kennis gemaak met Sitterland (soos wat die plaaslike mense dié dorp noem) se koue toe hy op 11 Junie 1906, in die hartjie van die winter, gebore is. Hy was Bismarck von Moltke (Molkie) en Martha Hendrina Johanna Frederika (Poppie) van Wyk se tweede seun. Die paartjie het uiteindelik vier seuns gehad. Louw se jongste broer, William Ewart Gladstone (oftewel W.E.G. Louw) het ook as digter bekendheid verwerf. 2

Party skrywers begin eers later in hul lewe skryf, maar nie klein Louw nie. Hy was maar net agt jaar oud toe hy al geweet het dat hy baie graag gedigte wil skryf. Sy eerste probeerslag om ’n gediggie te skryf, was maar heel eenvoudig en in Nederlands. Hy het geskryf: “Om ons te brengen op het pad // dat Hy ons lang beloven had.”

Hy het as tiener ’n liefde vir Europese literatuur en volkspoësie ontwikkel en dit ook self in Afrikaans begin skryf. 2 Volkspoësie is gedigte wat gewone mense maklik kan verstaan en waardeer en wat eie aan ’n gemeenskap of volk is. 5

In min of meer dieselfde tyd verhuis die Louw-gesin na Kaapstad en in 1921 begin Louw skoolgaan by die South African College School. Hy was voorheen in ’n tweetalige skool op Sutherland, maar hier moes Louw nou sy laaste twee skooljare in Engels voltooi. 2

In November 1921 word Louw se eerste lang gedig, “Bij een siekbed”, in die tydskrif De Goede Hoop gepubliseer. Hy het dié gedig geskryf terwyl hy in die bed gelê het met pampoentjies. 4 Die volgende jaar slaag Louw matriek en pak in 1923 sy BA-studies by die Universiteit van Kaapstad (UK) aan. Dit was die begin van ’n lang en suksesvolle loopbaan in die akademie. 2

Louw, van student tot dosent

Op universiteit het Louw ’n belangstelling in Duitse literatuur ontwikkel en in 1926 ’n meestersgraad in Duits behaal. Hy het toe ook meer gereeld van sy werk gepubliseer – veral in die UK se kwartaalblad. 4

In 1927 gaan werk Louw vir ’n jaar lank as onderwyser op Steynsburg, 4 ’n Oos-Kaapse dorpie in die Karoo sowat 300 km noord van Gqeberha (toe nog bekend as Port Elizabeth). Hier gee Louw Duits en Engels aan die Hoërskool Paul Kruger, 6 maar keer die volgende jaar terug na Kaapstad om verder te studeer. Terug in Kaapstad voltooi hy ’n graad in opvoedkunde en in 1929 word hy eers as tydelike dosent, en in 1930 as heeltydse lektor, in die fakulteit opvoedkunde by UK aangestel. 2 Hierdie pos het hy vir nagenoeg 20 jaar, tot aan die einde van 1949, beklee. 7

Louw se eerste huwelik, eerste bundel en eerste Hertzogprys

Louw en Joan Wessels is op 18 September 1930 in die Groote Kerk in Kaapstad getroud. Sy was ’n moederlike vrou en lojale eggenoot vir Louw. 8 Twee dogters – Maria Johanna (Ria) en Anna Cornelia (Anna/Nakkie) – is in onderskeidelik 1932 en 1933, uit dié huwelik gebore. Ná agt jaar verbrokkel hul huwelik egter.

Die jaar ná Louw en Wessels se troue lê die 24-jarige Louw sy eerste digbundel voor vir publikasie. Dié manuskrip het gedigte bevat wat Louw van 1923 tot 1930 geskryf het. Die terugvoer van twee akademici – F.E.J. Malherbe en F.C.L. Bosman – was teleurstellend. Hulle het gereken dat dié manuskrip, getitel “Dramatiese lyriek en impressies”, nie gepubliseer kon word nie. Dié kritiek het Louw se selfvertroue ’n ernstige knou gegee en vir eers het dié skrywer besluit om nie meer gedigte te skryf nie. In die jare wat daarop volg, fokus Louw meer en meer op die filosofie – ’n liefde wat sy lewe lank sou bly. 2

Dit neem uiteindelik vier jaar voordat Louw weer (met die aanmoediging van sy broer W.E.G. Louw) sy pen optel om gedigte te skryf. Hierdie keer word sy manuskrip aanvaar en in 1935 verskyn Louw se debuutbundel Alleenspraak. 2 Die bundel is uiters goed aanvaar en in 1937 bekroon met die Hertzogprys vir poësie (W.E.G. het drie jaar vantevore dié prys verwerf vir sy bundel Die ryke dwaas). Louw weier egter om die 1937-toekenning te aanvaar omdat hy saam met I.D. du Plessis mede-ontvanger van die prys was. Du Plessis is bekroon vir sy bundel Vreemde liefde en ballades. 9

In 1937 verskyn Louw se tweede bundel, Die halwe kring. (Lees meer oor Louw se digkuns onder die afdeling “Louw: Die grootste Afrikaanse digter”.)

Die digter en sy hond in die tuin van die Louws se destydse woning in Parkview.

Die Vereniging van die Vrye Boek (VVB)

Om boeke by uitgewers te laat publiseer, was (en is steeds) vol uitdagings. Louw en ander Afrikaanse skrywers (W.E.G. Louw, Boerneef, J. du P. Scholtz, Abraham H. Jonker en F.E.J. Malherbe) bring daarom in 1936 die Vereniging van die Vrye Boek (VVB) tot stand.

Die doel van die VVB was om Afrikaanse manuskripte vry te stel van die voorskrifte wat tradisionele uitgewers aan boeke gestel het. Só wou Louw en ander lede van die VVB toesien dat boeke wat geweier word vir publikasie omdat dit kwansuis nie betalend sou wees nie, uitgegee kan word.

Louw het oor die belangrikheid van die VVB geskryf dat dit moontlik “moet wees dat alles wat eerlik, sterk en mooi in ’n volk gedink en gesê kan word, ook in die volksliteratuur sy neerslag kan vind … [want] dit gaan om die geestelike status van die volk en die onafhanklike voortbestaan van sy letterkunde”. 7

Die VVB het uiteindelik net vier boeke die lig laat sien, naamlik:

  • Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan (1937);
  • Louw se Die halwe kring (1937);
  • Louw se Hélène (1939, ’n vertaling van Paul Géraldy se Aimer); en
  • Die legende van die heilige Julianus die herbergsame deur W.E.G. Louw (1940, ’n vertaling van Gustave Flaubert se La légende de saint Julien l’hospitalier). 7

Louw, die man wat vir die volk geskryf het

In die 1930’s het Louw ’n groot bydrae tot die denke van Afrikaners gemaak en hulle amper vir die eerste keer dieper laat nadink oor hul bestaan as ’n gemeenskap. (Lees meer daaroor in die afdeling “Louw, die filosoof en denker”).

Die 1930’s was ook vir die Afrikanergemeenskap ’n belangrike mylpaal. Die jaar 1938 is as die Groot Trek se Eeufeesjaar gevier. Landwyd was mense in rep en roer om dié geleentheid te vier deur middel van die Simboliese Ossewatrek wat in Augustus 1938 in Kaapstad weggetrek het en op 16 Desember daardie jaar in Pretoria geëindig het. Die hoogtepunt van die trek was die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument wat op 16 Desember (voorheen bekend as Dingaansdag of Geloftedag) plaasgevind het.

Louw is versoek om ’n stuk oor die Groot Trek te skryf. Die koorspel Die dieper reg is daarom geskryf en op Geloftedag 1938 vir die eerste keer opgevoer. Die tema van die stuk is die reg van ’n volk om te bestaan. 2

Die Dertigers en die ‘Standpunte’-tydskrif

In die 1930’s het ’n heel nuwe geslag digters na vore getree wat Afrikaanse poësie na nuwe hoogtes geneem het en aan gedigte ’n meer volwassenheid geskenk het. Skrywers soos C.M. van den Heever, I.D. du Plessis, die Louw-broers, Uys Krige en Elisabeth Eybers word onder die belangrikste skrywers van dié geslag geag. Hierdie skrywers skryf oor nuwe onderwerpe – soos die liefde en die natuur. 10

Uys Krige
Elisabeth Eybers

Hierdie generasie het na ’n platform gesoek waarin hulle nie net hul gedigte kan publiseer nie, maar ook ernstig oor die letterkunde kon debatteer. Dit het in 1945 gelei tot die vestiging van die kwartaallikse (en sedert 1954 tweemaandelikse) tydskrif Standpunte. N.P. van Wyk en W.E.G. Louw en die letterkundige H.A. Louw het dié blad se eerste redaksie gevorm. 4

Louw, die filosoof en denker

Louw het nog voordat sy debuutbundel gepubliseer is, baie meer op filosofiese kwessies begin fokus. Hy het al meer begin skryf oor sake wat die Afrikaner van die 1930’s geraak het, soos die Afrikaner se opvoedkundige agterstand as rede vir die armblankevraagstuk. (Die armblankevraagstuk dui op die geweldige armoede wat van die 1930’s tot die 1960’s onder die wit Suid-Afrikaanse bevolking geheers het.) Louw het daarom ’n reeks artikels oor die bevindinge van die Carnegie-verslag vir Die Huisgenoot geskryf. Die eerste artikel is in Mei 1933 gepubliseer. (Die Carnegie-kommissie het in 1932 ’n verslag uitgereik waarin ondersoek ingestel is na arm wit mense se ekonomiese, sielkundige, opvoedkundige, gesondheids- en sosiologiese welstand en voorstelle vir die opheffing van behoeftiges gemaak.) 11

In die 1930’s bemoei Louw hom in sy skryfwerk met vrae oor die Afrikaner se kultuurlewe. Hieruit spruit die bundels Lojale verset en Berigte te velde (albei in 1939). Een van die bekendste aanhalings uit Lojale verset vat as’t ware Louw se dringendheid oor Afrikaners se bestaan saam. Hy skryf: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.” 12

Later verskyn daar ook talle stukke uit Louw se pen oor onder meer die voortbestaan van Afrikaans en Afrikaners (in Die Huisgenoot vir die reeks getiteld “Die oop gesprek”); nasionalisme; literêre teorie; en politiek (in Die Huisgenoot vir die reeks getiteld “Kultuur en krisis”). Dié stukke is in die 1950’s in die bundels Maskers van die erns (1955), Die ‘mens’ agter die boek (1956), Swaarte- en ligpunte, ’n Wêreld deur glas en Liberale nasionalisme (almal in 1958) gepubliseer.

In 1958 word Louw se kritiese prosa en essays (soos gepubliseer in Die ‘mens’ agter die boek, Maskers van die erns, Lojale verset en Berigte te velde) met nóg ’n Hertzogprys vereer. 9

Ná Louw se dood in 1970 het nog twee bundels verskyn – Rondom eie werk (1970) en Opstelle oor ons ouer digters (1972). 13

Louw (regs) by twee Nederlandse digters, Adriaan Roland Holst (links) en Jan Greshoff.

Raka, ’n tweede huwelik en Nederland

Teen die einde van 1939 begin Louw om Raka, ’n epiese gedig in vyf sange (oftewel gedeeltes), te skryf. 7 ’n Epiese gedig, ook bekend as ’n epos, is ’n lang verhalende gedig wat dus ’n lang storie vertel. (Moenie dit verwar met ’n e-pos nie!) 5

Die eerste deel, getiteld “Die koms van Raka”, verskyn in 1940 in die bundel Tussen die engtes: ’n Afrikaanse versameling ten behoewe van Nederlandse skrywers. Louw het dié lang gedig aan die begin van 1941 voltooi. Dit het uiteindelik Louw se mees gelese werk geword, was voorgeskryf vir skole en was ook ’n topverkoper. 2 Kenners beskou Raka as “een van die grootste prestasies van die Afrikaanse letterkunde”. 7

Ná die verbrokkeling van sy huwelik met Joan, trou Louw op 10 April 1941 met die regisseur Gertruida Isabella Reinet (Truida) Pohl. ’n Dogter, Reinet, en ’n seun, Peter, is uit dié huwelik gebore. 4

In 1949 aanvaar Louw die pos as buitengewone hoogleraar in die Afrikaanse taal, letterkunde, kultuur en geskiedenis aan Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, en kom in Februarie 1950 in die land aan. Hy woon in dié Nederlandse stad tot 1958 toe hy as hoof van die departement Afrikaans-Nederlands by die Universiteit van die Witwatersrand aangestel word.

Terug in Suid-Afrika hou Louw steeds aan om te skryf. In dié tyd skryf hy die radiohoorspele Dagboek van ’n soldaat (1961), Lewenslyn (1962), Die held (1962) en Kruger breek die pad oop (1964). 4

Prof. Van Wyk Louw en sy eggenote, Truida Pohl, werk saam in sy studeerkamer ter voorbereiding van die plaatopnames wat daar van sy werk gemaak is

Hy skryf ook drie blyspele wat as opdragwerke vir feesgeleenthede opgevoer is. In 1960 (ter viering van die vyftigste bestaansjaar van die Unie van Suid-Afrika) word Koning-Eenoog of Nie vir geleerdes opgevoer. Hierna volg die belangrike blyspel Die pluimsaad waai ver wat met die Republiekfees in 1966 opgevoer is, en in 1968 skryf Louw die blyspel Berei in die woestyn. Dié blyspel is geskep met die oog op Suid-Afrika se Waterjaar wat in 1970 gevier is. 4

Louw het in die jare vóór sy dood reeds hartprobleme ondervind en op 18 Junie 1970, kort ná sy vier-en-sestigste verjaarsdag, sterf Afrikaans se grootste digter. Die oggend ná sy dood vind familie sy laaste skryfwerk – ’n gebed – voor sy bed. Die slotwoorde daarvan lui: “My Heer en my God, ek lê my in U genade neer. As ek sou sterf terwyl ek slaap, lê ek net in die hande van U genade.” 4 ’n Roudiens is op 22 Junie 1970 in die NG Kerk Linden gehou.

Soos dikwels met skrywers gebeur, is sekere voltooide tekste, of byna voltooide tekste, eers ná die skrywer se dood uitgegee. Dit was ook met Louw die geval en ná sy dood (ons sê dan dat die werk postuum verskyn) word twee radiodramas (wat al voorheen uitgesaai is) in boekvorm uitgegee. Dié stukke was Blomme vir die winter en Die val van ’n regvaardige man wat onderskeidelik in 1974 en 1976 uitgegee is.

Afskrif van Louw se sterwenswoorde, neergeskryf die aand voor hy oorlede is. Dié afskrif word bewaar in die Louw-huis op Sutherland.

Louw, die grootste Afrikaanse digter

Die gevierde Afrikaanse skrywer en historikus Karel Schoeman het Louw bestempel as Suid-Afrika se grootste digter en “een van die min figure van wêreldformaat” wat die land nog opgelewer het. 14

Behalwe vir die Hertzogpryse wat hy in 1958 vir sy kritiese prosa en in 1960 vir die drama Germanicus ontvang het, was die ander drie Hertzogpryse toegeken vir Louw se uitsonderlike werk as digter. Boonop word Louw beskou as een van die belangrikste skrywers van die Dertigers (of Digters van Dertig), ’n groep Afrikaanse digters wat in die 1930’s vernuwende temas na Afrikaanse digkuns gebring het. 13

In 1937 deel hy die prys met I.D. du Plessis vir sy debuutbundel Alleenspraak, in 1940 ontvang hy die prys vir sy tweede digbundel Die halwe kring en 25 jaar later (in 1965) kry hy dit weer reg en verwerf die prys vir die derde keer – hierdie keer vir die digbundel Tristia (wat in 1962 uitgereik is). 9

Louw se grootwordwêreld in Sutherland en dié omgewing se plante en diere het ’n groot invloed op sy digkuns gehad. Ons sien dit keer op keer raak in sy gedigte. Hy het self ook later gesê: “Ek wou dié ou wêreld [van Sutherland] hérskep in woorde.” 4 Baie van sy gedigte is ook godsdienstig van aard.

Enkele van Louw se belangrikste gedigte is: “Die profeet”, “Groot ode”, “Die hond van God” en “Die beiteltjie”.

Ná Louw se dood verskyn daar in 1975 ’n bundel met Louw-gedigte wat deur Adam Small in Engels vertaal is. Dié bundel getiteld Oh wide and sad land was daarop gemik om Louw se werk aan ’n wyer Suid-Afrikaanse én internasionale gehoor bekend te stel. 12

Louw se werk vir ’n nuwe generasie

Louw word vandag steeds as skrywer, filosoof, denker en digter vereer. Sy werk word dikwels aangehaal en sedert sy dood word sy nalatenskap steeds op verskeie maniere lewend gehou.

Ons sien dit veral in die volgende:

  • Die jaarlikse N.P. van Wyk Louw-gedenklesing: Die lesing is in 1970 by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU, nou bekend as die Universiteit van Johannesburg, UJ) ingestel.
  • Toonsettings: In 1980 het die Britse komponis Donald Swann vier van Louw se gedigte getoonset, en meer onlangs het die Afrikaanse kitaarspeler 4 en musikant Leon Gropp die album Rooidag met twaalf toonsettings van Louw se gedigte bekendgestel. 15
  • Verhoogstukke: In 1999 is die produksie Spieël by die Aardklop Kunstefees opgevoer. Die verhoogstuk het slegs uit Louw-gedigte bestaan. In 2007 is die verhoogstuk N.P. van Wyk Louw en die meisies ter viering van die skrywer se 100ste verjaarsdag op die planke gebring. 12

Belangrikste erkennings en toekennings

  • Hertzogprys vir poësie vir Alleenspraak – toegeken in 1937.
  • Hertzogprys vir poësie vir Die halwe kring – toegeken in 1940.
  • Eredoktorsgraad van die Rijksuniversiteit van Utrecht – toegeken in 1948.
  • Hertzogprys vir kritiese prosa vir Die ‘mens’ agter die boek, Maskers van die erns, Lojale verset en Berigte te velde – toegeken in 1958.
  • Hertzogprys vir drama vir Germanicus – toegeken in 1960.
  • Hertzogprys vir poësie vir Tristia – toegeken in 1965.
  • Eredoktorsgraad van Rhodes-Universiteit – toegeken in 1966.
  • Eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch – toegeken in 1966.
  • Orde van Ikhamanga (goud) – toegeken in 2005 (dit is die hoogste toekenning vir ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde en die bevordering van inheemse taalregte wat in Suid-Afrika gemaak kan word). 9
  • Ministeriële eerbewyse vir letterkunde – toegeken in 2005 (dié eerbewys is deur Pallo Jordan, destydse minister van kuns en kultuur, aan skrywers in al elf amptelike tale toegeken en Louw se bundel Tristia is aangewys as die beste digbundel in Afrikaans). 12

Woordbank

bekroon ’n Prys ontvang.
bemoei Besig hou met iets.
betalend Voordelig of lonend.
epiese gedig ’n Epiese gedig, ook bekend as epos, is ’n lang verhalende gedig wat dus ’n lang storie vertel.
filosofie ’n Wetenskap wat fokus op sake wat die basis van kennis vorm, ook bekend as wysbegeerte.
gesogste Iets wat gewild is of in aanvraag is.
gevierde ’n Bekende of belangrike persoon.
historikus ’n Kenner op die gebied van geskiedenis.
hoogleraar Professor aan ’n universiteit.
knou Beskadig.
kwansuis Kastig of kamma.
lojale Getrou wees.
mylpaal ’n Belangrike gebeurtenis.
nalatenskap Alles wat iemand ná sy dood nagelaat het.
radiohoorspele ’n Drama wat oor die radio uitgesaai word.
roudiens ’n Begrafnisdiens of gedenkdiens wat ter ere van ’n oorledene gehou word.
slotwoorde Woorde waarmee iets afgesluit word.
teleurstellend Iets wat teleurstelling inhou of nie aan verwagtings voldoen nie.
verbrokkel Uitmekaar gaan.
volkspoësie Gedigte wat in ’n volk of gemeenskap leef en wat die volk maklik kan verstaan. 5

Lees meer oor N.P. van Wyk Louw

Kyk hierna vir meer inligting

Die N.P. van Wyk Louw-versameling is aan Akademia geskenk. Kyk hier na die bekendstelling daarvan

’n Voorlesing uit Die dieper reg deur N.P. van Wyk Louw

Die N.P. van Wyk Louw-gedenklesing wat in 2020 gehou is

“Grense” getoonset en gesing deur Leon Gropp

Jannie Moolman se vertolking van die getoonsette “Die beiteltjie”

Foto: iStock
Gepubliseer op: 5 Mei 2023 | Bygewerk op 3 April 2024