Vinnige feite

  • Die leuse van Aardklop Nasionale Kunstefees is: Verryk  Verras  Vermaak Versoen – binne die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap. 2
  • Dr. Matthews Phosa, voormalige premier van Mpumalanga, is voorsitter van Innibos se bestuursraad.9
  • Daar word by die KKNK in verskillende kategorieë pryse aan kunstenaars toegeken. By die heel eerste KKNK in 1995 was die Herrie-prys, wat aan die aktrise en kabaretkunstenaar Antoinette Pienaar toegeken is. Die prys was ’n olifant gemaak van Appletiser-bottels, ou tennisballe en draad. 4 (Herrie was ’n olifant wat ’n karakter was in een van C.J. Langenhoven se boeke, en Oudtshoorn was Langenhoven se tuiste.)
  • Die KKNK het vanaf 1996 ’n eie feeskoerant gehad met die titel KRIT. Die eerste redakteur daarvan was Schalk Schoombie. 4
  • Karen Meiring was vanaf 1995 tot met die fees in 2007 op die bestuur van die KKNK – die laaste agt jaar van hierdie tyd as besturende direkteur. 4

Oor die hele wêreld hou mense van feeste. Suid-Afrikaners is presies dieselfde, hulle is baie lief vir feeste. Ons hou fees rondom alles en nog wat – mieliefees, kaasfees, pampoenfees, wynfees, vetplantfees, vleisfees, waterblommetjiefees – noem maar op, ons mense reël sommer gou-gou ’n fees!  Daarom is kunstefeeste ook baie gewild in ons land, nie alleen omdat dit lekker is om fees te hou nie, maar ook omdat dit vir baie mense werk en inkomste gee.

Groot en klein feeste

Die Nasionale Kunstefees: Makhanda wat in Makhanda (voorheen Grahamstad) gehou word, is die oudste kunstefees in die land. Die heel eerste Afrikaanse nasionale kunstefees is die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

Nadat die KKNK begin is, het ’n hele aantal ander Afrikaanse feeste in verskillende dele van die land begin plaasvind. Sommiges is reeds vir jare aan die gang, terwyl ander net vir enkele jare of selfs net eenmalig aangebied is.

Innibos 2007

Daar is ses feeste wat as “vervaardigende” feeste bekendstaan. Dit beteken dat hierdie feeste self ook nuwe produksies (optredes wat op die verhoog plaasvind) ontwikkel of vir kunstenaars vra om nuwe produksies te skep. Hierdie feeste is die KKNK, die US (Universiteit Stellenbosch) Woordfees, die Vrystaat Kunstefees, Innibos, Aardklop Nasionale Kunstefees, en die Suidoosterfees. 1

Drie van hierdie ses feeste staan ook as bestemmingsfeeste bekend. Dit beteken dat die fees afhanklik is van mense wat uit die res van die land daarheen moet reis en ook vir ’n dag of twee daar moet bly om optredes te kan bywoon. Hierdie feeste is die KKNK in Oudtshoorn, Aardklop in Potchefstroom en Innibos in Mbombela (voorheen Nelspruit). Daar is nie genoeg inwoners in Oudtshoorn, Potchefstroom en Mbombela sodat die feeste wat daar aangebied word net op hul eie dorp of stad se inwoners kan staatmaak vir bywoning van die optredes nie. Hulle is dus ook afhanklik van mense wat daarheen moet reis om die fees te kom bywoon. 2

Kom ons kyk nader na hierdie ses kunstefeeste.

Nasionale Kunstefees: Makhanda

Die Nasionale Kunstefees: Makhanda, wat elke jaar in Makhanda (voorheen Grahamstad) aangebied word, is die heel oudste nasionale kunstefees in die land. Die eerste fees is in 1974 aangebied. Mense verwys steeds dikwels na dié fees as die Grahamstad Nasionale Kunstefees.

Hierdie fees is een waar letterlik enige en alle beskikbare sale, teaters en vertrekke in die stad gebruik word vir die talryke groter en kleiner optredes wat tydens die fees aangebied word. Die hoof-fokuspunt van die fees is elke jaar die Britse Setlaarsmonument, waar baie binnenshuise asook buitenshuise optredes en byeenkomste aangebied word.

Toneel is een van die genres waaraan baie aandag gegee word by hierdie fees. Hulle gee ook baie aandag aan wat in die res van die wêreld in toneel gebeur. Die fees het vanaf 2023 ’n feesdramaturg, Mike van Graan, en vyf van sy tekste word by die fees opgevoer. Dans is nog ’n genre wat die kollig geniet en daar is goeie samewerking tussen Suid-Afrikaanse en buitelandse kunstenaars in van die genres. 3

KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees)

Die KKNK het begin as ’n idee van Nic Barrow, prokureur en inwoner van Oudtshoorn, toe hy in 1992 die Grahamstad Nasionale Kunstefees bygewoon en besef het hoe min Afrikaans daar by die fees aangebied word. Hy het begin wonder of Oudtshoorn nie iets soortgelyks vir Afrikaans kan doen nie. By ’n ander geleentheid het hy en Andrew Marais (wat toe aan Nasionale Pers verbonde was) gesels oor maniere om meer besoekers na Oudtshoorn te lok en weer het hulle die moontlikheid van ’n kunstefees oorweeg.

KKNK plakkaat van eerste fees in 1995

Die eerste vergadering om so ’n moontlike fees te bespreek, is op 22 Januarie 1994 gehou en van die kunstenaars wat dit bygewoon het, was Hannes Horne, Trix Pienaar en Braam de Vries.

Vir hierdie eerste Afrikaanse kunstefees was die mense wat die baanbrekerswerk gedoen het Pieter Fourie as uitvoerende feesdirekteur, Nic Barrow as feesvoorsitter, en Karen Meiring as feesorganiseerder.

Paul Eilers met Doodkry is min, KKNK 1995

Die volgende mense het op die eerste direksie gedien: Nic Barrow, Jans Rautenbach, Vincent Abrahams, Pieter Fourie, Gerrit Geertsema, Andrew Marais, Sej Motau, Liz Olivier en Rosie Schoeman. Raadgewers was Adam Small en professor Merwe Scholtz, en die beskermhere was advokaat Christo Wiese, Franklin Sonn en Ton Vosloo. 4

Die doel was om ’n fees te skep wat inklusief is en wat ook kultureel, polities en godsdienstig onafhanklik was. Die fees wou veral nie afhanklik wees van die destydse Nasionale Party-regering nie.

Adam Small Program, KKNK 1995

Kreatiewe direkteure van die fees het deur die jare die volgende mense ingesluit:

  • Gerrit Geertsema (1994) wat voorheen direkteur van TRUK (Transvaalse Raad van Uitvoerende Kunste) was.
  • Dramaturg Pieter Fourie (1994-1999).
  • Karen Meiring (1999-2007), onder andere hoof van Afrikaanse DSTV-kanaal kykNET.
  • Brett Pyper (2007-2013), voorheen hoof van die Wits-kunsteskool, Universiteit van die Witwatersrand.
  • Hugo Theart, teatervervaardiger (vanaf 2015).

Die fees is bedoel as ’n Afrikaanse fees soortgelyk aan die nasionale kunstefees in die destydse Grahamstad en dit het uiteindelik die eerste Afrikaanse kunstefees geword waarvan die bywoningsyfers dit die grootste Afrikaanse kunstefees in die land maak. 5

Loek Loek ‘n Spoek, KKNK 1995

Dié droom van baie mense het waar geword toe die eerste KKNK op 7 April 1995 afgeskop het. Dit het tot 13 April geduur. Die fees het alle verwagtinge oortref wat bywoning betref en die reaksie van beide kunstenaars en die publiek op hierdie heel eerste Afrikaanse kunstefees was positief. 4

Ons is nou al so gewoond aan kunstefeeste wat elke jaar oral in die land plaasvind, dat mens amper vergeet watter groot gebeurtenis die eerste KKNK vir kunstenaars asook vir die gehore was. Dit het ’n hele omwenteling in die kunstewêreld van Suid-Afrika veroorsaak.

In 2023 gaan die fees steeds suksesvol en volstoom voort.

Ingrid Jonker plakkaat, KKNK 1995

Aardklop Nasionale Kunstefees

Die eerste Aardklop Nasionale Kunstefees is in 1998 aangebied. Daar was vir ’n kort tydperk ’n onderbreking waarin die fees nie aangebied is nie, maar in 2016 is die fees weer hervat.

Die naam van dié fees was toe vir ’n tyd Potchefstroom Kunstefees, maar die naam het gou verander na die oorspronklike naam, Aardklop Nasionale Kunstefees. Sedert 2022 is die volle amptelike naam Momentum Beleggings Aardklop om aan die amptelike borg erkenning te gee. Die fees word nog altyd deur die meeste mense sommer net Aardklop genoem.

Aardklop 2017

Hoewel kunstefeeste altyd net in een dorp of stad aangebied word, het Aardklop vir twee jaar ’n ander plan gemaak. In 2021 het hulle opwipfeeste gehou – hulle het sommige optredes in Potchefstroom en sommige optredes in Pretoria by die Voortrekkermonument aangebied. So Aardklop het in Pretoria opgewip! In 2022 het hulle dit verder aangepas en sommer op drie verskillende plekke optredes aangebied – in Johannesburg, in Pretoria en in Potchefstroom. Vanaf 2023 word die fees weer net in Potchefstroom aangebied.

Die kern van Aardklop is op en rondom die kampus van die Noordwes-Universiteit, aangesien dit die plek is waar daar genoeg teaters en ander sale is waar optredes aangebied kan word. 2

Aardklop

US Woordfees

Die US Woordfees het in 2000 begin as hoofsaaklik ’n fees vir Afrikaanse literatuur en gedigte, maar sedertdien het dit ontwikkel in een van Suid-Afrika se grootste kunstefeeste waar ’n verskeidenheid van genres aangebied word.

Die fees vind in Stellenbosch plaas en vir die duur van die fees word die hele dorp en omgewing omskep in ’n bedrywige sentrum van skrywers, boeke, teater, musiek, visuele kunste, dans, gesprekke en rolprente.

In 2020 en 2021 is ook die Woordfees deur die Covid-19-pandemie getref. In 2021 het die fees op DStv ’n kanaal geskep vir aanlyn feesproduksies wat in Suid-Afrika en ook in Namibië uitgesaai is.

Hierdie aanlyn fees was so ’n groot sukses dat daar in 2022 twee feeste was – een wat aanlyn uitgesaai is en een wat in lewende lywe in Stellenbosch aangebied is. 6

Suidoosterfees

Die gedagte vir die Suidoosterfees het ontstaan by Christa van Louw van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans met Jakes Gerwel as mentor.

Die motivering vir die stigting vir die fees was onder meer om ’n teenvoeter te bied vir die KKNK en ander Afrikaanse kunstefeeste wat as “te wit” beskou is. Die naam van die fees “Suidooster” is afgelei van die wind met dieselfde naam in die Kaap, en wat ook die “Kaapse dokter” genoem word. Soos ’n dokter wat mense genees was die gedagte dat hierdie fees, met Afrikaans as gemeenskaplike faktor, mense kon saamsnoer en verskille genees.

Die eerste fees het in 2003 by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) plaasgevind, maar teen 2006 het die fees só groot geword dat dit in 2007 na die Kunstekaap-teater in Kaapstad geskuif is. 7

Die fees word gewoonlik aan die einde van April/begin Mei aangebied. 7

Vrystaat Kunstefees

Die Vrystaat Kunstefees word in 2023 vir die 22ste jaar aangebied en bied nasionale en internasionale kunstenaars se werk in verskillende genres aan.

Volgens die fees is hulle die eerste fees wat die Eerste Nasies-mense (Khoi-San) en tradisionele eienaars van die grond in hul feesprogram erken.

Die fees vind op die Bloemfonteinkampus van die Universiteit van die Vrystaat plaas en word gewoonlik in Julie aangebied. 8

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees

Die Innibos Kunstefees is vir die eerste keer in 2014 in Nelspruit (vandag Mbombela) in die Laeveld aangebied. Die twee persone wat die leiding daarmee geneem het, is Andy Lubbe en Sandra Jacobs. Albei van hulle is vandag steeds by die fees betrokke.

Die sukses wat ander kunstefeeste soos die KKNK, Grahamstad en Aardklop reeds behaal het, was vir die organiseerders van hierdie nuwe fees ’n inspirasie, maar hulle het ook besluit dat hulle van Innibos ’n eiesoortige fees met sy eie karakter gaan maak.

Innibos is in sy wese ’n kultuuurfees wat die ryk verskeidenheid van musiek en teater in Suid-Afrika ten toon wil stel. Die fees het ’n duidelike Afrikaanse karakter, maar moedig ook kulturele diversiteit aan. Die fees sluit ook visuele kuns by die program in, om aan al die kultuurgroepe van die gebied die geleentheid te bied om deel te neem. 9

Innibos 2017

Ander feeste

Buiten hierdie ses kunstefeeste, is daar talle ander feeste wat landwyd gehou word. Van hulle is die Kalfiefees (Hermanus), Franschhoekse Letterkundefees, Schreiner-Karoo-skrywersfees in Cradock, Klein Karoo Klassique in Oudtshoorn, Kalahari Kuierfees in Upington, Wakkerstroom Musiekfees, Oppikoppi-fees in Northam en die Joy of Jazz-fees in Newtown, Johannesburg. 10

Jy kan gerus kyk of daar dalk in jou dorp of stad ook ’n fees aangebied word wat nie hier genoem is nie.

Bosman-naweek: In Groot Marico (Noordwes-provinsie) word daar reeds vir 30 jaar lank – sedert 1993 – in die derde naweek van Oktober ’n Bosman-naweek gehou wat onder verskillende name bekendstaan, onder andere ook as die Marico Kunstefees. Hierdie naweek word van die begin af deur die Herman Charles Bosman Literêre Vereniging georganiseer, onder leiding van Egbert en Santa van Bart, wat op hierdie manier die nagedagtenis van Herman Charles Bosman lewendig hou. Mense kom van heinde en ver om die naweek by te woon en deel te hê aan alles wat aangebied word. 11

Oppiland-fees: ’n Nuwe fees wat in 2023 vir die eerste keer in Springs aan die Oos-Rand aangebied is, is die Oppiland-fees.

Oppiwater Kunstefees: Een eiesoortige fees wat nie op land gehou word nie, maar letterlik op die water, is die Oppiwater Kunstefees. Hierdie fees vind plaas op ’n skip en feesgangers bly vanaf ’n Maandag tot ’n Vrydag op die skip. Hulle kuier saam en kan ook die heeltyd optredes bywoon wat in verskillende lokale op die skip aangebied word. Vir die duur van die fees vaar die skip vanaf ’n hawe in Suid-Afrika na een van ons buurlande, soos Namibië of Mosambiek.

Verspreiding van die feeste

Die kunstefeeste is byna regdeur die land versprei en word ook regdeur die jaar aangebied.

Die feesdatums van ’n paar feeste lyk so:

  • Maart – KKNK
  • Einde April tot vroeg Mei – Suidoosterfees
  • Einde Junie/begin Julie – Innibos Nasionale Kunstefees
  • Julie – Vrystaat Kunstefees
  • Augustus – Kalfiefees, Hermanus
  • Oktober – Aardklop, US Woordfees

Die meeste van die feeste maak baie goed gebruik van die eiesoortige eienskappe van die streek waarin die fees aangebied word. So, byvoorbeeld, word by die KKNK in Oudtshoorn klem gelê op dinge soos volstruisplase in die omgewing, terwyl Innibos weer die natuurlike omgewing en dierelewe van die streek gebruik om die fees te bemark. Die Kaap spog met verreweg die meeste kunstefeeste en veral inwoners van die Wes-Kaap en Suid-Kaap kan nie kla nie – hulle kan maklik een van die nasionale kunstefeeste gaan besoek sonder om te ver te ry.

Internasionale deelname

Natuurlik is die meeste van die kunstenaars wat by die kunstefeeste optree kunstenaars uit Suid-Afrika, maar meeste van die feeste kry ook gereeld buitelandse kunstenaars wat kom optree.

  • Die Franschhoek Literêre Fees het in hul 2023-program ’n hele paar skrywers uit die buiteland wat aan die fees deelneem. 12
  • Die US Woordfees het taamlik noue bande met veral woordkunstenaars uit Nederland en België wat gereeld tydens die fees kom optree.
  • Die Grahamstad Nasionale Kunstefees bied gereeld optredes met kunstenaars uit die buiteland aan.
  • Ook die Vrystaat Kunstefees (VKF) het gereeld kunstenaars uit die buiteland op hul program. In 2023 is daar onder andere twee kunstenaars uit Nederland/Friesland wat kom optree met ’n program waarin toonsettings van Afrikaanse en Nederlandse gedigte met klavierbegeleiding gesing gaan word.
  • Innibos is in die posisie dat hulle kunstenaars sommer uit hul buurland – Mosambiek – by die fees kan gebruik. ’n Hele aantal musiekgroepe uit Mosambiek tree by die fees op. Daardeur word ook bemarking vir Mpumalanga in die buurland gedoen. 9

En toe kom Covid-19

Aan die einde van 2019 was daar reeds in dele van die wêreld onrustigheid oor ’n nuwe virus wat mense siek gemaak het – dit is Covid-19 genoem. Die “19” beteken dat dit in 2019 geïdentifiseer is.  Eers het dit vir ons ver geklink, iets wat ander lande in die wêreld se probleem is. Maar toe kom 2020 en in Maart 2020 het dinge in Suid-Afrika ook drasties verander toe inperkings byna alles tot stilstand gebring het en die meeste mense nie kon gaan werk of skool, kerk of winkels toe kon gaan nie.

Innibos 2020, die fees wat a.g.v. COVID nie kon plaasvind nie

Natuurlik is almal baie sleg geraak deur hierdie beperkings, ook die kunstewêreld. Kunstenaars en kunstefeeste is afhanklik van mense, veral groot groepe mense wat konserte moet bywoon, en skielik kon niks daarvan gebeur nie! Feeste waarvoor die reëlings ’n jaar of meer gelede reeds getref is, kon glad nie plaasvind nie en skielik was al die kunstenaars wat daar sou optree, sonder daardie inkomste. Ook mense wat stalletjies by die feeste sou hê en mense wat aan die tegniese kant sou werk – soos met beligting of klank – was sonder werk en sonder inkomste.

Daar is deur baie individue en organisasies planne gemaak om mense in die kunstewêreld te help, sommige van die planne klein en sommige groot. Een daarvan was die Tribuo-fonds, wat op die been gebring is om vermaaklikheidskunstenaars wat in finansiële nood is, by te staan. 13

Die Tribuo-fonds is ’n privaat fonds wat in die lewe geroep is om kunstenaars, asook ander mense wat in die kunstewêreld gewerk het en toe skielik geen inkomste gehad het nie, te help. Die fonds het hiervoor geld ingesamel en het tot einde Desember 2021 as ’n noodfonds gefunksioneer. In 2022 is die fonds aangepas om ’n algemene hulpfonds vir mense in die kunstewêreld te word. 14

Uitdagings

Soos dit maar met alles in die lewe gaan, is daar oor die kunstefeeste ook verskillende menings.

Omtrent van die begin af, was daar verskillende menings oor wat die inhoud van kunstefeeste moet wees. Sommige mense kla oor die vlooimarkte en doef-doef-musiek by die feeste. Boekhouers is bekommerd oor kaartjieverkope en inkomste wat genoeg moet wees om die fees se boeke te laat klop. Party mense dink dat daar te veel feeste in die land is. Ander sê weer daar is nié te veel feeste in die land nie en dat feeste werk skep deur nuwe produksies te skep. 1

Beurtkrag bied natuurlik ’n groot uitdaging vir kunstefeeste. Soos alles anders het kunstefeeste elektrisiteit nodig vir alles wat op die fees moet gebeur. Dink maar net aan die klank en beligting wat nodig is om in ’n teater te gebruik. En dan is daar nog al die stalletjies waar elektrisiteit nodig is. Daarom moet feeste allerhande planne maak om met kragopwekkers elektrisiteit te verskaf. Dit is omtrént ’n kopseer vir die organiseerders.

Innibos 2008

Waarom kunstefeeste belangrik is

Wanneer mens aan ’n kunstefees dink, waaraan dink jy waarskynlik heel eerste? Natuurlik aan die konserte en die kunstenaars. En dis ook heeltemal reg, want mense kom tog na ’n kunstefees om konserte by te woon. Vir baie kunstenaars vorm feeste ’n belangrike deel van hul jaarlikse inkomste.

Maar kunstefeeste se invloed strek baie verder as die optredes. Dink ’n bietjie aan almal wat by so ’n fees betrokke is. Daar is die organiseerders van die fees wat vir ’n jaar of selfs langer werk om al die reëlings te tref. Dan is daar die mense wat stalletjies by die fees het wat vir maande lank werk om die produkte wat hulle gaan verkoop, te maak. Daar is spyseniers wat lank vooraf beplan en voorberei aan al die etes en ander verversings wat die feesgangers se mae vol moet hou.

Dan is daar die dorpe en stede waar die kunstefeeste aangebied word. Al die besighede en restaurante in hierdie plekke trek voordeel uit die baie mense wat die fees kom bywoon. Feeste help ook om die toerismebedryf in verskillende streke van die land aan te moedig.

Feeste lewer dus ’n baie belangrike bydrae tot die ekonomie van groot dele van die land en die samelewing.

Woordbank

afgeskop  Begin.
alle verwagtinge oortref Wanneer dit baie beter gaan as wat mense verwag het.
baanbrekerswerk Wanneer iemand iets doen wat nog nie voorheen gedoen is nie dan kan ander mense in so ’n persoon se spore volg en dieselfde dinge begin doen.
beskermhere Eretitel van ’n persoon onder wie se sorg die werk van ’n vereniging of groep gedoen kan word.
boeke te laat klop Om genoeg inkomste te kry om al die uitgawes te betaal en ook wins te maak.
diversiteit Verskeidenheid, verskil, variasie, afwisseling.
eenmalig Net een keer.
genres Verskillende soorte kuns of letterkunde.
inklusief Wat almal/alles insluit.
in die lewe geroep Iets begin.
in lewende lywe Lewende vermaak, verhoogvermaak.
kern Middelpunt; plek waar alles gebeur.
kopseer Groot probleem.
omwenteling Wanneer ’n groot verandering plaasvind en dinge van daar af heeltemal anders begin gebeur.
op die been gebring Iets begin.
samelewing ’n Groep mense wat ’n vaster of losser groep vorm.
spyseniers Iemand/instansie/maatskappy wat onderneem om etes en drinkgoed vir ’n geleentheid te verskaf.
teenvoeter Teenoorgestelde; omgekeerdheid.
toerismebedryf Al die ondernemings wat van toeriste se besteding afhanklik is, soos hotelle, oorde, wildreservate, toerleiers, kunstefeeste, ens..
heinde en ver Van baie verskillende plekke.
volstoom Met alle krag, met baie energie – mens gebruik dit vir iets wat positief verloop. 15

Luister hier

  • Op 9 Maart 2022 het Heindrich Wyngaard met Crispin Sonn, die KKNK se direksievoorsitter, en Saartjie Botha van die Woordfees, op RSG se program Praat Saam gesels. Luister hier wat hulle sê oor die kunstefeeste, die kunstenaars en die toekomstige volhoubaarheid van ons feeste.
  • Christelle Webb-Joubert gesels op RSG met Ismail Mahomed, artistieke direkteur van die Grahamstad Nasionale Kunstefees. Luister hier.

Kyk hier

Vrystaat Kunstefees 2017

Aardklop – hoogtepunte van die 2022-fees

Innibos 2019

Suidoosterfees: Anton en Vriende

KKNK 2022

Kunstenaars word by KKNK vereer

Nasionale Kunstefees in Makhanda 2015

Foto: iStock
Gepubliseer op: 3 Julie 2023 | Bygewerk op 13 Junie 2024