Vinnige feite
- Die Hertzogprys is ’n baie belangrike prys vir skrywers en dit is ’n groot prestasie om een te wen. Schoeman het sommer drie daarvan gewen!
- Schoeman se ma is in 1989 oorlede en hy het haar as op die plaas Witlaagte in die distrik Edenburg in die Vrystaat gestrooi.
- Hy het met sy verblyf in Europa ’n liefde vir sjampanje, sydasse en sjokolade ontwikkel.
- Die werk van Charles Dickens, Leo Tolstoi, Fjodor Dostjefski, Virginia Wolf, William Faulkner en Olive Schreiner het ’n invloed op sy werk gehad. Hy het ook ’n groot bewondering vir die werk van die Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw gehad.
- Schoeman was ’n knap vertaler en het onder meer boeke uit Duits, Nederlands en Engels in Afrikaans vertaal, insluitend Oom Wanja, Die verhaal van Robin Hood, Ierse gedigte uit die Middeleeue, Maria Stuart, Die kersieboord, Op hoop van seën en ’n Stil gemoed.
- Die fliek Promised Land is gebaseer op Schoeman se roman Na die geliefde land. Die draaiboek het in 2002 die prys vir die beste draaiboek op die 15de Tokio Internasionale Rolprentfees gewen.
- Die bundel Sluiswagter by die dam van stemme: Beskouings oor die werk van Karel Schoeman is in 2002 deur Protea Boekhuis gepubliseer.
- Schoeman was bekend daarvoor dat hy hom eenkant gehou het en net met mense gekommunikeer het wanneer hy wou.
- Hy was baie lief vir musiek en musiek en dans kom dikwels in sy verhale voor.
Karel Schoeman was ’n geskiedenis-ghoeroe en die bekroonde skrywer van nagenoeg 55 gepubliseerde werke. Hy is as ’n stilis beskryf, met ander woorde ’n skrywer met ’n goeie styl. Hy het veral op romans en geskiedenisboeke gekonsentreer, maar het ook reisverhale en TV-tekste (draaiboeke) geskryf.
Sy boeke is in vele tale vertaal, onder meer Duits, Frans en Russies. Hy is ook een van min Suid-Afrikaanse skrywers wat met ’n staatspresidentstoekenning bekroon is.
Kom ontmoet Karel Schoeman, wat in 1939 gebore is en tot 2017 geleef het, en wie se werk vandag nog voortleef. Hy het in 1999 ’n Orde vir Voortreflike Diens van wyle pres. Nelson Mandela ontvang en is drie keer met die Hertzogprys vir prosa asook talle ander belangrike literêre pryse bekroon. Die Universiteit van Kaapstad het hom in 2000 met ’n eredoktorsgraad vereer en die Universiteit van die Vrystaat vier jaar later. 1
Grootwordjare en studies
Karel is as Tromp Schoeman op 26 Oktober 1939 in ’n hotel op Trompsburg in die Vrystaat gebore. Daar is nie baie inligting oor sy pa beskikbaar nie, maar ons weet wel dat sy pa ’n handelsreisiger was. Sy ma was ’n Nederlander en haar nooiensvan was Van Rooijen. Familiename was in daardie jare gebruiklik, maar sy ma wou nie vir hom een gee nie en het hom Tromp genoem. Hy het egter regdeur sy lewe dié naam verpes en het homself Karel begin noem. Hy het as universiteitstudent sy naam amptelik na Karel verander. 2
Sy ma het hom met Nederlands as sy moedertaal grootgemaak, Afrikaans as sy tweede taal en Engels as sy derde taal.
Sy ouers is geskei toe hy drie jaar oud was en hy en sy ma het na die dorp Paarl in die Wes-Kaap getrek. Hy het nooit weer sy pa gesien nie. Schoeman het in Paarl by Laerskool W.A. Joubert skoolgegaan en het in 1956 aan die Hoër Jongenskool matrikuleer.
Schoeman en sy ma het in 1975 na Bloemfontein verhuis en hy het daar aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin studeer. Hy het in 1959 ‘n BA-graad met Engels, Afrikaans en Nederlands as hoofvakke behaal.
Hoewel hy as kind in die NG kerk was, het hy baie in die Rooms-Katolieke Kerk belanggestel en is ook op universiteit in die Katolieke Kerk gedoop. Hy wou in ’n stadium selfs ’n monnik geword het en is in 1961 na Ierland om daar opgelei te word. Hy was drie jaar lank by die Franciskaanse seminarium, maar het besluit dat dit nie die regte roeping vir hom was nie en het na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het in Bloemfontein verder studeer en het ’n hoër diploma in biblioteekkunde verwerf.
Loopbaan en sterfte
Daarna het hy vir ’n rukkie as vertaler in Johannesburg gewerk, waarna hy weer na die buiteland gereis het – hierdie keer na Amsterdam in Nederland. Hy het by ’n biblioteek in Amsterdam gewerk en daarna vir ’n ruk lank op verskillende plekke in Europa gewoon en gewerk.
Hy het met sy terugkeer na Suid-Afrika ’n pos as vertaler in Pretoria gekry, maar daarna weer na Bloemfontein teruggekeer om as boekkeurder by die Vrystaatse Provinsiale Biblioteekdiens te werk. Hy het egter in 1982 ’n pos as navorser by die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad aanvaar en het in die pos gebly tot hy in 1999 na sy geboortedorp, Trompsburg, getrek het. 2
Die laaste keer wat hy verhuis het, was in September 2008 toe hy na die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein verhuis het. Hy is ook by die aftreeoord oorlede toe hy op 1 Mei 2017 na bewering selfdood gepleeg het. Hoewel die nadoodse ondersoek nie kon bepaal dat dit beslis selfdood was nie, het hy vroeër daardie jaar ’n brief aan sy prokureur gestuur om hom van sy besluit in te lig.
Hy het daarin geskryf dat hy besluit het om sy eie lewe te neem deur “vrywillig van die gebruik van voedsel en drank af te sien en die lewe deur ’n proses van sogenaamde versterwing te beëindig, wat in die praktyk op dehidrasie neerkom”. Schoeman het in die brief geskryf dat hy weet dat hy nie baie oud wil word nie en dat hy daarom besluit het om sy lewe “betyds te beëindig of in elk geval probéér beëindig”.
Skryfwerk en toekennings
Schoeman het van jongs af van skryf gehou en het gereeld artikels vir die skooljaarblaaie geskryf. Sy eerste ongepubliseerde boeke was in Nederlands en Engels, maar hy het vanaf sy vroeë twintigerjare hoofsaaklik in Afrikaans geskryf.
Sy eerste boek, Veldslag, is in 1965 gepubliseer. Sy volgende boeke was By fakkellig, ’n Lug vol wolke en Spiraal waarvoor hy in 1970 ’n Hertzogprys vir prosa gewen het. Hy het in 1972 die CNA-prys vir sy boek, Na die geliefde land, gewen. Hy het in 1986 die Hertzogprys en die W.A. Hofmeyr-prys vir ’n Ander land gewen. In 1995 het hy nóg ’n Hertzogprys vir Hierdie lewe gewen en twee jaar later, is hy met die Stals-prys vir Kultuurgeskiedenis bekroon.
Schoeman het ook die Recht Malan-prys vier keer gewen. Dit was vir Vrystaatse erfenis (1983), Dogter van Sion (1998) en Armosyn van die Kaap (2002). Die Universiteit van Kaapstad het in 2000 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken vir sy uitstaande bydrae tot die letterkunde en geskiedenis en hy is in 2004 ook met ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat vereer.
Hy is in 2004, saam met André P. Brink en Toek Blignaut, met die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekenning vir hul lewensbydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde vereer.
Schoeman het nie graag onderhoude toegestaan nie en het ook glo nie van groot groepe mense gehou nie. Sy uitgewer het gewoonlik sy bedankingstoespraak by toekenningsaande voorgelees, maar die skrywer het wel in 1998 ’n uitsondering gemaak om ’n toekenning te ontvang. Dit was toe wyle oudpres. Nelson Mandela die Orde van Ikhamanga aan hom oorhandig het. Schoeman het dié toekenning as “’n besondere eer vir die Afrikaanse taal” bestempel.
Daar is ook van sy werk vir TV verfilm, soos sy sketse Die jare, Besoek en Die somerpaleis. Schoeman het in 1990 die SAUK-prys vir die televisiedrama Op die grens gewen.
Schoeman se outobiografie, Die laaste Afrikaanse boek, is in 2003 met die Recht Malan-prys bekroon. Ander pryse wat hy gewen het, is onder andere twee Louis Hiemstra-pryse vir niefiksie, die M-Net-prys vir Verkenning en die Prix du Meilleur Livre Etranger-prys vir die beste buitelandse roman in Frankryk vir die vertaling van Hierdie lewe. 3
Geskiedenisskrywer
Schoeman was ’n geskiedeniskenner wat glo ’n enorme hoeveelheid inligting kon onthou. Hy het ’n groot bydrae tot ons land se erfenis met die skryf van sy boeke gelewer. Hy het onder andere boeke soos Bloemfontein: die ontstaan van ’n stad 1846-1946, Vrystaatse erfenis, Boukunsskatte van die Vrystaat en Bloemfontein in beeld 1860-1910 geskryf. Hy was ook die redakteur van die Vrijstatia-reeks oor die 19de-eeuse Vrystaatse geskiedenis en het ’n paar boeke oor sendinggeskiedenis, die vroeë lewe in die Kaap, en biografieë (soos oor Olive Schreiner, Olive Schreiner: ’n Lewe in Suid-Afrika 1851-1881) geskryf.
Schoeman se skryfwerk
Naam | Literêre vorm | Publikasiedatum | Uitgewer |
Veldslag | Novelle | 1965, 1971, 1977
|
Kaapstad: Human & Rousseau |
Die hart van die son | Roman | 1965, 1968, 1976, 1986 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Van my kontrei | Kortkuns | 1938, 1948, 1949 | Kaapstad: Nasionale Pers |
By fakkellig | Roman | 1966, 1970, 1972, 1991 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek | Reisverhaal | 1966 | Kaapstad: Human & Rousseau |
’n Lug vol helder wolke | Roman | 1967, 1973, 1993, 1995 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Van ’n verre eiland: ’n tweede Ierse dagboek | Reisverhaal | 1968 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Spiraal | Roman | 1968, 1971, 1983 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Lig in die donker | Roman | 1969, 1974, 1988 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Op ’n eiland | Roman | 1971, 1975, 2009 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Na die geliefde land | Roman | 1972, 1982, 1988, 1994, 2007 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Eroica | Biografiese roman | 1973, 1977 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Helde van die Rooi Tak: die saga van Cucullin en die veeroof van Culne | Legendes | 1973 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die noorderlig | Roman | 1975 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Gode, helde en konings | Middeleeuse Ierse kortverhaal | 1975 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Besoek | Televisiedraaiboek | 1975 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die somerpaleis | Televisiedraaiboek | 1975 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Om te sterwe | Roman | 1976 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Finn en sy mense: die avonture van Fianna van Ierland | Legende | 1976 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die jare | Televisiedraaiboek | 1976 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Afrika | Roman | 1977 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Koninkryk in die Noorde: ’n boek oor Skotland | Reisverhaal | 1977 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Onderweg: reisherinnerings | Reisverhaal | 1978 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die walskonings | Roman | 1978 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die hemeltuin | Roman | 1979
1982 1991 |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Bloemfontein: die ontstaan van ’n stad 1846-1946 | Geskiedenis | 1980 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die reisiger | Roman | 1980 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Waar ek gelukkig was | Roman | 1981 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Vrystaatse erfenis: bouwerk en geboue in die 19de eeu | Geskiedenis | 1982 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die dood van ’n Engelsman: die Cox-moorde van 1856 en die vroeë jare van die Oranje-Vrystaat | Geskiedenis Biografie |
1982 | Kaapstad: Human & Rousseau |
In liefde en trou: die lewe van president M.T. Steyn en mevrou Tibbie Steyn met ’n keuse uit hulle korrespondensie | Biografie | 1983 | Kaapstad: Human & Rousseau |
’n Ander land | Roman | 1984, 2006 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Boukunsskatte van die Vrystaat = Free State Heritage | Geskiedenis | 1985 | Roodepoort: CUM |
Die wêreld van die digter: ’n boek oor Sutherland en die Roggeveld ter ere van NP Van Wyk Louw | Biografie | 1986 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Bloemfontein in beeld 1860-1910: Portrait of Bloemfontein 1860-1910 | Geskiedenis | 1987 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Olive Schreiner: ’n lewe in Suid-Afrika 1855-1881 | Biografie | 1989 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Veldslag | Televisiedraaiboek | 1989 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Afskeid en vertrek | Roman | 1990 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Only an anguish to live here: Olive Schreiner and the Anglo-Boer War 1899–1902 | Geskiedkundige biografie | 1992 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Hierdie lewe | Roman | 1993, 2003 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die kort sendingloopbaan van Sophia Burgmann, 1805-1812 | Biografie | 1994 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Irma Stern: The Early Years 1894-1933 | Biografie | 1994 | Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek |
Die uur van die engel | Roman | 1995 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die wêreld van Susanna Smit 1799-1863 | Geskiedkundige biografie | 1995 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die moord op Hesje van der Merwe, 19 Oktober 1837 | Geskiedkundige biografie | 1995 | Kaapstad: Human & Rousseau |
A Thorn Bush that Grows in The Path: The Missionary Career of Ann Hamilton, 1815-1823 | Biografie | 1995 | Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek |
The Face of The Country: A South African Family Album 1860-1910 | Foto-album | 1996 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Verkenning | Roman | 1996 | Kaapstad: Human & Rousseau |
J.J. Kicherer en die vroeë sending, 1799-1806 | Geskiedenis | 1996 | Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek |
Dogter van Sion: Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749-1799 | Geskiedenis | 1997 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Verliesfontein | Roman | 1998 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Merksteen: ’n dubbelbiografie | Biografie | 1998 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Armosyn van die Kaap: voorspel tot vestiging, 1415-1651 | Geskiedenis | 1999, 2005 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Stamland: ’n reis deur Nederland | Reisverhaal | 1999 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Armosyn van die Kaap: die wêreld van ’n slavin 1652-1733 | Geskiedenis | 2001 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Die laaste Afrikaanse boek | Outobiografiese aantekeninge | 2002 | Kaapstad: Human & Rousseau |
The Griqua Captaincy of Philippolis, 1826-1861 | Geskiedenis | 2002 | Pretoria: Protea Boekhuis |
’n Duitser aan die Kaap: die lewe en loopbaan van Hendrik Schoeman | Biografie | 2004 | Pretoria: Protea Boekhuis |
The Early Mission in South Africa, 1799-1819 Die vroeë sending in Suid-Afrika, 1799-1819 | Kerkgeskiedenis | 2005 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Kinders van die Kompanjie: Kaapse lewens uit die sewentiende eeu | Kaapse geskiedenis | 2006 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Early Slavery at the Cape of Good Hope, 1652-1717 | Geskiedenis | 2007 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Patrisiërs en prinse: die Europese samelewing en die stigting van ’n kolonie aan die Kaap, 1619-1715 | Geskiedenis | 2008 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Seven Khoi Lives: Cape Biographies of The Seventeenth century | Geskiedenis | 2009 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Handelsryk in die Ooste: die wêreld van die VOC, 1619-1688 | Geskiedenis | 2009 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Titaan: ’n roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti | Biografiese roman | 2009 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Kolonie aan die Kaap: Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652-1662 | Geskiedenis | 2010 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Burgers en amptenare: die vroeë ontwikkeling van die kolonie aan die Kaap, 1662-1679 | Geskiedenis | 2011 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Cape Lives of the Eighteenth century | Geskiedenis | 2011 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Riviereland: twee besoeke aan Nederland | Reisverhaal | 2011 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Here en Boere: die kolonie aan die Kaap onder die Van der Stels, 1679-1712 | Geskiedenis | 2013 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Portrait of A Slave Society: The Cape of Good Hope, 1717-1795 | Geskiedenis | 2013 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Twee Kaapse lewens: Henricus en Aletta Beck en die samelewing van hul tyd, 1702-1755 | Geskiedenis | 2013 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Deelstad: ’n boek oor Berlyn | Reisverhaal | 2013 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Hoogty: die opbloei van ’n koloniale kultuur aan die Kaap, 1751-1779 | Geskiedenis | 2014 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Die vrou wat alleen bly: twee draaiboeke | Draaiboek | 2015 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Imperiale somer: Suid-Afrika tussen oorlog en unie, 1902-1910 | Geskiedenis | 2015 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Swanesang: die einde van die Kompanjiestyd aan die Kaap, 1771-1795 | Geskiedenis | 2016 | Pretoria: Protea Boekhuis |
Woordbank
bekroonde | Iemand wie se werk ʼn prys/medalje ontvang het. |
boekkeurder | Persoon wat verantwoordelik is vir die lees van manuskripte wat vir publikasie oorweeg word. |
biografieë | Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing. |
dehidrasie | Ontwatering. |
draaiboek | Manuskrip met handleiding en gegewens vir die maak van ʼn rolprent of televisiereeks. |
eredoktorsgraad | ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie. |
Franciskaanse | Die term “Franciskaans” verwys na volgelinge van drie ordes binne die Katolieke Kerk wat deur Franciscus van Assisi gestig is. |
ghoeroe | ’n Kenner. |
handelsreisiger | Iemand wat reis om kliënte vir ’n maatskappy te werf. |
kortkuns | Alle kort prosawerke soos die kortverhaal, kortkortverhaal of prosa, skets, prosagedig en essay. |
legendes | Verhale wat deur oorlewering van geslag tot geslag vertel word. |
literêre | Wat met literatuur/letterkunde verband hou. |
monnik | Dit is ʼn man wat hom aan die wêreld onttrek en hom saam met ander in ʼn klooster heeltemal aan die godsdiens wy. |
nooiensvan | ʼn Vrou se van voordat sy trou en haar man se van begin gebruik. |
novelle | Kort prosaverhaal wat langer as ’n kortverhaal, maar korter as ’n roman is. |
oeuvre | Al die werke van ʼn skrywer. |
outobiografie | Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het. |
prosa | Geskrewe taalgebruik, veral as letterkundige genre. |
romans | Lang prosaverhale met karakteruitbeelding en omgewingsbeskrywing. |
seminarium | ʼn Kweekskool (opleidingsentrum) vir predikante. |
stilis | Dis ’n skrywer met ’n goeie styl. |
swetterjoel | Baie. |
televisiedraaiboek | Manuskrip met handleiding en gegewens vir die maak van ʼn televisieprogram of -reeks. |
uitgewer | Iemand wat boeke laat druk en versprei |
verpes | Om nie van iets te hou nie. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Schoeman, die stil grensverskuiwer
- Eerste Helgaard Steyn-prys vir Afrikaanse Letterkunde aan Schoeman toegeken
- Schoeman se indrukwekkende lys werke
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Hulde aan Schoeman
Lokprent van Promised Land