Vinnige feite

  • Volgens Statistiek Suid-Afrika gebruik die gemiddelde Suid-Afrikaner 2,84 tale. Baie mense in Suid-Afrika kan drie, vier of meer tale praat. 2
  • Ons Suid-Afrikaners hou daarvan om ons taal te meng. Dit beteken dat as jy Afrikaans praat, kan jy dalk ’n Engelse woord of twee gebruik of as jy Zoeloe praat, kan jy dalk Afrikaans of Engels in jou gesprek gebruik. Dink maar aan die woord “lekker” of “braai” wat baie mense gebruik wat nie Afrikaans praat nie.
  • Suid-Afrika het ’n  taalsentrum om inheemse tale te bevorder. Dit is die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne en hulle doen navorsing en ontwikkeling in taaltegnologie.
  • Die konsepgrondwet (dit was die tydelike een) het Sesotho sa Leboa (Noord-Sotho) as een van die amptelike tale aangedui terwyl die Engelse finale weergawe die taal in die grondwet met Pedi vervang het. Hoewel baie webwerwe sê dat die twee tale deel van mekaar vorm, is dit nie dieselfde taal nie. Daar was al verskeie kere daaroor vergader, maar ons huidige Grondwet bevat steeds die taal Sepedi in plaas van Sesotho Sa Leboa. 4
  • Die grootste van die Afrikataalgroepe is Nguni (Ndebele, Swazi, Zoeloe en Xhosa), gevolg deur Sotho-Tswana (Pedi, Suid-Sotho en Tswana), Tsonga en Venda. Die Tsongasprekers bly hoofsaaklik in Limpopo en Mpumalanga en die Vendasprekers in die Limpopo-provinsie.
  • Die nuwe parlement (in 1994) se  Grondwetlike Vergadering het op 24 Mei 1994 die eerste keer vergader en Cyril Ramaphosa van die ANC is as voorsitter en Leon Wessels van die NP is as ondervoorsitter aangestel. Hulle moes binne twee jaar ná die eerste sitting van die Nasionale Vergadering ’n nuwe grondwet aanvaar. Die parlement moes die teks met ’n tweederdemeerderheid aanvaar. Daar is uiteindelik op 8 Mei 1996 oor die Grondwet gestem. Die ANC, NP, DP en PAC het ten gunste daarvan gestem. 5
  • William Burchell het in 1822 geskryf dat almal wat in die Kaapkolonie gebore is en nie van Engelse herkoms is nie, maar eerder van Duitse, Nederlandse of Franse afkoms is en wat Nederlands gepraat het, hulself “Africaanders” noem. Hulle het glo ’n “baie swak soort Nederlands” gepraat. Daardie “swak soort Nederlands” sou mettertyd Afrikaans word. Afrikaans was dus ’n dialek van Nederlands, maar dit het baie van die oorspronklike Nederlands verskil. Die Nederlands is eenvoudiger gemaak en daar is baie woorde van ander tale bygevoeg soos dié van die Maleis-Portugees wat die slawe gepraat het. “Baie dankie” kom byvoorbeeld uit die Nederlands sowel as die Maleise “banja”. 5
  • Indië het 454 tale en is een van die wêreldlande wat die meeste tale het. Engels en Hindoe is die nasionale regering se amptelike tale, maar daar is in totaal 16 in Indië want hul verskillende state (soos ons provinsies) kan hul eie amptelike tale kies. 6
  • Mexiko het geen amptelike taal nie hoewel die regering Spaans as sy taal gebruik. Spaans het egter geen amptelike status nie omdat daar ook baie inheemse tale is.
  • Amerika is nog ’n land sonder ’n amptelike taal hoewel Engels natuurlik gebruik word, word daar ook baie ander tale in die land gepraat soos Spaans en Chinees.
  • Palau wat uit meer as 500 eilande bestaan, het vyf amptelike tale.
  • Oostenryk, Singapoer, Spanje en Bahrein het elk vier amptelike tale.
  • Engels is die amptelike taal wat wêreldwyd die meeste gebruik word.

 

Suid-Afrika se Grondwet erken 11 amptelike tale. ’n Grondwet is ’n wet waarop al die ander wette van ’n land gegrond word. 1

Die 11 tale is Afrikaans, Engels, Ndebele, Pedi, Sotho, Swazi, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa en Zoeloe. Suid-Afrika se amptelike tale was eens op ’n tyd slegs Europees soos Engels, Nederlands en later Afrikaans (wat uit Nederlands gevorm is). Suid-Afrika het egter ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994 sy nuwe grondwet gekry wat al die hooftale van die land erken en bevorder. Ons het dus 11 amptelike tale, maar daar is eintlik ongeveer 34 tale wat in ons land ontstaan het. Dertig van hulle bestaan nog, terwyl vier Khoisan-tale reeds uitgesterf het. Dit beteken dat niemand die taal meer praat nie. 2

Die ontstaan van Suid-Afrikaanse tale

Khoisantale

Die eerste inwoners van die Suider-Afrikaanse subkontinent was glo sprekers van die Khoi- en Santale wat versamelaars en jagters was. Vandag word die tale nog in Suid-Afrika se buurlande Namibië en Botswana gebruik, terwyl dit ongelukkig by ons teen 1994 feitlik uitgesterf het. 3

Afrikatale

Die sprekers van Afrikatale het teen 800 n.C. in suidelike Afrika aangekom met mense wat vanaf Sentraal-Afrika hierheen gemigreer het. In suidelike Afrika is daar ongeveer 35 Afrikatale. Die Afrikatale word hier in Suid-Afrika in vier hoofgroepe verdeel. Die hoofgroepe is Nguni (Ndebele, Swazi, Zoeloe en Xhosa), Sotho-Tswana (Pedi, Suid-Sotho en Tswana), Tsonga en Venda. 3

Zoeloe-vrou

Engels

Britse skepe wat teen die einde van die 16de eeu in Suid -Afrika aangedoen het, het Suid-Afrikaners aan die Europese  taal bekend gestel. Die Britse skepe het na die Verre Ooste gereis en hier by ons kus vir vars water en kos gestop en veral met die Khoimense handel gedryf. Die Britte het in 1795 in die Kaapkolonie aan bewind gekom en die beheer daarvan by die Nederlanders oorgeneem. Hulle het die beheer weer in ’n stadium teruggegee, maar teen 1806 het hulle dit weer oorgeneem. So het meer en meer Britse burgers in die land aangekom en soos die Britte die land en regering oorgeneem het, het Engels meer en meer die oorheersende taal geword. 3

Afrikaans

Afrikaans gebruik baie woorde uit ander tale, maar dit het vanaf die 17de eeu hoofsaaklik uit die taal Nederlands ontwikkel. Die Nederlands is egter omtrent verander om Afrikaans te word en is toe deur die plaaslike gemeenskappe, veral dié van die Khoi, slawe van Wes-Afrika, Oos-Afrika en die Verre Ooste, en ook die Franse en Duitse immigrante gepraat. Afrikaans was teen die middel van die 19de eeu die spreektaal van baie bruin en wit mense in die Kaapkolonie, terwyl Nederlands en Engels die taal van die welvarende mense was. 3

Die Gereformeerde kerk het Afrikaans in 1919 begin gebruik, maar die eerste Bybelvertaling in Afrikaans is die 1933-vertaling. Die eerste openbare pleidooi vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans was ‘n brief deur dr. Arnoldus Pannevis wat op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan verskyn het. Gedeeltes van die Bybel is vroeër deur A. Pannevis, C.P. Hoogenhout en S.J. du Toit vertaal. Afrikaans is eers in 1925 as ampstaal naas Nederlands en Engels erken.

Amptelike tale se geskiedenis

Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994 het baie dinge verander, ook op taalvlak. Voor dit was daar net drie tale wat op verskillende tye in ons land se geskiedenis die amptelike tale was: Nederlands, Engels en Afrikaans. Nederlands was vanaf 1652 tot 1806 die amptelike taal ná die vestiging van die nuwe Kaapkolonie deur die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC).

Met Brittanje se oorname van die Kaapkolonie was Engels die amptelike landstaal vanaf 1806 tot 1925.

Tussen 1925 en 1948 was die regering, die weermag en die radiodiens hoofsaaklik Engels, met Afrikaans wel as amptelike taal (vanaf 1925) en as ’n skooltaal, maar sonder enige werklike mag. In hierdie tydperk het die Afrikatale geen openbare rol gehad nie. Nadat ’n Afrikaanssprekende party, die Nasionale Party, die regering in 1948 oorgeneem het, het Afrikaans die hooftaal geword. Engels het weliswaar steeds ’n groot rol gespeel.

Met die skryf van Suid-Afrika se nuwe grondwet ná die eerste demokratiese verkiesing, is daar baie vergaderings gehou om oor die amptelike tale te beslis en daar was ook omstredenheid oor watter tale om as die amptelike tale te kies.

Uiteindelik is die nuwe Grondwet aanvaar en Artikel 6 van die Grondwet van Suid-Afrika maak voorsiening vir elf amptelike tale. Dit sê ook dat ons Suid-Afrikaanse regering hierdie tale moet bevorder en dat hierdie tale gelyk is en dus regverdig behandel moet word. Ons het ’n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) wat moet kyk dat die Grondwet se riglyne en voorskrifte gevolg word en dat ons tale bevorder word. 3

Die taal wat die meeste gepraat word

Zoeloe is die taal wat die deur die meeste mense in die land gepraat word. Byna 23% van ons bevolking praat dié taal. Xhosa word deur 16% van die bevolking gepraat, dan Afrikaans (13,5%), Engels (10%), Noord-Sotho (9%), Tswana en Sotho (albei 8%), Tsonga (4,5%), Swazi en Venda (albei 2,5%), en Ndebele (2%). 2

Daar is sowat 4,9 miljoen Suid-Afrikaners wie se moedertaal Engels is. Daarvan is 33% wit, ’n kwart (24%) is swart, 22% is Indiërs en 19% is bruin. Meer as die helfte van Afrikaanssprekendes is bruin (50,2%), 40% is wit, 9% is swart en slegs 1% is Indiërs. 2

Taal en plek

Taal en plek loop hand aan hand, want as jy in die Oos-Kaap bly of vakansie hou, gaan jy meer mense teëkom wat Xhosa praat, want 80% van mense in die Oos-Kaap praat Xhosa. In KwaZulu-Natal praat 78% van die bevolking Zoeloe terwyl ongeveer 20% van mense in Gauteng Zoeloe praat. As jy in die Noord-Kaap of Wes-Kaap is, is daar weer baie mense wat met jou Afrikaans kan praat.

Die hooftale in ons provinsies is:

Oos-Kaap – Xhosa (78,8%), Afrikaans (10,6%)

Vrystaat – Sotho (64,2%), Afrikaans (12,7%)

Gauteng – Zoeloe (19,8%), Engels (13,3%), Afrikaans (12,4%), Sotho (11,6%)

KwaZulu-Natal – Zoeloe (77,8%), Engels (13,2%)

Limpopo – Noord-Sotho (52,9%), Tsonga (17%), Venda (16,7%)

Mpumalanga – Swazi (27,7%), Zoeloe (24,1%), Tsonga (10,4%), Ndebele (10,1%)

Noord-Kaap – Afrikaans (53,8%), Tswana (33,1%)

Noordwes – Tswana (63.4%), Afrikaans (9%)

Wes-Kaap – Afrikaans (49,7%), Xhosa (24,7%), Engels (20,3%) 2

Woordbank

bewind Dis die bestuur of regering.
dialek ’n Vorm van ’n taal wat deur ’n sekere groep of op ’n sekere plek gepraat word.
grondwet Dis ’n wet waarop al die ander wette van ’n land gegrond is. 1
immigrante Iemand wat in ’n land inkom en permanent in die land woon. 1
inheems Wat uit ’n eie land of gebied gekom en nie ingevoer word nie.
migreer As mense of diere van een gebied of landstreek na ’n ander beweeg en daar bly, dikwels net tydelik. 1
moedertaal Dis die taal wat ’n mens as ’n kind heel eerste leer. 1
spreektaal Die taal wat mense praat.
uitsterf Iets wat nie meer bestaan nie. 1
welvarende Die voorspoed of rykdom van mense. 1

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Suid-Afrikaanse tale 

So klink ons tale

Sê “hallo” in al 11 ons amptelike tale 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 April 2022 | Bygewerk op 20 Oktober 2023