Vinnige feite

  • Die Grondwet van Suid-Afrika is op 8 Maart 1996 aanvaar.
  • Die volkslied van Suid-Afrika is “Nkosi Sikelel iAfrika”. Dit is die enigste volkslied ter wêreld wat in een toonsoort begin en in ’n ander eindig en die lirieke daarvan is boonop in vyf tale.
  • Daar is 11 amptelike tale in Suid-Afrika.
  • Die Handves van Menseregte vorm die grondslag van ons demokrasie.
  • Die regering bestaan op drie vlakke: Nasionale, provinsiale en plaaslike vlak.
  • Daar is vier soorte howe in Suid-Afrika.
Foto: iStock

Die Grondwet is die hoogste reg van die Republiek van Suid-Afrika. Die Grondwet van Suid-Afrika is op 8 Maart 1996 aanvaar.

Daar word van tyd tot tyd wysigings aan die Grondwet gemaak. Daar is byna elke jaar wysigings en soms gebeur dit selfs meer as een keer per jaar. 1

Kernbepalings van die Grondwet

Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat.

Die volgende waardes vorm die grondslag van die staat:

  • Menswaardigheid, gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede;
  • Nierassigheid en nieseksisme;
  • Die oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg; en
  • Algemene stemreg vir volwassenes, ʼn nasionale kieserslys, gereelde verkiesings en ʼn veelpartystelsel. 1

Ander bepalings van die Grondwet

Burgerskap

Alle burgers is gelyk voor die reg. Alle burgers het die regte, voorregte en voordele van burgerskap. Burgers van Suid-Afrika moet ook die pligte en verantwoordelikhede van burgerskap nakom.

Nasionale lied

Die nasionale lied word deur middel van ’n proklamasie deur die president bepaal. Die nasionale lied is “Nkosi Sikelel iAfrika”. (Kyk onderaan vir die woorde van die volkslied).

 

Nasionale vlag

Die kleure van die nasionale vlag is swart, goud, groen, wit, rooi en blou.

Tale

Die land het 11 amptelike tale: Sepedi, Suid-Sotho, Tswana, Swati, Venda, Tsonga, Afrikaans, Engels, Ndebele, Xhosa en Zoeloe.

Die nasionale regering en provinsiale regerings kan enige, maar moet ten minste twee van die amptelike tale gebruik. Munisipaliteite moet die taal of tale gebruik wat deur die meeste van die inwoners wat binne daardie munisipaliteit se grense woon, gepraat word.

Daar is ’n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad ingestel. Hierdie raad moet sorg dat al die amptelike tale gebruik word. Die raad moet ook aandag gee aan die Khoi-, Nama- en Santale asook aan gebaretaal. Daarbenewens moet die raad seker maak dat daar respek is vir ander tale wat deur ’n groot deel van die bevolking van die land gebruik word. Hierdie tale is, onder meer, Duits, Grieks, Goedjarati, Hindi, Portugees, Tamil, Teloegoe en Oerdoe. Die raad moet verder ook aandag gee aan tale wat in verband met godsdiens in die land gebruik word. Hierdie tale is, onder meer, Arabies, Hebreeus en Sanskrit. 1

Handves van Menseregte

Die Handves van Menseregte is ’n baie belangrike deel van die Grondwet van Suid-Afrika. Mens kan eintlik sê dat dit die grondslag van ons demokrasie vorm. Die hele hoofstuk 2 van die Grondwet word gebruik om al die menseregte te beskryf. Kyk na die artikel vir meer inligting hieroor. 1

Vorm en verskillende afdelings van die regering

Die regering bestaan op drie vlakke, naamlik nasionale, provinsiale en plaaslike vlak, soos deur die Grondwet bepaal.

Nasionale vlak

Die nasionale regering bestaan uit die parlement wat gelei word deur die speaker, asook die Nasionale Vergadering wat deur die president en die kabinet gelei word. Die nasionale regering maak wette vir die hele land. 2

Die parlement bestaan uit die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies. 1

  • Nasionale Vergadering: Die Nasionale Vergadering bestaan uit minstens 350 en hoogstens 400 vroue en mans. Hulle word verkies volgens ʼn kiesstelsel. 1
  • Nasionale Raad van Provinsies: Die Nasionale Raad van Provinsies verteenwoordig die belange van die provinsies om seker te maak dat hierdie belange beskerm word. 1
Uniegebou, Pretoria

Provinsiale vlak

Die provinsiale regering maak wette wat slegs vir daardie spesifieke provinsie geld. 2

Stadsaal, Kaapstad

Plaaslike vlak

Elke provinsie is in munisipaliteite verdeel. Dit maak dit makliker om die provinsie te bestuur. Plaaslike regerings moet vir landsburgers ’n veilige en gesonde omgewing skep om in te bly. Hulle moet ook dienste soos die voorsiening van water, elektrisiteit en behuising lewer. 2

Die Regstelsel

Howe

Die howe is verantwoordelik vir die regsprekende gesag in Suid-Afrika.

Die howe is onafhanklik en moet, sonder dat daar met hul werk ingemeng word, die take en pligte wat hulle opgelê is, ten beste uitvoer. Staatsdepartemente moet die howe bystaan en beskerm sodat hulle hul werk onafhanklik en onpartydig kan doen.

Howe moet met waardigheid toeganklik en diensbaar wees vir die land se mense. Wanneer ’n hof ’n besluit geneem het (uitspraak gelewer het), moet daardie bevel deur almal gehoorsaam word. 3

Hoofregter

Die hoofregter is die hoof van die regbank (van alle howe). Sy plig is om die standaarde vir alle howe te stel en te sorg dat howe hul pligte reg uitvoer. 3

Verskillende howe

Konstitusionele Hof

Die Konstitusionele Hof bestaan uit die hoofregter van Suid-Afrika, die adjunkhoofregter en nege ander regters.

Die Konstitusionele Hof is die hoogste hof in die land. Hierdie hof gee uitspraak oor sake wat die grondwet raak asook oor enige ander sake.

Sake in die Konstitusionele Hof moet deur minstens agt regters verhoor word. 3

Konstitusionele Hof, Johannesburg

Hoogste Hof van Appèl

Die Appèlhof bestaan uit ʼn president, ʼn adjunkpresident en ’n aantal appèlregters. 4

Appèlhof, Bloemfontein

Hooggeregshof van Suid-Afrika

Die Hooggeregshof kan enige saak verhoor wat met grondwetlike sake te doen het. Volgens die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling is die funksie van die meester van die Hooggeregshof om doeltreffende, koste-effektiewe en gespesialiseerde dienste te lewer met betrekking tot die toesig, kuratorskap, arbitrasie en inligting aangaande gestorwe en insolvente boedels en trusts.

Hooggeregshof, Johannesburg

Landdroshowe

Landdroshowe kan sake verhoor wat te doen het met wette wat deur die parlement gemaak is. Hulle kan nie sake verhoor wat handel oor Grondwetsake of enige optrede van die President nie. 3

Regters

Regters moet Suid-Afrikaanse burgers wees en die regte kwalifikasies hê.

Die hoofregter en adjunkhoofregters word deur die president aangestel nadat hy dit bespreek het met, onder andere, die Regterlike Dienskommissie. 3

Nasionale vervolgingsgesag

Die Nasionale vervolgingsgesag word deur ’n wet van die parlement ingestel.

Hierdie liggaam bestaan uit die nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV) asook direkteure van openbare vervolgings en aanklaers. 3

Die Suid-Afrikaanse volkslied

Hoe het ons volkslied ontstaan en hoekom is daar twee?

“Nkosi Sekelel’ iAfrika” is in 1897 gekomponeer deur Enoch Sontonga, ’n Metodiste-skoolonderwyser. Dit is oorspronklik as ‘n kerklied gesing, maar het later ‘n daad van politieke verset teen die apartheidsregering geword.

Nelson Mandela, wat ‘n leidende rol gespeel het in die onderhandeling van die einde van apartheid, het president geword. As president was hy egter verbind tot die beginsels van versoening en gelykheid. Om hierdie rede het hy verklaar dat “Die Stem van Suid-Afrika”/The Call of South Africa” en “Lord Bless Africa” albei die status van volkslied sou beklee, en vir etlike jare is albei liedere by staats- en sportbyeenkomste gesing 5 totdat hulle in 1997 saamgevoeg is om die huidige volkslied te vorm. 6

“Die Stem van Suid-Afrika” is in 1918 deur C.J. Langenhoven geskryf. Drie jaar later is dit getoonset deur ds. M.L. De Villiers en was die gesamentlike volkslied met “God Save the Queen” van 1936 tot 1957, toe dit die enigste volkslied geword het tot 1994.

“Nkosi sikelel’ iAfrika” – ‘n verkorte, gekombineerde weergawe van Nkosi Sikelel’ iAfrika en “Die Stem van Suid-Afrika/The Call of South Africa” – is nou die volkslied van Suid-Afrika.

Wat maak hierdie volkslied so uniek? Dis die enigste volkslied ter wêreld wat in een toonsoort begin en in ‘n ander eindig. Die lirieke is boonop in vyf van Suid-Afrika se elf amptelike tale geskryf – isiXhosa (eerste strofe, eerste twee reëls), isiZulu (eerste strofe, laaste twee reëls), seSotho (tweede strofe), Afrikaans (derde strofe) en Engels (finale strofe).

Hier volg die woorde van “Nkosi sikelel’ iAfrika”: 7

Xhosa 

Nkosi sikelel’ iAfrika,  

Maluphakanyisw’ uphondo lwayo,

 Afrikaanse vertaling

God seën Afrika,

Laat sy vlag gehys word.

Zoeloe

IsiZYizwa imithandazo yethu,

Nkosi sikelela, thina lusapho lwayo. 

Verhoor ons gebede,

God seën ons – sy familie.

Sotho

Morena boloka setjhaba sa heso,

O fedise dintwa le matshwenyeho

O se boloke, O se boloke, setjhaba sa heso,

Setjhaba sa South Africa, South Africa.

 God bewaar ons nasie,

Maak ’n einde aan oorloë en lyding.

Bewaar ons land, bewaar ons nasie,

Die nasie van Suid-Afrika.

Afrikaans

Uit die blou van onse hemel,

uit die diepte van ons see,

oor ons ewige gebergtes,

waar die kranse antwoord gee,

Engels

Sounds the call to come together,

and united we shall stand,

let us live and strive for freedom,

in South Africa our land.

Parlementsgebou, Kaapstad

Woordbank

demokratiese ’n Regering wat verkies word deur verteenwoordigers uit al die inwoners van ’n land.
petisie Versoek aan die owerheid in skriftelike vorm.
proklamasie Amptelike bekendmaking, afkondiging van wette, regulasies.

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

Luister na die Drakensberg Seunskoor wat die volkslied sing

Skakel

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2022 | Bygewerk op 9 Mei 2024