Vinnige feite

  • Die eerste jagters het ongeveer 20 000 jaar gelede reeds gejag in die gebied wat vandag Suid-Afrika is.
  • Die eerste gewere is ná die koms van Jan van Riebeeck in Suid-Afrika gebruik.
  • President Paul Kruger het in 1884 aan die parlement opdrag gegee dat daar ’n wildreservaat gestig moet. Kort daarna is die Nasionale Krugerwildtuin gestig.
Foto: iStock

Om te jag is een van die oudste maniere waarop mense hulself aan die lewe gehou het. Mense het in die vroegste tye hul kos in die hande gekry deur veldkos te versamel en diere vir vleis te jag.

Hoewel daar steeds groepe mense in die wêreld is wat jag om kos in die hande te kry, het jag in die grootste deel van die wêreld verander tot ’n aktiwiteit wat byna oral nou slegs ’n sport is.

Ivoorhandel

Jag in Suid-Afrika

Wapens wat vir jag gebruik is

In Suid-Afrika was die eerste jagters mense wat in die Steentydperk geleef het. Hierdie mense het vanaf ongeveer 20 000 jaar gelede tot ongeveer 200 jaar gelede in die gebied wat tans as Suid-Afrika bekendstaan, gebly. Hulle was die voorouers van die Sanvolk of Boesmans en word vandag steeds so genoem. 1

Ongeveer 1650

Hulle het strikke en vanggate gebruik om diere mee te vang en het ook met wapens gejag. Die wapens wat deur hierdie vroeë jagters gebruik is, was eers klippe en later knuppels wat van been gemaak was. 2 3

Die San het giftige pyle gebruik om mee te jag. Die gif wat aan die pylpunte gebruik is, is gemaak van ’n sekere soort sprinkaan. Die deel van die sprinkaan wat hulle gebruik het, is gekook totdat dit soos rooi jellie lyk en daarna is dit aan die pylpunte gesmeer. 4 Hulle het ook kewers en slanggif gebruik.

Braai springkane

Die San was en is steeds uitstekende spoorsnyers. Wanneer ’n dier met ’n gifpyl geskiet word, gaan die dier nie dadelik dood nie. Hy vlug en moet dan agtervolg word. Soms hardloop die jagter vir ’n dag of langer op die spoor van die gekweste dier voordat die dier van die gif doodgaan en die jagter dit kan afslag.

Hierdie jagters het tekeninge van hul jagtogte teen rotse en kranse gemaak. Op talle plekke in Suid-Afrika is hierdie rotstekeninge vandag steeds te sien. 5

Die eerste gewere wat vir jag gebruik is, het saam met Jan van Riebeeck na die land gekom. Hierdie eerste gewere is snaphane of pangewere genoem. Die gewere wat deur die grensboere gebruik is, het ’n lang loop en ’n swaar laaistok gehad. Later is groter gewere van ’n groter kaliber gebruik en daarmee was dit moontlik om groot getalle wild te skiet. 2

Wetgewing oor jag

Reeds in 1656 het Van Riebeeck ’n reël oor jag ingestel. Daarvolgens sou die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) aan jagters ’n beloning betaal vir elke leeu, luiperd en hiëna wat hulle skiet. 2

Toe jagters, en veral buitelandse jagters, in later jare groot getalle wild begin skiet het, het nuwe wetgewing nodig geword om die wild te beskerm en jag te beheer. Die Republiek van Ohrigstad het jag wat onverskillig gedoen is, verbied en groot boetes ingestel vir mense wat hierdie wette oortree het. 2

Die eerste wet om jagters te keer dat hulle nie wilde diere onnodig uitroei nie, is in 1858 as die Jagwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) ingestel. 2

Om wilde diere verder te beskerm, het president Paul Kruger in 1884 ’n voorstel aan die parlement gemaak dat daar ’n wildreservaat gestig moet. Kort daarna is die Nasionale Krugerwildtuin gestig. Die doel daarmee was (en is steeds) om die natuurlike plantegroei en inheemse diere te beskerm. 3

Die invloed van vroeë jag op die wildlewe

Hoewel die San vir al hul vleis van jag afhanklik was, het hulle net vir hul eie gebruik gejag. Die vleis het hulle geëet en die velle het hulle vir die maak van klere gebruik. Hulle manier van jag het nie ’n negatiewe uitwerking op die getalle van die wild gehad nie. Die wild wat hulle doodgemaak het, is op natuurlike wyse vervang deur natuurlike aanwas (die geboorte van jong diere). 2

Jagters uit die buiteland

Omdat Suid-Afrika so ’n groot verskeidenheid en ook groot getalle wild gehad het, het al hoe meer buitelandse jagters na die land begin kom. Hierdie jagters het nie wild geskiet vir kos nie, maar het dit as ’n sport gedoen. Dit het veroorsaak dat meer wild geskiet is as wat nodig was vir gebruik. 2

In die 1700’s het Nederlanders in die Karoo en die Klein Karoo begin jag. Daar was soveel wild – soos troppe kwaggas en blesbokke – dat hierdie jagters ’n bestaan kon maak deur slegs te jag. 3

Vroeg in die 1800’s het jagters in die buiteland al hoe meer gehoor van die groot getalle wild in Suid-Afrika. In 1820 het die Britte in die Kaap begin aankom. Kort ná hul aankoms, het jagters begin besef dat hulle ’n goeie bestaan kan maak deur slegs te jag in plaas van om, soos meeste mense, handelaars en boere te word. Hulle het begin om olifante te jag om hul ivoortande te verkoop. 3

In 1860 is daar tydens net een jagtog op ’n plaas in die Vrystaat duisende wildsoorte soos blouwildebeeste, blesbokke, volstruise en springbokke doodgeskiet. Hierdie jagtog is gereël ter ere van prins Albert wat die tweede oudste seun van die Britse koningin Victoria was. Hy was op ’n besoek aan die Vrystaat. Daar word geskat dat daar op daardie dag tussen 4 000 en 6 000 diere doodgeskiet is. 2

Prins Albert

Nog oorsake vir die afname in wild

  • Heinings wat deur boere gespan is om hul plase se grense aan te dui en hul plaasdiere te beskerm: Wild kon dus nie meer soos voorheen hul gewone trekroetes volg nie.
  • Die maak van landerye om gesaaides te plant: Hierdeur is die natuurlike weiding van wild minder gemaak en vernietig.
  • Die gebruik van gewere vir jag: Hierdeur is baie groot hoeveelhede wild doodgeskiet.
  • Jag as tydverdryf: Die Voortrekkers het aan die begin gejag om vleis te kry om te eet. Dit het later verander en daar is gejag vir ontspanning en tydverdryf. Die balans in die natuur is versteur en het veroorsaak dat wild se getalle vinnig verminder het. Party wildsoorte het baie skaars geraak. Die bergleeu is byna heeltemal uitgeroei omdat boere hierdie leeus geskiet het om hul vee te beskerm.
  • Jag wat ’n beroep geword het: Jagters het nou groot hoeveelhede wild begin skiet. 2

Jag in Suid-Afrika vandag

Jag speel vandag nog ’n baie belangrike rol in Suid-Afrika. Daar is baie Suid-Afrikaners wat self jag en die land is steeds baie gewild onder buitelandse jagters.

Suid-Afrika het baie streng wette waardeur jag beheer word. Daar is net sekere maande waarin gejag mag word en almal wat jag, het ’n jaglisensie nodig. Hierdie lisensie bepaal watter diere gejag mag word en ook hoeveel diere gejag mag word.

Woordbank

aanwas Om te groei of meer te word.
kaliber Die middellyn van ’n vuurwapen of kanon wat meesal aandui hoe sterk die wapen is. 6
knuppels Harde voorwerp wat gewoonlik ’n knop aan die een punt het en wat as wapen gebruik kan word.
laaistok ’n Dun staalstang wat gebruik is om die lading (patrone en kruit) in ’n geweer se loop vas te stamp.
snaphane Soort geweer wat honderde jare gelede gebruik is. Dit word ook ’n pangeweer of ’n sanna genoem.
spoorsnyers Om ’n persoon, voertuig of dier te volg deur op die grond te soek na spore en dit te volg.

Lees hierdie artikel om nog meer te leer

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

Hoe mense vandag in Suid-Afrika jag

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 1 Maart 2022 | Bygewerk op 6 Maart 2024