Vinnige feite

  • Jakarandabome is oorspronklik in die 1880’s uit Argentinië in Suid-Amerika na Suid-Afrika gebring. Ons kan dus sê dat die jakarandaboom inheems is aan Suid-Amerika, maar ʼn uitheemse boom in Suid-Afrika is.
  • Al word Pretoria die Jakarandastad genoem, is daar inderwaarheid meer jakarandabome in Johannesburg as in Pretoria.
  • Hoewel byna die helfte van alle koffiebone in Brasilië verbou word, kom dié gewilde plant oorspronklik van Noord-Afrika af, spesifiek Ethiopië.
  • Mielies is ’n antieke graansoort wat vermoedelik in Suid-Amerika ontstaan het, waar dit deur antieke Mexikaanse beskawings soos die Olmec- en Maya-stamme verbou is.
  • Daar word vertel hoe die gif van die kasterolieboom (Ricinus communis), wat van Sentraal-Afrika afkomstig is, gebruik is om die Bulgaarse joernalis Georgi Markov in 1978 te vermoor, nadat hy Bulgarye se regering gekritiseer het. Hy is in Londen met die punt van ʼn sambreel gesteek, waarna ʼn gifkapsule tydens sy nadoodse ondersoek in sy been gevind is.

 

Foto: iStock

Jy het sekerlik al die terme fauna en flora gehoor as iemand praat van ʼn land of streek se diere- en planteryk? Die term wat ons vir dierelewe gebruik, is fauna. Dit kom uit die Latynse taal en is vernoem na Fauna, die suster van Faunus (die god van woude en veewagters). Die term flora kom van die Latynse woord Flora, die godin van blomme in die Romeinse mitologie. In die plantkunde het flora twee betekenisse: Die eerste betekenis verwys na alle plantlewe in ʼn gebied of gedurende ʼn sekere tydperk, en die tweede betekenis verwys na ʼn boek of ander werk wat die plantsoorte in ʼn streek of tydvak beskryf, met die doel om identifikasie moontlik te maak.

Plante word gegroepeer op grond van streek, tydperk, spesiale omgewing of klimaat. Streke kan geografies verskillende habitats wees, soos berge, grasveld of platteland. Flora kan ook die plantlewe van ʼn historiese tydperk insluit, soos fossielflora. Soms word bakteriële organismes by flora ingesluit, maar ander keer word die terme bakteriële flora en plantflora afsonderlik gebruik. 1

Inheems of uitheems: Wat is die verskil?

Inheemse plantlewe is plante wat natuurlik in ʼn sekere gebied voorkom en dus eie is aan daardie spesifieke land of streek. Sommige plantsoorte kom nét op dié plek voor, terwyl ander plantsoorte (al is dit inheems aan ʼn sekere gebied) ook in ander lande geplant word of groei.

Soos inheemse diere, word inheemse plante deur uitbreiding (meer huise en nywerhede wat gebou word), ander menslike aktiwiteite en klimaatverandering bedreig. Daarom is bewaring broodnodig om te verseker dat nie net ons diere nie, maar ook ons unieke plantspesies vir ons nageslag behoue bly.

Neem die bekende jakarandabome met hul kenmerkende pers blommetjies in Pretoria as voorbeeld. Hoewel daar sowat 70 000 van dié bome in Pretoria staan en Pretoria selfs die Jakarandastad genoem word, is die jakaranda nie inheems aan Suid-Afrika nie. Jakarandabome is oorspronklik in die 1880’s uit Argentinië in Suid-Amerika na Suid-Afrika gebring. Ons kan dus sê dat die jakarandaboom inheems is aan Suid-Amerika, maar ʼn uitheemse boom in Suid-Afrika is. Het jy geweet Johannesburg het selfs meer van dié bome as Pretoria? 2

Uitheemse plante is plante wat van elders af kom en hoofsaaklik deur mense op plekke gevestig is wat nie hul natuurlike habitat is nie. Die woord uitheems beteken “vreemd, buitelands of eksoties” en kom van die Nederlandse woorde “uit” en “heem” (Nederlands vir woonplek). Nie alle uitheemse plante is ongewens nie, maar dit kan in sommige gevalle met inheemse plante meeding om water, sonlig en voeding (minerale uit die grond) en dit selfs verdring (versmoor of laat doodgaan). Die jakarandaboom word plaaslik byvoorbeeld as ʼn indringerplant beskou, en dit is onwettig om enige nuwes in Suid-Afrika te plant. ʼn Ander voorbeeld is die tulp: ‘n Mens dink altyd dié pragtige blom is eie aan Nederland, maar dit kom oorspronklik van Turkye af, waar meer as ‘n duisend variëteite vir eeue lank voorgekom het.

Suid-Afrika se inheemse planteryk

Suid-Afrika het ʼn skatkis van inheemse plante, soos die duisende Kaapse fynbosspesies. Die bekendste voorbeeld hiervan is die koningsprotea 3 ons land se nasionale blom, met die botaniese naam Protea cynaroides. 4

Fynbos

Fynbos kom op sowat 90 000 vierkante kilometer (km2) in Suid-Afrika voor. Die Kaapse blommeryk spog met meer as 3% van die wêreld se totale plantsoorte en 20% van Afrika se plantsoorte kom in dié streek voor. 5

Brande kom dikwels in fynbosgebiede voor. Vuur speel ʼn rol in ontkieming. Sommige fynbosspesies vrek tydens brande, maar groei dan weer uit sade wat onder die grond gestoor word. Die saad kan in vlak grond gestoor word, of dit kan diep in die grond geberg word. Ontkieming van die saad word direk gestimuleer deur hitte of rook, of indirek deur veranderde omgewingstoestande. 6

Rooibos

Het jy geweet rooibos (Aspalathus linearis) is ook ʼn soort fynbos en nie werklik ’n tee (soos groen- en swarttee) nie? Rooibos is ʼn struikgewas wat sowat 1,5 meter hoog groei, en Suid-Afrika beskik oor die ideale grond en klimaatstoestande vir rooibos om hier te gedy. Daarom is dit ’n eg-Suid-Afrikaanse produk wat veral in die Sederberge voorkom. Die struik het verskeie dun takke met heldergroen, naaldagtige blare, wat geoes, gefermenteer en gedroog word. 7

Hoewel rooibos wêreldwyd vir sy gesondheidseienskappe geloof en gebruik word, hou Suid-Afrika die naamregte op dié plant. 8 Rooibostee is kafeïenvry en beskik oor ’n magdom mediese voordele, insluitend om sekere soorte kadnker te beveg. Dit is hartvriendelik, goed vir beengesondheid en bevat verskeie antioksidante, soos aspalatien. Dit verlaag ook bloeddruk en help met die vorming van goeie cholesterol of hoëdigtheid lipoproteïen (HDL). 8

Die kommersialisering van rooibos is eers in die dertigerjare begin danksy die werk van die mediese dokter en natuurliefhebber, dr. Pieter le Fras Nortier. 9

Vrugte

Baie van die vrugte wat ons elke dag eet, is in werklikheid uitheemse plante wat honderde jare gelede hierheen gebring is. Dit sluit in appels, druiwe en piesangs.

Net so kry ons weer talle inheemse Suid-Afrikaanse vrugte wat wild groei. Die bekendste voorbeeld hiervan is die maroelavrug, wat aan groot bome groei. Hierdie groot vrugdraende boom kom algemeen in die Limpopo-provinsie van Suid-Afrika voor. Die vrugte word geoes terwyl dit van Januarie tot April van die boom afval en word vars geëet of in konfyt gebruik. Dit word ook verwerk tot alkoholiese drank soos bier en ʼn gewilde alkoholiese drankie genaamd Amarula, wat wêreldwyd uitgevoer word en baie gewild is.

Nog voorbeelde van inheemse vrugte is die bosappel, suurpruim, wildemispel, appelkoosdoring, noem-noem, Kaapse vy of suurvy. Die noem-noem of grootnoem-noem (Carissa macrocarpa) is ʼn heerlike rooi vrug wat van die kusgebiede van KwaZulu-Natal afkomstig is. Dit word onder meer in blatjang en marmelade (ʼn soort konfyt) gebruik. 10

Vleisvretende plante

Het jy al gesien hoe ʼn venusvlieëvanger (Dionaea muscipula) ʼn insek vang? Dit is ʼn voorbeeld van ʼn plant wat insekte lok, hulle vang met behulp van ʼn taai slym wat soos waterdruppeltjies lyk en hulle dan danksy ʼn spesiale vloeistof verorber. Die venusvlieëvanger is inheems aan die vogtige dele van Amerika.

Dionaea muscipula

Die bekendste Suid-Afrikaanse voorbeelde van dié plantsoort is die vlieëvanger (Drosera cistifolia), ʼn ligpienk blomplant wat spesifiek in die Boland voorkom. Ander is weer rooi, soos dié in die Wes-Kaapse Sandveld. Die blaaskruidjie (Utricularia capensis) het weer ligpers of geel blommetjies met dun draadjies met blasies op en hulle suig klein diertjies in die water op, waarna hulle verteer word.

Uitheemse plante

Uitheemse plante het die vermoë om maklik in ʼn nuwe gebied aan te pas en voel dikwels net so tuis in hul nuwe omgewing as in hul gebied van oorsprong (waar hulle vandaan kom).

In Noord-Amerika het sowat 6 000 uitheemse plante hulle gevestig in dié gebied sedert die 15de eeu deur Europeërs ontdek is. In Europa is daar sowat 4 000 uitheemse plantspesies.

Verskeie uitheemse plante is giftig. Daar word vertel hoe die gif van die kasterolieboom (Ricinus communis), wat van Sentraal-Afrika afkomstig is, gebruik is om die Bulgaarse joernalis Georgi Markov in 1978 te vermoor, nadat hy Bulgarye se regering gekritiseer het. Hy is in Londen met die punt van ʼn sambreel gesteek, waarna ʼn gifkapsule tydens sy nadoodse ondersoek in sy been gevind is.

Nuttige uitheemse plante

Alle uitheemse plante is nie noodwendig indringers of nét sleg vir die omgewing nie. Verskeie uitheemse plante wat in Suid-Afrika en verskeie ander wêrelddele voorkom, is belangrik vir voeding.

Dink byvoorbeeld aan die volgende kossoorte:

Mielies

Mielies is ’n antieke graansoort wat vermoedelik in Suider-Amerika ontstaan het, waar dit deur antieke Mexikaanse beskawings soos die Olmec- en Maya-stamme verbou is. Vanaf die laat 15de eeu het dit na die res van die wêreld versprei danksy sy aanpasbaarheid by verskeie omgewings en klimate en mielies het sedertdien ’n stapelvoedsel in baie lande geword. 11

Aartappels

Dié gewilde groente kom van Chili en Peru, waar Spaanse ontdekkingsreisigers dié vreemde eetbare knol die heel eerste keer gesien en dit na Europa geneem het. Aartappels is die vierde grootste kossoort wat wêreldwyd verbou word (naas rys, koring en mielies). 12

Kaneel

Dié gewilde spesery is van Sri Lanka en Indië afkomstig, waar dit van die bas van ʼn boom af kom. Die eerste optekening oor kaneel kan so ver terug soos 2 800 voor Christus (v.C.) in Chinese geskrifte gevind word. 13

Koffie

Hoewel byna die helfte van alle koffiebone in Brasilië verbou word, kom dié gewilde plant oorspronklik van Noord-Afrika af, spesifiek Ethiopië. Arabiese handelaars het dit na die Midde-Ooste geneem, en koffie het in ongeveer 1650 in Brittanje en Europese lande gewild geword. 14

Granate

Dié bloedrooi vrug kom van subtropiese Asië af en is reeds in die vroeë geskrifte van die Bybel genoem. 15

Piesangs

Dié vrug is verreweg die gewildste vrug in Suid-Afrika, en dit kom van Asië, veral Indië, af. 16

Onkruid en indringers

In Suid-Afrika is daar baie onkruidsoorte en indringerplante wat uitheems is.

Dit sluit in:

  • Die duwweltjie (Tribulus terrestris), wat van China af kom.
  • Kakiebos (Tagetes minuta), afkomstig van Suid-Amerika.
  • Olieboom (Datura stramonium), waarvan die oorsprong Noord-Amerika is.
  • Selonsroos (Nerium oleander), van Europa. (In Suid-Afrika word mense gereeld gewaarsku teen die giftige selonsroos, wat in baie tuine en selfs in van ons parke voorkom.)
  • Waterhiasint (Eichornia crassipes), van Noord- en Suid-Amerika.
  • Knapsekêrel (Bidens pilosa), nog ʼn ongewenste uitheemse plant van Noord-Amerika.
  • Gouewattel (Acacia pycnantha), wat van Australië afkomstig is.
Knapsekêrel (Bidens pilosa)

Woordbank

fauna Al die diersoorte van ‘n bepaalde gebied of tydperk; dierelewe.
flora Alle plantlewe in ʼn gebied of gedurende ʼn sekere tydperk; ʼn boek of ander werk wat die plantsoorte in ʼn streek of tydvak beskryf, met die doel om identifikasie moontlik te maak
geskrifte Iets wat geskryf of gedruk is, soos boeke.
handelaars
Mense wat sake doen (koop en verkoop), handel dryf in iets.
inheems Wat natuurlik in ʼn sekere gebied voorkom en dus eie is aan daardie spesifieke land of streek.
onkruid Wilde plant(e) wat groei waar dit waardevolle gewasse verdruk of laat verstik; vuilgoed.
ontdekkingsreisigers
Mense wat na onbekende plekke reis en vreemde of nuwe wêrelddele ontdek.
subtropiese Wat grens aan die trope; byna tropies; oorgangsgordel tussen die tropiese en gematigde klimaatsgordels.
variëteite Soorte of vorms.
verbou Kweek of aanplant.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Inheemse plante van Suid-Afrika

Inheemse plante van Suid-Afrika

Die storie van rooibos

Uitheemse en indringerplantspesies van Suid-Afrika

Indringerplante bedreig biodiversiteit

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 November 2021 | Bygewerk op 17 Maart 2024