Vinnige feite

  • Leonardo da Vinci se van was nie “Da Vinci” nie. “Da Vinci” beteken eintlik maar net dat hy van die dorp Vinci gekom het. Vinci is ʼn dorp naby Florence in Italië.
  • Bill Gates besit Leonardo da Vinci se notaboek, Codex Leicester, wat wetenskaplike tekeninge en notas bevat. Da Vinci het tussen 1506 en 1510 in die notaboek geskryf. Bill Gates het die notaboek in die negentigerjare vir byna $40 miljoen gekoop!
  • Gedurende die Renaissance het kuns, argitektuur en wetenskap gemeng om ʼn meer realistiese beeld van die wêreld te gee. Leonardo da Vinci het byvoorbeeld lyke gedissekteer om liggame meer realisties te teken.
  • Die Medici-familie was die rykste familie gedurende die Renaissance-tydperk in Europa, en hul bank was ook die grootste bank in Europa. 8

Die Renaissance was ʼn baie opwindende tydperk in Europa se geskiedenis, en as ʼn mens kyk na wat die woord “Renaissance” beteken, kan jy sommer raai dat dit die begin van groot dinge was. Die woord “Renaissance” kom van die Franse woord renaître en beteken ‘hergeboorte’ (letterlik weer gebore). 1

Uitbeelding van die Maagd, Maria

Die woordeboek se definisie is dat dit ʼn toestand van groei en vordering op bepaalde gebiede was, veral in die kunste en die letterkunde, asook in die wetenskap en op politieke terrein. 2

Mense stem nie altyd saam wanneer dié tydperk presies begin en geëindig het nie, maar in die algemeen word daar geglo dat dit van die 14de tot die 17de eeu geduur het. 3 Die Renaissance was ʼn tyd van oplewing, en baie velde van die samelewing het nuwe lewe gekry. Van die grootste filosowe, skrywers, wetenskaplikes en kunstenaars in ons mensdom se geskiedenis het in daardie tyd geleef, en ontdekkers het nuwe lande en kulture gevind en só Europese handel na nuwe hoogtes geneem. Hulle het geld gegee om kunstenaars en wetenskaplikes te ondersteun. Jy leer vandag nog op skool van die wetenskaplike ontdekkings van daardie tyd, en Renaissance-kunstenaars het werke gelewer wat ons nou nog in museums bewonder.

Die Vitruviaanse Man

Daar was ook in dié era groot belangstelling in die antieke Grieke en Romeine, en die Europeërs het baie van hul idees geneem en dit verder ontwikkel. 3 Florence in Italië word as die kern van die Renaissance beskou, maar die beweging het gou na ander stadstate in Italië soos Venesië, Milaan, Bologna, Ferrara en Rome uitgebrei. Die ryk Medici-familie, wat Florence vir 60 jaar regeer het, was bekende ondersteuners van die Renaissance-beweging. Gedurende die 15de eeu het die Renaissance-idees na Frankryk en ander Wes- en Noord-Europese lande versrei. 3

Die familie van Ferdinando II de’ Medici

Agtergrond

Die Romeinse Ryk en die Rooms-Katolieke Kerk het tydens die Middeleeue omtrent alles in Europa beheer. Die Romeinse Ryk was in beheer van die politiek en die Rooms-Katolieke Kerk het die godsdiens van die tyd oorheers. Albei instellings het egter mettertyd hul mag verloor, veral teen die 1300’s. Europese nasies het begin groei, en mense het in hul eerste taal in plaas van Latyn begin skryf. Latyn was in daardie tyd die taal van die Katolieke Kerk. Mense het vryer begin voel om te ontdek en dinge te bevraagteken en om nuut oor sekere dinge te dink. 1

Antieke Romeinse pad en ruïnes

Die Middeleeue word as ʼn donker tyd in die mens se geskiedenis beskryf, want dit was ʼn tyd van oorloë, siektes (met pandemies soos die builepes “Swart Dood”), hongersnood en swaarkry. 3

Sewentiende-eeuse illustrasie deur Paul Fürst van ‘n pesdokter in Rome, met ‘n satiriese gedig

State in die Renaissance het drie basiese vorme van regerings gehad: prinsdomme, monargieë en republieke. Die prinsdomme het nie ʼn prins as hoof gehad nie, maar wel ʼn individu wat deur sy familie ondersteun is. Hierdie persoon was gewoonlik ʼn baron (edelman laer as ‘n graaf),  graaf (edelman wat ‘n landstreek bestuur het), markies (edelman hoër in rang as ’n graaf), of hertog (edelman wat net onder ‘n prins geag is).

Die monargieë van toentertyd is die tradisionele monargie wat deur ʼn koning of koningin regeer word, soos die huidige Britse monargie. Die meeste van die monargieë word oorgeërf, dit beteken as jou pa die koning was en jy is die oudste kind, dan word jy outomaties die volgende koning. Republieke was stadstate wat bestaan het uit ʼn groot stad of dorp en die omliggende plase en nedersettings. Die ryk mense van die dorp soos handelaars het gewoonlik hierdie republieke regeer.

Die humanisme ontwikkel

Godsdiens was voor die Renaissance baie belangrik, maar tydens die Renaissance het mense begin dink dat die mens en sy begeertes en behoeftes ook belangrik is. Die mense wat so begin dink het, is humaniste genoem. Humaniste wou die meeste van hul lewe hier op aarde gemaak het en het probeer om die wêreld om hulle in ʼn nuwe lig te sien. Die humanisme was ʼn kulturele en filosofiese beweging. 1

Die groot naam in humanisme was Francesco Petrarca (algemeen bekend as Petrarch), ʼn Italiaanse digter en akademikus wat tussen 1304 en 1374 geleef het. Hy was baie geïnteresseerd in dit wat die skrywers van Antieke Grieke en Rome oor menswees geskryf het, en hy het baie volgelinge gekry om sy belangstelling te deel. 4 Hy het ook tot ʼn oplewing in die letterkunde bygedra. Letterkunde is kuns in ʼn geskrewe vorm, soos prosa en poësie. 2

Francesco Petrarca

Petrarch het besonderse sonnette in Italiaans geskryf. ʼn Sonnet is ʼn gedig wat 14 reëls en ʼn vaste struktuur het. 5

Petrarch se vriend Giovanni Boccaccio (1313-1375) was ook ʼn humanis en bekend vir sy skrywe, Decameron, en hy word die vader van die Italiaanse prosa genoem. Boccaccio het ook mense geïnspireer om verder te leer en klassieke studies te bestudeer. 6

Skildery van die digter Giovanni Boccaccio

Die letterkunde van hierdie tyd was ook deur humanisme beïnvloed en het dus op die mens gefokus. Daar was baie tragedies en komedies. Shakespeare se werk is veral ʼn goeie voorbeeld hiervan. Die drukpers het die verspreiding van teks vir toneelstukke moontlik gemaak en só kon sekere dramas oraloor opgevoer word. 7

William Shakespeare

Boeke word vir die eerste keer gedruk

Een van die groot ontwikkelinge van die Renaissance was die ontwikkeling van die drukpers. Dit was in 1450 wat die Duitser Johannes Gutenberg die drukpers ontwikkel het, en dit het mense toegelaat om afdrukke van geskrewe werke te maak. Dit was juis deur die drukpers wat die nuus en idees oor die Renaissance vinnig versprei het. Baie mense het ook hierdeur vir die eerste keer geleer om te lees.

Johannes Gutenberg

Een van die eerste mense wie se werk gedruk is, was Desiderius Erasmus (1466-1536) van Rotterdam in Nederland. Erasmus was ʼn akademikus met ʼn groot belangstelling in die humanisme. Hy en sy volgelinge het na twee bronne vir inspirasie gekyk: die boeke van die antieke Grieke en Romeine en die boeke van die Christendom van die eerste vier eeue. Erasmus het die Nuwe Testament na Grieks vertaal, en hy wou goeie letterkunde soos die Antieke Grieke en Romeine sʼn weer vestig. Drukperse is vervolgens reg oor Europa opgerig: Italië (1465), Parys (1470), Valencia (1473), Lissabon (1475) en Westminster Abbey (1476). 7

Desiderius Erasmus

Musiek het ook baie ontwikkel tydens die Renaissance, en verskeie nuwe instrumente is ontwikkel. Met die drukpers kon hulle ook bladmusiek druk wat wyd versprei is. Komponiste het probeer om musiek te skryf wat mense emosioneel maak. 7

Die wetenskap ontwikkel

Mense het in daardie tyd begin ontdek en dinge ondersoek, en dit het tot ontwikkelinge in die wetenskap bygedra. Tydens die Middeleeue het mense geglo wat vir hulle gesê is, maar tydens die Renaissance het hulle self begin eksperimenteer en dinge wat algemeen as vanselfsprekend aanvaar is, begin bevraagteken. Daar was groot ontwikkelinge in die bestudering van sterrekunde, medisyne, geografie, wiskunde, wetenskap en argitektuur. 8

René Descartes (1596-1650) is ook sinoniem met die Renaissance. Hy was ʼn Franse filosoof en wiskundige wat as die vader van moderne filosofie bekend staan. Hy het groot werk in wiskunde gedoen, soos die ontwikkeling van tegnieke wat analitiese meetkunde moontlik maak. Hy is die man wat die volgende woorde beroemd gemaak het: Cogito, ergo sum, wat vertaal word na “Ek dink, daarom is ek” of “I think, therefore I am” in Engels. 9

René Descartes

Leonardo da Vinci word beskryf as ʼn man van die Renaissance omdat hy so ʼn wye belangstellingsveld gehad het. Hy was nie net ʼn goeie kunstenaar nie, maar ook ʼn goeie musikant met ʼn belangstelling in argitektuur, die menslike anatomie, wetenskap en ingenieurswese. Hy het allerlei slim uitvindsels bedink, soos ʼn idee vir ʼn valskerm, watermeule, duikpak, enjins, en dies meer. 10 Tydens die Renaissance is die menslike anatomie bestudeer, en hier het Leonardo da Vinci ook ʼn groot rol gespeel met sy tekeninge soos Die Vitruviaanse Man. 7

Studies van die embrio deur Leonardo da Vinci

Nicolaus Copernicus is in Pole gebore, en hy was een van die grootste astronome van daardie tyd. ʼn Astronoom is ʼn sterrekundige – dit is iemand wat die ruimte bestudeer. Hy het bevind dat die aarde om die son wentel. Dit was ʼn groot ontdekking, want mense het vir ʼn hele 1 000 jaar voor Copernicus geglo dat alles in die ruimte om die aarde wentel.

Nicolaus Copernicus

Andreas Vesalius (Andries van Wesel in Vlaams) was ʼn mediese dokter van Brussel (vandag deel van België). Hy het die menslike liggaam bestudeer en baie nuwe dinge oor die liggaam uitgevind deur lyke te dissekteer (deur hulle oop te sny en te ontleed). Hy het die eerste omvattende handboek oor die menslike anatomie geskryf en geïllustreer.

Andreas Vesalius

Galileo Galilei is op 15 Februarie 1564 in Italië gebore. Hy was ʼn filosoof, sterrekundige en wiskundige en het ʼn groot bydrae tot wetenskap en sterrekunde gelewer. Hy het die teleskoop verbeter, nuwe hemelliggame gevind en het die grondslag vir kinematika (beweging) gelê.

Galileo Galilei

Fillipo Brunelleschi se argitektuur het gewys hoe wiskunde gebruik kan word om groot geboue op skaal te bou. Die Florence-katedraal is een van die suksesverhale daarvan. 7

Fillipo Brunelleschi

Die meeste van die navorsing tydens die Renaissance het by universiteite plaasgevind, en die aantal universiteite het toegeneem. Teen die einde van die Middeleeue was daar 29 universiteite, en 46 nuwes is tydens die Renaissance tot stand gebring. 11

Pragtige ou fasade van die Hongaarse Akademie van Wetenskappe in Boedapest

Kuns se bloeitydperk

As mense vandag van die Renaissance-tydperk praat, praat hulle veral van die kuns. Die tydperk is baie bekend vir die merkwaardige kunswerke wat in daardie tyd geskep is, en baie van die bekendstes hang vandag nog in museums oor die wêreld heen. Daar was ook ʼn ontwikkeling in hoe verf gemaak is, en nuwe verftegnieke is uitgevind, wat tot beter kunswerke bygedra het. Die kuns tydens die Renaissance was meer realisties as in die Middeleeue, en kunstenaars het probeer om mense en dinge so natuurlik as moontlik te laat lyk. 3

Van die bekendste kunstenaars het in Florence en ander dele van Italië gebly. Die bekende Medici-familie het vir meer as 60 jaar in Florence regeer, en hulle het baie geld spandeer om kunstenaars te help om skilderye, geboue en standbeelde te skep. Hulle het gehelp met die uitvinding van die klavier, asook met die bou van die Sint Peter-basilika en die Santa Maria del Fiore-katedraal. Die bekendste kunstenaars wat die Medici-familie gehelp het, was Brunelleschi, Botticelli, Leonardo da Vinci, Michelangelo, Rafael, Macchiavelli en Galileo Galilei. 12

Aan die begin van die Renaissance was daar beeldhouers soos Nicolas, John, Andrew van Pisa en Giotto van Florence, en dan was daar Donatello, Lorenzo Ghiberti en die Della Robbia-familie. Skilders soos Filippo Lippi, Sandro Botticelli, Dominico Ghirlandaio en Perugino se werk was ook merkwaardig. Filippo Brunelleschi en Donato Bramante was weer vir hul besonderse argitektuur bekend. Die Sint Peter-basilika in Rome vang die gees van die Renaissance-argitektuur vas. Die bloeitydperk van die Renaissance-era se kuns was egter teen die einde van die 15de en vroeë 16de eeu met Rafael, wat die prins van skilders genoem is, en die geniale Leonardo da Vinci en Michelangelo.

Heilige Anne, Maria en Jesus as kind deur Leonardo da Vinci

Rafael (1483-1520) was ʼn Italiaanse skilder wat by Da Vinci en Michelangelo geleer het. Hy is baie bekend vir sy skilderye van die Madonna en die Skool van Athene. 6

Madonna en kind deur Rafael

Michelangelo (1475-1564) was ʼn Italiaanse beeldhouer, skilder en argitek wat die bekende Dawid-beeldhouwerk gemaak en wat teen die Sistynse kapel in Rome se dak geskilder het. Hy het die Dawid-beeld uit ʼn stuk marmer gekerf. Die groot stuk marmer was vir 40 jaar daar gelos en aan die elemente uitgelewer, maar Michelangelo het ʼn besonderse kunswerk daaruit geskep. 13 Michelangelo was ʼn man van vele talente, want hy was nie net ʼn beeldhouer en skilder nie, maar ook ʼn digter. 10

Dawid deur Michelangelo

Leonardo da Vinci was nog een van die grotes. Sy bekendste skilderwerke is sekerlik die Mona Lisa en Die Laaste Avondmaal. Die Mona Lisa hang vandag in die Louvre-museum in Parys, Frankryk, en Die Laaste Avondmaal is teen die muur van die Santa Maria delle Grazie-klooster in Milaan geskilder. 6

Laaste Avondmaal

Ná hulle was daar kunstenaars soos Andrea del Sarto (die foutlose skilder), Correggio wat Christelike heiliges uitgebeeld het, Titiaan, die kleurmeester van Venesië, en Tintoretto, wat uitstekende tegniek gehad het. 6

Die kunsoplewing in Nederland het kunstenaars soos Jan van Eyck ingesluit. Die Engelse Renaissance het eers teen die einde van die 15de eeu begin en het meer op letterkunde en musiek as op kuns gefokus. Bekende name wat uitgestaan het, is William Shakespeare, John Milton, William Byrd (musiek) en William Tyndale wat die Bybel na Engels vertaal het. 14

John Milton

Vele ontdekkingsreise

Europeërs het begin om ander dele van die wêreld te ontdek en nuwe plekke op te teken. Te danke aan hulle is land- en seekaarte ook verder ontwikkel. Christopher Columbus was een van hulle – hy het die sogenaamde “Nuwe Wêreld” (Noord- en Suid-Amerika) ontdek. Daar het natuurlik reeds mense in Noord- en Suid-Amerika gebly, maar die Europeërs was glad nie daarvan bewus nie.

Christopher Columbus

Columbus het vier keer vanaf Spanje oor die Atlantiese Oseaan gereis. Die reise was in 1492, 1493, 1498 en 1502. Sy doel was eintlik om ʼn direkte waterroete wes van Europa na Asië te vind, maar hy het nooit nie. Dit het wel tot die ontdekking van Noord- en Suid-Amerika of die “Nuwe Wêreld” gelei.

Ferdinand Magellaan was die eerste persoon om om die hele aarde te seil. Ander bekende ontdekkingsreisigers van daardie tyd is Amerigo Vespucci, Marco Polo, Ponce de Leon, Vasco Núñez de Balboa en Hernando De Soto. Te danke aan hierdie ontdekkingsreisigers is daar ook nuwe handelsroetes gevind. 3

Godsdiens in die Renaissance

Humanisme het mense aangespoor om na te dink oor die rol van die Rooms-Katolieke Kerk. Soos meer mense begin lees en skryf het, het hulle meer begrip gekry van wat aangaan en wat die kerk alles doen, en hulle het ook meer krities oor die kerk geword. Die drukpers het dit ook vir die eerste keer vir mense moontlik gemaak om self die Bybel te lees en interpreteer.

In die 16de eeu het die Duitser Martin Luther die Protestantse Hervorming, oftewel Reformasie, gelei. Dit was ʼn groot beweging en het ʼn skeuring in die Katolieke Kerk te weeg gebring. Luther het baie van die Katolieke Kerk se praktyke bevraagteken en gevra hoe dit ooreenstem met dit wat die Bybel sê. Die gevolg was dat ʼn nuwe vorm van Christenskap ontstaan het, naamlik die Protestantisme. 8

Martin Luther

Die Renaissance kom tot ʼn einde

Dit was nie net een ding wat die einde van die Renaissance ingelui het nie, maar eerder ʼn sameloop van omstandighede. Verskeie oorloë het teen die einde van die 15de eeu gewoed met Spaanse, Franse en Duitse magte wat Italië ingeval en onstabiliteit veroorsaak het. 8

Milaan-katedraal, Duomo di Milano, een van die grootste kerke ter wêreld

Handelsroetes moes ook verander, en dit het weer ekonomiese probleme veroorsaak en die sakke van die mense wat gewoonlik die kunste finansieel ondersteun het, geraak. Die Katolieke Kerk was ook skrikkerig vir die Protestantse Reformasie – hulle het dit onderdruk en sekere kunstenaars en skrywers gesensor. In 1501 het pous Alexander VI drukkers gedreig met kerklike sensuur indien hulle enige boeke druk wat nie die Rooms-Katolieke Kerk se goedkeuring dra nie. 8

Alexander VI

Daar was ook ʼn Roomse inkwisisie, wat ʼn raad was wat gekyk het na mense wat die Katolieke Kerk uitdaag. Daardie mense kon selfs die doodstraf gekry het. Teen die vroeë 17de eeu het daar weer ʼn nuwe era in die wêreld aangebreek. 8

Woordbank

anatomie Wetenskap van die vorm van die mens se liggaam, asook die kuns om die samestellende dele van die liggaam uitmekaar te sny.
astronoom ʼn Wetenskaplike wat die ruimte, sterre, planete en ander ruimtevoorwerpe bestudeer.
filosofiese Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek.
humanisme Wêreldbeskouing wat menslike waardigheid, vryheid en die waarde van die persoonlikheid vooropstel en godsdiens as minder belangrik ag.
letterkunde Kuns in geskrewe vorm, wat poësie, prosa en drama insluit.
ontdekkingsreis Reis waarop iemand vertrek met die doel om iets te ontdek of meer oor iets uit te vind.
Renaissance Tydperk van groot veranderinge en vooruitgang.
sonnet Gedig van 14 reëls met ʼn vaste struktuur en rymskema.
stadstate Staat wat uit een stad bestaan.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer oor die Renaissance

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Renaissance

Wat was die Renaissance?

Meer oor die Renaissance

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 13 Mei 2022 | Bygewerk op 11 April 2024