Vinnige feite

Die behoeftes en begeertes van mense kan die volgende meebring:

  • Dit kan bepaal watter soort produkte en dienste in die gemeenskap verkoop of aangebied word. Daar kan dus skaarstes in sekere gemeenskappe ontstaan.
  • Dit kan ʼn invloed uitoefen op hoe gemeenskappe werk.
  • Mense in armer gemeenskappe in wie se basiese behoeftes nie voorsien word nie, sal nie geld in hulle gemeenskappe kan bestee deur plaaslike winkels en besighede te ondersteun nie.
  • Mense in welgestelde gemeenskappe sal geld by die winkels en besighede in hulle gemeenskappe bestee, dus sal daardie gemeenskappe meer welvarend word. Hierdie gemeenskappe het ook makliker toegang tot die internasionale mark.
Foto: iStock

Mense het oneindige behoeftes en begeertes wat deel vorm van hulle alledaagse bestaan. ʼn Behoefte is iets waarsonder jy nie kan oorleef nie, terwyl ʼn begeerte iets is wat jy graag wil hê, maar nie nodig het nie en dus daarsonder sal kan oorleef. 1

Byvoorbeeld:

  • Jy het ʼn behoefte om elke dag vars water te drink en gesonde kos te eet. ʼn Mens kan dalk nog vir ʼn paar dae sonder kos klaarkom, maar dan raak dit nadelig en noodlottig omdat ʼn mens die voeding en energie van kos nodig het om voort te bestaan.
  • Jy het ʼn begeerte om ʼn selfoon te hê waarop jy jou eie musiek kan luister, met maats kan kommunikeer, asook vir ander vorme van vermaak soos speletjies of sosiale media. Dit is nie ʼn noodsaakliheid nie (hoewel sommige kinders ernstig hiermee sal verskil!), maar ʼn begeerte om te hê – veral as elke ander kind in die klas ook ʼn selfoon besit.

Primêre (basiese) en sekondêre behoeftes

Primêre behoeftes word gesien as behoeftes wat te doen het met die fisiese en die veiligheid van ʼn persoon. 1

Byvoorbeeld:

Dit is noodsaaklik vir ʼn mens om water en kos, asook vars lug te hê om voort te bestaan. Dit is ook belangrik vir ʼn mens om met goeie sekuriteit te leef om veiligheid te verseker, soos om ʼn veilige woonplek te hê om in te woon en te slaap.

Sekondêre behoeftes is behoeftes waarvan ons oorlewing nié afhang nié. 1

Byvoorbeeld:

Ons het ʼn behoefte om klere en skoene te dra sodat ons in die winter warm kan bly en ons voete nie seerkry nie. Warm klere vir die winter is ʼn noodsaaklikheid, omdat mense in koue dele sonder die nodige warm klere sal siek word of selfs kan verkluim. Dit is egter ʼn sekondêre behoefte om ʼn sekere handelsnaam se klere en skoene te dra, aangesien dit nie ʼn saak van oorlewing is nie, maar eerder van smaak of keuse.

Behoeftes en begeertes beïnvloed die gemeenskap

Mense se behoeftes en begeertes het ʼn invloed op die gemeenskap waarin hulle leef, wat weer ʼn rol in die ekonomie van daardie land speel.

Die behoeftes en begeertes van mense kan die volgende meebring:

  • Dit kan bepaal watter soort produkte en dienste in die gemeenskap verkoop of aangebied word. Daar kan dus skaarstes in sekere gemeenskappe ontstaan.
  • Dit kan ʼn invloed uitoefen op hoe gemeenskappe werk.
  • Mense in armer gemeenskappe in wie se basiese behoeftes nie voorsien word nie, sal nie geld in hulle gemeenskappe kan bestee deur plaaslike winkels en besighede te ondersteun nie.
  • Mense in welgestelde gemeenskappe sal geld by die winkels en besighede in hulle gemeenskappe bestee, dus sal daardie gemeenskappe meer welvarend word. Hierdie gemeenskappe het ook makliker toegang tot die internasionale mark.

Onbeperkte behoeftes met beperkte hulpbronne

Individue, gesinne, gemeenskappe en lande het almal onbeperkte behoeftes en begeertes. Dit beteken dat behoeftes en begeertes oneindig en aanhoudend sal voorkom. Hulpbronne is egter beperk, en daar is nie genoeg hulpbronne om eindeloos in alle behoeftes en begeertes te voorsien nie. Geld het ontwikkel en ʼn ruilmiddel geword waarmee mense hul behoeftes en begeertes makliker kan bevredig.

Mense se behoeftebevrediging is aan hul waardesisteme gekoppel. In die moderne verbruikerskultuur word die verbruiker deur advertensies en verleidelike verkoopstegnieke – wat nuwe behoeftes aanwakker – gebombardeer. Soms word dan onnodig geld spandeer aan iets wat ʼn begeerte is, eerder as ʼn behoefte. Dit kan tog gevolg hê dat verbruikers skuld maak om die item aan te skaf. Die verkeerde besteding aan begeertes kan meebring dat ʼn familie dan ʼn tekort het aan noodsaaklikhede soos kos en klere.

Om te help om te prioritiseer tussen noodsaaklike behoeftes, soos kos en huurgeld, en begeertes, soos luukse tegnologie of reise, is dit belangrik om te begroot. Wanneer aankope op grond van ʼn begroting gedoen word, kan ʼn persoon makliker goeie keuses maak en aandag skenk aan behoeftes voordat aan geld op begeertes spandeer word. 2

Maslow se hiërargie van behoeftes

Abraham Harold Maslow was ʼn Amerikaanse sielkundige wat ʼn alombekende hiërargie van menslike behoeftes in 1943 in A theory of human motivation bekendgestel het. Gebaseer op sy navorsing en bevindinge het hy menslike behoeftes in ʼn piramide gerangskik – hierdie hiërargie stel voor dat mense eers aan basiese behoeftes sal voldoen, voordat hulle na meer gevorderde behoeftes beweeg.

Vlak 1: fisiologiese/liggaamlike behoeftes

Hierdie vlak word gesien as die belangrikste vlak van menslike behoeftes. Vir mense om te oorleef, is hierdie noodsaaklike benodigdhede soos byvoorbeeld kos, water, slaap en vars lug.

Vlak 2: veiligheids-/sekuriteitsbehoeftes

Hiedie is die volgende vlak van behoeftes wat belangrik is vir die mens. Om veilig te voel en te wees, is ʼn belangrike behoefte wat deel vorm van ʼn mens se daaglikse bestaan. Voorbeelde van veiligheid wat ons benodig, is skuiling of behuising, veiligheid en finansiële inkomste wat sekuriteit bied om noodsaaklike items aan te koop.

Vlak 3: sosiale behoeftes

Betekenisvolle verhoudings met familie en vriende en aanvaarding in sosiale kringe is belangrike behoeftes van mense.

Vlak 4: behoefte aan aansien

Mense het ʼn behoefte om erkenning vir hul prestasies en waardevolle insette wat hulle bied, te ontvang. Mense hou daarvan dat ander hulle respekteer en waardeer. Selfrespek is ook belangrik, en elke persoon moet ook respek vir hom- of haarself hê.

Vlak 5: behoefte aan selfverwesenliking

Hierdie behoefte beteken dat mense graag wil groei en hulle volle potensiaal wil bereik. Alle vlakke van behoeftebevrediging is belangrik, en dit sal wonderlik wees indien jy ook op vlak 5 jou drome en ideale verwesenlik. 3

Woordbank

hiërargie ‘n Stelsel of organisasie waarin mense of dinge volgens hul belangrikheid gerangskik word. 4
hulpbronne Hulpbronne soos natuurlike hulpbronne is beperk en kan uitgeput word.
begroting ʼn Opsomming van ʼn persoon se inkomste en voorsiene uitgawes. Vooruitskatting van ‘n finansiële posisie. 4
verbruiker ʼn Verbruiker bevredig sy/haar nut of probeer om sy/haar welvaart te maksimeer.
selfrespek Respek/agting vir jouself (sonder om hoogmoedig te wees). 4
selfverwesenliking Optimale verwesenliking van jou eie talente en potensiaal. 5

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockGrafika: Sandra Adendorff
Gepubliseer op: 17 Augustus 2021 | Bygewerk op 26 Maart 2024