Vinnige feite

  • Norodom Sihamoni is ’n baie talentvolle uitvoerende kunstenaar, en was vir twintig jaar ’n professor in klassieke dans en dansonderrig in Frankryk voordat hy in 2004 sy pa as koning opgevolg het. 25
  • Die emir van Koeweit is ook die land se eerste minister. 26
  • In Maleisië is die koning se titel Yang di-Pertuan Agong (“Hy wat opperheerser gemaak is”) of net Agong. 30
  • Albert II se ma was die Amerikaanse rolprentster Grace Kelly. Hy is getroud met die voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer Charlene Wittstock. 32
  • Die pous is nie net die hoof van die Rooms-Katolieke Kerk nie, hy is ook die heerser van die kleinste land en staat ter wêreld, die Vatikaanstad in Rome. 41
Foto: iStock

Elke staat in die wêreld het ’n leier. Só ’n leier is die hoof van die staat, en gewoonlik die mens met die hoogste gesag in die regering. ’n Staatshoof verteenwoordig die burgers, en ’n goeie staatshoof is iemand wat die burgers se belange op die hart dra.

In sommige lande is die staatstelsel ’n demokrasie, waar die burgers self die leiers kies wat hulle moet verteenwoordig. So maak hulle seker dat die leiers besluite neem wat hulle gaan bevoordeel. ’n Republiek soos Suid-Afrika is ’n demokrasie, en ons staatshoof is die staatspresident.

Pres. Cyril Ramaphosa is Suid-Afrika se staatshoof.

Sommige ander lande se staatshoofde word nie gekies nie, die staatshoof erf die titel by sy of haar ouers, of die staatshoof word deur ’n klein groepe mense gekies. Sulke lande is monargieë en die staatshoof is ’n monarg. As ons die woord monargie ontleed, raak dit sommer gou duidelik wat die woord eintlik beteken. Dit is ’n samestelling van twee ou Griekse woorde: “monos” (alleen) + “arkhein” (om te regeer). ’n Monargie is dus ’n staat waar een mens alleen regeer. 1

Die kenmerke van ’n monargie

’n Monarg kry gewoonlik sy of haar titel. Dit beteken die burgers het geen reg om te besluit wie die volgende monarg is nie, en die monarg regeer lewenslank. Baie eeue lank was hierdie troonopvolging net vir mans en hul seuns beskore, maar al hoe meer monargieë maak dit deesdae ook vir vroue en meisies moontlik om die monarg te word.

Ons verwys dikwels na ’n monarg se mag as soewerein, wat beteken dat só ’n persoon se besluit geld, en dat niemand die reg het om die besluit te bevraagteken nie. 2

Soorte monargieë

Die monargieë wat vandag nog in die wêreld bestaan, werk nie almal dieselfde nie. Ons bespreek hierdie verskille kortliks sodat jy hierdie eienskappe kan gaan naspoor by elke monargie wat jy bestudeer.

Absolute vs. konstitusionele monargie

In ’n absolute monargie het die monarg alle mag. Niemand regeer saam met hom of haar nie, en alle besluite wat iets met die regering van die land te doen het, word deur só ’n heerser geneem. Die monarg se mag word nie deur wette of gebruike beperk nie. 3 Niemand het ook die reg om só ’n heerser se gesag te bevraagteken of uit te daag nie, en baie sulke monarge glo dat hulle ’n heilige reg het om te regeer. Voor die Franse koning byvoorbeeld in 1792 tydens die Franse Revolusie onttroon is, het almal geglo God het aan die koningshuis die reg gegee om te regeer. 4

‘n Illustrasie van die tydperk rondom die Franse Revolusie.

In ’n konstitusionele monargie het die land ’n grondwet wat die monarg se mag en regte beperk. Die monarg deel die mag met ’n regering, en in baie sulke monargieë is die rol van die monarg eintlik heeltemal simbolies. Dit beteken die monarg is nog op die troon en speel ’n rol wanneer die prosesse van regering plaasvind, soos byvoorbeeld wanneer die parlement ná ’n vakansie weer byeen kom, maar die monarg neem nie besluite en vaardig wette uit waaraan die burgers van die staat moet voldoen nie. Lande met sulke konstitusionele monargieë is onder andere die Verenigde Koninkryk, België, Noorweë, Kambodja, Jordanië en Japan. 5

Oorerwingsmonargie vs. verkose monargie

In ’n oorwerwingsmonargie word die titel van die monarg na die monarg se naaste nasaat oorgedra. Dit is gewoonlik die monarg se oudste seun, oudste kind, oudste sibbe, of naaste neef of niggie.

In ’n verkose monargie word die monarg verkies deur ’n klein groepie mense wat ’n baie groot invloed het.

Afgeskafte monargieë

Ons verwys na monargieë wat nie meer bestaan nie omdat die staat intussen ’n demokrasie geword het waar die burgers self die staatshoof kies, as afgeskafte monargieë. Baie state in Afrika, soos Ghana, Nigerië, Uganda en Malawi, het jare gelede konings gehad, maar het met onafhanklikheidswording gekies om republieke te word. Lande in Europa soos Italië, Bulgarye, Duitsland en Griekeland het nou nog ’n koninklike familie, maar die staat is nie meer ’n monargie nie, en hierdie mense speel geen rol in die regering nie. Baie van hulle woon nie eens meer in die land self nie. 6

Subnasionale monargieë

Monargieë wat deel vorm van ’n ander, groter land se grondgebied, word subnasionale monargieë genoem. Sulke monarge is leiers van ’n groep mense, maar hulle is nie die hoof van die staat nie. Die Zoeloekoning (tans is dit Misuzulu Sinqobile kaZwelithini) is byvoorbeeld ’n monarg van só ’n subnasionale monargie. Die Zoeloes se grondgebied vorm deel van Suid-Afrika, en Suid-Afrika se staatshoof is ’n president. Ons verwys nie in hierdie artikel verder na sulke monargieë nie, ons verwys net na monargieë waar die monarg ook die staatshoof is.

Verskillende titels vir monarge

Die monarg se titel hou verband met die soort staat waarvan hy of sy die hoof is. Die bekendste monargieë is koninkryke, maar daar is ander soort state waar die monarg ’n ander titel het of gehad het. Die lys titels hier onder behoort jou te help om te verstaan hoekom nie alle monarge konings is nie. Ons het wel hier ’n paar titels uit afgeskafte monargieë bygesit omdat ons weet dat jy dalk in geskiedenisboeke daarmee te doen gaan kry. Dan hoef jy nie te sukkel om te verstaan waaroor dit gaan nie.

’n Koning of koningin heers oor ’n koninkryk. Dit is ’n land wat gewoonlik lank gelede deur middel van oorloë en troues tussen lede van verskillende koningshuise onder een koning se beheer gekom het. 7

’n Keiser heers oor ’n keiserryk. ’n Keiserryk is tradisioneel groter as ’n koninkryk, en bestaan gewoonlik uit ’n klomp koninkryke wat deur oorloë en veldslae onder die keiser se beheer gekom het. Die Romeinse Ryk het byvoorbeeld ’n keiser gehad – ons ken vir keiser Augustus wat tydens Jesus se geboorte aan bewind was, en ons ken vir Julius Ceasar (keiser Julius) oor wie William Shakespeare sy drama geskryf het. China het ’n keiser gehad, Napoleon was in ’n stadium die keiser van Frankryk, en Japan het vandag nog ’n keiser. 8

Die monarge van Rusland, Bulgarye en Serwië was bekend as tsaars. Die woord tsaar is eintlik maar net ’n vervorming van die Latynse woord “ceasar”, wat keiser beteken. Rusland se laaste keiser, tsaar Nicholas II, het in 1917 tydens die Russiese Revolusie geabdikeer, en hy is in 1918 saam met sy hele gesin tereggestel. 9

Tsaar Nicholas II was Rusland se laaste keiser.

Die monarg van Iran was bekend as die sjah. Dit is ’n ou Persiese woord wat “heerser” beteken. Die laaste sjah van Iran was Mohammad Reza Pahlavi, wat in 1979 in ’n revolusie onttroon is. 10 Iran word sedertdien deur ’n opperleier regeer. 11

Sjah Mohammad Reza Pahlavi van Iran is in 1979 in ’n revolusie onttroon.

’n Prins of prinses heers oor ’n prinsdom (sinoniem: “prinsipaliteit”). Sommige prinsdomme is deel van groter koninkryke, soos Wallis wat deel is van die Verenigde Koninkryk. Maar daar is wel soewereine prinsdomme, soos Monaco en Liechtenstein, waar die monarg ’n prins is. (Kyk in die tabel hier onder, ons bespreek dit daar.)

’n Farao was ’n heerser oor die antieke Egiptiese Ryk. Die bekendste farao is waarskynlik Toetankamen omdat sy graf bykans ongeskonde gevind is en ons baie daaruit kon leer oor die lewe van daardie tyd. 12

Die pous is die hoof van die Rooms-Katolieke Kerk. Hy is ook ’n monarg omdat hy die heerser is van die Vatikaanstad, die kleinste land en staat ter wêreld. Die pous regeer gewoonlik tot aan die einde van sy lewe en word nie deur sy nasate opgevolg nie omdat Rooms-Katolieke geestelikes nie trou nie. Die nuwe pous word met ’n baie plegtige proses deur die Collegium Cardinalium (Kollege van Kardinale) verkies. Die pous is dus ’n verkose monarg. 13

Die kalief was in die Moslemwêreld die heerser van die Moslemgemeenskap en die opvolger van die profeet Mohammed. Verskeie Arabiese leiers het hierdie titel gehad, totdat die Ottomaanse sultan Selim I in 1517 die kalief gevange geneem en die titel vir homself toegeëien het. 14

Hoewel daar dus nie meer vandag ’n kalief is nie, is daar steeds emirs. ’n Emir is die hoof van ’n emiraat en word beskou as ’n persoon wat die kalief in ’n bepaalde gebied verteenwoordig. 15

’n Sultan is die heerser van ’n Moslemland, maar sy beheer is nie ’n godsdienstige posisie nie. Hy is met ander woorde nie ’n verteenwoordiger van Mohammed nie. Baie eenvoudig gestel, is ’n sultan ’n koning van ’n Moslemland. 15 Die sultan se vrou se titel is “sultana”.

Die titel sjeik word gebruik vir enige manlike regeerder van ’n bepaalde grondgebied. Baie emirs gebruik dus die titel “sjeik” voor hulle name. 15

Die huidige monargieë en hul monarge

Die monargieë wat vandag nog bestaan, word in die tabel hier onder aangedui. By elke land is die titel en die naam van die heersende monarg.

Let wel: Ons het nie subnasionale monargieë hierby ingesluit nie, want ons verwys hier net na die monarge wat oor ’n hele land regeer.

 Land Titel Huidige monarg Het jy geweet?
Andorra Medeprins Emmanuel Macron en Joan Enric Vives i Sicília Andorra het ’n vreemde regering, want die hoofde van hierdie staat is nie burgers van die land nie. Die staatshoofde is altyd die president van Frankryk en die biskop van Urgell, ’n biskopdom in Katalonië in Spanje. 16
Bahrein Koning Hamad bin Isa Al Khalifa Die huis van Al Khalifa regeer al van 1783 oor Bahrain, ’n eilandgroep in die Persiese Golf. 17
België Koning Philippe Die Belgiese monarge is afstammelinge van Albert, koningin Victoria se man. Hulle van is ook Saxe-Coburg und Gotha. Hulle is dus familie van die Britse koningshuis. 18
Bhoetan Koning Jigme Khesar Namgyel Wangchuck In Bhoetan is die koning se titel “Druk Gyalpo”, wat beteken “draakkoning”, want in die taal Dzongkha staan Bhoetan bekend as “Drukyul”, “Die land van drake”. 19
Brunei Sultan Hassanal Bolkiah

 

Die sultan van Brunei is een van die laaste absolute monarge in die wêreld. Hy is ook een van die wêreld se rykste mense. 20
Denemarke Koningin Margrethe II Die monarg van Denemarke regeer ook oor die Faroe-eilande en Groenland. 21
Eswatini Koning Mswati III Eswatini is eintlik ’n diargie, ’n land met twee heersers – die koning en sy ma. Die koning is altyd ’n Dlamini, en hy is altyd die koningin se enigste seun. Daar word na hom in Swazi verwys as Ngwenyama (leeu) en na sy ma as Ndlovukazi (olifantkoei). 22
Japan Keiser Naruhito Keiser Naruhito se vrou, Masako Owada, was ’n student saam met hom by die Universiteit van Oxford in Engeland en ’n diplomaat in eie reg. Hy het haar drie keer gevra om te trou voordat sy ja gesê het! 23
Jordanië Koning Abdullah II Abdullah II is ’n lid van die Hasjimiet-dinastie, en dus ’n direkte afstammeling van die profeet Mohammed. 24
Kambodja Koning Norodom Sihamoni Norodom Sihamoni is ’n baie talentvolle uitvoerende kunstenaar, en was vir twintig jaar ’n professor in klassieke dans en dansonderrig in Frankryk voordat hy in 2004 sy pa as koning opgevolg het. 25
Katar Emir Tamim bin Hamad Al Thani Tamim bin Hamad Al Thani se beleid is om groot sportgeleenthede na Katar te lok om die land vir toeriste aantreklik te maak. Een daarvan was die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat in 2022 in Katar plaasgevind het.
Koeweit Emir Nawaf Al-Ahmad Al-Jaber Al-Sabah Die emir van Koeweit is ook die land se eerste minister. 26
Lesotho Koning Letsie III Letsie III was twee keer koning. Sy pa, Moshoeshoe II, is tydens ’n staatsgreep in 1986 van sy koningskap ontneem, en Letsie III het koning geword op voorwaarde dat hy nie met die regering van Lesotho inmeng nie. Ná ’n tweede staatsgreep in 1991 en verkiesings in 1993, het Letsie III geabdikeer en is Moshoeshoe II weer as koning ingestel. Toe hy in 1995 in ’n motorongeluk oorlede is, het Letsie III weer koning geword. 27
Liechtenstein Prins Hans-Adam II Liechtenstein is ’n klein, onafhanklike prinsdom tussen Switserland en Oostenryk. Dit het net 38 500 inwoners, maar hierdie inwoners se gemiddelde inkomste is die hoogste in die wêreld. 28
Luxemburg Aartshertog Henri Luxemburg is ’n klein, onafhanklike aartshertogdom tussen België, Frankryk en Duitsland, maar dit is deel van die Europese Unie en het ’n sterk ekonomie. 29
Maleisië Koning Abdullah In Maleisië is die koning se titel Yang di-Pertuan Agong (“Hy wat opperheerser gemaak is”) of net Agong. 30
Marokko Koning Mohammed VI Volgens die Amerikaanse saketydskrif Forbes is koning Mohammed VI die vyfde rykste monarg in die wêreld en die rykste koning in Afrika. 31
Monaco Prins Albert II Albert II se ma was die Amerikaanse rolprentster Grace Kelly. Hy is getroud met die voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer Charlene Wittstock. 32
Nederland Koning Willem-Alexander Willem-Alexander het koning geword al leef sy ma, koningin Beatrix, nog. Sy het in 2013 geabdikeer sodat haar seun by haar kon oorneem. 33
Noorweë Koning Harald V Noorweë is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s ingeneem. Die Duitsers wou die koning, Haakon VII, die huidige koning se oupa, dwing om te abdikeer, maar hy het geweier, en die Noorweërs op dié manier aangespoor om hulle teen Duitse oorheersing te bly verset. 34
Oman Sultan Haitham bin Tarik Wyle Koningin Elizabeth II van Brittanje het in 2021 ’n ridderskap in die Orde van St. Michael en St. George aan die sultan toegeken. 35
Saudi-Arabië Koning Salman bin Abdulaziz Al Saud Koning Salman is die wêreld se oudste lewende monarg. Die koninklike familie van Saudi-Arabië is ook die rykste van al die koninklike families. 36
Spanje Koning Felipe VI Die Spaanse en Britse koningshuise is familie van mekaar. Die huidige Spaanse koning is die agter-agter-agterkleinseun van koningin Victoria. 37
Swede Koning Carl XVI Gustaf Die Sweedse koningshuis was die eerste om die wet van absolute eersgeboortereg in te stel. Dit is ’n wet wat bepaal dat die eerste kind van ’n monarg die troonopvolger word, maak nie saak of daardie kind manlik of vroulik is nie. Daarom is koning Carl Gustaf se troonopvolger sy dogter, Victoria, al het hy ook ’n seun. Victoria is die oudste, daarom is sy die troonopvolger. 38
Thailand Koning Vajiralongkorn Die Thaise koning is die rykste monarg in die wêreld. 39 (Daar is ryker koningshuise, maar hy is die heerser met die grootste persoonlike rykdom.)
Tonga Koning Tupou VI Koning Tupou is ’n geleerde man, met twee meestersgrade wat hy aan Britse universiteite verwerf het. 40
Vatikaanstad Pous Francis Die pous is nie net die hoof van die Rooms-Katolieke Kerk nie, hy is ook die heerser van die kleinste land en staat ter wêreld, die Vatikaanstad in Rome. 41
Verenigde Arabiese Emirate (VAE) Emir Mohamed bin Zayed Al Nahyan

 

Die VAE het nie net een heerser nie, elke emiraat het sy eie emir, wat beteken daar is eintlik 7 heersers. Mohamed bin Zayed Al Nahyan is die emir van Abu Dhabi, die rykste emiraat, en die president van die 7 emirate. 42
Verenigde Koninkryk Koning Charles III Die Britse monarg is die staatshoof van al 15 lande in die Britse Gemenebes, met ander woorde:

  • die Verenigde Koninkryk
  • Antigua en Barbuda
  • Australië
  • Belize
  • die Bahamas
  • die Salomonseilande
  • Grenada
  • Jamaika
  • Kanada
  • Nieu-Seeland
  • Papoea-Nieu-Guinee
  • Sint Kitts en Nevis
  • Sint Lucia
  • Sint Vincent en die Grenadine
  • Tuvalu 43

Woordbank

geabdikeer Van die troon afstand doen.
beskore So beskik. Dit sal so gebeur.
burgers Die mense wat in die land gebore is en deur die staat beskerm moet word.
demokrasie ’n Staatstelsel waarin die burgers self die leiers kies wat hulle moet verteenwoordig.
diargie ’n Land met twee heersers
gesag Die reg om besluite te neem.
hou verband met Gaan saam met; het te doen met.
iemand bevoordeel Iets goed laat uitwerk vir iemand.
belange op die hart dra Altyd sorg dat die persoon kry wat hy of sy nodig het.
lewenslank So lank as wat iemand lewe.
monarg Iemand wat alleen regeer.
monargie ’n Staat met ’n monarg as hoof.
onafhanklikheidswording Veral in Afrika, die oomblik waarop ’n staat onafhanklik word van ’n koloniale oorheerser en die burgers hul eie regering instel.
ongeskonde Sonder enige verandering of skade.
samestelling ’n Taalkundeterm waarmee ons ’n woord beskryf wat gevorm word as ons ander, reeds bestaande woorde saamvoeg.
soewerein Met volle mag en gesag. Niemand het die reg om die gesag uit te daag nie.
staatsgreep ’n Aanval op ’n land se regering waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer.
troonopvolging Die volgorde waarin lede van die koningshuis geplaas word waarin hulle die troon sal opvolg. Die troonopvolger is die eerste in die ry.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wat is ‘n monargie?

Streng reëls vir Britse koninklike kinders

Die pous – 10 dinge waaroor jy dalk al gewonder het

Die rykste monarge in 2023

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Julie 2023 | Bygewerk op 19 September 2024