Vinnige feite
- Die biosfeer se lengte vanaf die litosfeer tot die atmosfeer is ongeveer 20 kilometer. Die meeste lewe bestaan egter binne 500 meter van onder die oseaan se oppervlak tot ongeveer ses kilometer bo seevlak. 5
Die biosfeer is die plek op die aarde waar lewe bestaan en sluit die grond, rotse, water en atmosfeer in. Die biosfeer is ’n baie groot stelsel waarin verskillende dele saamwerk om lewe te onderhou. Alle lewe op aarde en die interaksie met nielewende rotse, water en lug noem ons die biosfeer. Dit kan ook ’n spesifieke deel van ’n streek op aarde wees wat lewe onderhou. 1
Komponente van die biosfeer
Die biosfeer bestaan uit drie verskillende dele. In al hierdie dele is lewende organismes, asook dooie organiese materiaal. Saam vorm dit die biosfeer.
Litosfeer
Die litosfeer bestaan uit rotse, grond en sand wat op die aarde voorkom. Alle berge, rotse, grond en minerale waaruit die aarde se kors bestaan, is deel van die litosfeer. Organismes is afhanklik van die litosfeer op verskillende maniere. Die litosfeer sluit die aardkors, boonste deel van die mantel en die seebodem in. 6
Lewe in die litosfeer
- Tandmolle, erdwurms en miere woon in die grond.
- Meeste diere (mak en wild) woon op die grond
- Ontbinders soos bakterieë en fungi leef op of in die grond.
- Plante het grond vir hul wortels nodig om in te groei.
- Diepseediere soos die allemintige Japanse spinnekopkrap, leef op die seebodem. 2
- Mens en dier loop op die grondoppervlak; geboue word (meestal) op die grondoppervlak opgerig.
Hidrosfeer
Die hidrosfeer bestaan uit alle vorme van water op die aarde. Ook die water in die lug (wat deel van prosesse soos verdamping – deel van die watersiklus – is) asook water op of in die grond. Ongeveer 70% van die aarde is met water bedek. Die oseane bevat die meeste water. 4
Lewe in die hidrosfeer
- Alge of enige waterplante.
- Seediere.
- Ongewerwelde seediere, soos jellievisse en weekdiere.
- Soogdiere, soos walvisse en dolfyne.
- Mikroörganismes.
Atmosfeer
Die atmosfeer is die laag gasse wat die aarde omring. Die drie belangrikste gasse in die atmosfeer is stikstof, suurstof en koolstofdioksied. Die atmosfeer bestaan uit verskeie lae. 1
Lewe in die atmosfeer
Lewensprosesse van lewende dinge
Alle lewende organismes funksioneer in die biosfeer. Daar is sewe lewensprosesse wat bepaal of ’n organisme wel lewend is of nie. As ’n lewende organisme hierdie eienskappe besit, kan dit aan die lewe bly. 3
Alle lewende organismes moet kan beweeg. Dit hoef nie noodwendig groot bewegings te wees nie. Plante beweeg ook wanneer blomme en blare in die son se rigting draai.
Respirasie (asemhaling)
Alle lewende dinge het energie nodig vir lewensprosesse. Organismes kan energie uit voedsel vrystel deur ’n proses wat genoem word sellulêre respirasie.
Sensitiwiteit vir omgewing
Alle lewende dinge moet sensitief vir hul omgewing wees en dinge in hul omgewing moet kan waarneem vir oorlewing.
Alle lewende dinge moet kan groei.
Voortplanting
Alle lewende dinge moet kan voortplant sodat hul spesies nie uitsterf nie.
Alle lewende dinge moet afvalstowwe kan uitskei.
Voeding
Alle lewende dinge het voeding nodig – hierdie voedingstowwe word deur sellulêre resperasie afgebreek om energie vry te stel.
Vereistes vir lewe
Lewende organismes het bepaalde elemente nodig om te kan oorleef. Hierdie dinge of toestande is dus nodig om lewe te onderhou en sluit die volgende in:
Energie
Lewende organismes het energie nodig om aan die lewe te bly asook vir lewensprosesse. Plante het energie nodig om te kan fotosinteer. Ander organismes kry weer hul energie van die voedsel wat hulle eet.
Gasse (suurstof)
Lewende dinge het suurstof nodig vir sellulêre respirasie. Suurstof word gebruik om energie vry te stel uit voedsel. Koolstofdioksied en water word geproduseer as afvalprodukte van respirasie. Plante het op hul beurt koolstofdioksied nodig om te kan fotosinteer en suurstof vry te stel wat deur mense en diere ingeasem word.
Water
Water is noodsaaklik vir lewe. Elke organisme op ons planeet het water nodig om aan die lewe te bly.
Grond
Grond onderhou lewe op aarde. Sonder grond sal plante nie voedsel kan produseer nie omdat dit die ondersteuning, minerale en water van die grond nodig het. Omnivore (mense en sekere diere) en herbivore (planteters) is weer afhanklik van plante vir voedsel.
Geskikte temperature
Organismes is aangepas om te oorleef binne ’n spesifieke temperatuur. Die aarde het oor die algemeen gunstige temperature om lewe te onderhou.
Aanpassings vir lewe
Lewende organismes is aangepas by hul omgewing om daarin te kan oorleef: 4
Voorbeelde:
Diere |
Hoe die dier aangepas is vir sy omgewing |
Voëls | Voëls het vlerke, vere, hol bene (die mens s’n is met murg gevul, voëls s’n met lug) en ’n vaartbelynde lyf om te vlieg. 4 |
Visse | Visse is aangepas om onderwater te lewe. Visse het kieue as asemhalingsorgane, vinne om te beweeg en skubbe as beskerming. |
Soogdiere | Soogdiere is lewendbarend en hulle soog hul kleintjies. Die meeste soogdiere se kleintjies kan ná ’n paar uur reeds loop en hardloop. |
Insekte | Insekte het eksoskelette om uitdroging te voorkom en saamgestelde oë om beter te sien. |
Erdwurms | Die klam vel van ’n erdwurm is nodig vir respirasie. Hy het geen oë nodig nie, want hy leef in die grond. |
Voorbeelde van oorlewing in koue klimaat:
Diere | Plante |
Migreer (trek na warmer dele). | Verloor hul blare of behou dit juis. |
Hiberneer (slaap in die winter). | Sommige plante oorwinter in die grond. |
Gaar voedsel op in warmer seisoene. | Plante soos naaldbome (denneboomsoort) het dun, naaldagtige blare wat met ’n waslagie bedek is. Dit voorkom vogverlies en keer dat sneeu op die blare lê.
Die stamme het dik kambium, en harskanale in die stam hou die plante warm. |
Warm pelse. Sommige diere het dik jasse (vel met baie hare) wat hulle in staat stel om in koue omstandighede te kan oorleef. Dink byvoorbeeld aan die dik pels van ‘n ysbeer! |
Voorbeelde van oorlewing in baie droë toestande:
Diere | Plante |
Somerslaap. | Stoor van water. |
Verkry water uit plante.
|
Die meeste plante in woestyne het diep wortelstelsels, min of geen blare en gebruik hul stamme om te fotosinteer. Blare is dikwels aangepas tot dorings. Dié met blare het dikwels ’n waslaag oor die blare. |
Eiers wag vir die reën voor dit uitbroei. | Sade kan dikwels vir jare dormant in die grond lê totdat toestande gunstig is vir ontkieming. |
Woordbank
biosfeer | Die term biosfeer kom van die Griekse woord bio, wat “lewe” beteken, en sphaira, wat “sfeer” of aardbol beteken. 5 |
kambium | Selvormende groeilaag of -weefsel tussen die hout en bas van ‘n boom. 6 |
sellulêre respirasie | Die proses waardeur organismes suurstof gebruik om voedselmolekules af te breek om (chemiese) energie te kry. |
omnivore | Mense en sekere diere wat sowel dierlike as plantaardige voedsel eet. 7 |
herbivore | Herbivore soos sprinkane, hase en bokke eet slegs plante. |
Lees hierdie om meer oor die biosfeer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Wat is en hoe werk die biosfeer?
Wat is die biosfeer?