Vinnige feite

  • Hendrik VIII word dikwels genoem as ’n belangrike persoon in die Reformasie (die kerkhervorming, toe die Protestante van die Rooms-Katolieke Kerk weggebreek het), maar hy het eintlik sy eie kerk gestig omdat hy nie aan die voorskrifte van die Rooms-Katolieke Kerk wou voldoen nie. Hendrik VIII wou van sy vrou skei, maar egskeiding is deur die Rooms-Katolieke Kerk verbied, en die pous wou hom nie toestemming gee om te skei nie. Hendrik VIII het toe die Anglikaanse Kerk (in Engels is die naam “Church of England”) gestig en self die hoof daarvan geword sodat hy kon trou met wie hy wou. Sedertdien is die Britse monarg outomaties altyd hoof van die Anglikaanse Kerk. 24
  • Die stad George in die Wes-Kaap is genoem na George III, wat koning was toe die Kaapkolonie geannekseer is. 25
  • Prins Albert in die Groot-Karoo is genoem na koningin Victoria se man. 26
  • Die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad is genoem na koningin Victoria en haar tweede oudste seun, prins Alfred. Hy was 16 en in die Britse vloot toe hy in 1860 die bouwerk aan die Waterfront amptelik aan die gang gesit het. 27
  • Daar staan ’n standbeeld van koningin Victoria in die Kompanjiestuin in Kaapstad en nog een voor die hoofbiblioteek in Gqerberha.
  • George VI het ’n Australiese spraakterapeut, Lionel Logue, gehad wat hom gehelp het om ten spyte van sy gehakkel toesprake in die openbaar en oor die radio voor te dra. 28
  • George VI en sy vrou Elizabeth, en hul twee dogters, Elizabeth en Margaret, het Suid-Afrika in 1947 besoek. Dit was ’n lang reis wat hulle per trein aangepak het, en hulle het by amper 400 dorpe en stede in die land aangedoen. Hul dogter Elizabeth, wat later koningin Elizabeth II sou word, het tydens hierdie reis 21 geword.
  • Die grootste diamant wat ooit in Suid-Afrika gevind is, die Ster van Afrika, is geset in die koninklike septer, die staf wat die monarg vashou tydens seremonies om mag en beheer uit te beeld. Suid-Afrika se grootste diamante is in die Britse kroonjuwele geset. 29
  • Die Britse koning of koningin se bekendste woonplek is Buckingham-paleis in Londen. Een van die daaglikse gebeure waarna toeriste graag gaan kyk, is die seremonie waartydens die wagte by die paleis hul diensbeurte omruil. In Engels word dit “Changing of the Guard” genoem.
  • Baie van die huidige Europese koninklike families is van mekaar familie omdat hulle almal afstammelinge is van prins Willem van Oranje, die man wat Willem III van Engeland geword het. 30
Foto: iStock

Die Britse koningshuis is eeue oud, en hulle het vir ’n kort rukkie ook ’n belangrike rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel.

Brittanje het die streke waaruit Suid-Afrika in die 19de eeu bestaan het, die destydse Kaapkolonie, Natal, die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, een vir een geannekseer. Toe dié kolonies op 31 Mei 1910 verenig is om die Unie van Suid-Afrika te vorm, het ons ’n kabinet en ’n eerste minister (generaal Louis Botha) gekry wat die land regeer het, maar die Britse monarg was steeds die hoof van hierdie nuwe staat. 1

Generaal Louis Botha

Dit het eers verander op 31 Mei 1961 toe Suid-Afrika ’n republiek geword het en Suid-Afrika se staatspresident ons staatshoof geword het. Suid-Afrika het vir ongeveer 51 jaar eintlik ook ’n koning en koningin gehad! 

Nie-amptelike vlag van die Britse Ryk

’n Koningshuis is nie ’n huis nie

As ons praat van ’n koningshuis, verwys ons nie na die paleis waarin die monarg woon nie, ons praat van die familie waaruit die monarg kom. 2

Dit is belangrik, want die titel van koning of koningin is oorerflik. Die monarg word met ander woorde nie deur die mense van die land gekies nie, die persoon word koning of koningin omdat hulle die naaste afstammeling van die koning of koningin is. Die huidige Britse koning, Charles III, het byvoorbeeld koning geword toe sy ma, koningin Elizabeth II, op 8 September 2022 oorlede is.

Engeland, Groot-Brittanje en die Verenigde Koninkryk

Voordat ons meer oor die Britse koningshuis leer, moet ons net eers seker maak dat ons verstaan presies oor watter land ons praat. Onthou dat Engeland, Groot-Brittanje en die Verenigde Koninkryk nie na dieselfde plek verwys nie, al gebruik mense die name soms so.

Baie eeue gelede was die groot eiland nie een land soos wat dit vandag is nie, daar was ’n versameling koninkryke wat ontstaan het nadat invallers dele van die eiland verower het. Engeland het op 12 Julie 927 een koninkryk geword toe Aethelstan die koninkryke in die suide van die eiland onder sy heerskappy verenig het. Hy was met ander woorde die eerste Engelse koning. Maar Engeland het steeds nie die hele eiland beslaan nie. Die dele wat ons vandag ken as Wallis en Skotland was nie deel van Engeland nie. 

Groot-Brittanje is die naam waarmee ons na die groot eiland verwys. Dit bestaan vandag uit Engeland, Wallis en Skotland. 3 Aanvanklik was Engeland en Skotland twee aparte koninkryke, maar in 1707 is dit verenig as die Koninkryk van Groot-Brittanje. Die Skotte het steeds hulle eie parlement behou, wat beteken hulle maak steeds hulle eie wette, maar die Engelse monarg het van toe af oor Skotland ook regeer. 4

In 1802 het die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland (of kortweg die Verenigde Koninkryk, afkorting: VK) tot stand gekom toe Ierland ook amptelik onder die beheer van die Britse koningshuis gekom het. Maar die Iere in die suide van Ierland was nie hiermee gediend nie, en in 1922 het hulle weggebreek om hulle eie republiek te stig. Die Verenigde Koninkryk soos wat ons dit vandag ken, bestaan dus uit Groot-Brittanje en Noord-Ierland. 5

Die geskiedenis van die Britse koningshuis

Die Eerste Engelse konings

Aethelstan en die Engelse konings ná hom het hulle hande vol gehad met die Vikings en die Dene, wat die noorde van die groot eiland ingeneem het en hulle eie koninkryke daar gevestig het. Knoet, ’n Deen, het selfs in 1016 koning van Engeland geword. 6

Athelstan

Die Franse konings

Dit het alles verander toe die laaste Engelse koning in 1066 by die Slag van Hastings deur Willem die Veroweraar verslaan is. Willem was ’n Normandiër (Normandië is ’n streek in Frankryk), en vir die volgende tweehonderd jaar tot in 1272 is Engeland deur Franse konings regeer.

Dood van koning Harold in die Slag van Hastings

Die Rose-oorloë

Ná 1272 is die een na die ander Engelse koning van die troon afgeboender, of hulle is sommer net deur hul teenstanders vermoor. Van 1455 was daar ’n lang stryd tussen die familie York en die Lancasters om beheer oor die Engelse troon te verkry. Die tydperk het bekend gestaan as die Rose-oorloë en het die naam gekry van die wit roos op die huis van York se embleem en die rooi roos op die huis van Lancaster se embleem. 7

Anne Neville en haar twee mans

Die Tudors

Die huis van Tudor het van 1485 tot 1603 geheers. Die bekendste Tudors was Hendrik VIII, wat van die Rooms-Katolieke Kerk in Rome weggebreek het en die Anglikaanse Kerk gestig het, en sy dogters Maria I (ook bekend as Maria die Bloedige omdat sy weer die Katolieke geloof met geweld op haar onderdane wou afdwing) en Elisabeth I, ’n baie slim heerser wat van Engeland wêreldmoondheid gemaak het. 8

Hendrik VIII

Die Stuarts

Elisabeth I het nooit getrou nie, en sy is dood sonder ’n troonopvolger. Sy het Jakobus I, die Skotse koning, aangewys as haar opvolger. Sy seun, Karel I, het van die begin af moeilikheid met die Engelse parlement gehad, en in 1642 het die Engelse Burgeroorlog uitgebreek. Karel I is in 1649 as ’n verraaier ter dood veroordeel. 9

Elisabeth I

Die Cromwells

Ná Karel I se dood het Engeland vir ’n kort tyd ’n republiek geword, en Oliver Cromwell, ’n gewone burger sonder adellike bloed, het die staatshoof geword. Sy amptelike titel was Beskermer van Engeland. Sy seun het die titel by hom oorgeneem, maar hy was nie gewild nie, en hy moes binne 9 maande nadat hy beheer oorgeneem het, Frankryk toe vlug. 10

Oliver Cromwell

Die Restourasie

Die Engelse parlement het ná die Cromwells weer die monargie ingestel, en Karel I se seuns, eers Karel II en toe Jakobus II, het konings geword. Maar hulle was sulke gehate regeerders dat die parlement die Nederlandse prins, Willem van Oranje, gevra het om die troon oor te neem. 11

Willem van Oranje

Ná sy dood het Anna, die dogter van , koningin geword. Sy is ook dood sonder ’n troonopvolger, en die naaste familielid in die bloedlyn was ’n agterkleinseun van Jakobus I, ’n Duitser met die naam van George.

Die Hanovers

George kon omtrent glad nie Engels praat nie en het so min moontlik in Engeland gekom. Sy seun, George II, was nie veel beter nie, en sy kleinseun, George III, het ’n geestesiekte gehad. Gedurende George III se bewind het Engeland intellektueel ontwikkel en skrywers soos Jane Austen, Byron, Keats, Shelley en Wordsworth het wêreldwyd bekend geword, maar hy kon nie die land behoorlik regeer nie. 12

George II
George III

Ná sy dood het sy broer, William IV, koning geword, onder wie se bewind slawerny afgeskaf is. Hy is ook dood sonder ’n troonopvolger, en ’n kleindogter van George III het toe koningin geword.

William IV

Hierdie kleindogter was Victoria, onder wie se bewind die Britse Ryk omtrent dubbeld so groot geword het as wat dit was omdat dit ’n klomp kolonies bygekry het. Teen haar dood het ’n kwart van al die grondgebied op aarde aan Brittanje behoort. 13 Sy het getrou met Albert van Saxe-Coburg-Gotha, ook ’n Duitser. 14

Koningin Victoria

Die Windsors

Victoria se seun, Edward VII het haar opgevolg, en ná hom was sy seun, George V, koning. Hulle van was (soos Albert s’n) Saxe-Coburg-Gotha, ’n van wat baie beslis Duits geklink het. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1918, waarin Engeland en Duitsland vyande was, het George V die familie se van verander na Windsor sodat dit nie klink asof ’n lid van die vyand op die Britse troon sit nie!

Edward VII

George V se oudste seun, Edward VIII, het die volgende koning geword. Hy was baie gewild, maar was verlief op ’n geskeide Amerikaner, Wallace Simpson, en ná net 325 dae op die troon het hy geabdikeer sodat hy met haar kon trou. Die Britte wou in daardie jare nog nie aanvaar dat ’n geskeide persoon hul koningin sou word nie. 15

George V

Sy broer, George VI, ’n skaam man wat baie erg gehakkel het, het in sy plek koning geword. Hy het ’n groot en moeilike werk gekry, want hy moes Brittanje deur die Tweede Wêreldoorlog lei. 16 Kan jy dink hoe erg dit vir hom moes gewees het om toesprake oor die radio te maak wat die Britte tydens slegste dae van die oorlog moes aanspoor?

George VI

Sy oudste dogter was koningin Elizabeth II, en haar seun, Charles III is tans koning van die VK.

Elizabeth II
Charles III

Die huidige koninklike gesin

Charles III, die huidige koning, was getroud met prinses Diana, maar hulle is eers geskei en daarna is sy in ’n motorongeluk dood. Hulle het twee seuns, prins William en prins Harry. William is getroud met Catherine, en Harry het met ’n Amerikaanse aktrise, Meghan Markle, getrou.

Prinses Diana

William is tans die troonopvolger, en daarna sal sy oudste seun, ook George, die koning word.

Prins Harry en Meghan Markle
Prins William en Catherine

Koning Charles is intussen weer getroud met Camilla, en haar amptelike titel is koningin-gemaal wat beteken sy is die koningin omdat sy met die koning getroud is. Die woord gemaal beteken ‘eggenoot’. 17 Net iemand wat self die titel geërf het, kan die koning of koningin word.

Charles III en Camilla

Die Britse koningshuis se rol in ons geskiedenis

Die grondgebied wat ons land uitmaak, het deel geword van die Britse Ryk toe Brittanje eers die Kaap (1815), toe Natal (1843) en toe die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (1902) geannekseer het. 18

Vandat elk van hierdie gebiede onder Brittanje se beheer gekom het, het die Britse monarg die hoof van daardie gebied geword.

Die Kaap het ’n Britse kolonie geword gedurende die heerskappy van George III, Natal gedurende die heerskappy van koningin Victoria, en die twee Boererepublieke net nadat Edward VII die troon in 1901 bestyg het.

Op 31 Mei 1910, presies agt jaar ná die ondertekening van die Vrede van Vereeniging wat ’n einde aan die Anglo-Boereoorlog gemaak het, het die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom. Eers toe die Unie gestig is, het die land Suid-Afrika wat ons vandag ken, tot stand gekom.

Die Unie van Suid-Afrika was steeds Britse grondgebied, maar dit het sy eie grondwet en parlement gehad, wat beteken dat Suid-Afrikaanse staatsmanne self wette gemaak het en self die land regeer het. Al hierdie besluite moes wel eers deur die Britse parlement goedgekeur word voordat dit van krag geword het, en die Britse monarg was steeds die Unie se staatshoof. Suid-Afrika het ook ’n goewerneur-generaal gehad, ’n Brit wat die persoonlike verteenwoordiger van die Britse monarg in die land was.

Koninklike wapen van die Verenigde Koninkryk

Edward VII is op 6 Mei 1910 oorlede, wat beteken dat sy broer, George V op 31 Mei 1910 die Unie se eerste staatshoof geword het. Ná sy dood was eers Edward VIII, toe George VI, en toe Elizabeth II staatshoofde van die Unie.

As ’n unie was Suid-Afrika deel van die Britse Statebond (’n versameling lande wat mekaar ondersteun het met handel en in oorlogstyd), daarom het Suid-Afrika aan Brittanje se kant geveg in oorloë waarby Brittanje betrokke geraak het, soos die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918), 19 ) die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) 20 en die Koreaanse oorlog (1950-1953). 21

Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n republiek geword. Dit was die einde van die Britse koningshuis se beheer oor ons land. Die goewerneur-generaal, wat tot op daardie tydstip die Britse koning of koningin as staatshoof verteenwoordig het, is vervang deur ’n Suid-Afrikaanse staatspresident. Ons het ook uit die Statebond getree, en ons eie geldstelsel (rand en sent in plaas van ponde, sjielings en pennies) begin gebruik. 22

Hoewel Suid-Afrika op 31 Mei 1994 weer lid geword het van die Statebond, het dit nie beteken dat ons weer onder Brittanje se beheer gekom het nie. Die Britse koningshuis het geen gesag meer in Suid-Afrika nie, en ons land se staatshoof is steeds die Suid-Afrikaanse staatspresident. 23

Woordbank

aangedoen Stop; besoek.
aanspoor Aanmoedig.
afstammeling Nasaat; bloedverwant.
bewind Regeertydperk.
geabdikeer Van die troon afstand gedoen; aanspraak op die troon laat vaar.
gediend Tevrede.
geestesiekte Psigiese ongesteldheid, sielsiekte.
heerskappy Die monarg se regering.
invallers Soldate wat ’n gebied oorneem.
koningshuis Koninklike familie.
monarg Koning of koningin wat regeer.
pous Die hoof van die Rooms-Katolieke Kerk.
tot stand gekom Begin bestaan.
troonopvolger Iemand wat ná die huidige koning of koningin die troon gaan bestyg.
uit te beeld Wys.
van krag geword het Toegepas word, byvoorbeeld reëls of wette.
verenig Een gemaak.
verower In ’n veldslag wen.
verraaier Iemand wat teen sy eie volk oorlog maak.
verslaan In ’n oorlog oorwin.
voorskrifte Reëls.
wêreldmoondheid ’n Baie magtige staat.

Lees meer oor die Britse koningshuis

Kyk hier

Hendrik VIII se vroue:

Hierdie YouTube-kanaal behoort aan die Britse koninklike familie!

Luister hier na die toespraak wat George VI op 3 September 1939 oor die radio voorgedra het, die dag toe Brittanje teen Duitsland oorlog verklaar het en die Tweede Wêreldoorlog begin het. Sy terapeut, Lionel Logue, het by hom gestaan terwyl hy die toespraak voorgedra het:

Daar is ’n rolprent oor George VI se spraakprobleem gemaak. Kyk hier na die lokprent van The King’s Speech:

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Desember 2022 | Bygewerk op 16 April 2024