Vinnige feite
- Die Vikings het nie helms met horings gedra nie. Die idee dat hulle so aangetrek het, het waarskynlik eers in die 19de eeu ontstaan toe Europese skilders hulle so uitgebeeld het.
- Vikings was bekend vir hul goeie higiëne. Hulle het meer gereeld gebad as ander Europeërs, en het skeermesse, borsels en kamme gehad.
- Hulle het ’n soort swam in urine geweek om as vuuraanstekers te gebruik.
- Vikings was slawehandelaars. Hul slawe was meestal uit Engeland en Oos-Europa.
- Viking-mans wat nie blond was nie, het hul hare blond gekleur!
- Vikings het geski vir ontspanning. 10
Die Vikings was taktiese krygers, slim handelaars en waaghalsige ontdekkingsreisigers uit Skandinawië. 1 Hulle het van die agtste tot die elfde eeu ná Christus die hele Europa op horings geneem en ’n reputasie opgebou as wrede plunderaars. Met hul langskepe het hulle van Skandinawië tot by die Middellandse See, Noord-Afrika, die Midde-Ooste, Groenland en die noordelike dele van Kanada gevaar, ’n merkwaardige prestasie vir daardie tyd. Trouens, hoewel ons vandag van Columbus praat as die persoon wat Amerika “ontdek” het, het die Vikings al 1 000 jaar voor hom in Noord-Amerika aangekom! 2
Definisie en beskrywing
Anders as wat baie mense glo, was die Vikings nie ’n enkele, samehorige volk of ’n ras wat almal dieselfde gelyk en geleef het nie. Dit is dus nie moontlik om Vikings te definieer deur na eienskappe van “Vikingskap” te verwys nie. 3
Wat ons wel weet, is dat hulle hoofsaaklik gekom het uit die gebiede wat nou bekend staan as Denemarke, Noorweë en Swede, en dit is ook in hierdie lande se geskiedenisboeke en museums waar ons die meeste van Vikings kan leer. Omdat hulle uit dieselfde gebied gekom het, en omdat hulle nie dieselfde soort lewenstyl of geloof gehad het as die Europeërs nie – hulle was nie Christene nie – het die Europeërs hulle later dieselfde naam gegee: víkingr, wat “seerower” in die vroeë Skandinawiese tale beteken het. 4
Alhoewel ons dus vandag van Vikings praat asof hulle ’n duidelik gedefinieerde groep mense is, was hulle eintlik losse groepe uit verskeie gebiede, en dis net omdat hulle dieselfde opgetree het dat die Europeërs na hulle met dieselfde naam verwys het.
Aanloop tot die Viking-era
Geskiedkundiges is nie seker wat aanleiding tot die Viking-era gegee het nie. Dit was heel waarskynlik ’n kombinasie van faktore wat daartoe gelei het dat die Vikings van ongeveer 800 n.C. strooptogte in Europa begin uitvoer het:
Die Vikings se skepe en navigasietegnieke
Die Vikings se tegnologiese vernuf in skeepsbou het hulle die voorsprong gegee wat hulle nodig gehad het om die grootste deel van Europa en Rusland gedurende die Viking-era te stroop en te oorrompel. Viking-langskepe was vinnig, sterk genoeg om die oop see oor te steek, lig genoeg om buit te dra en maklik om te maneuver. Die vlak romp het strandlandings en riviernavigasie moontlik gemaak. Met hierdie skepe en die taktiek wat uit hul gebruik gegroei het, het Vikings groot dele van Europa en Rusland oorval en verower. Vir die Vikings was hul skepe simbole van mag, wat hulle na ’n oorlog, verre lande en selfs na die hiernamaals kon vervoer: Invloedryke Vikings is in hul skepe begrawe. 2
Handelsbelange
Die Vikings het eeue lank reeds met Europeërs en volke in die Ooste handel gedryf, maar met die opkoms van die Christendom in Europa het Europese handelaars geweier om met ongelowiges en Moslems handel te dryf. Dit het tekorte in Skandinawië veroorsaak, en dit is moontlik dat die strooptogte uitgevoer is om daardie tekorte aan te vul. 2
’n Interne magstryd
In 870 n.C. het koning Harald Noorweë in een koninkryk verenig. Baie van die Noorweegse stamhoofde was nie gediend met hierdie nuwe koning wat oor hulle regeer het nie, en hulle het strooptogte op Europa uitgevoer om hul inkomste en rykdom aan te vul. 5
Sagte teikens
Christene het selfs nie tydens ’n oorlog eintlik die Christelike Kerk se eiendom aangeval nie, en die kerkeiendomme was dus grootliks onbeskermd. Vikings was nie Christene nie, daarom het hulle geen probleem daarmee gehad om kerklike sentrums soos kloosters aan te val nie. Die Kerk was ryk, en het gewoonlik meer rykdom as selfs konings of handelaars gehad, en kloosters was vir die Vikings ’n sagte teiken. 2
Begin van die Viking-era: die strooptog op Lindisfarne
Geskiedkundiges beskou die strooptog op die klooster by Lindisfarne as die begin van die Viking-era. 6
Lindisfarne, ook bekend as Holy Island (Heilige Eiland), is ’n klein eiland op die noordooskus van Engeland, en op hierdie eiland was daar ’n belangrike klooster. Op 8 Junie 793 het Vikings op die eiland geland, die klooster aangeval, al die skatte geplunder, die altaar verwoes, en die monnike vermoor. Die feit dat die Vikings ’n kerk aangeval het, het skokgolwe deur Europa gestuur. Dit was nie net ’n aanval op ’n klooster nie, dit was ’n aanval op die Europeërs se lewenswyse en hul geloof. Van daar af het die Vikings die reputasie van barbare en woestaards gehad, en baie van die idees wat ons vandag nog oor Vikings het, kom van daardie aanval af. 7
Tref-en-trap-strooptogte
Twee jaar later het die Vikings weer kloosters aangeval, hierdie keer op die eilande Skye, Iona en Rathlin. In 799 het hulle ’n klooster op ’n eiland aan die Franse kus aangeval. Kort voor lank het hulle gereelde tref-en-trap-strooptogte onderneem op nedersettings al langs die kus van die Britse Eilande (veral Ierland) en Europa. Toe daar ’n magstryd ontstaan het in Europa in die deel wat vandag Frankryk en Duitsland is, het van die stamhoofde en konings die Vikings betaal om aan hulle kant te veg. Kort voor lank het ander Vikings besef dat Europese konings bereid was om groot bedrae geld te betaal om ’n Viking-aanval af te weer. Dit het die Vikings se reputasie as plunderaars en barbare natuurlik versterk. 4
Viking-setlaars in Engeland
Teen die middel van die negende eeu het Ierland, Skotland en Engeland gewilde teikens geword vir Viking-strooptogte, en die Vikings het ook permanente nedersettings in die gebied gevestig. Vikings het beheer verkry oor die Shetland- en Orkney-eilande van Skotland, die Hebrides en ’n groot deel van die vasteland van Skotland. Hulle het Ierland se eerste handelsdorpe gestig: Dublin, Waterford, Wexford, Wicklow en Limerick, en het hul basis aan die Ierse kus gebruik om aanvalle binne Ierland en oor die Ierse See na Engeland van stapel te stuur. 4
Viking-leërs (meestal uit Denemarke) het die ooste van Engeland binnegeval en oorgeneem. Baie van die Vikings het boere en handelaars geword en York as ’n toonaangewende handelstad gevestig. Eers ’n honderd jaar later, in 952, is die laaste Viking-koning, Erik Bloodaxe, verdryf en vermoor, en Engeland is toe in een koninkryk verenig. 4
Vikings verower ander wêrelddele
Die Vikings het ook hulle invloed op die Europese vasteland laat geld. Nantes, Parys, Limoges, Orleans, Tours en Nîmes in Frankryk is aangeval en geplunder. In 844 het Vikings Sevilla bestorm (’n dorp in Spanje wat toe deur die Arabiere beheer is); in 859 het hulle Pisa in Italië geplunder. In 911 het ’n Viking-hoofman genaamd Rollo ’n groot deel van Frankryk oorgeneem. Hierdie streek van Noord-Frankryk staan vandag nog bekend as Normandië, of “land van die Noorderlinge”. 4
In die negende eeu het Skandinawiërs (hoofsaaklik Noorweërs) Ysland begin koloniseer, ’n eiland in die Noord-Atlantiese Oseaan waar niemand nog in groot getalle gevestig het nie. Teen die laat 10de eeu het sommige Vikings verder weswaarts na Groenland getrek. Dit was van hier af dat Leif Eriksson na Noord-Amerika gevaar het. Die Vikings het hul landingsplek Vinland (Wynland) genoem en ’n tydelike nedersetting in die hedendaagse Newfoundland gebou. 4
Die einde van die Viking-era: die Slag van Stamford Bridge
Natuurlik het die Vikings nog aanvalle teen Engeland aangevoor nadat Erik vermoor is. Die Slag van Stamford Bridge tussen koning Harold II van Engeland en ’n invallende Viking-leër gelei deur koning Harald Hadrada van Noorweë was die Vikings se laaste poging om Engeland te verower. Die Vikings het die slag verloor, en Harold II het koning gebly. (Sy oorwinning was van korte duur. Hy is drie weke later by die Slag van Hastings deur die Normandiërs onder Willem die Veroweraar verslaan. Dit is nogal ironies as ’n mens in ag neem dat die Normandiërs eintlik Viking-afstammelinge was!) 8
Viking-samelewing en -gebruike
Die Viking-samelewing was patriargaal, maar vroue het wel ’n sekere mate van gesag gehad, na gelang van hul sosiale status. Omdat Viking-mans baie weg was van die huis af – op strooptogte, ekspedisies, jagtogte of op handelsmissies – het vroue in die Viking-samelewing al die mans se werk oorgeneem. Vroue was waardevolle lede van die samelewing en dit was skandelik vir ’n man om ’n vrou seer te maak. 6
Viking-meisies is jonk getroud – soms reeds op 12 – en die huwelike is deur hul ouers of families gereël. Daar was nie skole nie, maar kinders het vroeg reeds by hul ouers geleer hoe om ’n huis en ’n plaas te bestuur. Teen die tyd dat hulle 15 was, kon hulle dit op hul eie doen! 6
Vroue in die Viking-gemeenskap het meer mag gehad as die meeste ander Europese vroue van daardie tyd. Hulle kon van hul mans skei, eiendom besit en hul eie handwerk verkoop. Sommige vroue het welgestelde grondeienaars geword. 6
Vikings se skrifstelsel: runes
Die Vikings het nie die Romeinse alfabet gebruik soos die res van Europa nie. Hulle het runes gebruik, ’n skrifstelsel wat waarskynlik deur die vroeë Germaanse stamme ontwikkel is, en wat eintlik maar afbeeldings of namaaksels van Romeinse letters is. Die þ-rune stel die th-klank voor, ’n klank wat vandag nog in Engels voorkom. 9
Geloof: Noorse mitologie
In die Noorse mitologie vind ons gode en godinne, reuse, elwe, dwerge en landgeeste. Dit is ’n komplekse stelsel wat ons hier net kortliks kan opsom.
Die middelpunt van die Vikings se kosmos is ’n boom met die naam van Yggdrasil, wat uit die put van Urd groei. Yggdrasil bevat die nege wêrelde, tuiste van gode, mense en alle geestelike wesens. Die gode woon in Asgard en Vanaheim en mense woon in Midgard. Reuse woon in Jotunheim, elwe in Alfheim en dwerge in Svartalfheim. Die oerwêreld van ys is Niflheim, terwyl Muspelheim die wêreld van vuur is. Die laaste wêreld is Hel, die land van die dooies, wat deur die godin Hel regeer word. 2
Die gode en godinne wat deur die Vikings vereer is, is Odin, Thor, Loki, Baldur, Frigg, Freya, Freyr en Njoror. Daar is baie ander gode en godinne in die Noorse panteon, maar hierdie gode speel die primêre rolle in die Noorse mites. 2
Reuse was nie net groot wesens nie, hulle het alles verslind en vernietig, en hulle wou die wêreld in oerchaos dompel. Hulle is die gode en die mensdom se vyand, en daarom jag Thor hulle dikwels. Elwe en dwerge is anders as wat ons hulle kan voorstel. Dwerge is mynwerkers en smede en leef ondergronds. Hulle is onsigbare, kragtige geestelike wesens, nie kort mense nie. Elwe is ook geestelike wesens, halfgode wat saam met gewone mense kinders kan hê. 2
Landgeeste bewoon alles op die land — bome, plante, klippe en watermassas. Die landgeeste (landvaettir in Oudnoors) hou aansienlike mag oor die welstand van die land en diegene wat daarop woon. Mense het landgeeste vereer en gepaai om hulle rustig en tevrede te hou. In die eerste wet van Ysland is Vikings aangesê om die draakkoppe van hul skepe te verwyder wanneer hulle land nader, sodat hulle nie die landgeeste sou ontstel nie. 2
Viking-simbole
Sommige Viking-simbole is vandag nog nie ontsyfer nie, maar ander het duidelike betekenisse. Juweliersware en waardevolle wapens is dikwels gegraveer met die simbole wat die meeste by die Vikings aanklank gevind het: die Valknut, die Helm van Ontsag en Thor se hamer. 2
Die Valknut
Die Valknut is drie ineenlopende driehoeke wat Hrungnir, ’n legendariese reus, se hart of die hart van die gesneuweldes voorstel. Die Valknut dui waarskynlik op die hiernamaals. Die nege punte van die drie driehoeke simboliseer die nege wêrelde van die Vikings. Die Valknut is verteenwoordigend van Odin, die vadergod van die Vikings, en sy lewensmag oor die dood. Die Valknut is dikwels op begrafnissteles en gedenkstene uitgekerf. 2
Die Helm van Ontsag
Die Helm van Ontsag (ook die Helm van Vrees) is in toorkuns gebruik om vergeetagtigheid te veroorsaak. Die towerkrag is gebruik om te verhoed dat mense dinge sien soos dit werklik is, en die simbool is gebruik om iemand vir sy of haar agtervolgers weg te steek. Die Helm van Ontsag is op ’n bokvel gegraveer, wat dan oor die kop van die voortvlugtige gegooi is. 2
Thor se hamer, Mjolnir
Mjolnir beteken “weerlig”, en Thor se hamer dui op die god se mag oor donderweer en weerlig. Mjolnir, ’n towerwapen, het altyd na Thor teruggekom wanneer hy dit gegooi het. Die Vikings het Thor se hamer as ’n amulet gedra, en dit was waarskynlik die gewildste van al die Viking-simbole. Selfs nadat die Christendom in 1000 n.C. in Skandinawië gevestig is, het Vikings Thor se Mjolnir saam met ’n kruis aan ’n ketting of riempie om hul nekke gedra. 2
Woordbank
aanklank gevind | Met iets vereenselwig of daartoe aangetrokke voel. |
amulet | Ornament of juweliersware wat die draer teen gevaar, teenspoed of siekte beskerm. |
barbare | Onbeskaafde mense, wreedaards, monsters, geweldenaars, ongevoelige mense. |
begrafnissteles | Regopstaande plat pilare met inskripsies en beeldhouwerk, veral as grafsteen; suilvormige monument by ’n graf. |
buit | Wat tydens ’n strooptog of oorlog gesteel is. |
Christendom | Die gebied en invloedsfeer van die Christelike geloof. |
ekspedisies | Lang reise wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek. |
gediend met | Aanvaardend. |
gegraveer | Met ’n spesiale proses uitgekrap. |
gepaai | Tevrede gestel en gehou. |
Germaanse | Wat Germaans as moedertaal het; in teenstelling met die Romeine. |
handelsmissies | Met die doel om handel te dryf. |
helms | Hoofbedekkings as beskerming. |
hiernamaals | Die werklikheid ná hierdie een. |
invloedryke | Wat groot invloed/mag het; belangrike. |
ironies | Spotspraak, waar die teenoorgestelde gesê word van wat bedoel word. |
kloosters | Gebou waar monnike of nonne woon. |
koloniseer | Wanneer ’n land onder die oorheersing/besit van ’n ander land gebring word. |
komplekse | Ingewikkelde, gekompliseerde. |
kosmos | Die heelal met al die sterre, planete en hemelliggame. |
krygers | Soldate. |
langskepe | Skepe met ’n spesifieke bou wat deur die Vikings ontwerp is. |
maneuver | Met moeite beweeg, veral oorlogstoerusting. |
mitologie | [reeds gedefinieer] |
monnike | Manlike priesters en inwoners van kloosters. |
nedersettings | Woonplek, kolonie; vestiging. |
op horings geneem | Onrustig en deurmekaar gemaak. |
panteon | ‘n Groep van al die grootste mense of kunswerke. |
patriargaal | Wat deur mans beheer word. |
plunderaars | Rowers. |
reputasie | Dit waarvoor iemand/groep mense bekend is, hetsy goed of sleg. |
riviernavigasie | In ’n rivier opvaar. |
romp | Onderste deel van ’n skip. |
sagte teiken | Teiken (mens/dier/voorwerp/gebou, ens.) wat maklik getref kan word; wat maklik oorwin kan word. |
samehorige | Wat saam hoort. |
setlaars | Mense wat hulle in ’n nuwe land, kolonie of streek vestig; nedersetters. |
Skandinawië | Die gebied noord van Brittanje, Nederland en Duitsland, wat deesdae Denemarke, Noorweë en Swede is. |
smede | Mense wat metaal smee en bewerk. |
strandlandings | Op ’n strand aan wal gaan. |
stroop | Roof, steel. |
strooptogte | Rooftogte waarin daar niks agtergelaat is nie. |
swam | Muf, skimmel. |
taktiese | Strategiese. |
tekorte | Dinge waarvan daar te min is. |
toonaangewende | Wat die standaard stel. |
tref-en-trap-strooptogte | Strooptogte wat vinnig uitgevoer word, waarna die plunderaars padgee. |
vernuf | Kennis en vaardigheid. |
voortvlugtige | Persoon wat vlug (nie “voortvlugtende” nie). |
waaghalsige | Wat maklik waag. |
woestaards | Onbeskaafde mense. |
Verbreed jou kennis met hierdie artikels
Kyk ook hier
Wie was Leif Eriksson?
Ontdek die wêreld van die Vikings
Het jy al hierdie feite oor die Vikings geweet?
’n Omvattende reeks deur ’n onderwyseres oor Vikings
Deel 1:
Deel 2:
Deel 3:
Deel 4:
Deel 5: