Vinnige feite

  • Cromwell het nou wel die koningskap van die hand gewys, maar sy begrafnisbeeld is aangetrek in ampsgewaad, met ’n kroon en staf. 4
  • Daar is onenigheid oor of dit werklik sy liggaam was wat opgegrawe is. Sy kop (of wat mense dink sy kop is), is blykbaar later deur iemand gevind, en is van een eienaar na ’n ander aangegee voor iemand dit in 1960 vir Sydney Sussex College gegee het. Daar is hy ’n waardige begrafnis gegee, en sy kop is op ’n onbekende plek op die kollege se gronde begrawe. 3
  • Ná Cromwell Lord-Protektor geword het, het hy nie sy volle handtekening gebruik nie, maar dokumente geteken as Oliver P (“P” staan vir “Protektor”). 9
  • Cromwell het verskeie sluipmoordaanslagte oorleef. 10

Daar is nie baie mense in die geskiedenis wat ons kan sê is tereggestel ná hulle dood nie, maar Oliver Cromwell (1599-1658) is een so ’n mens!

Cromwell is ’n omstrede figuur in Britse geskiedenis. Mense het verskillende name vir hom: politieke profeet, militêre genie, godsdienstige fanatikus, gevoellose indringer, en selfs diktatoriale koningsmoordenaar. 1

Grootwordjare

Cromwell is op 25 April 1599 in Huntingdon, naby Cambridge, gebore. 2 Sy ouers was Robert Cromwell en Elizabeth Steward, lid van die Engelse landelike adelstand. 3

Cromwell is opgevoed by die Huntingdon Grammar School en daarna by Sidney Sussex College in Cambridge. 3

Sy pa het in 1617 gesterf. Cromwell moes sy studies opsy sit om na sy ma en sewe ongetroude susters om te sien. 2

Oliver Cromwell se geboorte- en dooprekord

Vroeë werkslewe

Cromwell was nou ’n landheer, en het inkomste ontvang uit huurgeld van mense wat op sy beskeie landgoed grond gehuur het. 3 Dit het finansieel maar swaar gegaan, en hy moes in 1631 van sy grond verkoop om skuld af te betaal. 2

In 1636 het hy egter ’n heelwat groter landgoed en ’n groot bedrag geld geërf. Dit het sy status verhoog en sy finansiële probleme opgelos. 1

Politieke loopbaan

Cromwell was vir die eerste 40 jaar of so van sy lewe relatief onbekend. 3 Hy is wel in 1628 tot die parlement verkies, maar dit het net een jaar gehou: Koning Charles I het die parlement in 1629 opgeskort. 2

Cromwell het eers weer teruggekeer na die parlement toe Charles I in 1640 gedwing is om die parlement weer byeen te roep. 2

Godsdiens

Cromwell is in die Anglikaanse Kerk, ’n Protestantse kerk, gedoop. 2

Moontlik as gevolg van sy vrou, wat uit ’n Puriteinse huis gekom het, het Cromwell êrens in die 1630’s ’n bekering ondergaan en ook ’n Puritein geword. 1

Die Puriteine het geglo dat die Kerkhervorming nie voltooi was nie. Volgens hulle moes die Anglikaanse Kerk nog méér Protestants word, deur gesuiwer te word van elke titseltjie Katolisisme. 4

Sy bekering het alle aspekte van sy lewe deurdring. Hy het geglo dat God hom gekies het om vir die regte saak te veg. Sy briewe en toesprake was deurdrenk met gelowige verwysings. 2

Eerste Engelse Burgeroorlog

In 1642 het die eerste Engelse Burgeroorlog uitgebreek, 2 ’n stryd oor geld, geloof en politieke mag. 1

Aan die een kant was Charles I se troepe, die koningsgesindes (in Engels: die Royalists of Cavaliers), wat stoere ondersteuners van die monargie was. Aan die ander kant was die parlementsgesindes wat lojaal was aan die parlement (die sogenaamde Parliamentarians of Roundheads in Engels). 1

Die oorlog was ’n keerpunt in Cromwell se lewe.

Hy was ’n parlementsgesinde. Al het hy geen militêre opleiding voor die oorlog gehad nie, het hy homself gou onderskei. 2 Hy was aanvanklik ’n kaptein in die kavallerie. Hy het sy troepe op meriete gewerf en hulle goed opgelei. Cromwell het streng dissipline onder sy troepe toegepas. Sy ruiters was só goed opgelei dat hulle in ’n veldslag kon aanval, stuit, en hulle linie hervorm, sodat hulle weer kon aanval. Dit was ’n moeilike vaardigheid om te bemeester, en was een van die dinge wat hom ’n meesterlike aanvoerder gemaak het. 5

Cromwell se troepe het uitstaande oorwinnings in 1642 en 1643 behaal, 5 insluitende die Slag van Edgehill in Oktober 1642. 2

Cromwell was ’n voorstander van ’n nuwe, professionele weermag. Dit het in Februarie 1645 werklikheid geword met die stigting van die New Model Army. Cromwell is tot tweede in bevel van dié weermag bevorder. 1

In 1645 het Cromwell die parlementsgesindes na oorwinnings oor die koningsgesindes by die slagte van Naseby en Langport gelei. 3

Die Eerste Engelse Burgeroorlog het geëindig toe Charles I en die koningsgesindes in 1646 oorgegee het. 2

Tweede Engelse Burgeroorlog

Cromwell was een van parlementsgesindes se onderhandelaars in gesprekke oor ’n skikking met die koningsgesindes. 2 Terselfdertyd het hy probeer om vrede te bewaar aan die parlementsgesindes se kant, waar die parlement die weermag wou ontbind. 5 Die parlement en die koning kon egter nie versoen nie, en in Februarie 1648 breek die Tweede Engelse Burgeroorlog uit. 2

Cromwell het sy troepe eers na Wallis en toe Skotland geneem om magte wat die koning ondersteun het, te onderdruk. Al was sy magte kleiner, het hy beide verslaan. 5

Aan die einde van 1648, in ’n gebeurtenis bekend as “Pride’s Purge”, het die weermag parlementslede wat nog aan die koning lojaal was, uit die parlement verwyder. Die nuwe parlement, bekend as die “Rump Parliament”, het nou ’n kleiner en baie antikoninklike lidmaatskap gehad. 2 Cromwell was aanvanklik huiwerig oor die nuwe parlement, maar het dit so aanvaar. 5

Teregstelling van Charles I

Die nuwe parlement het besluit om vir Charles I van hoogverraad aan te kla. Toe die koning geweier het om skuldig óf onskuldig te pleit, het die parlement besluit om hom tereg te stel. Cromwell was die derde mens wat die koning se doodsvonnis geteken het. Charles I is in Januarie 1649 tereggestel. 2

Ná die koning se teregstelling, is Brittanje as republiek verklaar en die Statebond van Engeland (in Engels: Commonwealth of England) genoem. Cromwell is as die eerste voorsitter van die Staatsraad, die nuwe kabinet, aangewys. 3

Die dood van Charles I

Derde Engelse Burgeroorlog

Koningsgesindes in Ierland en Skotland wou egter nie die nuwe republiek aanvaar nie.

Ierland

Cromwell het sy troepe in Ierland ingelei en in September 1649 die hawestede Drogheda en Wexford aangeval. Cromwell se veldtog was ’n bloedige stryd waar duisende mense gesterf het. Sy troepe het op sy bevel gruweldade teen die Iere gepleeg, insluitende om mense wat reeds oorgegee het, dood te maak. 6

Ierland het in 1652 oorgegee. 2 Cromwell het die Katolieke geloof in Ierland verban en om en by driekwart van Ierse land gekonfiskeer en aan Protestantse Engelse gegee. 6

Skotland

In Februarie 1649 het die Skotte Charles I se oudste seun, Charles II, as koning van Skotland gekroon. Die parlementsgesindes het Cromwell en sy weermag Skotland toe gestuur. Hy het die Skotte by die Slag van Dunbar in September 1650 verslaan. 1 ’n Jaar later, toe die Skotte onder Charles II Engeland ingeval, het hy hulle magte by die Slag van Worcester in September 1651 vernietig. 2 Charles II het Frankryk toe gevlug. 7

Slag van Worcester

Cromwell word die Lord-Protektor

Met die oorwinnings oor die Iere en Skotte het Cromwell die Britse Eilande verenig. 1 Die Statebond (ook bekend as die Gemenebes) van Engeland, Skotland and Ierland is gestig. 3

Die parlement is in 1651 weer byeengeroep. Konflik tussen die parlement en die weermag het voortgeduur. Toe bemiddeling misluk het, het Cromwell in April 1653 die weermag ingeroep en die parlement ontbind.

Hierna het hy ’n kleiner parlement aangewys, bekend as die “Raad van Heiliges” (in Engels: Assembly of Saints). Hulle was egter baie radikaal, en in Desember 1653 het ’n staatsgreep deur die weermag tot hul ondergang gelei. Die weermag het die regerende mag aan Cromwell aangebied. Hy het dit onwillig aanvaar, maar uiteindelik besluit dat die bestiering hom gekies het om te regeer.

Op 16 Desember 1653 is Cromwell as Lord-Protektor (in Engels: Lord Protector) van Engeland, Skotland en Ierland aangewys, ’n titel wat in daardie tyd vir die staatshoof gebruik is. Hy sou met die hulp en advies van die Staatsraad en ’n parlement, wat elke drie jaar byeen sou kom, regeer. 5

Cromwell was nou vir alle praktiese doeleindes ’n militêre diktator. 1

Cromwell se administrasie

Cromwell en die parlement kon nie ooreenkom oor hoe om sonder ’n koning te regeer nie. Hy het die parlement daarom in 1655 ontbind. 2

In 1657 is die koningskap vir Cromwell aangebied. Hy het lank daaroor gedink en toe verkies om Lord-Protektor te bly. 2 Daar is wel baie van die uiterlike tekens van die monargie heringestel, insluitende die herstel van die Britse Hoërhuis (in Engels: House of Lords), een van die kamers van die Britse parlement. 5

Standbeeld van Oliver Cromwell buite die Britse Hoërhuis by die paleis van Westminster

Cromwell se hervormings

In lyn met sy doelwit om Engeland meer Puriteins te maak, het hy verwag dat mense die Bybel moes heilig. 8 Hy het, onder meer, die volgende ordonnansies uitgevaardig:

  • Teaters is verbied.
  • Kersfees mag nie gevier word nie. Mense mag nie op Kersdag kerk toe gegaan het of kos gekoop het vir ’n spesiale Kersete nie.
  • Daar was maandeliks dae waar mense gedwing was om te vas om op God te fokus.
  • Mens mag nie op ’n Sondag sport beoefen het, gewerk het of selfs rondgeloop het, as hulle dit kon verhelp nie.
  • Vloek is verbied.
  • Grimering is verban en is soms van vroue se gesigte afgeskrop. 4
  • Klere moes donker en sedig gewees het, en modes moes geïgnoreer word. 8
  • Cromwell het egter ook hoogtepunte gehad en positiewe veranderings geïmplementeer:

  • Om godsdiens te versprei, is die bevolking aangemoedig om kinders skool toe te stuur. Hoërskole het floreer.
  • Hy was ’n uitstaande kanselier van Oxford-universiteit.
  • Mense is gedwing om registerboeke by te hou.
  • Burgerlike troues is toegelaat.
  • Stemreg is vir ’n groter deel van die bevolking gegee.
  • Alle soorte Protestante en Jode het vryheid van godsdiens ontvang.
  • Skotte het dieselfde regte as Engelse ontvang en is dus nie meer as buitelanders beskou nie. 8
  • Op buitelandse gebied het hy in 1654 die Anglo-Nederlandse Oorlog tot ’n bevredigende einde gebring. 5
  • Ten spyte van die onrus en oorlog het Engeland onder Cromwell ’n tydperk van vooruitgang ingegaan. 8
  • Sy belangrikste nalatenskap is dat daar ’n presedent geskep was dat die Engelse heerser nie sonder die parlement se toestemming mag regeer het nie. Dit is ’n belangrike stap in die rigting van demokrasie. 3

Persoonlike lewe en dood

Cromwell het op 21 met Elizabeth Bourchier, die dogter van ’n ryk handelsfamilie, getrou. 2

Hulle het nege kinders gehad, waarvan drie jonk gesterf het. 2 Hy was ’n toegewyde man en pa. 5

In Augustus 1658, kort ná sy gunstelingdogter, Elizabeth, aan kanker gesterf het, het hy malaria opgedoen. 5 Hy is na Londen geneem, waar hy op 3 September aan ’n infeksie en komplikasies van malaria gesterf het. 2

Elizabeth Bourchier

Ná sy dood

Cromwell se seun Richard het ná sy dood die Lord-Protektor geword. 2 Richard het nie so ’n goeie verhouding met die weermag gehad nie, en het kort daarna bedank. 4

Die nuwe regering het die monargie heringestel en Charles II in Mei 1660 as koning gekroon. 2 Die tydperk bekend as die (Engelse) Restourasie (in Engels: English of Stuart Restoration) het nou gevolg, waartydens die koning saam met beide huise van die parlement – die Laerhuis (in Engels: House of Commons) en die Hoërhuis – regeer het. 1

Cromwell is postuum aan koningsmoord skuldig bevind. Sy lyk is in 1661, op die herdenking van Charles I se teregstelling, opgegrawe en onthoof. 4

Sy liggaam is eers opgehang en toe begrawe, en sy kop is op ’n paal buite die Westminster-abdy geplaas. Dit was tot in 1685 daar uitgestal, voor dit in ’n storm afgewaai is. 4

Woordbank

abdy ’n Gebou of kompleks geboue waar monnike of nonne woon; baie abdye sluit kerke in.
adelstand Edeles; hooggeplaastes; van ’n hoë familie afkomstig.
ampsgewaad Dit wat ’n belangrike persoon by bepaalde geleenthede dra, soos die drag wat ’n koning sal dra by sy kroning.
begrafnisbeeld ’n Beeld of model van iemand ná hulle dood.
bekering Dit is as iemand oorgehaal word om tot ’n ander godsdiens oor te gaan.
bemeester As jy iets moeiliks baasraak.
bemiddeling As een party tussen twee ander onderhandel met die doel om hulle te versoen.
beskeie Arm of nederig.
bestiering Wanneer God ingryp.
burgerlike troues Wanneer twee mense voor ’n landdros trou en nie in ’n kerk nie.
deurdrenk Heeltemal deurtrek van iets.
diktatoriale Wanneer een mens onbeperkte mag het.
doodsvonnis Wanneer iemand aankondig dat jy met die dood gestraf gaan word.
floreer Bloeiend groei.
genie Iemand met buitengewone begaafdheid/skeppingskrag.
hoogverraad Misdadige optrede om die regering van die staat waaraan die persoon trou verskuldig is, omver te werp.
kabinet Al die ministers wat saam die regering van die land vorm.
kanselier ’n Bekende persoon wat nie ’n vaste werk by ’n universiteit het nie, maar wat die universiteit op sekere formele geleenthede verteenwoordig.
Katolisisme Wat te doen het met Rooms-Katolieke geloof, een van die takke van Christenskap, waar mense onder meer glo die pous in Rome is God se verteenwoordiger op aarde.
kavallerie Soldate te perd; ruitery.
gekonfiskeer Om beslag te lê op items, om items by iemand af te neem, veral wanneer dit iets is wat die persoon nie mag besit nie.
landelike Plattelands.
landgoed ’n Spoggerige plaas of ander stuk grond buite ’n dorp/stad, gewoonlik met ’n groot, deftige huis en ’n ryk eienaar.
landheer Die eienaar van ’n landgoed of ryk plaas.
lidmaatskap Om lid van ’n groep te wees.
linie Wanneer troepe in ’n lyn opgestel word voor hulle veg of verdedig.
meriete Wanneer jy iets verdien.
militêre diktator As iemand onbeperkte mag het omdat die weermag hulle ondersteun.
modes Klere wat op ’n bepaalde tyd gewild is.
monargie Koningshuis.
omstrede Waaroor wesenlike meningsverskille bestaan.
onderskei Om goed te presteer of uit te blink en sodoende te maak dat mense jou raaksien.
ontbind Om iets tot niet te maak.
opgeskort Om iets uit te stel.
ordonnansies Wet van ’n regerende liggaam laer as die sentrale regering, soos ’n stadsraad.
parlement Die liggaam in ’n land wat wette maak.
postuum Wat ná die dood van iemand plaasvind of verskyn.
presedent ’n Beslissing wat jy nou maak wat later kan gebruik word om dieselfde beslissing te maak.
profeet Voorspeller of siener.
professionele Wat verband hou met ’n beroep, met ander woorde soldaatwees word hierdie mense se werk, en hulle word daarvoor betaal.
Protestantse Dit is die algemene naam van ’n lid van die Protestantse Kerk, wat uit die Hervorming van die 16de eeu ontstaan het.
Puritein Aanhanger van die Puriteinse geloof, ’n streng Protestantse geloof wat hulself beywer het vir ’n vereenvoudiging van, onder meer, die seremonies van die Anglikaanse Kerk.
radikaal Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal.
registerboeke ’n Boek waarin goed soos geboortes en huwelike opgeskryf word, sodat daar rekord van gehou word.
republiek ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
skikking ’n Saak oplos deur van albei kante toe te gee.
sluipmoordaanslag Poging tot moord van ’n bekende persoon wat gewoonlik in die geheim beplan is.
staatsgreep ’n Aanval op ’n land se regering, waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer.
staf ’n Versierde stok/kierie wat ’n belangrike persoon tydens ’n seremonie gebruik as teken van waardigheid/gesag.
status Iemand se posisie tussen ’n groep mense – as iemand status het, is daardie persoon om verskillende redes (rykdom, geleerdheid, ens.) iemand wat bewonder word.
tereggestel Met die dood straf.
vaardigheid Die vermoë om iets goed te doen.
vas Om vir ’n lang ruk niks te eet of drink nie.
versoen Bymekaarbring; vyandskap tot ’n einde bring; die vrede herstel.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Oliver Cromwell

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Oliver Cromwell

Hoekom was daar burgeroorlog in Engeland?

Hoekom het Cromwell Kersfees verban?

Biografie van Cromwell

Gepubliseer op: 21 Februarie 2024 | Bygewerk op 2 April 2024