Vinnige feite

  • Die Austen-kinders is deur hul ma grootgemaak slegs tot op 4 maande oud. Daarna is hulle na vroue in ’n nabygeleë dorpie gestuur. Eers toe hulle kon loop, praat en op hul eie badkamer toe gaan, kon hulle weer na die familie teruggekeer. 5
  • Austen se tweede oudste broer, George, het ’n intellektuele gestremdheid gehad. Hy het nie ná die twee jaar na sy familie teruggekeer nie, maar is vir die res van sy lewe deur ’n ander familie opgepas. 5
  • Die kothuis waar Austen in Chawton gewoon het, is vandag die Jane Austen’s House Museum. 5
  • Austen het tot op 36-jarige ouderdom geen inkomste van haar eie gehad nie, en het op sakgeld van haar ouers gelewe. 5
  • In 1870 het haar neef, James Edward Austen-Leigh, A Memoir of Jane Austen gepubliseer, die eerste volledige biografie van haar lewe. 3
Foto: iStock

Jane Austen het meer as 300 jaar terug ses vollengte boeke geskryf. Net ses! Boonop is net vier in haar leeftyd gepubliseer, en nie eens onder haar eie naam nie! En tog is sy een van die mees geliefde skrywers in die Engelse taal.

Haar boeke verskyn gereeld op lyste van beste Britse boeke ooit. Sy kon meesterlik die romantiese én die realistiese in haar romans uitbeeld. Haar stories se aantrekkingskrag is blywend en mense vind tot vandag tog nog daarby aanklank.

Grootwordjare

Jane Austen is op 16 Desember 1775 in Steventon, Hampshire, in Engeland, gebore. 1 Haar ouers was George Austen, ’n predikant, en Cassandra Leigh. 2 Austen het ses broers en een suster gehad: James, George, Edward, Henry, Francis, Charles en Cassandra. Sy was die tweede jongste. 1 Die gesin het op ’n klein plasie gewoon, waar hulle hul eie kos aangeplant en vee aangehou het. 3

Haar kinderjare was gelukkig, en haar familie was baie geheg aan mekaar. 4 Haar ouers was vrolike, energieke mense en haar ouer broers was goedhartig en vrygewig. 2 Van haar broers was sy die gehegste aan Henry. Hy het haar skryfwerk aangemoedig en later as haar agent opgetree. 4

Haar hegste verhouding was egter met Cassandra. Hulle was van jongs af onafskeidbaar en sou so bly tot Austen se dood. 2

Austen was ’n gesonde, aktiewe kind. Sy was skaam toe sy jonk was, maar het as tiener meer uit haar dop gekruip. 2

Formele opvoeding

Austen se pa het besluit om sy dogters op te voed, al was opvoeding nie in daardie jare vir dogters verpligtend nie. 5 Hy het hulle dus in 1783 na ’n tutor in Oxford gestuur. Die tutor het die twee dogters Southampton toe geneem (sonder om haar ouers in te lig!) Daar het ’n epidemie beide ernstig siek gemaak. Toe hulle ma hiervan uitvind, het sy hulle kom haal. Albei dogters het herstel. 2

Daarna was hulle vir ’n jaar by die huis, waarna hulle by Abbey House School in Reading ingeskryf is. Daar het hulle vakke soos Engels, Frans, geskiedenis en naaldwerk gehad. Ná skool het hulle graag tyd in die nabygeleë biblioteek spandeer. 2

Hulle was egter net vir ’n paar jaar daar. Haar pa het hulle uit die skool gehaal, waarskynlik omdat hy nie meer die skoolgeld kon bekostig nie. 4

Opvoeding by die huis en vroeë belangstellings

Austen en Cassandra is hierna deur hul pa en broers opgevoed. Die lesse het meestal bestaan uit die lees van boeke wat hulle dan bespreek het. 2 Austen was gelukkig mal oor lees. Haar gunstelingskrywer was Alexander Pope. Sy het ook graag Franse en gotiese romans gelees. 5

Die Austens het geleerdheid en kreatiwiteit hoog geag. Die gesin het graag vir mekaar boeke voorgelees en toneelstukke opgevoer. 4 Austen is aangemoedig om haar kreatiwiteit te ontwikkel. 6 Teen die tyd toe sy 12 was, het hulle dramas wat sý geskryf het, opgevoer. Sommige opvoerings is in die skuur gehou en is selfs deur ander familie of bure bygewoon. Austen het ook gedigte en parodieë van boeke wat op daardie stadium bekend was, geskryf. 4 Later het sy vir haar gesin hoofstukke uit haar eie romans voorgelees. 6

Tussendeur het sy met huiswerk gehelp, klavier gespeel, kerk en ander sosiale gebeurtenisse bygewoon. Naweke en aande het hulle kotiljonse gehad. Austen was ’n bedrewe danser en gesogte dansmaat. 6

Jare in Bath en Chawton, 1801-1817

In 1801 het die Austen-gesin na Bath verhuis. Dit was ’n heelwat groter dorp as Steventon, tog was Austen glad nie gelukkig nie. 3 Daar was baie meer aktiwiteite soos balle en konserte en sy het gesukkel om by die besiger sosiale lewe aan te pas. 4

In 1805 het haar pa skielik gesterf. Austen, Cassandra en hul ma het nie genoeg geld gehad om te oorleef nie. Hulle het van huis tot huis getrek en moes op die hulp en barmhartigheid van hul vriende en familie staatmaak. 6

In 1809 het haar broer Edward aangebied dat hulle in ’n kothuis in die dorpie Chawton op sy landgoed in Hampshire kom woon. 4 Die drie vroue was steeds nie baie welaf nie, en moes omtrent alles in die huis self maak, waarskynlik selfs die ink waarmee sy geskryf het! 3

Austen het vir die res van haar lewe in Chawton gewoon, waar sy baie gelukkig was. Sy kon in vrede skryf, tussenin klavier speel en hulle het ook gereeld gaan stap. 3

Die huis waarin Jane Austen in Chawton, Hampshire, gewoon het

Austen se vroeë skryfwerk, 1787-1793

Austen se skryfwerk is natuurlik beïnvloed deur haar kinderjare en die wêreld waarin sy grootgeword het.

Sy het gelewe gedurende die Georgiaanse tydperk Engeland, ’n tydperk tussen 1714 en 1837. Sy het in ’n patriargale samelewing grootgeword, waar mans al die mag gehad het en alle besluite geneem het. Sy was deel van die laer adellike stand en het in ‘n groot huis gewoon, al was haar familie arm. In daardie tyd was daar was baie adellikes wat net-net daardie posisie gehou het en met die middelklas moes trou om hulle posisie te behou. 7

Haar boeke het almal dieselfde basiese tema: die huislike lewe van mense van die landelike stand in Brittanje rondom die einde van die 18de eeu. Haar boeke is uniek omdat dit ’n vroulike perspektief gee op ’n wêreld wat deur mans oorheers is. 8

Toe sy omtrent 20 was, het sy ’n produktiewe fase betreë waarin sy haar eerste drie boeke, soms genoem die “Eerste Trilogie”, begin skryf het. 4 Die stories bevat almal tipiese elemente van stories van daardie tyd: hofmakery tussen mense uit verskillende ekonomiese en sosiale omgewings, vroulike hoofkarakters wat avonture het en uitdagings moet oorkom en stories met ’n gelukkige einde wat in gevaar gestel word deur die verskille tussen die hoofkarakters. 2

Haar eerste poging tot ’n volledige roman was Elinor and Marianne, ’n roman in die vorm van briewe. Die volgende poging, First Impressions, is in 1797 deur ’n uitgewer verwerp. In 1798 het sy aan nóg ’n roman, Susan, begin werk. 4

Skryfwerk in die Chawton jare

Nadat hulle Chawton toe getrek het, het Austen die werklike produktiewe jare van haar skrywerslewe betreë.

Sy het Elinor en Marianne hersien en die titel verander na Sense and Sensibility. Dit is in 1810 vir publikasie aanvaar deur die uitgewer Thomas Egerton. 3

First Impressions is ook hersien en na Pride and Prejudice hernoem. Egerton het dit in 1813 uitgegee. 3

Die volgende jaar is Mansfield Park voltooi en ook deur Egerton gepubliseer. 3

Hierdie drie boeke het vinnig bekend geword. Dit is egter anoniem gepubliseer, en mense het dus nie geweet dit was sy wat dit geskryf het nie. 4

In 1814 het sy Emma voltooi. Dit is deur John Murray, die mees vername uitgewer van sy tyd, gepubliseer. 3

Alhoewel die boeke anoniem gepubliseer is, het al hoe meer mense begin agterkom dat sý die skrywer was. 5

In 1815 het sy aan The Elliots begin skryf, wat later as Persuasion gepubliseer sou word. 3 Rondom dieselfde tyd het sy siek geword, wat haar skryfwerk beïnvloed het. 4

In 1816 het Henry haar boek Susan, wat sy in 1803 aan ’n uitgewer verkoop het wat dit nooit gepubliseer het nie, teruggekoop. Dit het Northanger Abbey geword. 3

Sy het begin met haar laaste roman, The Brothers, maar het net die eerste twaalf hoofstukke voltooi voor sy te siek was om die res klaar te maak. 3

Persuasion en Northanger Abbey is in Desember 1817, ’n paar maande ná haar dood, gepubliseer. Henry was altyd ’n groot aanhanger en ondersteuner van haar werke en het graag vir mense te vertel dat sy die boeke geskryf het. Laasgenoemde twee boeke het daarom ’n nota van Henry voorin gehad wat haar as die skrywer van die ander vier boeke geïdentifiseer het. 5

Persoonlike lewe

In 1795 het sy die aandag van ’n jong edelman, Tom LeFroy, getrek. 4 Sy het hom beskryf as “a very gentlemen-like, goodlooking, pleasant young man,” maar nie andersins aangedui dat sy diep gevoelens vir hom gehad het nie. 9

Haar suster het jare ná haar dood vertel dat sy in 1801 op ’n jong predikant, Samuel Blackall, verlief geraak het. Hy het egter ’n paar maande ná hul ontmoeting gesterf. 4

Sy het in 1802 ’n huweliksaanbod van Harris Bigg-Wither aanvaar, maar die volgende dag die verlowing verbreek. 10

Ten spyte van hierdie verhoudings het Austen nooit getrou of kinders gehad nie. 1 Sy het geglo mens mag slegs vir liefde trou en het eenmaal aan haar niggie gesê: “Anything is preferred or endured rather than marrying without affection”. 5

Laaste maande en dood

Teen April 1817 was Austen só siek dat sy bedlêend was. Die volgende maand het sy na Winchester verhuis om nader aan die hospitaal en die dokter te wees. Sy het egter nie herstel nie. 3

Sy het op 41-jarige ouderdom op Vrydag, 18 Julie 1817 in Winchester, Engeland gesterf. 4 Sy is in die Winchesterkatedraal begrawe. 1

Winchesterkatedraal

Inligting oor Austen se lewe

Baie van die inligting wat ons oor Austen se lewe het, word verkry deur briewe wat sy en Cassandra aan mekaar geskryf het. Die meerderheid van haar briewe is egter deur haar suster vernietig. Sommige daarvan is kort voor Austen se dood oorgeskryf en verander. Die inligting wat ons oor Austen het, is dus min en soms teenstrydig. 4

Sy was sonder twyfel ’n vrou van formaat, met hope humor en intelligensie. Haar familie onthou haar as amper heilig. Daar is egter bewyse dat sy ’n skerper tong gehad het as wat haar familie aan die publiek wou openbaar. 4

Austen se ewigdurende gewildheid

Haar boeke het ná hul verskyning goeie resensies gekry, maar was nie toe al topverkopers nie. Rondom die 1870’s het haar romans egter gewild begin raak, en in die twintigste eeu het haar reputasie die hoogte ingeskiet. 6

Vandag word sy as een van die grootste Engelse skrywers van alle tye beskou, en Sense and Sensibility en Pride and Prejudice is in die panteon van klassieke letterkunde. 6

Waarom is Austen se romans so blywend gewild? In die eerste plek: haar karakters, en veral die vroulike karakters, breek die samelewing se norme sonder om die samelewing af te breek. Ten spyte van die beperkings op hulle is hulle sterk, snaaks, dapper en onbeskaamd. 7 Tweedens is haar stories modern genoeg dat ons onsself in die wêrelde wat sy geskep het, kan sien. 4 Laastens gaan haar boeke op die ou end nie oor wat buite ons as mense aangaan nie, maar wat binne ons aangaan – in ons harte en siele. Haar karakters maak foute, word teleurgestel, word in die verleentheid gestel, raak verlief en hul harte word gebreek – net soos ons. 4

Austen se boeke

Austen het ses vollengte boeke geskryf. Vier van hulle is in haar leeftyd gepubliseer:

  • Sense and Sensibility (1811)
  • Pride and Prejudice (1813)
  • Mansfield Park (1814)
  • Emma (1815)

Ná haar dood is daar nog twee gepubliseer:

  • Persuasion (1817)
  • Northanger Abbey (1817)

Moderne weergawes van Austen se werke

Daar is talle moderne weergawes van Austen se werke in die vorm van fliek- en televisiereekse. Sommige van hulle is deur die boeke geïnspireer, en ander is akkurate vertellings van haar stories.

Sommige van die bekendstes sluit in:

  • Sense and Sensibility, ’n 1995-rolprent, met Emma Thompson en Kate Winslet in die hoofrolle.
  • Pride and Prejudice, ’n 1995 BBC minireeks met Jennifer Ehle en Colin Firth in die hoofrolle.
  • Pride and Prejudice, ’n 2005-rolprent met Keira Knightley.
  • Clueless, ’n 1995-rolprent gebaseer op Emma.
  • Emma, ’n 1996-rolprent met Gwyneth Paltrow in die hoofrol.
  • Emma, ’n 2020-rolprent met Anya Taylor-Joy in die hoofrol. 11

Woordbank

aanklank As jy van iemand/iets hou, hom/haar/dit dadelik aanvaar/verkies.
aantrekkingskrag Bekoring, aanloklikheid.
adellike Wat tot die adelstand behoort; edel/indrukwekkend; van ʼn hoë familie afkomstig.
agent Persoon wat vir ʼn ander optree.
anoniem Iemand wie se naam nie bekend gemaak word nie; naamloos.
balle Groot en deftige danspartye.
barmhartigheid Medelydend, ontfermend, simpatiek, goedhartig, mensliewend, hulpvaardig, behulpsaam, dienswillig, empaties.
bedrewe Goed of vaardig.
biografie Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing.
ekonomiese Wat te doen het met hoe arm of ryk jy is.
epidemie Besmetlike siekte wat vinnig oor ’n groot gebied uitbrei en ná ’n tyd weer verdwyn.
fase Een stadium/tydperk.
geheg Verbonde, verknog.
gepubliseer Om iets soos ’n verhaal in ʼn boek/tydskrif/ens. te laat druk sodat mense dit kan lees.
gesogte Gewild; populêr; baie in aanvraag.
gotiese Boeke wat donker temas het en ’n atmosfeer van vrees en misterie skep.
hofmakery Baie aandag aan iemand bestee en te probeer om hom/haar van jou te laat hou.
hoog geag As iets vir jou baie belangrik is.
intellektuele gestremdheid Dit dui op intellektuele funksionering wat beduidend onder die
gemiddelde is en geassosieerd is met inperking van daaglikse lewensvaardighede.
intelligensie Iemand se verstand, oftewel hul vermoë om dinge te verstaan.
klassieke letterkunde Prosa, poësie of drama wat beskou word as kuns.
kothuis ’n Nederige en eenvoudige huisie.
kotiljonse Lewendige outydse dans, gekenmerk deur gereelde omruiling van dansmaats en ingewikkelde dansfigure wat in ’n bepaalde volgorde uitgevoer word.
kreatiwiteit Om die vermoë te hê om iets te skep.
modern Iets wat hedendaags voel, met ander woorde asof dit uit die huidige tyd uit kom.
norme Standaarde of maatstawwe waarvolgens ’n mens iets toets.
onbeskaamd Om sonder skaamte op te tree.
panteon ’n Groep van al die grootste mense of kunswerke.
parodieë Grappige nabootsings van iets soos ’n gedig of skryfstuk.
patriargale Sosiale struktuur waar mans in beheer is en vroue min of geen regte gehad het nie.
reputasie Dit waarvoor iets/iemand bekend is.
resensies Beoordeling van ʼn boek/kunswerk/opvoering/ens.
romantiese Iets wat gevoelvol is en tot mense se emosies en verbeelding spreek.
skerper tong Om skerp, onvriendelike dinge te sê wat ander mense kan seer maak.
skuur Plek waar goed gebêre/gestoor word, veral op ʼn plaas; pakhuis; bêreplek; stoor.
landelike stand Mense van ’n hoër klas wat op die platteland of op plase woon.
tema Hoofgedagte.
tutor Privaat/private onderwyser, leermeester.
uitgegee Om ’n boek te publiseer.
uitgewer Iemand wat boeke publiseer.
uit haar dop gekruip Nie meer skaam en teruggetrokke nie.
uniek Enig in sy soort; merkwaardig; buitengewoon, eiesoortig; onvergelykbaar.
van formaat Iemand met aansien en prestige.
vername Wat hoë aansien geniet; hoog aangeskrewe; belangrik.
verpligtend Om iemand te dwing om iets te doen.
vrygewig Om liefdadig te wees en graag te gee.

Lees hierdie artikels om jou kennis te verbreed

Kyk hierdie video’s om nog meer oor Jane Austen te wete te kom

Kort video oor wie Jane Austen was

Opsommende vertelling van die storie van Pride and Prejudice

In die Georgiaanse era was daar baie snaakse modes!

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Februarie 2024 | Bygewerk op 2 Februarie 2024