Vinnige feite

  • Die versameling koninklike koetse is kunswerke in eie reg. Die goue staatskoets, wat in 1760 gemaak is, is sedert George IV se heerskappy tydens die kroningsgeleentheid van elke nuwe Britse monarg gebruik. Dit weeg ’n allemintige vier ton! Die diamantjubileum-staatskoets bevat op sy beurt artefakte van geskiedkundige oomblikke in die Britse geskiedenis, soos stukke van ’n musketkoeël (’n outydse soort geweer) van die slag van Waterloo, stukke hout van ontdekkingsreisigers en paneelskilderye deur Cipriani. 5
  • Die Windsor-paleis, wat die amptelike woning van koningin Elizabeth II was, is in 1992 tydens ’n groot brand beskadig. Die brand, wat op 20 November dié jaar in koningin Victoria se privaat kapel uitgebreek het, het 115 vertrekke beskadig, insluitend nege staatskamers. Die herstelwerk het presies vyf jaar geduur en is op 20 November 1997, die 50ste huweliksherdenking van koningin Elizabeth II en prins Philip, hertog van Edinburgh, voltooi. 9
  • Het jy geweet daar is fossiele in die Buckingham-paleis se mure? Olitiese kalksteen, ’n sedimentêre gesteente wat rondom dooie mikroskopiese organismes vorm, is een van die materiale wat vir die bou van die paleis se mure gebruik is. Dit is ook gebruik in die bou van onder meer die Empire State-gebou en die Pentagon in die Verenigde State van Amerika. Daar word gereken dat die fossiele in die steen tot 200 miljoen jaar oud kan wees! 10
  • Die koninklike wag met hul kenmerkende rooi uniforms en groot swart hoede, is byna net so bekend soos die paleis self. As jy so gelukkig is om Engeland te besoek, kan jy op Maandae, Woensdae, Vrydae en Sondae na die wagwisselingseremonie van 45 minute (in Engels: Changing the Guard) by die Buckingham-paleis kyk. Dié opgeleide weermagsoldate staan ook by ander paleise en koninklike wonings wag. Die rooi uniforms is glo jare gelede gekies omdat dit die goedkoopste kleurstof van die tyd was. 11
  • Hoe weet ’n mens koning Charles III is in die paleis en nie dalk by een van die talle ander koninklike wonings nie? Bo die Buckingham-paleis hang altyd ’n groot vlag. As dit die Britse vlag is (ook bekend as die Union Jack), is die koning nie tuis nie, maar as die koninklike vlag (ook genoem die Royal Standard) in sy kenmerkende rooi, geel en blou kleure bo die paleis wapper, is die monarg tuis. Die Royal Standard word ook by ander wonings gehys as die koning dáár tuisgaan of by geboue wat deur die koning besoek word. Dit wapper ook voorop die motor waarin die koning ry. 12
Foto: iStock

As ’n mens aan Engeland dink, kom beelde van die Big Ben, groot rooi dubbelverdiepingbusse en natuurlik die Buckingham-paleis dadelik by ’n mens op. Goue koetse wat deur pragtige perde getrek word, ’n balkon waar konings en koninginne, prinse en prinsesse grasieus vir ’n see van mense waai, blink krone en juwele, en die wisseling van die wagte, is sinoniem met die woon- en werkplek van die Britse monargie.

Wêreldbekende baken

Die Buckingham-paleis is ’n wêreldbekende baken en besienswaardigheid wat so eie aan Engeland is soos tee en komkommertoebroodjies. Dié gebou is nie net die plek waar die Britse koningsgesin woon en werk nie, maar waar staatshoofde van reg oor die wêreld onthaal word en duisende toeriste die argitektuur en besonderse skilderye en beelde van kunstenaars soos Rembrandt, Vermeer en Canaletto (in die Britse somer wanneer die koningsgesin nie tuis is nie!) kan bewonder. 1

Wat as ’n mislukte moerbei- en sywurmboerdery begin het, is oor die eeue deur konings en koninginne verander, vergroot en verfraai. 2 Vandag spog die Buckingham-paleis onder meer met ’n rolprentteater, swembad, polisiekantoor, kliniek, kitsbank en selfs ’n poskantoor op die paleisgronde. Dit is byna soos ’n klein dorpie! 1

Dié paleis, wat selfs sy eie poskode het, bestaan uit 775 kamers, waarvan 52 koninklike en gastekamers is, 188 personeelkamers (verblyf vir sommige van die sowat 800 mense wat in die paleis werk), 19 groot vertrekke of staatskamers vir onthale (in Engels: staterooms) én 78 badkamers. ’n Besoek aan dié paleis is soos om deur ’n sprokiesboek te wandel – ’n mens kan nie help om jou oopmond aan die enorme kristalkandelare, reuseskilderye en goue detailafwerking te vergaap nie! 1

Geskiedenis en aanbouings

Die Buckingham-paleis is geleë in die Westminster-munisipaliteit, wat deel is van die sentrale deel van Londen, die Britse hoofstad. Het jy geweet dit was nie altyd ’n paleis nie? 3

Die oorspronklike huis is in 1703 deur die digter en politikus John Sheffield, die eerste hertog van Buckingham (vandaar die paleis se naam), laat bou. Die koste van die bouwerk het glo sowat £7 000 beloop. 2 Dit is bykans £1,4 miljoen (of meer as R34 miljoen) in vandag se geldwaarde. Dit was ’n huis waarin die Sheffield-gesin gebly het wanneer hulle Londen besoek het en is ná die Sheffields deur al die hertogte van Buckingham bewoon.

In 1761 het koning George III (wat van 1760 tot 1820 regeer het) die huis gekoop. Sy vrou, koningin Charlotte, het veral baie tyd hier deurgebring. Die huis het later as die “Queen’s House” bekend gestaan en veertien van Charlotte se vyftien kinders is in dié huis gebore.

Herbouings en veranderings aan die oorspronklike huis het reeds in 1762 begin. Ná sy kroning in 1820 het koning George IV verdere veranderings aangebring, maar in 1826 besluit hy om dié beskeie woning in ’n bewonderenswaardige paleis te omskep. Die argitek John Nash is vir hierdie groot taak aangestel. Die parlement het ingestem tot ’n begroting van £150 000, maar die koning het aangedring op £450 000. In vandag se geldwaarde is dit onderskeidelik sowat £12 miljoen en £36 miljoen, oftewel nagenoeg R300 miljoen en R860 miljoen!

Dit het dus baie geld gekos om die veranderings en aanbouings te doen, soos byvoorbeeld die oprigting van die buitenste fasade in die Franse neoklassieke styl waaroor George IV mal was. Van die meubels is ná die Franse Revolusie uit Frankryk ingevoer. Die publiek (die Britte) was glad nie gelukkig met die spandabelrige (buitensporige of uitspattige) besteding aan die paleis nie en in 1829 is Nash in die pad gesteek (afgedank).

Met George IV se dood in 1830, stel sy jonger broer, William IV, die argitek Edward Blore aan om die veranderings aan die paleis te voltooi. Toe die Britse parlementsgebou in 1834 afgebrand het, het William IV dit selfs oorweeg om die paleis in ’n nuwe parlementsgebou te verander! Hy sterf egter voordat al die veranderings aangebring is. 3

Huis tot paleis

Die eerste monarg (koninklike) wat haar permanent hier tuisgemaak het, was koningin Victoria in 1837. Ná haar troue met prins Albert in 1840, het prins Albert hom daarop toegespits om die kamers, kantore en personeel in die paleis te organiseer en ontwerpfoute te probeer regstel.

Ondanks al die geskuiwery en getimmery, het Victoria en Albert gevoel die paleis is veels te klein vir hul groeiende gesin. Teen 1847 is die oostelike vleuel gebou (vandag die “gesig” of vooraansig van die paleis) met die bekende balkon waar die koninklike familie reeds vir generasies tydens groot geleenthede soos troues vir lede van die publiek waai.

Ná die dood van prins Albert in 1861, het ’n hartseer koningin Victoria, wat altyd in swart geklee was, haar van die openbare lewe onttrek. Sy het verkies om eerder in die Windsor-kasteel, Balmoral-kasteel en Osborne-huis te bly. Vir jare is die Buckingham-paleis baie min gebruik en verwaarloos. Al het die publiek daarop aangedring dat die koningin meer tyd in Londen deurbring, het sy verkies om elders te woon en funksies is eerder in die Windsor- as die Buckingham-paleis gehou. 3

Koningin Victoria in rou oor haar man, Prins Albert.

Moderne geskiedenis

Koning Edward VII het ná sy troonbestyging in 1901 gesê basta met al die stof en spinnerakke en nuwe lewe in die paleis geblaas. Hy en sy vrou, koningin Alexandra, was baie modebewus en het daarvan gehou om met vername mense (in Engels: high society) skouers te skuur. Die sjampanje het gevloei en die paleis was weer ’n miernes van bedrywighede en spesiale geleenthede.

Edward VII en Alexandra het groot dele van die paleis verander in die room- en goudkleurige Belle Époque-styl soos dit vandag lyk. Dit het baie mense warm onder die kraag gemaak (kwaad gemaak) omdat hulle gevoel het dit pas nie by Nash se oorspronklike ontwerp nie.

Koning George V, die troonopvolger in 1910, was baie ernstiger as sy pa en het die fokus van partytjies na amptelike geleenthede en koninklike pligte verskuif. Onder sy wakende oog is die koningin Victoria-standbeeld (ook bekend as die Victoria Memorial) in 1911 deur die beeldhouer sir Thomas Brock ontwerp en naby die hoofhekke van die Buckingham-paleis opgerig.

Die laaste groot bouwerk was in 1913 toe sir Aston Webb die oostelike gedeelte van die paleis herontwerp het om as ’n gepaste agtergrond vir die koningin Victoria-standbeeld te dien. Tussen 1911 en 1913 is die oorspronklike konservatorium wat deur Nash ontwerp is, in tennisbane verander, en in 1938 het die tennisbane vir ’n swembad plek gemaak.

Koning George V se vrou, koningin Mary, was ’n groot kunskenner en -liefhebber, en het baie van die meubels en kunswerke gerestoureer en nuwes tot die koninklike versameling gevoeg. Al het die koningsgesin tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) in die paleis aangebly, is baie van die kosbaarhede in dié tyd na die Windsor-kasteel verskuif. Gelukkig is die Buckingham-paleis glad nie in dié oorlog beskadig nie.

Die paleis word aangeval

Tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) was daar egter nie minder nie as sewe aanvalle op die paleis! In September 1940 het die bombardering van die paleis ’n hoogtepunt bereik. Op 8 September is ’n bom van 50 kilogram op die paleisgronde gewerp, maar dit het nie ontplof nie. Op 13 September 1940, terwyl koning George VI en koningin Elizabeth I nog so lekker gesit en tee drink het, het hulle skielik ’n groot lawaai gehoor. ’n Duitse bomwerper (’n vliegtuig wat bomme laat val) het vyf bomme naby die paleis laat ontplof. Die koninklike kapel (’n klein kerk), die binnehof, paleishekke en die koningin Victoria-standbeeld is beskadig. Vier personeellede is beseer, waarvan een persoon later dood is.

Hoewel die koninklike egpaar aangeraai is om die land te verlaat, het hulle geweier. Twee dae later, op 15 September 1940, het die Britse vlieënier Ray Holmes gesien hoe ’n Duitse vliegtuig probeer om die paleis te bombardeer. Holmes het nie meer ammunisie (wapens) gehad nie en besluit om in die vyandige vliegtuig vas te vlieg. Die vliegtuie het neergestort, maar albei vlieëniers het oorleef. Holmes is ná die oorlog as ’n koninklike boodskapper aangestel.

Op 8 Mei 1945, bekend as oorwinningsdag, het koning George VI, koningin Elizabeth I, prinses Elizabeth (sy het ná haar pa se dood die troonopvolger koningin Elizabeth II geword en is koning Charles III se ma) en haar sussie, prinses Margaret, op die paleis se balkon gestaan om saam met die skare (’n groot klomp mense) die einde van die oorlog te vier. 3

Koningin Elizabeth II.

Die binnekant van die paleis

Vandag is die paleis 108 m x 120 m groot en 24 m hoog. Die totale vloeroppervlakte is meer as 77 000 m2. Die belangrikste vertrekke (kamers) is agter die westelike fasade aan die agterkant van die paleis. Die middelpunt is die musiekkamer. Aan weerskante van die musiekkamer is die blou en wit sitkamers. ’n Galery van 50 m verbind die verskillende staatskamers. Die galery spog met kunswerke van bekende kunstenaars soos Rembrandt, Da Vinci, Van Dyck, Rubens en Vermeer.

Die troonkamer in die Buckingham-paleis.

Uit die galery stap ’n mens die troonkamer en groen sitkamer binne. Die groen sitkamer is deel van die seremoniële roete na die troon vanaf die wagkamer aan die bopunt van die groot trap. In die wagkamer is talle tapisserieë en marmerstandbeelde van onder andere koningin Victoria en prins Albert in Romeinse klere. Hierdie formele vertrekke word net vir spesiale geleenthede en amptelike onthale gebruik, maar in die somer word dit vir die publiek oopgestel.

Onder die staatskamers is ’n paar minder deftige vertrekke wat op die marmersaal uitloop. Dié vertrekke word vir minder formele funksies soos etes en privaat ontmoetings gebruik. Sommige van hierdie vertrekke is vernoem na en spesiaal versier vir spesifieke persone. Voorbeelde hiervan is die “1844 Room” wat vir ’n staatsbesoek van keiser Nikolaas I van Rusland ingerig is, of die “1855 Room” ter ere van die besoek wat keiser Napoleon III van Frankryk aan die paleis gebring het. In die middel van hierdie vertrekke is ’n vertrek waardeur duisende besoekers jaarliks loop om die talle tuinpartytjies wat by die paleis gehou word, by te woon.

Wanneer buitelandse staatshoofde Brittanje besoek, word hulle gewoonlik in die Buckingham-paleis onthaal. Hulle bly in ’n groep kamers bekend as die Belgiese suite op die grondverdieping van die noordvleuel. Die suite is na prins Albert se oom, koning Leopold I van België, vernoem. 3

Paleistuine

Die paleistuine was oor die afgelope 200 jaar nog altyd ’n belangrike deel van die Britse koninklike kalender, met die talle funksies wat oor die jare in hierdie lushof gehou is. Tot 24 000 mense word elke somer hier verwelkom.

Soos die geboue, het die Buckingham-paleis se tuine ook baie veranderings oor die eeue ondergaan. In 1608 het koning James I ’n plantasie moerbeibome op die terrein aangelê met die hoop om die sybedryf (klere en materiaal wat van sy gemaak word) in Brittanje te vestig. Dit was ongelukkig die verkeerde soort bome en sy droom is nooit bewaarheid nie. 2

Gedurende George III en Charlotte se verblyf, het die tuin ’n versameling eksotiese (vreemde) diere soos onder meer ’n olifant en die eerste sebras in Engeland gehuisves. 3

Skoffelwerk aan die tuin soos dit vandag lyk, het in 1825 begin toe George IV die Buckingham-huis in ’n paleis wou omskep. Dié koning het William Townsend Aiton, ’n plantkundige en hoof van die koninklike botaniese tuine, aangestel om die tuin uit te lê. Aiton se grootste bydrae tot die tuin was die skep van ’n meer en ’n kunsmatige heuwel om die paleis van die Royal Mews (die koninklike stalle) te verskans (weg te steek). 4

Koning George VI en koningin Elizabeth II het baie van die struike wat in koningin Victoria se tyd geplant is, met bome met pragtige blomme en geurige struike vervang. Die tuin word jaarliks uitgebrei met plante en bome wat deur lede van die koninklike familie geplant word. Orals is daar naambordjies met inligting oor die spesiale geleentheid waartydens dit geplant is. 4

Die Buckingham-paleis se tuine is vandag die grootste privaat tuin in Londen en huisves 325 wilde plantspesies, 30 verskillende voëlsoorte en meer as 1 000 bome, wat 98 plataanbome en 85 verskillende eikspesies insluit. Besoekers kan ook die roostuin, die somerhuis en die koninklike tennisbaan besoek. 4

Koninklike stalle

Die koninklike stalle, of die Royal Mews soos dit amptelik bekend staan, was nie altyd deel van die Buckingham-paleis nie. In die Middeleeue was dit die gebruik dat koninklike ruiters kleinwild soos fisante, eende, konyne en hase gejag het deur van geoefende roofvoëls soos valke en arende gebruik te maak. Die soort voël wat deur die ruiters gebruik is, is deur die status van ’n persoon bepaal. Hertogte, ridders, priesters en dames het met valke gejag. Net die keiser of koning is toegelaat om ’n arend te gebruik. 5

Hierdie roofvoëls is in hokke aangehou wat dikwels in die stalle was, sodat die perde en die voëls sommer tegelykertyd versorg kon word. In die laat veertiende eeu is die koninklike perde, valke en arende in stalle gehou op ’n oop stuk grond waar Trafalgar-plein vandag is. 5

Die huidige geboue dateer uit 1825 en huisves benewens personeelkwartiere (wonings van die personeel) en perde ook ’n versameling luukse motors en koetse wat tydens amptelike optogte gebruik word. Die koetse sluit onder meer die goue staatskoets (1762), die Ierse staatskoets (1852), die glasstaatskoets (1910) en die diamantjubileum-staatskoets (2014) in. 6

Wyle koningin Elizabeth II het ’n diepgaande kennis van perde en ruiterkuns gehad en het tot in haar negentigs voortgegaan om perd te ry. Gedurende haar bewind van meer as sewentig jaar het sy gesorg dat die tradisionele vakmanskap, soos koetsrestourasie, heraldiese kuns en tuigbewaring, by die Mews in stand gehou word en die vaardighede van meestervakmanne na vakleerlinge oorgedra word. Prinses Anne, haar dogter en koning Charles III se suster, is net so ’n vaardige ruiter. Sy het in haar jong dae verskeie ruitersportkampioenskappe gewen en het selfs in 1976 aan die Olimpiese Spele deelgeneem. 5

Die Royal Mews is nie bloot ’n museum nie, maar ’n aktiewe deel van die daaglikse bestuur van die koninklike huishouding asook internasionale diplomatieke geleenthede. Tot tien waens verlaat die Mews per dag. Nuut aangestelde ambassadeurs uit die buiteland word per koets vervoer om hul geloofsbriewe aan die monarg te oorhandig. Die Messenger Brougham, ’n perdekar, verlaat die Mews twee keer per dag om interne pos af te lewer. 5

Booswigte slaan toe

Bekende geboue is dikwels gewilde teikens vir booswigte. ’n Man is in Mei 2023 gearresteer (kort voor koning Charles III se kroningsplegtigheid), nadat hy ’n sak vol haelgeweerpatrone oor die paleisheining gegooi het. Charles en sy vrou, koningin Camilla, was nie in die paleis toe die voorval plaasgevind het nie. 7

Koning Charles III en sy vrou, koningin Camilla.

Edward Jones is ’n seun wat dit reggekry het om die Buckingham-paleis ten minste drie keer binne te kom. Hy het glo kos uit die kombuis en onderklere van koningin Victoria gesteel! Hy het selfs in die media gespog dat hy op die troon gesit het. Hy is later na Brasilië verban en mag nie na Engeland teruggekeer het nie. 1

Die ander persoon wat met koningin Elizabeth II in haar slaapkamer ’n geselsie aangeknoop het, is Michael Fagan, wat in 1982 twee keer daarin geslaag het om die paleis se sekuriteitswagte te fnuik. Tydens sy eerste besoek aan die paleis het hy deur ’n oop venster in personeellid Sarah Carter se kamer geklim. Sy was besig om te lees, maar toe sy uiteindelik die wagte in die hande gekry het, het hulle gedink sy het haar net verbeel.

Dit het Fagan waarskynlik die moed gegee om op 9 Julie 1982 weer by die paleis “in te breek”. Hierdie keer het hy oor die paleis se heining geklim en met ’n dreinpyp tot bo-op die dak geklouter. Nadat hy sy skoene en sokkies uitgetrek het, wat twee jaar later deur paleispersoneel aan hom teruggegee is, het hy deur ’n oop venster geklim. Van daar af het hy deur die paleis gewandel en selfs twee keer die alarm laat afgaan toe hy koning George V se seëlversameling bewonder het. Die wagte het die alarms egter afgeskakel omdat hulle gedink het dit het foutiewelik afgegaan.

In die proses om na ’n uitgang te soek, het hy per ongeluk in koningin Elizabeth II se kamer beland. Sy was in haar nagklere en het ná ’n paar minute uit die kamer gehardloop. Fagan is in September 1982 van diefstal aangekla omdat hy ’n bottel wyn uit (toe nog prins) Charles se wynversameling gesteel het. Hy is later op ’n onverwante klag van motordiefstal skuldig bevind, maar is in 1983 vrygelaat. 8

Woordbank

ambassadeurs Hoogste diplomatieke verteenwoordigers wat in ’n vreemde land vir sy/haar regering optree.
ammunisie Skietvoorraad; skietgoed, soos die koeëls wat in ’n vuurwapen gebruik word.
amptelike Wat betrekking het op ’n amp; ooreenkomstig die aard en eise van ’n amp soos deur ampsreëls voorgeskryf.
argitektuur Kuns of wetenskap van die bou, insluitende die ontwerp, optrek en versiering van geboue, soos huise, kerke, brûe, ens.; boukunde.
artefakte Voorwerpe wat deur mense in ’n prehistoriese tyd gemaak is; voorwerpe wat argeologiese of historiese waarde het.
bankette Feesmaal: ’n Banket aanbied/hou.
baken Bekende landmerk/teken.
bal Groot, deftige danspartytjie.
balkon Soort platform/uitbousel met ’n muurtjie of tralies daarom aan die buitekant van ’n boverdieping van ’n gebou.
basta ʼn Uitroep wat beteken “genoeg!”, “klaar!”, “hou op!”
Belle Époque Belle Époque of La Belle Époque, beteken die “Mooi Tydperk”, en was ‘n periode in die Franse en Belgiese geskiedenis wat in 1871 begin en met die Eerste Wêreldoorlog in 1914 geëindig het.
besienswaardigheid Plek wat die moeite werd is, besonders is om te besoek.
bewonderenswaardige Iets moois, goed, knap wat werd is om bewonder te word.
bombardering Bomme gooi, bestook.
booswigte Skurke, misdadigers.
diamantjubileum Feestelike herdenking van ’n gebeurtenis, soos ’n huweliksherdenking of tydperk van heerskappy. 25 jaar word ’n silwerjubileum genoem, 50 jaar ’n goue jubileum, 60 jaar ’n diamantjubileum, en 70 jaar ’n platinumjubileum.
eksotiese Uitheems, uit ander streke afkomstig.
fasade Voorgewel, gewel met die hoofingang; voorkant, vooraansig.
fnuik In die wiele ry, kortwiek, verhinder, keer.
funksies Openbare of sosiale seremonies, byeenkomste; feestelikheid, onthaal;  taamlik formele geleenthede.
galery Verhoog met balustrade, ondersteun deur pilare of draagklampe, langs ’n muur of mure van ’n gebou, om die sitplekruimte daarvan te vergroot of vir ’n besondere doel, bv. in ’n saal, skouburg, kerk, ens.; uitstalruimte vir kunswerke.
geloofsbriewe Dokument wat aan ’n regeringsamptenaar uitgereik word en bewys dat hy/sy bevoeg is en wettig aangewys is om sy/haar regering by ’n vreemde moondheid te verteenwoordig.
generasies Nakomelinge of afstammelinge.
gerestoureer Die opknap, herstel of herbou van die hele of ’n belangrike deel van ’n gebou of kunswerk om dit sover moontlik terug te bring na die oorspronklike vorm.
heraldiese Wat verwys na die ontwerp, vertoon en studie van vroeë wapenuitrusting.
hertog Edelman van die hoogste erflike rang net onder dié van prins.
in die pad gesteek Weggejaag.
konservatorium Inrigting vir die teoretiese en praktiese opleiding van musici, gewoonlik op ’n middelbare en gevorderde vlak; musiekakademie, -skool; ook die gebou wat só ’n inrigting huisves.
kunsmatige Nie natuurlik nie, nagemaak.
lushof Heerlike of bekoorlike tuin; paradys.
meer Groot binnelandse watermassa.
monargie Staat of regeringsvorm met ’n monarg (soos ’n koning of koningin) aan die hoof.
Middeleeue Tydperk van ongeveer eenduisend jaar in die Europese geskiedenis, dikwels gereken as die tydperk tussen die val van die Romeinse Ryk in 476 en die hoogtepunt van die Renaissance. Dikwels ook verleng tot die ontdekking van die Nuwe Wêreld in 1492.
neoklassieke ’n Nuwe styl wat op ’n herlewing van die klassieke styl berus.
onthaal Groot, formele partytjie om iemand te verwelkom of om iets te vier.
paleis Gebou, gewoonlik baie groot en indrukwekkend, wat as amptelike woning vir ’n koning of ander vorstelike dien.
parlementsgebou Gebou waarin ’n parlement of die regeringsamptenare byeenkom.
plantasie Stuk grond waarop bome of ander plante aangeplant is.
promenade Wandelweg, veral een langs die see.
publiek Gemeenskap, of mense van ‘n bepaalde area, gebied, plek, dorp, streek of land.
ruiters Mense wat op ’n perd of ander dier ry.
seremonieel Wat gepaard gaan met of deel vorm van ’n seremonie.
skouers te skuur Kontak maak/verkeer met iemand.
spandabelrige Wat links en regs geld uitgee, oordadig met geld, verkwistend.
tapisserieë Handgemaakte muurtapyte/behangsels waarin patrone geweef is; tapytwerk.
troon Setel van ’n vors of vorstin.
vakmanskap Iemand wat hom toespits op ’n spesifieke vak of gebied; deskundige.
verfraai Versier of mooier maak.
verwaarloos Nie genoeg aandag gee of versorg nie, afskeep.
vleuel Sygedeelte van ’n leër, vloot, gebou of neus.

Lees dié om meer te leer

Kyk hierdie om meer te wete te kom

Die paleis nadat vyf bomme hier tydens die Tweede Wêreldoorlog geval het

Wat presies doen die koninklike wag?

Dít is hoe Ray Holmes gekeer het dat ’n Duitse vegvliegtuig die Buckingham-paleis bombardeer

’n Gedeelte van die promenade-roete (The Mall) wat koning Charles III en koningin Camilla tydens sy inhuldiging in die diamantjubileum-staatskoets onderneem het

Die oorverdowende geluid van die koninklike lugmag se verbyvlug tydens sy oumagrootjie (koningin Elizabeth II) se diamantjubileum-feesvieringe, was te hard vir prins Louis. Louis is prins William, die Britse troonopvolger, se seun

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Maart 2024 | Bygewerk op 14 Maart 2024