Vinnige feite

  • Die Afrikaanse naam vir die dier hou verband met die dier se voorliefde vir water. Die woord buffel kry ons uit Nederlands (buffel) wat dit via Oud-Frans (buffel) uit Latyn (bubalus) gekry het. Die Latynse woord het letterlik beteken “wilde os”. 13
  • Die genusnaam (Bubalus) kom dus net so uit Latyn. 13
  • Hulle het groot, plat hoewe waarmee hulle in die modder kan vastrap en keer dat hulle te diep daarin wegsink. 14
  • Waterbuffels is al meer as 5 000 jaar gelede makgemaak. 14
  • Hulle kom op elke kontinent buiten Antarktika voor. 15
  • In Brasilië word waterbuffels deur die weermag gebruik. Omdat waterbuffels so goed in moerasse en watergebiede kan beweeg, ry weermagoffisiere op waterbuffels eerder as perde, en word waterbuffels ook op patrollies gebruik. Hierdie waterbuffels in die weermag se bynaam is “buffelsoldate” (in Engels: buffalo soldiers). 15
  • Waterbuffels het ’n besonderse status in Thailand. ’n Albino-waterbuffel word beskou as ’n gelukbringer, en in 2022 is só ’n albino vir meer as R1 miljoen verkoop. 16
Foto: iStock

Die waterbuffel is ‘n beesagtige dier wat ’n mens dikwels op toeristefoto’s van bestemmings in Asië sien. As jy navorsing oor die buffel, bison en waterbuffel doen, sal jy sien dat mense dikwels al drie hierdie diere as buffels klassifiseer.

Die naam vir die waterbuffel (in Engels: water buffalo) laat dit ook klink asof dit sommer maar net nog ’n soort buffel is. Dit is egter nie korrek nie.

Wetenskaplikes onderskei op grond van DNS en ander eienskappe tussen diere, en daarom onderskei ons tussen buffels, bison en waterbuffels. As jy na die wetenskaplike klassifikasie hier onder kyk, sal jy sien dat die drie diere familie is, maar nie aan dieselfde genus behoort nie.

Familie Genus Spesie
Afrika-buffel Bovidae Syncerus caffer 1
waterbuffel Bovidae Bubalus bubalis 2
bison Bovidae Bison bison 3

Lees gerus ook ons artikels oor die buffel en die bison om meer oor die ander diere in hierdie familie te leer.

Beskrywing

Gewone naam waterbuffel
Wetenskaplike naam Bubalus
Familie Bovidae
Klas soogdier
Dieet herbivoor
Grootte (sonder die stert) 2-3 m lank
Gewig 700-1 200 kg 2

Die oumense wat vir hierdie diere hul name gegee het, was darem nou ook nie heeltemal dom nie. Bison, waterbuffels, buffels en beeste verskil wel, maar hulle deel ook ’n hele paar eienskappe: Hulle is tropdiere, hulle is herkouers en hulle het almal hoewe. Jy sal dalk ook in Engelse navorsingsbronne die woord ungulate teëkom, dit is die Engelse woord vir ’n gehoefde dier. 3

Waterbuffels verskil in verskeie opsigte van die ander Bovidae:

  • Waterbuffels is donkergrys of swart met ligter “sokkies” – dit is die hare rondom hul pote. Buffels en bison is donkerbruin.
  • Waterbuffels se horings is lank en krul boontoe en agtertoe in die vorm van ’n sekelmaan. Buffels se horings vorm die kenmerkende skild op hul koppe, en bison se horings is kort en krom.
  • ’n Mens tref buffels en bison hoofsaaklik op grasvlaktes aan. Waterbuffels hou, soos wat hul naam aandui, van riviere, moerasse en ander waterryke dele.

Soorte waterbuffels

Soos by buffels en bison, is daar verskillende subspesies waterbuffel. Die tabel hier onder sit die klassifikasie uiteen: 5

B. bubalis Gewone naam: waterbuffel. Groot, grys dier met klein ore en baie groot horings. Oorspronklik van Indië en Nepal, maar intussen makgemaak om dwarsoor die Ooste as trek- en plaasdier gebruik te word. 6
B. arnee Gewone naam: wilde waterbuffel. Groot dier met ’n sterk borskas. Horings groei weg van die skedel en krul agtertoe. Waarskynlik die subspesie waarvan die mak waterbuffel afgestam het. Kom nog in klein groepies voor in Indië, Nepal, Bhoetan en Mianmar. Status: bedreig. 7
B. depressicornis Gewone naam: anoa. Klein dier met ’n yl, swart pels en horings wat driehoekig is as ’n mens dit deursny. Kom net op die Indonesiese eiland Celebes voor. Status: bedreig. 8
B. mephistopheles Gewone naam: korthoring-waterbuffel. Reeds rondom 1200 v.C. uitgesterf. 9
B. mindorensis Gewone naam: tamaroe. Klein, stewige dier met kort, grys pels. Dik horings wat reguit agtertoe wys. Is driehoekig by die basis en ronder soos wat dit weg van die dier se kop staan. Kom net voor op die Filippynse eiland Mindoro. Status: kritiek bedreig. 10
B. quarlesi Gewone naam: berganoa. Klein, stewige dier met ’n donker, wollerige pels. Kom net voor in die reënwoude van die Indonesiese eilande Sulawesi en Boetoeng. Status: bedreig. 11

Verspreiding en habitat

Waar die bison hoofsaaklik in die Verenigde State van Amerika en Europa voorkom, en die Afrika-buffel inheems aan Afrika is, is die waterbuffel ’n dier wat oorspronklik uit Asië kom. Soos wat jy in die tabel hier bo kan sien, kom die meeste spesies voor in afgeleë dele van Asië, soos eilande en bergagtige streke waar mense hulle nie in die hande kan kry nie. Die klein groepies van hierdie diere wat nog oor is, word deesdae in bewaringsgebiede beskerm.

Die mak waterbuffel (B. bubalis), aan die ander kant, is uitgevoer na Europa, Afrika, die Amerikas, Australië, Japan en Hawaii, en daar is nou al meer as 160 miljoen van hierdie diere reg oor die wêreld. Die bynaam vir hierdie soort waterbuffel is die “trekker van die Ooste”, want die diere word gebruik om omtrent al die harde werk op plase te doen. Reeds in 2500 v.C. is hierdie diere in Indië vir boerdery aangewend. Hulle is toe reeds hoofsaaklik vir hul melk en as trekdiere gebruik. 2

Een van die waterbuffel se onderskeidende kenmerke is dat hy van waterryke omgewings hou. Dit is trouens waar sy naam vandaan kom. Die wilde subspesies leef in moerasse, waar hulle dikwels tot by hul neusgate in die water staan, of in oerwoude waar dit permanent mistig en reënerig is. 2

Gewoontes

Waterbuffels is tropdiere. Dit beteken hulle leef en wei in groepe. Die trop het gewoonlik omtrent 10 tot 20 diere. Die trop bestaan gewoonlik uit koeie en hul kalwers, en die ouer koeie in die groep is gewoonlik die leiers. Elke trop het ’n gebied waarin hulle wei, en solank as wat die gebied vir hulle genoeg kos en veiligheid gee, bly hulle daar. Wanneer die bulle drie word, beweeg hulle uit die trop om saam met ander bulle ’n trop te vorm. Die ouer bulle is meestal alleenlopers. 5

Waterbuffels beweeg in die dag en nag rond. Hul velle is gevoelig vir die son omdat hulle minder sweetkliere as ander beesagtige diere het. Dis een van die redes waarom die diere van water hou. 6 Waterbuffels hou ook daarvan, nes hulle Afrika-neefs en -niggies, om in die modder te rol om koel te bly en insekte van hul velle af te hou. 2

Die waterbuffelkoei kry kleintjies van omtrent 18 maande af. Die bulle is eers volwasse van 3 jaar af. Koeie is vir tussen 300 en 340 dae dragtig, en het gemiddeld een kalfie elke twee jaar. 6

Bewaringstatus

Die mak waterbuffel is uiteraard nie bedreig nie, omdat mense die diere op plase aanhou en met hulle teel. Die ander subspesies is egter nie so gelukkig nie.

Daar is ’n organisasie wat spesies oor die wêreld heen monitor om te bepaal of die spesie se voortbestaan bedreig word. Dié organisasie se naam is die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (in Engels: International Union for the Conservation of Nature). Hierdie unie het ’n lys waarop hulle aandui hoe naby of ver die bepaalde spesie van uitsterf is, en volgens hierdie organisasie is die subspesies waterbuffels bedreig of kritiek bedreig (kyk in die tabel vir elkeen se status). 12 Hoewel die diere in bewaringsgebiede beskerm word, word hulle bedreig deur veesiektes, oorloë, wildstropery en die mens wat hul habitat in beslag neem. 5

Woordbank

afgeleë Eienskap van ’n gebied dat dit ver van ontwikkeling geleë is.
aggressief Die eienskap dat die ding maklik baklei.
albino ’n Dier wat sonder kleurpigment gebore word.
alleenlopers ’n Dier wat alleen woon en nie deel is van ’n trop nie.
DNS Die afkorting vir deoksiribonukleïensuur, die stof in elke lewende organisme waarin die unieke eienskappe van die spesie opgeneem is.
dragtig Die eienskap van ’n vroulike dier dat sy gaan kleintjies hê.
gehoefde dier ’n Wetenskaplike beskrywing van ’n groep diere wat almal hoewe het. Dit sluit onder andere in beeste, skape, bokke, buffels, bison, perde, donkies en sebras. Die Engelse naam vir hierdie diere is ungulates.
gelukbringer ’n Ding wat veronderstel is om goeie geluk te bring.
genus ’n Wetenskaplike klassifikasie laer as familie en hoër as spesie.
gevoelig Sensitief
herbivoor Plantvretende dier.
herkouers Grasvretende dier met verskeie pense wat die gras ’n paar keer moet kou om dit behoorlik te verteer. Die Engelse naam vir hierdie diere is ruminants.
hoewe Die harde deel van sommige diere se pote.
hou verband met Het te doen met.
in beslag neem Opneem of vat; gewoonlik negatief bedoel.
moeras ’n Gebied waar daar so baie water in die grond is dat dit ’n pappery is.
monitor Dophou en statistiek versamel.
onderskeidende kenmerke Kenmerk van iets wat net aan daardie ding behoort, en wat gewoonlik in wetenskaplike klassifikasies gebruik word om die ding van soortgelyke dinge te onderskei.
patrollies ’n Rit wat deur die weermag of ander beskermingseenheid onderneem word om seker te maak daar is nie vyand of ander gevaar nie.
skedel Kopbeen; die harde been wat die brein beskerm.
sokkies In ’n dier die wit of ligter dele van die pote.
trop ’n Groep diere, dikwels ouers en kleintjies, wat saam in ’n bepaalde gebied hou ter wille van oorlewing.
tropdiere ’n Dier wat die gewoonte het om in ’n trop voor te kom.
uiteraard Een woord wat dieselfde beteken as “uit die aard van die saak”.
van stapel stuur ’n Plan, program, projek of veldtog begin.
wildstroper Dief wat wilde diere vang.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Hierdie video oor waterbuffels is spesifiek vir kinders gemaak

Hoe klink ’n waterbuffel?

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023