Vinnige feite

  • Bartolomeu Dias was ’n Portugese seevaarder/ontdekkingsreisiger.
  • Dias het die Kaap die Goeie Hoop ontdek. Sommige bronne sê dat hy dit Kaap van Storms genoem het en dat die naam later verander is.
  • Met sy reis om Afrika kon Dias bewys dat die Atlantiese Oseaan die Indiese Oseaan ontmoet.
  • Dias het nooit self Indië bereik nie, maar hy kon bewys dat daar wel rondom Afrika ʼn seeroete na Asië bestaan.
  • Dias het eerste voet aan wal by Mosselbaai gesit. Daar is ook ʼn museum in hierdie dorp ter ere van hom.
Foto: iStock

Die Portugese seevaarder Bartolomeu Dias het tydens ʼn ontdekkingstog vanaf 1487 tot 1488 om die suidpunt van Afrika gevaar en tot so ver as die huidige Gqeberha (Port Elizabeth) gevorder. Op sy terugreis het hy die Kaap die Goeie Hoop ontdek.

Hierdie reis van Dias was deel van die Portugese se beplande soektog na ʼn seeroete na Asië. Dié soektog is tien jaar later verder gevoer deur Vasco da Gama, toe hy tot in Indië gevaar het. 1

Agtergrondinligting

Daar is min bekend oor die lewe van Bartolomeu de Novaes Dias voor 1487, behalwe dat hy aan die hof van João II, of koning Johannes II van Portugal (1455-1495), en ‘n superintendent van die koninklike pakhuise was. Hy het waarskynlik heelwat meer seilervaring gehad as sy een aangetekende reis aan boord van die oorlogskip São Cristóvão. Dias was in sy middel- tot laat dertigs toe koning Johannes II hom in 1486 aangestel het as hoof van ‘n ekspedisie op soek na ‘n seeroete na Indië en die kus van Afrika verken het. 2

Dias was nie so ʼn belangrike ontdekkingsreisiger soos die Italiaanse Christophorus Columbus (1451-1506) nie – hy het slegs planne uitgevoer wat in Lissabon gemaak is. Hy het nooit voor of ná die reis van 1487 tot 1488 bevel oor ʼn ekspedisie gevoer nie en die res van sy loopbaan as ontdekkingsreisiger was maar taamlik onbeduidend.

Vandag sou mens hom ʼn amptenaar van ʼn Portugese “departement van ontdekkingswese” kon noem.

Hy was van goeie afkoms aangesien hy ’n ridder was. Hy het waarskynlik ’n deel van sy inkomste gekry uit die handel in goud en ivoor met Wes-Afrika.

Vroeëre ontdekkingstogte

Hierdie ontdekkingstogte het die werk voortgesit waarmee prins Hendrik die Seevaarder (1394-1460), ʼn seun van koning Johannes I (1357-1433), reeds vroeg in die 15de eeu begin het. Die ontdekkings wat tydens die bewind van Johannes II gedoen is, was baie belangriker as dié onder leiding van Hendrik die Seevaarder. Die rede hiervoor is, onder meer, dat Johannes II kundige mense se hulp gehad het. In Lissabon is ʼn seevaartskool gestig en baie geograwe en skeepsbouers is daarheen gelok.

Redes vir vooruitgang

In die 15de eeu het dit heelwat beter begin gaan met verkenningstogte as gevolg van hierdie redes:

  • Daar is beter skepe gebou;
  • Daar was meer geografiese kennis oor die lande wat verken is; en
  • Daar was beter navigasie metodes.

Toe Columbus vir sy reis van 1492 begin voorberei het, kon hy groot voordeel trek uit al die kennis wat toe reeds in Lissabon versamel was.

Die Portugese het egter ʼn voorsprong bo hom gehad omdat hulle die omtrek van die aardbol beter kon bereken. Toe Columbus in Portugal ondersteuning gesoek het vir die reis wat hy na Asië wou aanpak, het die Portugese besluit dat die plan te gevaarlik is omdat hulle besef het hoe groot die afstand sou wees.

Die reise van Dias

Die eerste keer wat mens van Bartolomeu Dias in die geskiedenis hoor, is toe hy in 1481 na die Goudkus (vandag word dit Ghana genoem) gevaar het. Hy was kaptein van een van die skepe op hierdie reis. Die reis het gelei tot die stigting van Elmina, die eerste Portugese vesting op die vasteland van Afrika. Die naam Elmina is afgelei van Aldea da Mina, wat “Gouddorp” beteken.

Dias het veral bekend geword met sy seereis van 1487-’88 toe hy die kaptein van drie skepe was.

Bartolomeus Dias

Hy het drie opdragte gehad:

Opdrag 1

Hy moes voortgaan om ’n kaart van die kus van Afrika te teken. In hierdie stadium was die kaart van die Afrika-kus tot so ver as Kaap Kruis geteken. Kaap Kruis, aan die kus van die Namibië (vroeër Suidwes-Afrika), was die verste punt wat deur Diego Cam bereik is. Dit het gebeur tydens ʼn reis wat van 1482 tot 1482 geduur het. Op hierdie reis is die Kongorivier ook ontdek. 3

Opdrag 2

Dias se tweede opdrag was om ʼn seeweg om die suidpunt van Afrika na die speserylande van Asië te vind. Hoewel Portugal en ander Europese nasies reeds lang gevestigde handelsbande met Asië gehad het, is die moeilike oorlandroete in die 1450’s gesluit.

Die Italiaanse stadstate het ook produkte aan die ooskus van die Middellandse See gekoop en dit dan na Europa vervoer. Die Portugese het gehoop om ʼn seeweg te vind waarmee hulle direk en vinniger met Asië kon handel dryf. Op dié manier sou hulle ook sonder die Italiaanse en Islamitiese tussenhandelaars kon handeldryf. 4

Dias se deurbraak het die deur oopgemaak vir groter handel met Indië en ander Asiatiese moondhede.

Opdrag 3

Dias moes na die legendariese ryk van priester Johannes soek.

Die legende van priester Johannes was reeds sedert die 11de eeu in Europa bekend en was die rede vir die eerste ontdekkingsreise. Daar is geglo dat priester Johannes die vors van ʼn magtige Christenryk iewers in Asië was. In die 12de eeu is daar vermoed dat die ryk iewers in Persië geleë was.

In Dias se tyd is daar geglo dat dié ryk in Oos-Afrika, suid van Ethiopië, geleë was. Daar is gehoop dat Johannes of sy opvolgers ʼn sterk bondgenoot teen die Islamitiese vyand sou wees.

Verloop van die reis

Dias het Lissabon in Julie of Augustus 1487 verlaat en in Desember 1488 teruggekeer.

In Desember 1487 het hy reeds die kus van Namibië bereik. Hy het aan land gegaan by die plek wat vandag Walvisbaai is en daarna het hy sy voorradeskip in die baai by die plek wat vandag as Lüderitz bekendstaan, gelaat.

Lüderitz

In die eerste week van 1488 het die twee oorblywende skepe vertrek en meer as ʼn duisend myl (sowat 1 610 km) ver weswaarts die Atlantiese Oseaan ingevaar. Dit is nie bekend of hulle bloot in die verkeerde rigting gevaar het en of hulle dalk deur ’n storm so gedwing is nie. Daarna het hulle van rigting verander sodat hulle verby die Kaap (wat hulle op daardie tydstip nie kon sien nie) gevaar het en toe noord gedraai.

Hulle het vroeg in Februarie aangekom by Aguada de Sao Bras (vandag bekend as Mosselbaai). Dias het tot so ver as Algoabaai gevorder voordat hy deur sy bemanning gedwing is om terug te draai. Van die redes was dat hul voorraad min begin raak het, dat daar baie sterk strome asook baie storms was. 5

Mosselbaai

Op sy terugreis het hy op drie plekke kalksteenkruise aan die kus opgerig: by Kwaaihoek (net wes van die Boesmansriviermond), by die Kaap wat deur hom Cabo de Boa Esperanza genoem is en ook by Lüderitz. Volgens ʼn bewysstuk uit dié tyd het die Kaap die Goeie Hoop sy naam van Dias ontvang en nie van die koning nie. Sommige bronne verskil oor hierdie feit.

Met sy terugkoms is Dias met groot geesdrif in Lissabon ontvang. Dit was nou duidelik dat daar wel ʼn seeroete om die Kaap na Asië bestaan het.

Dias se verdere reise

Hy het nog twee belangrike reise help beplan en in albei gevalle het hy ook saam gereis. In 1497 het hy saam met Vasco da Gama (wat tot in Indië gevaar het) gereis, maar is teruggestuur toe hulle by die Kaap-Verdiese Eilande gekom het. In 1500 was hy ’n lid van Cabral se ekspedisie wat Brasilië per toeval ontdek het toe die skepe deur ’n storm te ver wes gedryf is. Op hierdie reis het Dias op 29 Mei 1500 tydens ʼn storm naby die kus van die Kaap die Goeie Hoop gesterf. 6

Kaap-Verdiese Eilande

Woordbank

onbeduidend Van min belang.
ridder Laagste rang van die adelstand.
adelstand Edeles, hooggeplaastes
ekspedisie Ondersoekingstog of ’n reis om inligting in te samel. 7

’n Interessante video oor die Dias Museum in Mosselbaai

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024