Vinnige feite

  • C.R. Swart het in Winburg sy matriek behaal toe hy net dertien jaar oud was. 3
  • C.R. Swart se bynaam was “Blackie”. 3
  • Swart was ʼn veelsydige sportman. Hy was ʼn rugbyspeler en ook ʼn rugbyskeidsregter. Terwyl hy in 1921 in die VSA gewoon het, het hy in ʼn sokkerspan gespeel wat ʼn Sjinese span gewen het. Hy het ook rolbal en jukskei gespeel. 3
  • Nadat president C.R. Swart as president uitgetree het, is dr. Eben Dönges as president verkies. Hy het ongelukkig kort daarna ernstig siek geword en is oorlede. Daarom is Jim Fouché in sy plek as president verkies. 5
  • Jim Fouché was op 23 jaar een van die bekendste afrikanerbeesboere in die land. 4
  • Jim Fouché is deur baie mense “Oom Jim” genoem. 5
  • John Vorster was ook ʼn advokaat en is dikwels advokaat B.J. Vorster genoem.
  • Dr. Nic Diederichs was die eerste kanselier van die Randse Afrikaanse Universiteit wat vandag die Universiteit van Johannesburg is. 24
  • P.W. Botha was kanselier van die Universiteit van Stellenbosch vanaf 1985 tot 1988. 13
  • P.W. Botha het die bynaam “Groot Krokodil” gehad. 9
  • P.W. Botha en sy vrou, Elize, het ʼn huis in Wildernis naby George gehad met die naam Die Anker.
  • J.G. Strijdom, wat van 1954 tot 1958 die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika was, was F.W. de Klerk se oom. 25
  • Nadat F.W. de Klerk in Potchefstroom in die regte gestudeer het, het hy ʼn regsfirma in Vereeniging oopgemaak. 15
  • Jacob Zuma word ook Msholozi genoem – dit is die naam wat hy deur sy stamlede genoem word. 22
  • Nkandla is nie alleen die plek waar Jacob Zuma gebore is nie, dit is ook die woning waar hy later luukse verbeterings laat maak het en waaroor hy in die moeilikheid gekom het.
  • Terwyl Ramaphosa op die bestuur van die vakbond NUM was, het die lede van 6 000 tot 300 000 toegeneem! 23

 

 

Foto: iStock

Die presidente van Suid-Afrika is amper soos naambordjies van dorpe langs die pad wanneer ʼn mens ver ry. Net soos elke naambordjie vir jou iets vertel oor daardie dorp, net so vertel die naam van elke president ook vir ʼn mens iets oor die geskiedenis van daardie tyd, wat alles toe gebeur het en wat die president gedoen het. ʼn Mens dink natuurlik aan die goeie dinge wat die president gedoen het, maar ook aan die dinge wat minder goed was wanneer jy sy naam sien. Kom ons kyk na ʼn paar van die presidentnaambordjies in die geskiedenis van Suid-Afrika.

 

Lys van presidente vanaf 31 Mei 1961 tot in 2022

C.R. Swart

J.J. Fouché

N. Diederichs

B.J. Vorster

Marais Viljoen

P.W. Botha

F.W. de Klerk

Nelson Mandela

Thabo Mbeki

Kgalema Motlanthe

Jacob Zuma

Cyril Ramaphosa

Verskillende soorte presidente

ʼn President is ʼn baie belangrike persoon in ʼn land. ʼn Mens kan dit reeds sien aan die kleredrag wat sommige presidente dra, veral in vroeër jare. In Suid-Afrika het van die presidente selfs ʼn pluiskeil (hoë hoed met ʼn lang vorm soos ʼn silinder) gedra. Presidente dra ook soms ʼn breë ketting om die nek, veral by belangrike seremonies.

Daar is twee soorte presidente – presidente wat die mag het om opdragte te gee en presidente wat nie sulke mag het nie. Die eerste soort word ʼn uitvoerende president genoem, en die tweede soort word ʼn seremoniële president genoem.

ʼn Seremoniële president is die staatshoof, maar nie die regeringshoof nie. Hy tree dus by seremonies op, maar kan nie opdragte oor belangrike sake vir ʼn regering gee nie. Suid-Afrika het seremoniële en uitvoerende presidente gehad.

In 1984 het Suid-Afrika ʼn nuwe grondwet gekry. Hierdie grondwet het die twee ampte (werke of beroepe) van eerste minister en seremoniële staatspresident vervang met net een amp – ʼn staatspresident met uitvoerende magte. 1 Vanaf 1984 is Suid-Afrika se president die staatshoof, en hy is ook hoof van die nasionale uitvoerende gesag. Dit is wat ʼn president moet doen: Hy moet die Grondwet as die hoogste reg van die Republiek handhaaf, verdedig en eerbiedig. Hy moet die eenheid van die nasie bevorder en ook alles doen om die land te laat vooruitgaan. 2

Seremoniële presidente

C.R. Swart

Charles Robberts (C.R.) Swart is op 5 Desember 1894 gebore, en hy is op 16 Julie 1982 oorlede. Hy was president vanaf 31 Mei 1961 tot 31 Mei 1967.

Hy is in die Vrystaat gebore. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is hy saam met sy gesin in die konsentrasiekamp in Winburg aangehou. Hy is as onderwyser opgelei en was later ook ʼn advokaat in Bloemfontein. 3

C.R. Swart

Hy was ʼn baie veelsydige politikus. Hy het sedert 1919 ʼn groot klomp verskillende poste in die politiek beklee. Behalwe dat hy eerste minister was, was hy ook minister van onder meer buitelandse sake, verdediging, vervoer, mynwese, bosbou, volkswelsyn en volksgesondheid.

Hy was ʼn skrywer en joernalis en het ook ʼn groot rol in kultuursake gespeel – hy het onder meer kultuurfeeste gereël, en hy was ook betrokke by die stigting van die Voortrekkerbeweging. As minister van justisie het hy baie vir die land gedoen. Hy was betrokke by die verbanning van die Kommunistiese Party, hy het groter magte aan die Suid-Afrikaanse Polisie gegee om misdaad te bestry, en hy het aandag aan die rehabilitasie van misdadigers gegee. 4

J.J. Fouché

Jacobus Johannes (J.J.) Fouché is op 6 Junie 1898 gebore, en hy is op 23 September 1980 oorlede. Hy was president van 10 April 1968 tot 9 April 1975. 5

Hy het in die Oranje-Vrystaat grootgeword en het reeds as ʼn 12-jarige seun in politiek begin belangstel. Terwyl hy in die parlement was, het hy veral aan landbou en finansies aandag gegee.

J.J. Fouché

In 1950 was hy administrateur van die Vrystaat. Hy het hom daarvoor beywer om Afrikaans én Engels te bevorder en het Engelstalige onderwysers laat oplei. Hy kon aan die begin nie tien Engelssprekende persone kry om as onderwysers op te lei nie! Toe moes hulle maar eers ses Afrikaanssprekendes gebruik. Hy het gesê: “Ons praat nie Engels soos ʼn Engelssprekende nie, maar ons kan ons almal intelligent uitdruk en ons kan die ander man intelligent volg. Ons kan sy siel begryp as hy sy eie taal praat.”

In 1959 het hy minister van verdediging geword. Volgens Fouché was dit die lewenstaak van hom en sy vrou om groter eenheid tussen die verskillende volke in Suid-Afrika te probeer kry. 4

J.J. Fouché

Nico/Nic Diederichs

Nicolaas Johannes (“Nico” of “Nico”) Diederichs is op 17 November 1903 gebore en in Augustus 1978 oorlede. Hy was van 19 April 1975 tot 21 Augustus 1978 president. 6

Nico Diederichs

Voordat hy in politiek betrokke geraak het, het hy baie aandag gegee aan die armblankevraagstuk (die probleem in die land dat die blankes baie arm was en dat baie nie werk en inkomste gehad het nie). As gevolg hiervan was hy ook leier van die Reddingsdaadbond (RDB). [Lees meer oor die Reddingsdaadbond.]

Voor hy president geword het, was hy ook onder meer minister van finansies, en hy was bekend daarvoor dat hy goud in die konteks van die ekonomie as baie waardevol beskou het.

Hy het baie gereis en was bekend in die buiteland. Hy het eerbewyse ontvang in lande soos Italië, Paraguay en Frankryk. Hy kon buiten Afrikaans en Engels Duits baie goed praat, en hy kon Frans en Italiaans lees. Hy het ook kennis gehad van Latyn en Grieks en het gesê dat iemand wat Afrikaans praat, ook bietjie Noorweegs en Sweeds kan verstaan.

Uit die huldeblyke ná sy dood blyk sy invloed duidelik: Hy was ʼn baie goeie minister van finansies wat ook baie kennis oor internasionale finansiële sake gehad het. Hy het ook baie gedoen om goeie betrekkinge tussen verskillende volke in Suid-Afrika te skep. 4

B.J. Vorster

Balthazar Johannes (B.J.) Vorster is op 13 Desember 1915 gebore en op 10 September 1983 oorlede. Hy was president van 10 Oktober 1978 tot 4 Junie 1979. 7

Sy waarde vir die land as politikus kan nie slegs aan hierdie twee jaar gemeet word nie, aangesien hy al lank voor dit by die politiek betrokke geraak het. Hy was vanaf 1953 by die politiek betrokke, eers as lid van die Volksraad, daarna adjunkminister, minister en ook eerste minister.

John Vorster

Vir Vorster was die land se buitelandse beleid baie belangrik, en hy het hard probeer om die internasionale isolasie van Suid-Afrika te keer. Hy het ook goeie diplomatieke werk gedoen, veral in Afrika. 8

Hy het as president bedank omdat hy betrokke was by wat die “Inligtingskandaal” genoem is. In 1978 het dit bekend geword dat die koerant The Citizen met staatsgeld begin is. Dit het ook bekend geword dat die departement van inligting geheime fondse van miljoene rand het wat hulle gebruik het om Suid-Afrika se beeld in die buiteland te verbeter. 9

Eerste Volksraad, Pretoria in Suid-Afrika

Marais Viljoen

Marais Viljoen is op 2 Desember 1915 gebore en op 4 Januarie 2007 oorlede. Hy was president van 4 Junie 1979 tot 3 September 1984. 10 Hy was die laaste van Suid-Afrika se seremoniële presidente.

Marias Viljoen

Hy het aan die Universiteit van Kaapstad studeer en het onder andere by Die Transvaler (ʼn Afrikaanse koerant) gewerk. Hier het hy onder die redakteur Hendrik Verwoerd, wat later eerste minister sou word, gewerk. 11

Hy was adjunkminister van arbeid en mynwese en was ook minister van arbeid en kleurlingsake (sake wat met bruin mense verbandhou; die term word vandag as histories en kwetsend beskou) en later van pos- en telekommunikasiewese. 12

Staatspresidente

P.W. Botha

Pieter Willem Botha is op 12 Januarie 1916 gebore, en hy is op 31 Oktober 2006 oorlede. Hy was president vanaf 1984 tot Februarie 1989. 13 Hy was die eerste staatspresident van Suid-Afrika.

Hy was besig met sy studies in die regte aan die Grey University College (vandag die Universiteit van die Vrystaat) toe hy in 1936 ʼn toespraak gegee het tydens ʼn besoek van eerste minister D.F. Malan aan die universiteit. Dr. Malan was so beïndruk met die jong student dat hy vir hom werk aangebied het. Botha was toe 20 jaar oud. 13

P.W. Botha

Hy was vir lank parlementslid vir die George-kiesafdeling. Dis ook waar hy gewoon het en waar hy oorlede is. Hy was minister in vyf verskillende departemente, waaronder dié van verdediging. 13

Botha was eerste minister van Suid-Afrika tussen 1978 en 1984. Gedurende sy termyn as eerste minister het daar ʼn groot skeuring in die Afrikaners se politiek plaasgevind toe die Konserwatiewe Party (KP) in 1982, onder die leiding van Andries Treurnicht, gestig is. 9

Een van die belangrike gebeure in Botha se termyn as eerste minister was die referendum waarin die wit inwoners van Suid-Afrika moes stem oor of hulle die nuwe Grondwet van 1983 sou aanvaar. Volgens hierdie grondwet sou daar drie wetgewende liggame wees – een vir wit mense, een vir bruin mense en een vir Indiërs. 14 Hy was die eerste president in ʼn paar dekades wat as president van Suid-Afrika verskeie hoofstede in Europa besoek het. 13

Daar was in hierdie tyd baie druk, van veral die buiteland, om apartheidswette te verander, en P.W. Botha het baie van hierdie wette afgeskaf – byvoorbeeld die wet teen gemengde huwelike (huwelike tussen mense van verskillende rasse) is afgeskaf, en swart vakbonde kon wettig bestaan. 9

Aan die einde van die 1980’s het dinge vir hom verkeerd begin loop. Hy en van sy ou vriende het gebots, en hy het baasspelerig opgetree. In Januarie 1989 het hy ook weer ʼn beroerte gekry. Sy termyn het geëindig toe sy kabinetslede hom op 14 Augustus 1989 versoek het om te bedank omdat hulle geglo het dat hy nie meer gesond genoeg is om president te wees nie. Hy was ontevrede, maar het bedank. 9

F.W. de Klerk

Frederik Willem (F.W.) de Klerk is gebore op 18 Maart 1936 en op 11 November 2021 oorlede. Hy was president van 14 September 1989 tot 9 Mei 1994. 15

F.W. de Klerk

F.W. de Klerk se belangrikste nalatenskap was dat Nelson Mandela gedurende die tyd toe hy president was, vrygelaat is. Hy het op 13 Desember 1989 die eerste gesprek met Mandela gehad, terwyl hy nog in die gevangenis was. Op 2 Februarie 1990 het hy tydens die opening van die parlement ʼn paar aankondiginge gemaak wat vir die hele wêreld ʼn groot verrassing was: Hy het die verbod op die African National Congress (ANC), die Pan Africanist Congress (PAC) en die Kommunistiese Party opgehef.

Hy het aangekondig dat Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 vrygelaat sou word en dat ander politieke gevangenes ook vrygelaat sou word.

In die res van 1990 en 1991 is alle wette wat op grond van ras gediskrimineer het, ook geskrap. In 1992 is daar weer ʼn referendum gehou. Hiermee moes die kiesers sê of hulle die veranderinge wat hy op 2 Februarie aangekondig het, steun, en hulle het ten gunste daarvoor gestem. 9

Saam met Nelson Mandela het de Klerk in Desember 1993 die Nobelprys vir Vrede ontvang. De Klerk het ook die Orde van Mapungubwe (goud) ontvang. Ná sy termyn as president het hy deur die F.W. de Klerk-stigting sy aandag aan vrede, versoening en nasiebou in Suid-Afrika gegee. 16

Nelson Mandela

Nelson Rolihlahla Mandela is op 18 Julie 1918 gebore en op 5 Desember 2013 oorlede. Hy was president van 9 Mei 1994 tot 14 Junie 1999. 17

Hy het die verbeelding van die hele wêreld aangegryp (die hele wêreld het oor hom gepraat en van hom geweet). Hy het geskiedenis gemaak toe hy ná 27 jaar in die gevangenis vrygelaat is en daarna president geword het van die land. Hy het gedurende sy termyn as president baie dinge gedoen wat vir hom verdere bekendheid besorg het.

Mandela se twee visepresidente was F.W. de Klerk en Thabo Mbeki. Mandela het probeer om versoening in die land te laat gebeur. Menseregte was ook vir hom belangrik in sy buitelandse beleid. In die land self was hy nie ten gunste (hy wou dit nie hê nie) van sterk opposisie nie.

Hy het as ʼn wyse staatsman opgetree, hy was ʼn vredemaker en het probeer om mense oor rassegrense heen te versoen. Hy het nie bitterheid gewys oor die 27 jaar wat hy in die gevangenis moes deurbring nie. Hy het ook positiewe reaksie vanuit die wit gemeenskap gekry. Die hoogtepunt hiervan was sekerlik in 1995 toe hy na die Wêreldbekereindwedstryd op die veld gegaan en die beker aan Francois Pienaar, die Springbokrugbykaptein op daardie stadium, oorhandig het. Dit was ook Mandela se besluit dat die Springbokembleem behou moes word, al het baie mense dit steeds as simbool van apartheid beskou. 18

In Junie 1999 het hy uit die aktiewe politieke lewe getree (hy het opgehou om voltyds politieke werk te doen) toe sy eerste termyn as president verstryk het. Hy het steeds aangehou om as bemiddelaar op te tree waar daar konflik in die wêreld was. Op 1 Junie het hy aangekondig dat hy uit die openbare lewe gaan tree (heeltemal gaan aftree). 17 Hy het steeds ʼn groot invloed in Suid-Afrika en in die buiteland gehad tot met sy dood in 2013.

Thabo Mbeki

Thabo Mvuyelwa Mbeki is op 18 Junie 1942 gebore. Hy was president van 14 Junie 1999 tot 21 September 2008.

Mbeki is gekritiseer omdat hy nie sterker opgetree het teen president Robert Mugabe van Zimbabwe wat met geweld opgetree het teen enigiemand wat hom wou teëgaan nie. Die swak ekonomiese toestand in Zimbabwe het veroorsaak dat duisende mense uit Zimbabwe na Suid-Afrika gekom het om hier te kom werk. Mbeki is ook gekritiseer omdat hy nie besef het hoe ernstig hierdie probleem is nie.

Thabo Mbeki

Vir Mbeki het ernstige probleme begin toe hy in 2005 vir Jacob Zuma as visepresident afgedank het omdat hy van korrupsie beskuldig is. Dit het veroorsaak dat daar verdeeldheid tussen ondersteuners van Mbeki en Zuma gekom het (hulle het nie meer saamgestem oor sake nie). Nadat die aanklagte teen Zuma teruggetrek is, het Mbeki in September 2008 as president bedank. 19

Joe Biden saam met Thabo Mbeki

Mbeki se grootste bydrae was waarskynlik op ekonomiese gebied. Hy het dit reggekry dat inflasie laag bly, en hy het daarvoor probeer sorg dat die staat se uitgawes beperk word. Hierdie beheer oor uitgawes het nie altyd gewerk nie. In 2001, terwyl hy nog president was, het die ANC se leiers gekeer dat daar ondersoek ingestel is na wapens wat vir miljarde rand aangekoop is. 18

Thabo Mbeki lewer die hoofrede by die openingseremonie van die Wêreldkoerantkongres

Kgalema Motlanthe

Hy is op 19 Julie 1949 gebore. Hy was president van 25 September 2008 tot 9 Mei 2009.

Kglema Petrus Motlanthe

Kgalema Motlanthe kon eintlik nie ʼn maklike werk gehad nie. Hy is in 2008 as president gekies toe Mbeki moes bedank, maar hy het geweet dat hy net tydelik president gaan wees totdat daar ʼn permanente president gekies kon word. Dit is nooit maklik as ʼn mens weet dat jy nie vir lank in ʼn pos gaan wees nie omdat jy nie regtig met belangrike projekte kan begin nie. Die verkiesing het in Mei 2009 plaasgevind, en Jacob Zuma is as president verkies.

Motlanthe was nog tot in 2014 adjunkpresident van die land totdat hy deur Cyril Ramaphosa vervang is. 20

Die Eerste Minister, Dr. Manmohan Singh saam met die President van Suid-Afrika, mnr. Kgalema Motlanthe, in Nieu-Delhi op 15 Oktober 2008

Jacob Zuma

Jacob Gedleyihlekisa Zuma is op 12 April 1942 gebore. Hy was president van 9 Mei 2009 tot 14 Februarie 2018. 21

Jacob Zuma is by Nkandla in Noord-Natal (vandag KwaZulu-Natal) gebore. Sy pa is dood toe hy ʼn jong seun was, en hy het toe by sy ma se ouers gaan woon waar hy begin het om beeste op te pas toe hy ongeveer sewe jaar oud was. In hierdie tyd het die maats van sy ouderdom skool toe gegaan. Zuma het homself leer lees deur in die boeke van ander kinders wat skoolgegaan het, te kyk. 22

Zuma is later sterk beïnvloed deur sy ouer stiefbroer wat ʼn soldaat in die Tweede Wêreldoorlog was en later by die ANC aangesluit het. In 1959 het Zuma ook by die ANC aangesluit. Toe die ANC in 1960 verban is, en die organisasie se gewapende vleuel – uMkhonto we Sizwe (MK) – gestig is, het Zuma in die gewapende stryd betrokke geraak (MK was soos die ANC se weermag). In 1963, toe hy 21 jaar oud was, is hy deur die polisie gevang en tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die aanklag was dat hy die regering wou omverwerp. Hy is toe na die gevangenis op Robbeneiland geneem. 22

Zuma is in 2009 vir die eerste keer as president verkies, en in 2014 is hy weer verkies. In die tyd waarin hy president was, is hy kort-kort beskuldig van onder meer korrupsie en die misbruik van mag (wanneer ʼn mens die mag wat jou posisie jou gee, gebruik deur verkeerde dinge te doen).

Jacob Zuma by die 2009 Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika

Hy bedank laat die aand op 14 Februarie 2018. Hy het bedank omdat die ANC daarop aangedring het (dit beteken dat ʼn mens nie ʼn keuse het nie, maar iets moet doen, al wil jy nie). Indien hy nie self bedank het nie, sou daar die volgende dag in die parlement ʼn mosie van wantroue teen hom ingestel word. 22

Jacob Zuma

Cyril Ramaphosa

Matamela Cyril Ramaphosa is op 17 November 1952 gebore. Hy het op 15 Februarie 2018 president geword en is tans steeds president (November 2022). 23

Ramaphosa is in Johannesburg gebore en was op hoërskool in die dorp Sibasa in Venda (vandag deel van die Limpopoprovinsie). Hy het in die regte begin studeer, maar toe in studentepolitiek betrokke geraak. Vir sy politieke bedrywighede teen die destydse regering, is hy in 1974 en weer in 1976 in die gevangenis aangehou. Hy het later wel sy studies voltooi en ʼn graad in die regte behaal.

Cyril Ramaphosa

Hy was in 1982 die stigter van die National Union of Mineworkers (NUM) en het die eerste sekretarisgeneraal van hierdie vakbond geword.

In Mei 2014 is hy verkies tot adjunkpresident van die land, en op 15 Februarie 2018 is hy tot president verkies. 23

Wladimir Poetin en Cyril Ramaphosa

Vandat hy president geword het, het die regering begin om korrupsie deur regeringsamptenare te ondersoek en om teen mense wat daaraan skuldig is, op te tree. In 2022 het president Ramaphosa self probleme gekry toe dit bekend geword het dat daar ʼn groot hoeveelheid kontant op sy plaas, Phala Phala, in Limpopo, gesteel is en dit moontlik nie op die regte manier deur die polisie hanteer en ondersoek is nie. Daardie saak duur steeds voort.

Cyril Ramaphosa

Woordbank

aanklag ʼn Beskuldiging, veral in ʼn verhoor, byvoorbeeld Die aanklag teen hom is dat hy te vinnig gery het.
administrateur Die hoof van ʼn provinsie se uitvoerende mag. Lank gelede het die provinsies in Suid-Afrika elkeen ʼn administrateur gehad.
bemiddelaar Iemand wat probeer om versoening te bring tussen twee mense of twee lande wat nie met mekaar saamstem nie of met mekaar baklei.
betrekkinge Die verhouding tussen twee groepe of lande.
bevorder Help om iets te laat ontwikkel, beter te laat word.
diskrimineer Om verskillende mense of rasse verskillend te behandel, dit wil sê om party mense beter te behandel as ander.
eenheid Om een geheel te vorm, in harmonie saam te leef.
eerbiedig Om iets met eerbied te doen, byvoorbeeld Hy het eerbiedig sy kop laat sak. of Hy het eerbiedig opsy gestaan sodat die onderwyser voor hom by die klas kan ingaan.
huldeblyke Iets wat ʼn mens doen of sê om te wys dat jy iemand bewonder of eerbied vir die persoon het.
inflasie Inflasie gebeur wanneer die waarde van geld verminder en jy al hoe minder met dieselfde bedrag geld kan koop.
isolasie Om afgesluit te wees van ander mense of lande, sonder kontak met hulle. Suid-Afrika is byvoorbeeld op ʼn tyd in ons land se geskiedenis so van ander lande geïsoleer of afgesluit dat ons nie teen ander lande aan sport kon deelneem nie.
korrupsie Oneerlike gedrag of optrede, veral van iemand wat in ʼn gesagsposisie is. So ʼn mens gebruik sy of haar mag om verkeerde dinge te doen.
loopbaan Die werk wat ʼn mens doen, byvoorbeeld Hy het sy loopbaan begin deur by ʼn koerant te werk.
misdaad Om iets te doen wat teen die wet is.
mosie van wantroue ʼn Mosie van wantroue word gewoonlik ingestel teen ʼn persoon wat in ʼn hoë posisie is, en dit word gedoen deur die lede van daardie persoon se politieke party of deur lede van die regering. Dit gebeur wanneer die persoon in die hoë posisie iets gedoen het wat veroorsaak dat sy of haar mense hom of haar nie meer vertrou nie.
omverwerp Die mense van ʼn land kan besluit om die regering van die land omver te werp wanneer die regering nie meer die belange van die land se mense eerbiedig nie.
politieke gevangenes Gevangenes wat in die gevangenis vir politieke oortredings is, dit wil sê dinge wat hulle gedoen het om die regering van ʼn land teen te staan.
Reddingsdaadbond Dit was ʼn organisasie wat in 1939 in Suid-Afrika gestig is om arm Afrikaners te help om werk te kry sodat hulle weer vir hulself kon sorg.
rehabilitasie Om dinge wat verkeerd geloop het, weer reg te maak sodat alles normaal kan voortgaan.
simbool Jou skool se wapen is vir jou ʼn simbool van iets waarop jy trots is. Vir mense wat lief is vir sport, is die Springbokembleem die teken van die rugbyspan waarop hulle baie trots is. Maar vir sommige mense in ons land, is die Springbokembleem ʼn simbool van die tyd toe apartheid die lewe vir baie mense in die land moeilik gemaak het.
uitvoerende gesag Wanneer iemand se posisie hom of haar die reg gee om self oor sake te besluit en iets daaraan te doen, met ander woorde dit uit te voer.
vakbond Die vereniging van persone wat dieselfde werk doen, byvoorbeeld mynwerkers wat verteenwoordig word deur die Nasionale Mynwerkersunie. Vakbond en unie is hier sinonieme vir dieselfde vereniging.
veelsydige Iemand wat baie verskillende dinge kan doen. ʼn Mens praat van iemand wat goed rugby, tennis en krieket kan speel én dan nog aan atletiek ook deelneem, as ʼn veelsydige sportman of sportvrou.
waardevol Wat baie waarde het. ʼn Waardevolle bydrae beteken dus dat iemand baie vir byvoorbeeld sy skool of dorp of land gedoen het. 26

Kyk hierdie video’s om te sien hoe enkele presidente van Suid-Afrika (sedert Republiekwording) gelyk en geklink het

B.J. Vorster

Toespraak by ʼn 1977-NP-samekoms

P.W. Botha

President Botha verklaar ʼn noodtoestand in 1986

F.W. de Klerk

Kort video oor sy lewe

Nelson Mandela

ʼn Oorsig oor sy lewe in twee kort video’s

[kyk hier]

Thabo Mbeki

Toespraak tydens ʼn begrafnisdiens op 25 Augustus 2022

Kgalema Motlanthe

Motlanthe verduidelik een van sy besluite

Jacob Zuma

Kort uittreksels uit van sy toesprake

Cyril Ramaphosa

Ramaphosa se toespraak vir Vrouedag 2022

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Desember 2022 | Bygewerk op 14 Mei 2024