Vinnige feite

  • Swart was meer as 2 meter lank!
  • Hy het ʼn ongelooflike geheue en ʼn skerp sin vir humor gehad.
  • Sy bynaam op universiteit was “Black” of “Blackie”, wat natuurlik na sy van “Swart” verwys.
  • Hy was passievol oor landbou en het met afrikanerbeeste geboer. Hy het ná sy aftrede op sy plaas, De Aap, buite Brandfort gebly. Die plaas is ook “Oom Black se plek” genoem. Hy het tot sy dood daar gewoon.
  • Hy was blykbaar baie lief daarvoor om skaapkop te eet … 4
  • Marais Viljoen, ʼn voormalige staatspresident, het die Grondwet van 1983 onderteken met dieselfde pen wat in 1961 deur C.R. Swart gebruik is om tydens sy inhuldiging as die eerste staatspresident van die republiek die ampseed te onderteken! 5
  • In die tyd toe Swart op Ficksburg skoolgegee het, is hy tydens die 1914-rebellie in hegtenis geneem en aangehou omdat hulle gedink het dat hy by ʼn rebellegroep wou aansluit. Hy is egter later vrygelaat en hy kon weer skoolhou, maar is onder huisarres geplaas. Die sel waar hy aangehou is, is later as ʼn nasionale monument verklaar.
  • Swart het nogal ʼn interessante lewe gelei toe hy in Amerika studeer het. Hy het op straathoeke vir geld gesing en selfs in ʼn fliek verskyn!
  • C.R. Swart is die enigste mens in die land wat ʼn goewerneur-generaal en ʼn staatspresident was.

As jy al in Roodepoort of in Middelburg gery het, het jy dalk al in C.R. Swartstraat afgery, of dalk is jy in Laerskool C.R. Swart of in Hoërskool Staatspresident C.R. Swart. Hoekom is soveel strate en geboue na dié man genoem? Charles Robberts Swart, oftewel C.R. Swart, was ʼn advokaat en politikus, die laaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika en die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika. Hy is op 31 Mei 1961 as staatspresident ingehuldig. 1

Beginjare

Charles Robberts Swart is op 5 Desember 1894 in die Vrystaat gebore. Sy ouers het ʼn plaas met die naam Morgenzon in die Winburgomgewing gehad. Sy pa se naam was Hermanus Bernardus Swart, en sy ma se naam was Aletta Catharina Robberts. Sy ma het hom “Doempies” genoem, en hy was een van ses kinders.

Hy was maar net vyf jaar oud toe die Vryheidsoorlog (Anglo-Boereoorlog) uitgebreek het, en hy is saam met sy ma na die Winburgkonsentrasiekamp gestuur. Een van die kinders is tydens die oorlog dood. Sy pa het in die oorlog teen die Engelse geveg en is tydens een van die veldslae gewond en gevange geneem. 2

Hy het in 1902 op sewejarige ouderdom op Winburg begin skoolgaan. Hy was later ʼn leerder aan ʼn Christelike Nasionale Onderwys-skool wat gestig is in weerstand teen die beleid van verengelsing by staatskole. 2 Die woord “verengelsing” beteken basies maar net dat kinders glad nie Afrikaans of Nederlands in skole mag gepraat het nie. Hulle mag net onderrig in Engels gekry het.

Swart was baie slim en het soms sommer twee standerds in een jaar afgelê. Hy was maar net 13 jaar oud toe hy matriek klaargemaak het. 1

Ná skool

Swart het ná matriek ʼn jaar lank in die landdroskantoor op Winburg gewerk. Hy het in 1910 aan die Grey-universiteitskollege gaan studeer en het in 1912 sy BA-graad behaal. Terwyl hy op Ficksburg skoolgehou het, het hy aanhou studeer en was daarna die sekretaris van die Raad van Eksaminatore van die Vrystaatse departement van onderwys. Hy het in 1918 sy LLB-graad behaal, en het weereens akademies uitgeblink met onderskeidings in vyf van sy ses vakke.

Swart is in 1919 as advokaat van die Vrystaatse Hooggeregshof toegelaat en het daarna in Bloemfontein as advokaat gepraktiseer.

Hy het besluit om oorsee te studeer en is vir twee jaar na Engeland, Nederland en Amerika. Hy het byvoorbeeld van 1921 tot 1922 joernalistiek in Amerika studeer en daar ʼn interessante lewe gelei. 3

Hy het in 1923 na Suid-Afrika teruggekeer en is as volksraadslid (soos vandag se parlementslede) aangestel en het weer as advokaat gepraktiseer. Hy het ook in hierdie tyd deeltyds klas in landboureg aan die Glen-landboukollege buite Bloemfontein gegee. Dit was ook in hierdie tyd wat hy met ʼn mede-Vrystater getrou het. Hy en Cornelia Wilhelmina (Nellie) de Klerk is op 2 Desember 1924 in die eg verbind, en hulle het drie kinders gehad.

Sy lewe daarna was baie polities georiënteerd, maar eintlik was hy al sedert 1914 ʼn lid van die Nasionale Party (NP).

Die 19 Volksraadslede van die “Gesuiwerde” Nasionale Party wat nie in 1934 met die Suid-Afrikaanse Party saamgesmelt het om die Verenigde Party te vorm nie

In 1932 is hy tot volksraadslid vir Ladybrand verkies, en in 1941 tot volksraadslid vir Winburg. Hy het die verskillende politiese trappe geklim en het later die leier van die NP in die Vrystaat geword.

C.R. Swart word ingehuldig as president

 

Nadat die NP die nasionale verkiesing in 1948 gewen het, het Swart die nasionale minister van justisie geword en was daarna van 1949 tot 1950 ook die minister van onderwys, kuns en wetenskap. Hy was ook van 1954 tot 1959 die adjunk- eerste minister, so hy het omtrent baie portefeuljes hanteer. Hy is in 1959 tot goewerneur-generaal van die unie verkies.

Japie Heese, Staatspresident C.R. Swart en gebiedsleier, Piet Geyer, in Bloemfontein, Desember, 1963

Kom ons loer net gou weer na waar die unie vandaan kom. Ná die Anglo-Boereoorlog het die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 tot stand gekom het. Daaronder was die twee voormalige Boererepublieke (Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek) en die Britse kolonies van Natal en die Kaap. Suid-Afrika was egter steeds ʼn dominium van Brittanje, wat beteken dat dit steeds ʼn kolonie van Brittanje was, maar met volle eie bestuur.

Baie Afrikaanse mense was egter nog baie kwaad ná die oorlog en wou graag totale vryheid van Britse bewind hê. Hulle wou nie meer voel asof hulle ondergeskik is nie.

Kabinet van 1958

Die NP was ʼn groot voorstander daarvan om ʼn republiek te word en burgers is gevra om vir of teen republiekwording te stem. Daar is vir ʼn republiek gestem, en die amp van staatspresident het die amp van goewerneur-generaal vervang.

Interessant genoeg het die Grondwet van die nuwe republiek vir ʼn eerste minister (die hoof van die regering) en ʼn seremoniële staatshoof in die vorm van ’n staatspresident voorsiening gemaak. Die staatspresident is vir ʼn termyn van sewe jaar verkies. Daar was dus in daardie tyd ’n eerste minister (Hendrik Verwoerd van 1958-1966) en ’n staatspresident. Dit het so gebly tot 1984 toe die poste van eerste minister en staatspresident saamgesmelt het.

Swart is op 31 Mei 1961 as staatspresident ingehuldig en het ná ses jaar afgetree. Hy was tot 11 Desember 1967 in die pos en het daarna op sy plaas, De Aap, gaan bly.

Hy is op 16 Julie 1982 op die ouderdom van 87 jaar oorlede.

Malan-regering

Werd om te weet

Swart het ook sy stempel as joernalis en skrywer afgedruk. Hy het juis aan die toonaangewende Columbia-universiteit in Amerika ʼn diploma in joernalistiek behaal. Hy het ʼn aantal artikels en kortverhale in Afrikaans en Engels vir koerante en joernale geskryf, asook gedigte, liedjies en selfs skoolliedere. Hy het ʼn besondere joernalistieke aanleg gehad en is daarom selfs poste as redakteur aangebied. Hy was op die direksie van die Nasionale Pers en die Voortrekkerpers. Hy het ook twee kinderboeke Kinders van Suid-Afrika (1933) en Die agterryer (1939) geskryf.

Hy was ʼn kranige sportman en in ʼn stadium ʼn goeie rugbyspeler en skeidsregter. Hy het vir jare klubrugby gespeel en was ook sekretaris vir die skeidsregtervereniging. Hy het selfs in Amerika ʼn Suid-Afrikaanse sokkerspan afgerig wat toe ʼn Chinese span in Wisconsin geklop het!

Kritiek teen Swart

Swart is al gekritiseer as gevolg van die rol wat hy gespeel het om ANC-leiers uit die land te verban en die hoogverraadverhore wat tydens sy termyn as minister van justisie plaasgevind het. Hy is ook gekritiseer weens wetgewing wat hy deurgevoer het wat kommunisme onderdruk het. 3

Sy standbeeld by die Universiteit van die Vrystaat is al deur betogende studente beskadig.

Voor die hoofingang van die polisiekantoor op die C.R. Swart-plein in Durban

Woordbank

burgers Lid van ʼn stad of staat.
dominium ʼn Kolonie van ʼn moondheid, maar met volle verantwoordelike bestuur.
goewerneur-generaal Die verteenwoordiger van ʼn koning of koningin as staatshoof van ʼn gebied.
kommunisme Dis ʼn ekonomiese of politieke stelsel waarin die staat alle eiendom, industrieë en ekonomiese instellings besit en beheer en daar probeer word om alle mense gelyk te behandel.
ondergeskik Onder iemand se bevel, van ʼn laer rang of afhanklik wees van iemand.
regering Die bestuur van ʼn land.
republiek ʼn Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
unie Die naam van ʼn verbond of vereniging. Suid-Afrika was van 1910 tot 1961 ʼn unie.
veldslae Geveg tussen vyandelike magte in die veld. 6

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor C.R. Swart

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor C.R. Swart

Konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog

Ou beeldmateriaal uit die argiewe toe die republiek begin is

Ou beeldmateriaal uit die argiewe toe die unie ontstaan het

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 5 September 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024