Vinnige feite

  • Omdat Tulbagh so gewild was onder die bevolking, is sy begrafnis met ʼn paar dae uitgestel om meer mense kans te gee om betyds in die Kaap te kom daarvoor. 5
  • Die Prag-en-Praalwette het onder meer bepaal dat slegs senior handelaars in mooiweer met ʼn oop sambreel in die Kasteel kon ingaan! 1
  • Tulbagh is “Vader Tulbagh” genoem omdat mense hom so baie respekteer het.
  • Carl Linnaeus was ʼn beroemde Sweedse natuurkundige wat bekend staan as die persoon wat die wetenskaplike benaming en klassifikasie van organismes (onder andere diere en plante) ontwikkel het. 6

Ryk Tulbagh was van 1751 af goewerneur aan die Kaap. Hy is oral en deur almal beskryf as vriendelik, saggeaard, regverdig en eerlik in alles wat hy gedoen het. Dit staan egter in skerp kontras met ander gesagspersone van hierdie tyd, aangesien hulle nie dikwels deur hierdie eienskappe gekenmerk was nie. Hy was ʼn baie goeie goewerneur en is ook die bynaam “Vader Tulbagh” gegee omdat mense soveel respek vir hom gehad het. 1

Biografie

Ryk Tulbagh is op 21 Mei 1699 in die stad Utrecht in Nederland gebore. Hy was die oudste seun van Dirk Tulbagh en Catharina Cattepoel. Sy familie en voorgeslagte was almal doodgewone, eerlike mense, en baie van hulle het vir hulle land in oorloë geveg. Baie van sy familie en later jare ook sy eie pa is dood terwyl hulle vir Nederland in oorloë geveg het. Hy was nog klein toe sy ouers van Utrecht na Bergen-op-Zoom getrek het. Hier het hy sy kinderjare deurgebring. Dit was ook hier waar hy skoolgegaan het totdat hy sestien jaar oud was. 2

Tulbagh is op 11 Augustus 1771 oorlede, en hy is onder die vloer van die Groote Kerk begrawe. 1

Groote Kerk

Om erkenning te gee aan die diens wat hy gelewer het, is die dorp Tulbagh meer as dertig jaar na sy dood na hom vernoem. 3

Loopbaan in die Kaap

Ryk Tulbagh het vanaf 1716 vir die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie gewerk. Hy was toe sestien jaar oud.

Die direkteure van die maatskappy het hom Kaap toe gestuur, en in 1716 het hy begin met die lang seereis na die Kaap op die skip Terhorst. Hy was aan die begin ʼn klerk, maar het sy werk so goed gedoen dat hy gou aandag getrek het. Omdat hy so ʼn aangename persoonlikheid gehad het en so pligsgetrou gewerk het, het hy gereeld bevordering gekry. Hy is in 1722 as hoofklerk van die Sekretaris van die Politieke Raad aangestel, en twee jaar daarna is hy bevorder tot Sekretaris van die Politieke Raad.

Paarl, ongeveer 1800

In 1732 het hy die titel Koopman gekry, en in 1739 kry hy die rang van Opperkoopman. Twaalf jaar later volg hy sy swaer – Hendrik Swellengrebel – as goewerneur van die Kaap op. Hy was vanaf 1751 tot 1771 goewerneur aan die Kaap en was ʼn baie goeie goewerneur. 3

Gedurende Tulbagh se tyd as goewerneur het dit finansieel goed gegaan met die koloniste aan die Kaap. Daar is onder andere meer as 1 000 kliphuise gebou – van hierdie huise staan vandag nog in die Bo-Kaap. 1

Kaapse parlement, ongeveer 1872

Belangrike take

Prag-en-Praalwette

Tulbagh is bekend vir die Prag-en-Praalwette wat hy ingestel het. (Prag en praal beteken rykdom of weelde waarmee daar gespog word). Hierdie wette is eers in Batavia ingestel, en die doel daarmee was om te keer dat die amptenare te luuks en swierig leef. Die aantal perde wat voor rytuie ingespan kon word, is byvoorbeeld een van die dinge wat in Batavia beperk is. Vir die Kaap is hierdie wet ʼn bietjie aangepas. Omdat die paaie in die Kaap sleg was, is die aantal perde wat gebruik kon word, nie soveel beperk nie. 4

Hy het die administrasie verander en aangepas. Hy het geen onderdrukking en afpersing deur amptenare toegelaat nie. Geen amptenaar is ook toegelaat om deur privaat handel hul inkomste aan te vul nie. 3

Slegs die goewerneur is toegelaat om ʼn koets te gebruik wat met goud beslaan is en met ʼn wapenskild op die deur. Omdat hy niks van ʼn gespog met duur klere gehou het nie, het hy rokke met ʼn lang sleep verbied. Die gebruik van groot sambrele is ook verbied. 1

Bekamping van pokke

Die bekamping van pokke was een van sy moeilikste take. Die siekte is waarskynlik in 1755 na die Kaap gebring deur ʼn skip wat van die destydse Ceylon (wat vandag Sri Lanka genoem word) gekom het. Die slawe aan die Kaap het gewoonlik die matrose se klere gewas, en dit is moontlik hoe die pokke veral versprei het. Daar is ten minste 2 000 mense aan die Kaap dood aan pokke. 4

Tulbagh het vinnig opgetree en maatreëls afgekondig om die verspreiding van die siekte te verminder. Mense wat gesterf het, moes dadelik begrawe word met die klere wat hulle aangehad het. Alle huise moes silwerskoon gehou word, en huise moes goeie ventilasie gehad het. 5

Hersiening van die slawewette

Tulbagh het in 1754 die slawewette hersien en baie bekend geword daarvoor. In hierdie stadium was daar reeds baie slawe aan die Kaap. Party slawe is goed behandel deur hulle eienaars, maar ander is ongelukkig nie goed behandel nie.

Sommige slawe het in goeie baksteenhuise gebly, maar ander moes in groepe saam in slawehuise bly en op houtbanke slaap. In die platteland het slawe die gesonde kos geëet wat op die plaas verbou is, ander het weer swak kos gekry. Hierdie negatiewe omstandighede was vir Tulbagh ʼn prioriteit. 4

Bydrae tot plant- en dierelewe

Tulbagh het baie belanggestel in die plant- en dierelewe aan die Kaap. Hy het verskeie kere die tuinier wat vir die Kompanjie gewerk het, binneland toe gestuur om voorbeelde van plante en insekte in te samel. Die tuinier se naam was JA Auge. Hierdie voorbeelde wat Auge so ingesamel het, is dan na Europa gestuur nadat die diere eers opgestop is. Tulbagh en Auge het met onder andere die beroemde plantkundige Carl Linnaeus van Swede briewe en kennis uitgeruil oor die plante en insekte wat hulle gestuur het. Om vir Tulbagh dankie te sê vir alles wat hy gestuur het, het Linnaeus een soort van die leliefamilie wat hy ontvang het, na Tulbagh vernoem – Tulbaghia. 4

Carl Linnaeus

Tulbagh Kollege

Woordbank

swierig Spoggerig en besonder mooi; ʼn mens kan sê iemand dra swierige klere.
verbou Kweek; die boer verbou/kweek groente.
weelde Groot gerief en genot/plesier, soos wat jy kry van iets wat baie lekker of mooi en gewoonlik duur is, wat jy nie regtig nodig het nie.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Ryk Tulbagh

Tulbagh se nalatenskap strek verder as sy wette.

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Ryk Tulbagh

Hier onder kan jy in drie minute meer oor Linnaeus se werk sien.

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 November 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024