Vinnige feite

  • Voor briewe gebruik is, is boodskappe mondelings oorgedra.
  • Die oudste posdiens in die wêreld het in die vyfde en vierde eeu v.C. bestaan.
  • Die eerste poskantoor in Suid-Afrika is in 1792 in die Kaap geopen.
Foto: iStock

Die gebruik van ’n posstelsel om boodskappe oor te dra, is reeds vir baie eeue wêreldwyd ’n bekende verskynsel. Hoewel die doel dieselfde bly – naamlik om boodskappe of inligting van een punt na ’n ander te kry – het posdienste baie groot veranderinge ondergaan van die vroegste tye tot vandag.

Oudste posdienste

Mondelinge boodskappe: Die oudste posdiens wat beskryf word, kom uit die Persiese Ryk in die vyfde en vierde eeu v.C. Hierdie posdiens was hoofsaaklik deur die koning gebruik. Boodskappe is meesal mondelings oorgedra en boodskappers op perde is hiervoor gebruik. Waar die afstande baie ver was, het perderuiters in skofte gery. Dit was dus amper soos ’n afloswedren in atletiek, maar hier was die “aflosstok” ’n boodskap. 1

Koeriers: Die eerste keer toe posstukke heen en weer gestuur is, was waarskynlik in die jaar 2400 v.C. in Egipte, asook teen ongeveer 1000 v.C. in China. In Egipte het die farao’s koeriers gebruik om pos uit te stuur. Die oudste posstuk wat vandag nog bestaan, kom ook uit Egipte. Dit is ’n posstuk wat uit die jaar 255 v.C. kom. 1

Koninklike posdiens: In Frankryk is daar teen ongeveer 1600 met ’n gereelde koninklike posdiens begin. In Engeland is daar in 1657 wetgewing ingestel wat die posdiens gevestig het. Al hierdie posdienste was dus onder die beheer van die regerings van dié land. 1

Verskillende soort posdienste oor die wêreld

Posfiets

In die 18de eeu was daar ’n interessante soort posdiens in Engeland. Daar het ’n man op ’n fiets deur die strate van die woongebiede gery en ’n klok gelui. Mense wat briewe wou pos, het dit vir hom gegee. Hierdie man is dan ook die klokluier (bellman) genoem. 1

Koerierdienste

In Italië was daar ’n bekende posdiensfamilie met die naam Thurn und Taxis. Hulle het in die 15de eeu ontstaan en tot laat in die 19de eeu nog dienste gelewer voor die laaste deel van die besigheid verkoop is.

Thurn und Taxis het koerierdienste tussen die groot stede in Noord-Italië gebied. Later het hulle ook in die grootste deel van Wes- en Sentraal-Europa gewerk. Hierdie posdiens het perde gebruik en was te duur vir gewone landsburgers. Slegs welgestelde mense kon hul diens gebruik. 1 Mense wat pos afgelewer het, moes soms in groepe saamry om te verhoed dat hulle beroof of vermoor word. In die jaar 1400 was daar ongeveer 10 000 posafleweringspunte in China en ongeveer 200 000 perde is vir die vervoer van posstukke gebruik. 2

Posduiwe

Posduiwe het hul naam te danke aan die belangrike taak wat hulle gedurende die Eerste- en Tweede Wêreldoorlog moes verrig, naamlik om boodskappe te versprei. Glo dit of nie, maar posduiwe het selfs ook lewens gered deur uit hul hokke op sinkende skepe uitgestuur te word met die skip se koördinate van waar dit in die see lê. Op hierdie manier is hulp ontbied. Dit is amper soos om in vandag se tyd vir ’n maat of jou ouers vinnig via die koördinate op jou foon te laat weet waar jy is.

Daar was selfs posduiwe wat met medaljes vereer is omdat hulle, ten spyte van teëspoed en ontberings, belangrike boodskappe aan die ontvanger besorg het. Posduiwe kom nie sommer per ongeluk by hul bestemming uit nie. Nee, hulle maak gebruik van paaie (nes motors), gebruik die son as kompas en luister baie fyn na infrageluide (baie lae frekwensies wat mense nie kan hoor nie) om hul bestemming te bereik. 3

Posbodes

Die aflewering van posstukke het nuwe werkgeleenthede geskep. Posbodes het te voet of met fietse pos afgelewer. Pos is in posbusse by huise geplaas of selfs persoonlik by huise se voordeure afgelewer.

Die geskiedenis van die posdiens in Suid-Afrika

Die Poskantoorboom

Die heel eerste brief wat in Suid-Afrika met ’n soort posdiens gestuur is, is in ’n skoen gesit en aan ’n boom opgehang waar Mosselbaai vandag is. Dit was in die jaar 1501. Hierdie boom is naderhand die Poskantoorboom genoem en is in 1938 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Die nuus in hierdie eerste brief was oor die dood van Bartholomeu Dias en is geskryf deur die kaptein van ’n Portugese skip wat deel was van ’n vloot skepe wat vanaf die Ooste op pad terug was na Portugal. Dias was kaptein van een van die skepe in hierdie vloot. Hierdie brief is ’n paar maande later gevind deur Joao da Nova wat na die Ooste op reis was. 1

Poskantoorboom, Mosselbaai

Posklippe

Later is klippe gebruik waaronder briewe geplaas is om nuus te versprei. Skepe van Engeland en Nederland het gereeld om die Kaap gevaar. Hulle het begin om briewe onder klippe langs die riviere en fonteine waar hulle vars water gekry het, te laat. Op só ’n klip is die naam van die skip, die kaptein se naam, die datum en ook die plek waarheen die skip op pad was, geverf of uitgebeitel. Hierdie briewe is deur die bemanning van volgende skepe teruggeneem na hul land en so is nuus van skepe wat lank op see was, teruggestuur na die lande waarvandaan hulle gekom het. 1

Briewe is in ’n loodbuis of in ’n seildoek geplaas om hulle droog gehou. 3

Sulke posklippe is in die Skiereiland en ook in Plettenbergbaai en Mosselbaai gevind. Dit word vandag in die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Kaapstad bewaar. 1

Poskoets

In 1801 was daar ’n weeklikse poswadiens tussen Kaapstad en Simonstad en teen 1806 ’n soortgelyke diens tussen Kaapstad en Stellenbosch.

Teen 1838 het perdewaens ’n posdiens tussen Kaapstad en Wynberg gelewer. Hierdie was gewoonlik gewone perdewaens, sonder enige vere of skokbrekers.

Ander rytuie wat vir dié doel gebruik was, was die Kaapse perdekar, die Hansom Cab en ’n groot verskeidenheid ander rytuie.

Die Red Rover Royal Mail Coach Maatskappy het reeds in 1844 koetse in die Kaap gebruik en ’n poskoetsdiens tussen Port Elizabeth en Grahamstad ingestel. In die 1870’s het die firma Cobb ’n gereelde posskoetsdiens vanuit Port Elizabet bedryf.

Die goue era van die poskoets het geduur vanaf ongeveer die ontdekking van diamante tot ná die ontdekking van goud. Teen 1893 het 16 toonaangewende koetsmaatskappye daaglikse vervoer met 75 koetse op voorafbepaalde ritte en op vasgestelde roetes in Suidelike Afrika verskaf.

Benewens posskoetse was daar ook ‘n verskeidenheid ander rytuie wat van die vroegste tye pos en passasiers vervoer het 4. Die Zeederberg Coach Company was ‘n Suid-Afrikaanse poskoetsdiens wat gedurende die laat 1800’s en vroeë 1900’s in werking was. Hierdie posmaatskappy is gestig deur die vier Zeederberg-broers, naamlik Lewis, Pieter, Roelof en Christiaan, wat van Sweedse afkoms was. 5

Eerste poskantoor

Die eerste poskantoor is in 1792 in die Kaap geopen. Daar het een posmeester en een posbode by hierdie eerste poskantoor gewerk. 1 Die naam van die posmeester was Adriaan Vincent Bergh en die briewebesteller se naam was Aegidius Benedictus Zuurvogel. 3

Die eerste posdiens

In 1805 is die eerste posdiens in Suid-Afrika gestig. Aanvanklik is die posstukke deur boere van distrik tot distrik vervoer en vanaf 1807 is perderuiters gebruik. Pos is van Kaapstad na Stellenbosch vervoer en van daar af verder na die Paarl en Swellendam. Van Swellendam af het lede van die Khoi-gemeenskap pos per voet na Graaff-Reinet en Uitenhage geneem. Teen 1838 was daar 22 poskantore wat elkeen sy eie posmeester gehad het. 1

Seeposdiens

In 1815 is daar met ’n maandelikse posdiens met skepe tussen Kaapstad, Engeland, Mauritius en Indië begin. In 1825 het stoomskepe tussen Kaapstad en Engeland begin vaar en pos is toe met die stoomskepe vervoer. Hierdie skepe se reis tussen die Kaap en Engeland het 58 dae geduur. 1

Lugposdiens

Die eerste lugposdiens het in die 1920’s in Europa ontstaan. Hierdie diens het pos natuurlik baie vinniger as die skepe vervoer. In Suid-Afrika is die eerste binnelandse lugposdiens in 1925 tussen Kaapstad en Durban ingestel. In 1932 is die eerste lugpos tussen Kaapstad en Londen ingestel. 1

Eerste koeverte

Die eerste koeverte is gemaak van lap en van dierevelle. Die Babiloniërs het hul boodskappe in dun klei toegedraai en dit daarna gebak. Hierdie “koeverte” is ongeveer sover terug as in 3200 v.C. gebruik. Papierkoeverte is in China ontwikkel waar papier in die 2de eeu v.C. gemaak is. 2

Die gebruik van posseëls

’n Seël is ’n stukkie papier met gom aan die agterkant wat op ’n brief geplak word. Daarmee betaal mens die koste van die vervoer van daardie brief. Die meeste seëls is reghoekig, maar daar is ook vierkantige seëls. Suid-Afrika het in 1853 selfs ’n seël in die vorm van ’n driehoek begin gebruik – die eerste driehoekige seël ter wêreld. 6 In 1840 is daar in Engeland begin om betaling vir posdiens deur die verkoop van seëls te doen. Posseëls is vanaf 1849 in Frankryk gebruik. 1

Die eerste posseëls is in 1853 na Suid-Afrika ingevoer.

Posseëls is later ook in die ander provinsies gebruik: Natal (vanaf 1857), Oranje-Vrystaat (vanaf 1869) en Transvaal (1870). 1 Ongeveer elke 5 tot 7 jaar het daar in Suid-Afrika ’n nuwe reeks seëls verskyn. So ’n reeks sou ’n tema hê waarin daar byvoorbeeld blomme, diere of gebeurtenisse in die verskillende geldwaardes van die seëls verskyn het. Deur die jare het die geldwaardes van seëls gestyg soos dienskoste duurder geword het. In 1949 was daar seëls met ’n waarde van so min soos ’n halwe pennie (voor die geldstelsel van Suid-Afrika van pennies, sjielings en ponde oorgeskakel het na rand en sent). Die eerste seëls met rand en sent-waardes het in 1961 verskyn, toe daar seëls verkoop is wat ’n halfsent gekos het!

Die poskantoor het ook dikwels seëls gebruik om mense van ’n belangrike saak bewus te maak. In 2015 is, byvoorbeeld, ’n reeks van ses seëls uitgereik om aandag op wildstroping te vestig. Ses bedreigde spesies – waaronder die swartrenoster – is op hierdie seëls gedruk. Talle van hierdie temas is deur die jare op seëls gebruik. 7 Byna elke onderwerp waaraan mens kan dink, word op seëls uitgebeeld: oorlog, natuur, wetenskap, sport, politieke leiers, geskiedenis, kuns, argitektuur en baie meer.

Seëlversameling

Die poskantoor se gebruik van posseëls het gelei tot ’n stokperdjie wat deur die jare baie gewild was – die versamel van posseëls. Versamelaars het bymekaargekom om seëls te koop, verkoop en uit te ruil. Enkelseëls is versamel, maar versamelaars het ook, onder meer, die volgende versamel: Miniatuurvelle waarop die seëls in klein vorm gedruk is en herdenkingskoeverte wat ’n spesiale gebeurtenis herdenk het. Dit was nie alleen ’n baie gewilde stokperdjie nie, maar van die seëls is teen baie hoë pryse gekoop en verkoop. Hierdie pryse het natuurlik afgehang van hoe skaars die betrokke seël(s) was.

Seëls waarop daar ’n drukfout was, het ook dikwels hoë pryse gehaal. In Desember 2021 is ’n seël wat in 1967 gedruk is en waarop daar ’n aalwyn verskyn, vir R18 500 te koop aangebied! Hierdie seël het ’n drukfout op hom gehad en daarom was die prys so hoog. 5 Hoewel die gebruik van posseëls vandag nie meer so algemeen en gewild is soos jare gelede nie, is daar steeds baie mense wat seëls versamel.

Die posstelsel vandag

Posstelsels het deur die jare en veral in die afgelope jare baie verander. Kommunikasie het byna heeltemal geskuif van boodskappe op papier na elektroniese kommunikasie. Vandag gebruik mense e-pos en sosiale media om met mekaar te kommunikeer en om boodskappe te stuur.

In Suid-Afrika het ander besighede ook funksies van die poskantoor begin oorneem. So is daar vandag heelwat ander besighede wat pakkies oor die land aflewer. Hierdie diens word lankal nie meer deur slegs die poskantoor gelewer nie.

Jare gelede was daar in byna elke dorp in Suid-Afrika ’n poskantoor, hoe klein die dorp ook al was. Dit het drasties verander aangesien baie poskantore gesluit het.

Woordbank

farao’s Die naam wat vir konings in Egipte gebruik is.
filatelie Die versameling van seëls.
welgestelde ’n Persoon wat baie geld het.
wildstroping Onwettige jag van wild wat kan veroorsaak dat wildsoorte uitgeroei word.

Klik op hierdie skakels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Februarie 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024