Vinnige feite
- Die woord fossiel kom van die Latynse woord fossus wat “opgegrawe” beteken. 6
- Het jy geweet dat daar op die berg Everest, die hoogste berg in die wêreld, fossiele gevind is? Dit is ʼn bewys dat die grootste deel van die aarde in ʼn stadium onder water was! 25
- Die grootste fossiel van ʼn dinosourus tot nog toe (genaamd Argentinosaurus) is in Argentinië in Suid-Amerika gevind. Dit was ʼn reusagtige 34 m groot! 26
- Dit kan soms dekades neem om ʼn fossiel versigtig uit te grawe. In 1989 het William Zinsmeister ʼn fossiel op die Seymour-eiland naby Antarktika gevind. Dié fossiel, wat soos ʼn seemonster lyk, het 15 ton geweeg. Spanne kon net vir kort tydperke werk en ook net wanneer daar geld was. Die fossiel is eers in 2017 finaal opgegrawe. 27
- In 2018 het Eva Hoffman en Timothy Rowe ʼn skedel van ʼn dinosourus saam met 38 kleintjies gevind. Geen moderne soogdier kan 38 babas op een slag hê nie. 28
- Selfs in die oertye was daar lastige insekte soos muskiete en vlooie. In 2017 het navorsers bewys dat selfs dinosourusse vlooie gehad het! 19
- Toe Robert Plot die eerste dinosourusbeen in 1676 gevind het, het hy gedink dit behoort aan stokou reuse. 29
- Die hoogste enkele fossiel is ʼn versteende boom van 73 m wat in Thailand gevind is. Dit is amper agt verdiepings hoog! 30
- Wetenskaplikes glo dat sommige dinosourusse, soos die Apatosaurus, tot 300 jaar oud geword het. 31
- In 2012 het Ray Stanford ʼn rots in Nasa (die Amerikaanse ruimteagentskap) se parkeerterrein gevind wat baie soos die voetspore van dinosourusse gelyk het. Met verdere ondersoek het wetenskaplikes besef dat dié 100 miljoen jaar oue rots net ʼn klein gedeelte was van ʼn groter rots met dosyne voetspore van oeroue diere. 32
- Sowat 75% van die wêreld se plante en diere is glo op een dag dood (uitgewis) toe ʼn asteroïed die aarde getref het. 21
Die aarde se geskiedenis is fassinerend (baie interessant) en strek oor miljoene jare. Dink hoe wonderlik sou dit wees as ons in ʼn tydmasjien kon terugreis en die tyd verken en beleef toe dinosourusse die aarde vol (of plat!) geloop het! Wel, ʼn tyd toe nie net dinosourusse nie, maar honderde ander soorte plante en diere op ons planeet bestaan het – van reusagtige reptiele tot piepklein organismes – waarvan die meeste vandag nie meer op aarde voorkom nie.
Daar bestaan dalk nie ʼn tydmasjien om die horlosie eeue terug te kan draai nie, maar die natuur is vandag propvol sleutels (leidrade), oftewel spesiale klippe of fossiele, wat elkeen ʼn unieke storie het. Dié fossiele is byna net soos ʼn tydmasjien, want dit vertel ʼn besonderse verhaal van wat eeue gelede op aarde gebeur het, waar sekere plante en diere voorgekom het, én selfs hoe hulle gelyk het. Dis amper soos ʼn foto of afdruk wat in klip of rots vasgevang (verewig) is!
Dink só daaraan: As jy jou handafdruk in nat sement sou maak, sal dié sement uiteindelik droog en kliphard word, en sal jy oor ʼn klomp jare van nou af vir jóú kinders kan wys hoe jou hand gelyk het toe jy nog op skool was!
Net soos jou handafdruk in die sement behoue (bewaar) bly, net so het honderde plant- en diersoorte (of dele of afdrukke daarvan) vir miljoene jare as fossiele behoue gebly. As ons vandag dié fossiele bestudeer, is dit amper soos om deur ʼn stokou fotoalbum te blaai.
Hoe word fossiele gevorm?
Het jy al gesien hoe ʼn dooie voël in die veld deur hiënas en insekte geëet word? Die wind waai die vere weg en ná ʼn rukkie is daar nie eens meer ʼn geraamte (skelet) oor nie. Hierdie opbreek of tot niet gaan van ʼn lewende organisme (soos diere of plante) deur verrotting, word ontbinding genoem. 1
Soms gebeur dit dat ʼn organisme nié ontbind nie, maar begrawe word (onder die grond wegsak) op ʼn manier wat keer dat dit verder ontbind of verrot. Hierdie oorblyfsels van ʼn organisme kan oor miljoene jare in fossiele verander. 2
ʼn Fossiel is dus ʼn oorblyfsel of afbeelding (amper soos ʼn afdruk) van ʼn dooie dier of plant wat in rotse en klippe gevind word. 3
Fossilering is die proses hoe fossiele gevorm word, en dit kan op verskillende maniere gebeur. Fossilering wat nie die voorkoms (hoe dit lyk) van die organisme verander nie, behou die vorm van die dooie dier of plant. Met hierdie soort fossilering bly selfs die sagte of vleesagtige gedeelte van die dier of plant behoue. Hierdie soort fossilering vind plaas wanneer die organisme byvoorbeeld in sneeu of natuurlike teer beland en heeltemal bedek word. 4
Amber is ʼn voorbeeld van fossilisasie waar die volledige (hele) organisme behoue gebly het. Veral insekte word op hierdie manier gefossileer wanneer hulle in boomgom of -sap vasgevang word. Die gom vorm ʼn beskermende laag om die insek. Oor baie jare word hierdie gom kliphard en verander in amber. Die insekte lyk asof hulle gister nog rondgevlieg het, maar is inderwaarheid miljoene jaar oud! 5
Daar is min fossiele wat in hul geheel behoue bly. Die meeste fossiele ondergaan een of ander soort verandering tydens fossilering.
Tydens die proses van verstening of petrifikasie het die fossiel dieselfde vorm as die oorspronklike objek (voorwerp), maar versteen (word baie hard, net soos sement of beton) in die vorm van ʼn klip of ʼn rots.
Kom ons gebruik die voorbeeld van ʼn dinosourus om hierdie proses te verduidelik: 6
- Lank, lank gelede sterf ʼn dinosourus langs ʼn rivierbedding.
- Die vleis van die dooie dinosourus ontbind deur verrotting en die dele van die karkas (die dooie lyf van die dier) wat oorbly, word deur ander diere en insekte opgevreet. In hierdie stadium is net die harde dele van die dier, soos die geraamte (skelet) en tande, oor.
- Toe kom daar vloede (groot hoeveelhede bewegende water wat byvoorbeeld deur reën of ys wat smelt, veroorsaak word) en die dinosourus-karkas word deur lae sand en modder bedek. Dié lae sand en modder word sediment genoem en vorm sedimentêre lae.
- Oor duisende jare vorm daar nóg sedimentêre lae bo-oor die karkas. Die gewig van hierdie lae veroorsaak dat alles só styf inmekaar gedruk word, dat dit rotse vorm.
- Water, wat minerale bevat, vul elke gaatjie van die dooie organisme. Oor tyd verander die minerale die organisme in kalkklip of sandsteen. 1
Karbonisering is weer wanneer al die dele van ʼn lewende organisme oplos en net koolstof agterbly. Onder hoë druk en hitte verander verrotte plant- en dieroorblyfsels in steenkool. Karbonisering is dus wanneer die organisme aan baie hoë temperatuur en druk blootgestel word. Net die buitelyne van die organisme bly agter. 7
Waar word fossiele meestal gevind?
Nou wonder jy seker wat van die dinosourus geword het wat langs die rivierbedding doodgegaan het en of mense hom dalk weer sal of kan vind.
Fossiele is al op elke kontinent op aarde gevind, maar daar is plekke waar die omgewing die vorming van fossiele makliker maak (soos woestyne, riviere en berge). Die meeste fossiele word in die rotsagtige gedeeltes van die aardkors gevind. Veral in sedimentêre rotslae waar groot massas water soos riviere, mere en binnelandse oseane was. 8
Sedimentêre rotse word gevorm deur lae modder en grond wat oor honderde jare bo-op mekaar gesit (afsettingsgesteentes) word of gespoel het. Die lae modder en grond word oor die jare hard om rotse te vorm. Fossiele sal meer waarskynlik in rotslae van kalk- en sandsteen gevind word omdat hierdie soort rotse makliker verweer. Die rotse word deur water en wind geërodeer (fyner gemaak) om die fossiele wat in die rotse vasgehou was, te ontbloot. 8
Fossiele word baie min in stollingsgesteentes, wat deur hoë hitte gevorm word, of metamorfiese gesteentes, wat deur hitte en druk gevorm word, gevind. Die oorblyfsels van die dooie organismes sal selde hierdie toestande kan deurstaan sonder om vernietig te word. 8
Soms verander die dier of plant glad nie in steen (klip of rots) nie, maar word dit bewaar dat dit lyk soos die lewende dier lank terug gelyk het. Hierdie vorm van fossilering vind plaas wanneer die organisme in boomgom, ys of teer vasgevang word. 2
Soorte fossiele
Daar is baie verskillende soorte fossiele, maar dit kan in twee hoofkategorieë verdeel word, naamlik liggaamfossiele en spoorfossiele. 1
Liggaamfossiele
ʼn Liggaamfossiel wys vir ʼn mens die vorm van die plant of dier se liggaam of ʼn deel van die liggaam. Dit is gewoonlik net die harde dele van die skelet soos die skulp of die bene (geraamte) wat behoue bly. Die sagte weefsel soos die vel, organe en spiere verrot weg. 9
Behalwe vir fossiele wat heeltemal of ten volle behoue gebly het tydens bevriesing of wanneer hulle in amber vasgevang (gefossileer) is, is gietvorms of afgietsels ook liggaamfossiele. 8
ʼn Gietvorm (“mold”) is ʼn fossiel waar die harde dele van die organisme ook ontbind het en net die vorm (amper soos buitelyne) van die dooie dier of plant in ʼn rots agterlaat. ʼn Eksterne (iets wat aan die buitekant is) gietvorm is byvoorbeeld die buitekant van ʼn skulp. 9
ʼn Afgietsel (“cast”) is wanneer die gietvorm met minerale of sediment gevorm word. Dit kan op ʼn natuurlike manier gebeur, maar soms sal wetenskaplikes ook gips in die gietvorm gooi om meer inligting oor die fossiel te kry. 8
Spoorfossiele
Spoorfossiele wys nie vir ons hoe ʼn oeroue dier of plant gelyk het nie, maar dit gee vir ons wel leidrade oor die beweging, aktiwiteite of gewoontes van ʼn organisme. ʼn Spoorfossiel kan byvoorbeeld voetspore, vere of afdrukke van ʼn dier se vel wees. ʼn Afdruk van ʼn dinosourus se spore wys byvoorbeeld nie hoe die dier gelyk het nie, maar ʼn mens kan uit dié spore aflei hoe groot die dier was en hoe vinnig dit dalk geloop het. 10
Voorbeelde van spoorfossiele by plante is afdrukke van veral wortels, asook stamme of stingels. Plante se spoorfossiele gee vir ons meer inligting oor waar die spesifieke plante voorgekom het. 11
Hoekom is fossiele belangrik?
Deur uit te vind of te bepaal watter plante tydens ʼn sekere tydperk op die aarde gegroei het, kan wetenskaplikes uitwerk hoe die klimaat (weerstoestande) tydens daardie tydperk of in daardie jare was. Ons weet byvoorbeeld vandag wanneer daar ystydperke was (toe die hele aarde vir duisende jare met ys bedek was), en wanneer dit warmer en droog was, alles danksy die inligting wat uit fossiele verkry is! 1
Fossiele verklap ook hoe diere lank terug geleef het. Deur die fossiele van plante en diere te bestudeer, kan wetenskaplikes inligting kry oor hoe die organismes gegroei het, wat hulle geëet het, die omgewing waarin hulle geleef het en selfs hoe hulle teenoor mekaar opgetree het. Deur die fossiele van ʼn dier se ontlasting te bestudeer, kan ons byvoorbeeld uitvind wat dié dier geëet het. 1
Die olie en selfs gas wat gebruik word vir energie (elektrisiteitsopwekking) en in die vervaardiging van plastiek, kom in spesifieke rotslae voor. Aangesien fossiele ʼn aanduiding kan gee van hoe oud verskillende rotslae is, kan dit vir mense weer ʼn aanduiding gee waar olie en gas gevind kan word. 12
Hoe word fossiele uitgegrawe en bewaar?
ʼn Paleontoloog is ʼn wetenskaplike wat die geskiedenis van lewe op aarde bestudeer deur gebruik te maak van die inligting wat hy of sy deur fossiele kry. Fossiele sluit enigiets van korale tot dinosourusse, die afbeeldings van visse of die versteende voetspore van soogdiere in. 13
Fossiele lyk nie altyd so mooi soos ʼn mens dit op foto’s of in ʼn museum sien nie. Dit moet baie versigtig hanteer word om te keer dat geen skade aan die fossiel aangerig word nie. Die eerste stap is om seker te maak dat daar nie nog ʼn gedeelte van die fossiel onder die grond begrawe is nie. Hierna word die fossiel versigtig verwyder met dun naalde, beitels en bore soos wat tandartse gebruik. Daar is ook chemikalieë wat gebruik kan word om die fossiel onbeskadig uit ʼn rots te verwyder. Hierna word ʼn spesiale gom gebruik om die fossiel hard te maak voor dit uit die rots gehaal word. Laastens word daar ʼn gipslaag rondom die fossiel gemaak om seker te maak dat die fossiel veilig en sonder enige skade na die museum of laboratorium gestuur kan word. 14
Een van ʼn paleontoloog se belangrikste take is om die soort fossiel te identifiseer. ʼn Paleontoloog kan dit doen deur die oorblyfsels van die fossiel te vergelyk met die volledige voorbeeld van fossiele wat reeds geïdentifiseer is. As daar ooreenkomste is, kan dit gebruik word om die fossiel te rekonstrueer (te herbou of herstel). Indien daar geen ooreenkomste met ʼn bestaande fossiel is nie, kan dit beteken dat ʼn nuwe spesie (soort plant, dier of organisme) ontdek is. Hierdie “modelle” van ʼn geraamte word dan gebruik om die geraamte in ʼn natuurlike houding op ʼn plastiek- of staalraamwerk te bou soos paleontoloë dink die dier sou gelyk het. Dit word dan dikwels in museums uitgestal om ons ’n kykie na die geskiedenis oor duisende jare gelede te gee. 13
Fossiele in Suid-Afrika
Suid-Afrika is wêreldbekend vir sy ryk fossielskatkis. Oor die hele land het ons fossiele van mense, diere en plante wat van die oudste ter wêreld is. Hier is waar jy sommige van hulle te siene kan kry:
Vroegste vorm van lewe
Van die oudste fossiele in die wêreld is in die rotse van die Makhonjwa-berge naby Barberton in Mpumalanga gevind. Hierdie plek word die Genesis van die Lewe genoem. Net soos die Bybelboek Genesis die skeppingsverhaal vertel, gee hierdie fossiele meer inligting oor die ontstaan van lewe op aarde. Die fossiele hier word mikrofossiele genoem, want hulle is net sowat 4 millimeter groot, maar die meeste is kleiner as 1 millimeter! 15
Die fossiele in Barberton is ʼn voorbeeld van bakterieë wat duisende jare oud is. Bakterieë is organismes wat net uit een sel bestaan. 16
Oudste plante
Grahamstad in die Oos-Kaap is bekend vir die oudste en van die bes bewaarde fossiele van die vroegste plante in die wêreld. Die Glossopteris, soos die een plant byvoorbeeld genoem word, is in rotse in Suid-Afrika én Suid-Amerika gevind. Dit het aan wetenskaplikes bewys dat die aarde se kontinente lank gelede alles aan mekaar vas was (een groot kontinent)! 1
Dinosourusse
Terapodes is ʼn groep tweepotige dinosourusse wat drie tone aan elke poot gehad het. Die meeste terapodes was karnivore wat van vleis geleef het. Wetenskaplikes het altyd gedink die dinosourusse wat tot die terapodes-groep behoort, was ongeveer 3 tot 5 meter lank. Terapodes-voetspore van 57 cm lank en 50 cm breed is egter in 2017 in die Maluti-berge in Lesotho gevind. Hierdie enorme voetspore het bewys dat hierdie reusediere wat die aarde bewandel het en ongeveer 8 tot 9 m (of twee verdiepings) hoog in hul spore gestaan het! 17
Soogdieragtige reptiele
Reptiele was lank voor soogdiere op aarde. Bewyse van ʼn spesie tussen soogdiere en reptiele – as’t ware ’n tussenspesie – is in die Karoo in die Noord– en Wes-Kaap gevind. Die wetenskaplike naam vir hierdie tussenspesie is therapsids. 1 Het jy geweet die Karoo het nie altyd gelyk soos die droë landskap wat ons vandag ken nie? Miljoene jare terug was die Karoo soos ʼn binnelandse meer met ʼn groot verskeidenheid plante en diere. Meer as 30 000 fossiele is oor die jare in hierdie gebied gevind en daar lê nog baie wat wag om ontdek te word. 18
Die gebied is wêreldbekend vir die leidrade wat dit oor die evolusie van mense, diere en plante bied. Een van die grootste ontdekkings van hoe organismes van reptiele na soogdiere verander (evolueer) het, is die ontdekking van die Eunotosaurus. 18
Die Eunotosaurus africanus was ʼn klein reptiel met die eienskappe van ʼn soogdier. Wetenskaplikes glo dat hierdie fossiel van ongeveer 250 miljoen jaar terug die primitiewe voorouer van vandag se skilpad is. 19
Lewende fossiele
Daar is nie werklik iets soos ʼn lewende fossiel nie, want ʼn fossiel is gewoonlik miljoene jare terug dood. Dié term word egter wel vandag gebruik om na ʼn dier, plant of organisme te verwys wat oor miljoene jare nie baie verander het nie, en nog steeds hier is. 20
Wetenskaplikes het fossiele van die selakantvis in Engeland en Duitsland bestudeer en geglo dat hierdie vis al byna 70 miljoen jaar terug uitgesterf het. Hulle was egter verkeerd. In 1938 is ʼn selakant naby Oos-Londen in die Oos-Kaap gevang. Wetenskaplikes van oor die hele wêreld het na Suid-Afrika gestroom, want hulle kon nie glo dat daar ʼn lewende selakant is nie! 21
Daar is steeds selakante wat nog leef (hulle bereik eers op 55 jaar volwassenheid) en swem sowat 800 meter diep in die see. Die een spesie kom aan die ooskus van Afrika voor en die ander groep naby Indonesië. Wetenskaplikes het onlangs ook uitgevind dat ʼn wyfie (vroulike selakant) amper vier jaar swanger kan wees, 110 kg swaar kan word (weeg) en amper 100 jaar oud kan word. 21
Geboorteplek van die mens
Suid-Afrika is nie net die plek waar fossiele van diere en plante gevind is nie. Wetenskaplikes glo dat Maropeng (net buite Johannesburg in Gauteng), ook genoem die Wieg van die Mensdom, die plek is waar die mens se oorsprong lê. 1 Maropeng is in 1999 deur Unesco as ʼn Wêrelderfenisgebied verklaar, wat beteken dat daardie plek só belangrik is dat dit vir die hele wêreld se mense beskerm en bewaar moet word. 22
By die Wieg van die Mensdom is daar ten minste 1 000 fossiele gevind van voormense wat bestaan het nog lank voordat óns daar was. Dié vondste is op vyftien plekke in die omgewing gemaak. Die fossiele van die bekende “Mrs Ples” en “Little Foot” is albei by Maropeng saam met duisende mensagtige (hominiede) fossiele – voorgangers van die mens – gevind. 1
Fossiele is miljoene werd!
Dit is deesdae mode vir ryk mense om skelette van dinosourusse te koop. In Julie 2022 het die afslaer Sotheby’s in die Verenigde State van Amerika die volledige skelet van ʼn Gorgosourus-dinosourus vir $6,1 miljoen (meer as R110 miljoen) verkoop. Die skelet is ongeveer 3 m hoog en 7 m lank. 23
Die duurste dinosourus-skelet wat tot dusver verkoop is, is Stan, ʼn T-Rex. Van die vyftig T-Rex’e op aarde is hierdie skelet werklik besonders. Dit is amper 4 m hoog en 12 m lank, met tande wat byna so lank soos ’n liniaal (27 cm) is. Die skelet bestaan uit 188 bene en net 30% daarvan is gebruik om die geraamte vas te hou. Dit is dus geen wonder nie dat Stan teen $31,8 miljoen (amper R600 miljoen) verkoop is! 24
Woordbank
afgietsel | Beeld deur giet vervaardig; vormafdruk. |
afbeelding | Beeld van iets wat werklik bestaan (het). ʼn Fossiel is nie die werklike dier of plant nie, maar net ʼn beeld (afbeelding) daarvan. |
amber | ʼn Klewerige, geelbruin, deurskynende stof van ʼn boom (soos boomgom). Hierdie stof word oor die jare hard en verander in amber. |
bakterie | ʼn Bakterie is ʼn organisme wat net uit een sel bestaan. Dit is só klein dat dit net met ʼn mikroskoop gesien kan word. |
dinosourusse | Enige dier wat deel is van ʼn groep uitgestorwe reptiele. |
geërodeer | Stadig wegvreet, verweer; erosie veroorsaak. |
evolusie | Die ontstaan van plant- en diersoorte uit ouer vorme. |
fassinerend | Baie interessant. |
fossiele | ʼn Oorblyfsel van ʼn dier of plant wat in die gesteentes van die aarde bewaar gebly het. Dit moet ouer as 10 000 jaar wees voor dit ʼn fossiel genoem kan word. |
fossilering | Die proses waardeur ʼn dooie organisme ʼn fossiel word. Gefossileerde geraamtes uit die oertydperk. |
hominiede | Lid van die familie soogdiere van die orde primate waartoe die mens behoort. |
karbonisering | Die proses waardeur ʼn organisme in koolstof verander en ʼn fossiel word. |
karkas | Dooie lyf van ’n dier. (As ’n mens doodgaan, praat ons van ’n lyk.) |
koolstof | ʼn Chemiese element wat byvoorbeeld in steenkool, diamante, ens. voorkom. |
meer | Binnelandse water wat groter is as ʼn dam, maar kleiner as die see. |
metamorfiese |
Gedaanteverwisseling/struktuurverandering, transformasie. |
ontbind | Wanneer iets vrot tot daar niks van dit oor is nie. |
organismes | Enige lewende wese. |
primitiewe | Wat tot die vroegste stadium van die evolusionêre ontwikkeling behoort. |
rekonstrueer | Herskep, herbou; herstel tot oorspronklike vorm. |
reptiele | ʼn Kruipende dier met koue bloed en wat met skubbe bedek is. |
sediment | Rots wat gevorm is deur lae sand, modder en klein stukkies rots. |
skedel | Die bene van ʼn kop, ʼn kopbeen. |
soogdiere | Diere wat ʼn ruggraat (werwelkolom) het en wat bedek is met hare. Hul kleintjies word lewendig gebore en gesoog (met melk van die ma gevoer). |
spesie | Onderafdeling van ʼn groep plante of diere. |
Unesco | Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation) 36 is ʼn onderdeel van die Verenigde Nasies wat 195 lande se samewerking op kulturele, opvoedkundige en wetenskaplike terrein bevorder. Suid-Afrika het tien plekke wat as wêrelderfenisgebiede verklaar is. 37 |
verstening | Verander tot klip, verhard. |
verrot |
Tot ontbinding oorgaan. Diere en plante ontbind of verrot (vrot) as hulle doodgaan. |
vondste | Iets wat gevind word, ʼn ontdekking. Verskil van die woord “fonds” wat geld beteken. |
voormense | Mense van jou familie wat voor jou geleef het. Jou voorgeslag. |
wetenskaplikes | Kenners van ʼn spesifieke studieveld. Paleontoloë is byvoorbeeld wetenskaplikes wat baie van fossiele weet. 33 |
Lees hierdie om meer oor fossiele te leer
- Toets jou kennis oor fossiele
- Daar is fossiele op elke kontinent in die wêreld. Selfs in die yskoue Antarktika.
- Maak jou eie fossiele.
- Só word fossiele gevorm
Kyk hierdie interessante video’s oor fossiele
40% van wêreld se fossiele is in die Wieg van die Mensdom in Gauteng gevind
Die grootste dinosourusfossiel is in Argentinië gevind
Bevriesing is ʼn manier waarop plante en diere sonder verandering gefossileer is
Die oudste diere uit die see