Vinnige feite

  • Meer as 1,3 miljoen mense is in 2022 aan tuberkulose dood. Altesaam 34 miljoen mense is tussen 2018 en 2022 hiervoor behandel 20
  • In die hele geskiedenis van die mensdom is nog net twee siektes heeltemal uitgewis: pokke en runderpes. 21 Tussen 300 en 500 miljoen mense is wêreldwyd aan pokke dood. 22
  • Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is MIV/Vigs ’n baie ernstige siekte waaraan meer as 40 miljoen mense al dood is. Teen 2023 was daar sowat 39 miljoen mense in die wêreld met MIV. 23
  • In 2021 was daar wêreldwyd meer as 240 miljoen gevalle van malaria. Die geskatte getal sterftes weens malaria het in dié jaar op meer as 619 000 gestaan! 24
Foto: iStock

’n Oordraagbare siekte is enige siekte wat tussen mense of diere versprei word. Dit word van een mens na ’n ander (ook van ’n ma na haar baba), of tussen diere, of van diere na mense oorgedra. Mense verwys soms na oordraagbare siektes as “aansteeklike” siektes. 1

Patogene (dit is die kieme wat die siektes oordra) soos bakterieë, virusse, swamme en parasiete veroorsaak oordraagbare siektes. 2 ’n Mens kry gewoonlik ’n oordraagbare siekte as jy met ’n patogeen besmet is. Sodra dié kiem of patogeen in jou liggaam beland, begin hy vermeerder (hy maak sommer baie van homself) en jy begin dan siek voel (simptome ervaar). Sommige simptome is as gevolg van die patogeen wat jou liggaam se selle beskadig en ander gebeur omdat die liggaam se soldate (jou immuunstelsel) jou teen die siekte probeer beskerm. 3

Hoe kry ’n mens ’n oordraagbare siekte? 4

Dit kan gebeur deur: 

  • direkte kontak met ’n persoon wat die patogeen dra;
  • kontak met besmette liggaamsvloeistowwe soos bloed, slym of speeksel;
  • inaseming van besmette druppels van ’n ander persoon (as hy of sy byvoorbeeld hoes of nies);
  • die byt van ’n dier of insek wat die patogeen dra; of
  • besoedelde water te drink of kos te eet. 5

Oordraagbare siektes se simptome is gewoonlik nie baie erg nie en ’n mens voel ná ’n paar dae beter. Sommige siektes is egter baie ernstig en kan lewensgevaarlik wees (jy kan doodgaan).

Wat is die simptome?

Die vernaamste simptome sluit in: 6

  • Koors;
  • diarree;
  • naarheid (jy gooi baie op);
  • moegheid;
  • lyfseer (spierpyn); en
  • hoes.

Jy moet dokter toe gaan wanneer jy:

  • deur ’n dier gebyt is;
  • sukkel om asem te haal;
  • al meer as ’n week lank hoes;
  • erge hoofpyn en ’n hoë koors het;
  • ’n uitslag of swelling kry; of
  • skielik nie meer mooi kan sien nie. 7

Beskerm jouself só:

  • Was jou hande deeglik en gereeld;
  • bly by die huis as jy siek voel;
  • ontsmet oppervlakke tuis, veral deurknoppe en plekke waar jy eet;
  • beoefen goeie higiëne wanneer jy met kos werk;
  • moenie bederfde kos eet nie;
  • maak seker jy kry die inentings (inspuitings) wat daar beskikbaar is om jou teen aansteeklike siektes te beskerm; en
  • neem medisyne teen malaria as julle dalk na ’n plek toe gaan wat ’n malariagebied is.

Van die vernaamste oordraagbare siektes

  • Tuberkulose – Tuberkulose (TB) is ’n aansteeklike siekte wat gewoonlik die longe aantas, maar dit kan enige orgaan in die liggaam aantas. Dit ontwikkel wanneer bakterieë deur druppels in die lug versprei. TB kan dodelik wees, maar in baie gevalle is dit voorkombaar en behandelbaar. Dit is egter een van die top-10-oorsake van dood in die wêreld. 8
  • Masels – Masels is ’n baie aansteeklike virus wat in die neus en keel van ’n besmette persoon voorkom. Die simptome van masels verskyn gewoonlik ongeveer 7 tot 14 dae nadat iemand besmet is en begin met klein wit kolletjies in die mond en dan ’n rooi uitslag op die lyf en ’n baie hoë koors. 9
  • Ebola – Ebola is ’n seldsame maar dodelike siekte wat onder mense en sommige diere voorkom. Die virus kom hoofsaaklik in Afrika suid van die Sahara voor. Mense kan dit kry deur direkte kontak met ’n besmette dier (byvoorbeeld vlermuise, bobbejane, gorillas en sjimpansees) of ’n siek of dooie persoon wat met die ebola-virus besmet is. 10

  • MIV/Vigs – MIV staan vir menslike immuniteitsgebreksvirus 11 en is ’n virus wat die mens se immuunstelsel aanval. Die immuunstelsel is ons liggaam se weermag wat ons teen kieme beskerm. Vigs staan vir verworwe immuniteitsgebreksindroom. 12 Mense wat vir ’n lang tydperk MIV het en wie se immuunstelsel baie verswak het, kan Vigs opdoen. Wanneer iemand Vigs het, is dit moeilik vir die immuunstelsel om infeksies te beveg en die persoon raak baie siek.
  • Malaria – Malaria is ’n aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur ’n parasitiese organisme genaamd plasmodium, en word oorgedra deur muskietbyte. 13 Dit kan nie van een mens na ’n ander oorgedra word nie. Die siekte kom veral in warmer plekke voor waar dit baie reën. Die meeste malariagevalle is in Afrika. 14

  • Marburg – Wetenskaplikes het die Marburg-virus in 1967 geïdentifiseer toe klein uitbrake voorgekom het onder laboratoriumwerkers in Duitsland wat blootgestel was aan besmette ape wat uit Uganda ingevoer is. Die Marburg-virus is soortgelyk aan ebola omdat albei bloedingskoors kan veroorsaak. Dit beteken dat besmette mense hoë koors én bloeding in die liggaam ontwikkel wat kan lei tot skok, organe wat nie meer wil werk nie en dood. 15
  • Rotavirus – Die rotavirus is ’n virus wat baie aansteeklik is en is die algemeenste oorsaak van diarree by babas en jong kinders. As jy deur ’n mikroskoop na die virus kyk, is dit rond. Die Latynse woord vir wiel is “rota”, wat verklaar hoe die virus sy naam gekry het. Die rotavirus veroorsaak ernstige diarree, braking, koors en maagpyn by babas, jong kinders en sommige volwassenes. 16
  • E. coli – Die meeste soorte E. coli is skadeloos en help selfs om ons spysverteringskanaal gesond te hou. Sommige soorte kan egter diarree veroorsaak as jy besmette kos eet of vuil water drink. Terwyl baie van ons E. coli met voedselvergiftiging assosieer, kan jy ook longontsteking en urienweginfeksie van dié bakterieë kry. 17
  • Griep – Griep is ’n virusinfeksie wat die asemhalingstelsel aanval – die neus, keel en longe. 18 Dit kan lig tot ernstig wees, en soms kan dit tot die dood lei. Die beste manier om griep te voorkom, is deur elke jaar ’n griepinspuiting te kry. Tot 650 000 sterftes weens griep word jaarliks ​​aangemeld. 19

  • Covid-19 – Covid-19, of die koronavirus, is die jongste oordraagbare siekte. Dit het in 2019 uitgebreek en gou wêreldwyd versprei. Teen November 2023 is meer as 770 miljoen gevalle wêreldwyd aangemeld en byna 7 miljoen mense het teen dié tydstip hieraan gesterf

Woordbank

besmet Siektekieme oorbring; aansteek.
infeksie Binnedringing van siektekieme, of organismes soos bakterieë/skimmels/wurms ens. wat siekte veroorsaak; besmetting.
lewensgevaarlik Wat lewensgevaar meebring/veroorsaak.
patogeen Wat siekte veroorsaak, soos bakterieë.
spysverteringskanaal Omsetting in die liggaam van voedsel tot stowwe wat deur die bloed opgeneem kan word; digestie.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Oordraagbare siektes

Meer oor oordraagbare siektes

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 November 2021 | Bygewerk op 15 April 2024