Vinnige feite

  • Nonnie de la Rey het twee dagboeke geskryf oor haar ondervinding in die oorlog – die een, Mijneomzwervingen en beproevingen gedurende den oorlog, is in 1903 gepubliseer en die ander een wat sy in ongeveer 1915 geskryf het, is nooit uitgegee nie.
  • In Mei 1902 was Nonnie en haar kinders op ’n plaas tussen Vryburg en Delareyville toe ’n groep Britse soldate daar aankom en haar wa aan die brand wou steek. Sy het kwaai met hulle geraas en gesê dat sy hulle nie gaan toelaat om dit te doen nie. Hulle het toe nie die wa verbrand nie.
  • Die Slag van Tweebosch op 7 Maart 1902 was die laaste groot geveg wat die Boere in die Anglo-Boereoorlog gewen het. 6
  • Die oudste seun van Nonnie en Koos de la Rey het in die oorlog gesterf.
  • Terwyl Nonnie van die Britse soldate gevlug het, het haar man, generaal de la Rey, probeer om soveel as moontlik op feesdae soos Kersfees na haar toe te gaan.

Die meeste van julle ken seker die liedjie “De la Rey” wat die beroemde generaal Koos de la Rey se heldedade gedurende die Anglo-Boereoorlog besing. Maar min mense weet veel van sy ewe dapper vrou, Nonnie de la Rey. Pioniersvrou. Eggenote. Moeder. Opponent van Britse imperialisme. [Lees oor imperialisme.] Volksmoeder. Dit is wie Nonnie de la Rey was. Dít en soveel meer. 1

Grootwordjare

Jacoba Elizabeth (haar noemnaam was Nonnie) Greeff is op 28 Mei 1856 in Tulbagh in die destydse Kaapkolonie gebore, ’n jaar nadat haar ouers in 1855 in Hopetown getroud is.

Sy was die dogter van kommandant Hendrik Adriaan Greeff en Susanna Maria Greeff. Nonnie se pa was ’n wamaker – die vervoer in daardie jare was waens wat met perde en osse getrek is. In vandag se dae sou hy waarskynlik in ’n motorfabriek gewerk het.

Nonnie was skaars drie maande oud toe haar wiegie agterin ’n wa gelaai word en die trek na die Wes-Transvaal begin. Daar lê haar pa die plase Elandsfontein en Doornfontein aan.

Nonnie was tien jaar oud toe sy vir die eerste keer in 1866 skool bygewoon het. Ná sewe maande se onderrig is sy uit die skool gehaal. Haar pa het na alle waarskynlikheid gereken hy kan haar en sy ander kinders beter onderrig as die bejaarde onderwyser wat Nonnie gehad het. 2

Hoewel godsdiensonderrig belangriker as akademiese onderrig (skoolonderrig of geleerdheid) geag is, het sy tog oor basiese geletterdheid (om te kan lees en skryf) beskik, sodat sy in staat was om haar gedenkskrif (lewensverhaal) neer te pen (te skryf).

In dieselfde jaar koop haar pa weer grond, dié slag in Lichtenburg, waar hulle redelik lank gebly het. 3

Maar in 1873 is Lichtenburg as dorp geproklameer op die plaas Doornfontein waar die Greeffs in daardie stadium gewoon het. Greeff het slegs ʼn klein gedeelte van die plaas vir homself uitgehou, maar omdat hy gewoond was aan groot oop ruimtes, het die klein stukkie aarde hom gou ingeperk laat voel, sodat hy weer planne gemaak het om te trek – hy was per slot van rekening ietwat van ’n nomadiese (rondtrekkende) mens.

Greeff het toe die plaas Klipbankfontein, sowat 8 km buite Lichtenburg, vir £500 gekoop en in 1874 met sy gesin daarheen verhuis. Suid-Afrika se geldeenheid in daardie jare was die Britse pond en die plaas moes baie groot gewees het, want £500 was in daardie tyd sommer ’n groot klomp geld.

Mañana, die nuwe naam wat Greeff sy plaas gegee het, is afgelei van die Spaanse woord mañana wat ‘môre’ of ‘daeraad’ beteken. Aan sy kinders het Greeff elkeen 700 morg (± 600 hektaar) grond beloof om so te verseker dat sy kinders naby hom sou bly. 1

Generaal de la Rey tussen sy vrou Nonnie, staande regs, en hulle jongste kinders

Huwelik met Koos de la Rey

Jacobus Hercules (Koos) (1847-1914) is naby Winburg gebore, maar verhuis as jongman saam met sy ouers na die plaas Welverdiend in die latere distrik Wolmaransstad.

Nonnie het Koos ontmoet toe hy vir handelsake na Groot Marico gegaan het. Hy het op pad daarheen by haar pa, wat toe kommandant van Lichtenburg was, aangegaan. Nonnie was toe 18 jaar oud en ’n pragtige meisie met lang donker hare, groot bruin oë en ’n pragtige figuur. Sy was ook heelwat korter as Koos. 1

Generaal Koos de la Rey

Sommer met hierdie eerste ontmoeting al het dié twee jongmense baie van mekaar gehou. Die derde keer toe hulle mekaar gesien het, het Koos besluit om ouers te vra (toestemming van ouers om te trou). Haar ma het dit egter nie goedgekeur nie, maar Koos het hom nie laat afsit nie en het kort daarna ’n brief aan haar geskryf en haar weer om haar hand gevra (om met haar te trou). Sy het die liefdesbrief aan haar ma gewys en tot Nonnie (en Koos) se vreugde het haar ma dié keer ingestem.

Hulle is op Dinsdag 24 Oktober 1876 op Zeerust getroud. In die negentiende eeu was ’n Dinsdag (en nie ’n Saterdag nie!) ʼn gebruiklike troudag. Die huweliksopskop was ’n allemintige tedoe (affêre) en die feesvieringe is op die plaas gehou.

Die jong egpaar het vir sowat ’n maand ná hul huwelik nog by Nonnie se ouers op die plaas Mañana in die Lichtenburg-distrik gebly, maar wou graag onafhanklik op hul eie stukkie grond boer. Hoewel Nonnie se pa geglo het mens moet self hard werk om iets te kry, het hy ʼn wavrag koring aan hulle geskenk waarmee hulle en enkele werkers (vroeër bediendes genoem) na Ventersdorp gegaan het om dit te maal. Met dié meel is hulle verder na Makwassie waar hulle dit verruil het vir skape. Maar dit was steeds te min om hul boerdery mee te begin, en hulle is toe vanweë hul behoeftigheid (gebrek aan geld) na die soutpanne in die gebied wat later as Delarey bekend sou staan.

Om sout te skraap was harde werk, maar met hul wa vol sout is hulle na Kroonstad in die Vrystaat waar hulle nog vee in ruil vir sout gekry het. Met dié klomp vee wat hulle uiteindelik kon besit, is hulle na Welverdiend, die plaas van Koos se vader in die distrik Wolmaransstad. Ná al hul harde werk en vernuf (vermoë om iets reg te kry), het hulle besef hulle kon hul eie boerdery met ʼn honderd skape en ʼn honderd beeste begin. Hulle het egter nie lank by Koos se ouers vertoef nie en is weer vort (weg) na Mañana.

Nonnie se pa was baie in sy noppies (in sy skik/bly) toe sy dogter en skoonseun met al die vee op Mañana aankom. Nonnie en Koos kon nou uiteindelik op hul eie stukkie grond gaan boer – daardie 700 morg (600 hektaar) wat haar vader in 1874 aan haar beloof het. Daar was genoeg saailand en plek vir weiding en vol optimisme (hoopvolheid vir ’n goeie toekoms) het hulle daarheen verhuis.

Daar was ook ’n baie klein en eenvoudige geboutjie op hul eie plaas wat hulle met ’n paar verbeterings in ’n eenvoudige, maar gerieflike woning omskep het. 4

In 1878, vyftien maande ná hul huwelik, is daar ’n dogtertjie (Susanna Maria) vir Koos en Nonnie gebore, die eerste van 12 kinders. 3

Moeilike jare

In die tyd tot en met 1899 het ’n hele paar dinge in Nonnie se lewe gebeur. Die Eerste Vryheidsoorlog het vanaf 1880 tot 1881 plaasgevind en die Anglo-Boereoorlog het in 1899 begin. Haar ma en pa is ook in hierdie tyd oorlede en Nonnie en Koos het na Elandsfontein (die plaas van haar oorlede ouers) getrek en daar gaan bly. 5

Laingsnek

Die Anglo-Boereoorlog

Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het alles in Nonnie en haar gesin se lewe verander. Haar man, Koos de la Rey, het op 4 Oktober 1899 na die oorlog vertrek. Twee van hul seuns, Adriaan (18 jaar) en Jacobus (15 jaar), het saam met hom vertrek om te gaan veg.

Hierdie tydperk in haar lewe kan in twee dele opgedeel word – eers was daar haar en die kinders se lewe op die plaas Elandsfontein in die Lichtenburg-distrik en daarna haar swerfjare saam met haar kinders in die veld.

Elandsfontein

Vanaf Oktober 1899 tot November 1900 het Nonnie en haar gesin op die plaas Elandsfontein gebly. Toe Koos en twee van hul seuns oorlog toe is, moes Nonnie natuurlik alleen agterbly om vir hul kinders te sorg en die plaas bestuur om die boerdery (met die hulp van hul werkers) aan die gang te hou.

’n Paar dae nadat Koos en hul twee seuns vertrek het, het hy vir ’n dag op die plaas gaan kuier. Net ’n paar dae daarna het Nonnie weer by die Boeremagte se laer gaan kuier. Terwyl sy daar was, het die opdrag gekom dat 1 200 van die Boere se soldate na Kraaipan moet vertrek. Met ’n volgende besoek van Nonnie aan haar man en seuns, het sy vir haar seuns die volgende gesê toe hulle moes groet: “Adriaan en Jacobus, hou julle oog altyd op die Here gerig. As ons mekaar nie weer op aarde sien nie, sien ons mekaar in die Hemel.” 6

Boere wat by Elandslaagte gevange geneem is word deur Britse soldate na gevangeneskap gelei

Sy het gereeld nuus gekry oor waar die Boere rondbeweeg en veg.

In Desember 1899 het sy ’n telegram (kort, belangrike/dringende berig wat telegrafies oorgesein word en op ’n telegramvorm geplak word) gekry met die nuus dat hul oudste seun, Adriaan (ook soms Adaan genoem), op 28 November in die Slag van die Twee Riviere (in Engels bekend as The Battle of Modder River) gewond en oorlede is. Voordat hy oorlede is, het sy pa hom 14 km verder na die hospitaal op Jacobsdal gesleepdra. Hulle het eers met dagbreek die volgende dag daar aangekom, maar dit was te laat –  Adriaan het ’n uur later in sy pa se arms gesterf. ’n Paar dae later het Nonnie haar man besoek. De la Rey is self in die slag gewond en Nonnie het hom eers verpleeg voor sy terug is plaas toe.

In hierdie hartseer tyd het sy baie hulp en steun van al haar vriende in Lichtenburg ontvang.

Nonnie het so dikwels as wat sy kon, na haar man se kommando gegaan, maar sy kon nooit lank by hom bly nie omdat hul kinders op die plaas haar ook nodig gehad het.

Op 26 Mei 1900 het Britse soldate Lichtenburg beset. Soldate het ook op die plaas aangekom en die plaashuis geplunder en verniel. Hulle het, onder meer, die perde op die plaas saam met hulle geneem, ook die perd van Nonnie se seun Adriaan. Maar Nonnie wou niks daarvan weet nie en het self na die Britse generaal Archibald Hunter gegaan en hom vertel dat die Britse soldate haar perde gevat het. Hy het toe opdrag gegee dat die perde teruggeneem moet word en ook dat die plaas nie verder verwoes sal word nie. Die soldate het hulle min aan hierdie opdrag gesteur en voortgegaan met die verwoesting en het ook die vee weggeneem.

As gevolg van alles wat gebeur het, het Nonnie toe liewer in die dorp gaan bly om haar en haar kinders veilig te hou.

In Julie is die soldate weg uit Lichtenburg, maar in September 1900 was hulle weer terug.

In November 1900 het lord Methuen met sy troepe na Lichtenburg gekom en soldate gestuur om Nonnie se laaste twee perde te gaan haal. Sy het vasgeskop (geweier om toe te gee) en wou nie die perde oorhandig nie en het gesê dat sy self met Methuen sal gaan praat. Sy het die volgende dag haar lot gaan bekla dat al haar vee reeds weg is en dat sy net die twee perde oor het. Methuen het respek vir hierdie dapper Boerevrou ontwikkel en besluit dat sy die twee perde mag hou. 5

’n Ruk later het Methuen wéér opgedaag omdat hy opdrag gekry het om die plaashuis op Elandsfontein af te brand. Hy het empatie met haar situasie gehad en gesê dat hy een van die geboue op die plaas sal los en nie laat afbrand nie. Dié gebou is wel nie in daardie tyd afgebrand nie, maar die plaashuis is totaal verwoes. 7

Swerfjare in die veld

’n Rukkie ná hierdie gesprek met Methuen, het Nonnie skielik op ’n dag die opdrag gekry dat sy binne ’n halfuur uit haar dorpshuis na Mafeking (vandag Mafikeng) moet trek. Die rede was dat sy haar man in haar dorpshuis laat bly het wanneer hy van die kommando af kom kuier het en dit kon die Britte natuurlik nie toelaat nie.

Sy het ’n baie kwaai antwoord vir die Britse boodskapper gereed gehad om aan lord Methuen oor te dra: “Ja, ek het hom hier laat bly en sal dit nog 500 maal doen as die Here hom spaar… En sê aan lord Methuen dat my man net in goeie reg optree en doen wat hy kan vir sy land.” Sy het bygevoeg dat die Britse soldate se optrede teenoor die Boerevroue en -kinders die Boere net meer vasbeslote maak om oorlog te voer.

“Ek het nie verwag om so sleg behandel te word in die naam van Haar Majesteit nie; as sy dan nie die mans kon onderkry nie, om die stryd teen die vroue voor te sit.” (Die ‘Haar Majesteit’ van wie Nonnie hier praat, is koningin Victoria wat tydens die Anglo-Boereoorlog die koningin van Engeland was).

Nou, verbeel jou dis oorlog, en om te oorleef, verlaat jy jou huis met bitter min goed om saam te neem en klim saam met jou broers, susters en jou ma op ’n spaaider (’n soort perdewa) en ossewa. Daar is nie juis ’n pad of roete of bestemming nie – dis ’n alleentog die wye veld in om weg te kruip vir die vyand sodat julle nie gevang en na die gevreesde konsentrasiekampe geneem word nie. Nee, mens kan jouself nie voorstel hoe dit moes gewees het nie. Maar Nonnie was lankal nie meer die fraai verliefde meisietjie nie, maar ’n sterk, dapper en gelowige vrou en ek is seker dat nie een van haar kinders sou saamgegaan het as hulle nie die volste vertroue in hul moeder se besluite gehad het nie. [Lees meer oor konsentrasiekampe.]

Jong Boervroue wat in die kamp help as assistent verpleegsters

Dus, op 1 Desember 1900 vertrek Nonnie, ses van haar kinders en drie van die De la Reys se getroue werkers uit Lichtenburg. Sy het ’n nog ’n paar melkkoeie, skape en hoenders oorgehad wat sy saamgeneem het. Die jongste van die kinders was maar drie jaar oud en die oudste 15 jaar.

Hulle het egter nie na Mafeking gegaan nie. Nonnie en haar kinders het vir ’n jaar en ’n half in die veld rondgetrek en voor die Britse soldate uitgevlug om te keer dat hulle gevang en na ’n konsentrasiekamp gestuur word.

Soms het hulle by ’n plaashuis gekom waarvan daar nog een vertrek woonbaar was, dan het hulle vir ’n rukkie daar gebly. Een keer het hulle in ’n leë skool gebly en een keer in ’n verlate plaaswinkel. Soms het hulle ook in grotte gebly. En elke keer wanneer hulle nuus kry dat die Engelse naby is of wanneer hulle kanonvuur kon hoor, moes hulle vlug. 6

Dit was glad nie maklik om vir ’n jaar en ’n half elke dag genoeg kos vir so ’n klomp mense te gee nie. Toe die koffie een keer opgeraak het, het Nonnie ’n plan gemaak. Sy het patats in klein blokkies gesny en dit oor die vuur gerooster. Toe het sy ’n kwart hoeveelheid koffie en drie keer soveel patats gemeng, dit gemaal en as koffie gebruik. 6

Toe die seep opraak, het sy gewonder het hoe sy die kinders gaan skoonkry. Toe onthou sy die raad om voëlent (’n soort boomgom) aan die brand te steek en van die as seep te maak. 5

Nonnie en lord Methuen het mekaar weer ’n keer ontmoet. Op 7 Maart 1902 is Methuen in die Slag van Tweebosch gewond en deur die boere gevange geneem. Toe Nonnie daarvan hoor, het sy na die kommando gegaan om hom te besoek. Hy het haar om verskoning gevra dat sy altyd voor die Britse soldate moes uitvlug. Dié Britse bevelvoerder en die Boerevrou het respek vir mekaar ontwikkel en lank nadat die oorlog verby was, was hulle steeds vriende.

Transvaalse burgers gereed vir die stryd

Nonnie het sterk gestaan teen al die uitdagings van hul lewe in die veld. Sy het ook haar kinders versorg en baie kere wanneer sy kon, ook haar man ondersteun terwyl hy besig was om te veg. Terwyl sy so in die veld rondgeswerf het, het sy en haar man mekaar dikwels gesien. Sy het soms by die kommando kos gekry en sy het ook soms vir haar man en die ander soldate maaltye gekook. Wanneer die Boere moedeloos geraak het, het sy hulle moed ingepraat. Sy het gewys dat sy baie krag binne haarself gehad het en het altyd probeer om oplossings te vind wanneer daar ’n krisis of probleem was – ’n regte ystervrou! 6

Skrywers en navorsers reken dat daar naby die einde van die oorlog ongeveer 10 000 vroue en kinders in Transvaal was wat so voor die Engelse uitgevlug het. In die Vrystaat was daar tussen 2 000 en 4 000 vroue en kinders wat ook so rondgetrek en gevlug het. 6

Voor die uitruiling Lady Sarah Wilson, linkerkantste van die vroue, voor die Boere-hospitaal buite Mafeking

Hul een seun was toe ses jaar oud en sy naam was Gabriël Johannes. Vir hom was dit soos ’n avontuur om so met die wa rond te trek. Maar ook hy het verstaan dat sy pa en die ander Boere teen die Britte moes veg. Toe hy hoor dat die Boere wat hulle aan die Engelse moes oorgee ook hul gewere aan die Engelse moes gee en dit nie kon hou nie, was hy kwaad, al was hy net ’n klein seuntjie. Hy het self reeds ’n geweer gehad en met die geweer in sy hand het hy kwaai gesê dat hy liewer sy geweer sal stukkend slaan voor hy dit vir die Engelse gee. 5

Nadat vrede in 1902 gesluit is, het Nonnie na hul plaas teruggekeer.

Die jare ná die oorlog

In die jare ná 1902 is Nonnie en generaal De la Rey na Europa om geld vir die Boere in te samel. Hulle moes ook hul plaas wat in die oorlog vernietig is, weer opbou. In 1914 is haar man dood toe hy geskiet is deur polisie wat ’n padblokkade gehad het om die lede van ’n bende te vang. Sy motorbestuurder het nie stilgehou nie en deur die padblokkade gery. Die polisie het gedink dis die bendelede en het toe op die motor geskiet.

Beyers se motor waarin De la Rey geskiet is

In haar laaste jare was Nonnie by verskillende organisasies betrokke. Sy het ook toesprake by volksfeeste gehou. Sy was aktief in haar gemeenskap en het as ’n Volksmoeder bekendgestaan.

Ja, Nonnie se verhaal handel oor meer as oor hoe dit was om die vrou van genl. Koos de la Rey (die Leeu van Wes-Transvaal) te wees. Sy was ʼn vrou wat uitdagings, ontberings en hartseer geken het, wat nie bang was vir “mannewerk” nie en vreesloos om op te staan vir dit waarin sy geglo het. 8

Sy is op 11 Augustus 1923 in Lichtenburg in die destydse Wes-Transvaal oorlede. Vandag staan die provinsie bekend as Noordwes. 9

Woordbank

swerfjare Om sonder ’n vaste woonplek rond te trek.
telegram Kort berig of nuusbrokkie wat telegrafies oorgesein word. Tot ’n klompie jare gelede – waarskynlik in die dae van jul oupas en oumas – het mense dringende nuus per telegram vir mekaar gestuur. Toe was daar nog nie selfone of iets soos WhatsApp waarmee mense nuus vinnig na iemand anders kon stuur nie.
beset Wanneer soldate in ’n oorlog ’n dorp of plaas (soos in die Anglo-Boereoorlog) met geweld oorneem. 10
akademiese Skolasties, universitêr, wat die studie betref, geleerd.
behoeftigheid Armoede, gebrek, hulpbehoewend.
bejaarde Oud, gevorderd in leeftyd.
empatie Meevoel, deernis hê vir iemand se omstandighede.
gedenkskrif Geskrewe verslag van iemand se lewe, ondervindinge, ens.
geletterdheid Om te kan lees en skryf.
imperialisme Keiserlike regering.
in sy noppies Hoogs tevrede wees, in jou skik wees.
konsentrasiekampe Gevangenekamp waarheen die vroue en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog gestuur is – meestal onder uiters swak omstandighede waar veral kinders aan ontbering en siektes gesterf het.
neer te pen Neerskryf, opteken.
nomadiese Rondtrekkend, swerwend.
om haar hand gevra Om ’n meisie/vrou vra om te trou.
optimisme Hoopvolheid, goeie hoop op ’n beter uitkoms.
ouers te vra Die ouers se toestemming vir ’n huwelik vra.
geplunder Roof, besteel.
spaaider Ligte, goed geveerde, vierwielige perderytuig.
swerf Om sonder ’n vaste woonplek rond te trek.
tedoe ’n Groot affêre, gebeurtenis.
telegram Kort berig of nuusbrokkie wat telegrafies oorgesein word. Tot ’n klompie jare gelede – waarskynlik in die dae van jul oupas en oumas – het mense dringende nuus per telegram vir mekaar gestuur. Toe was daar nog nie selfone of iets soos WhatsApp waarmee mense nuus vinnig na iemand anders kon stuur nie.
vasgeskop Weier om toe te gee, weerstand bied.
vernuf Vaardigheid, begaafdheid, vermoë, behendigheid.
vort Weg.

Lees en kyk na die volgende om nog meer te leer oor Nonnie de la Rey

Kyk na hierdie video om nog meer te leer oor Nonnie de la Rey

Lied: De la Rey

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Februarie 2023 | Bygewerk op 22 November 2023