Vinnige feite

Die kombuis van Sammy Marks se huis
  • Anton van Wouw het vir drie jaar lank in Italië aan die beeld van Kruger wat Marks geborg het, gewerk. Die beeld is daarna na Lourenço Marques (vandag se Maputo, hoofstad van Mosambiek) gestuur. Hier het dit vir jare gelê as gevolg van die ABO. ’n Deel daarvan is in 1913 in Prinsepark, Pretoria, opgerig. Dit is eers op 10 Oktober 1964 volledig op Kerkplein onthul. 7
  • Marks se Unie-Staalkorporasie van Suid-Afrika het ’n belangrike rol in die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) gespeel en was die voorloper van die Suid-Afrikaanse Yster- en Staalkorporasie (Yskor). 2
  • Marks se eerste taal was Jiddisj. Meeste van sy sakebriewe met sy vennoot, Lewis, was in Jiddisj. Sy Engelse kommunikasie en skryfwerk was maar swak. Sy Afrikaans was egter vlot. 2

Met die jare het daar mense van dwarsoor die wêreld hul pad na Suid-Afrika gevind. Sommige van hierdie mense het diep spore in Suid-Afrika se geskiedenis getrap.

Een so ʼn mens was Sammy Marks, ’n Jood uit Litaue, ’n klein landjie in die noordooste van Europa.

In Sammy Marks se huis

Grootwordjare

Sammy Marks is in 1843 in Neustadt-Sugind in Litaue gebore. 1 Hy was die seun van Mordechai Feit Marks en Miriam Cohen. Sy vader was ’n rondgaande kleremaker wat op die Litause platteland gewerk het.

Hy het in die ortodokse Joodse tradisie grootgeword. 2

Engeland en die Kaapkolonie

Marks het op 16-jarige ouderdom na Sheffield in Engeland geëmigreer. Daar het familielede hom gehelp om ’n kleinhandelaar te word. Hy het later ’n klein werkswinkel gehad waar hy die afwerking van messe gedoen het. 3

Marks het in 1868, op 24-jarige ouderdom, in die Kaapkolonie – toe ‘n Britse kolonie – aangekom. 4

Hy het by lede van die Joodse gemeenskap geld geleen. Daarmee het hy ’n perdekar en perde gekoop. Hy het hierna vir ’n tyd met goedkoop juweliersware en tafelgerei op die dorpe en plase van Wes-Kaapland gesmous. 1

Die ontdekking van diamante

Ná nuus van die ontdekking van diamante (tussen 1866 en 1871) die Kaap bereik het, het Marks en sy swaer, Isaac Lewis, besluit om met ’n wavrag delwersbenodighede noord te reis.

Hulle het die benodighede verkoop en met die wins ’n winkeltjie in Kimberley opgerig. 2 Dit was die eerste algemene handelaar in Kimberley. 1

Hulle het ook in diamante begin handel dryf en die French Diamond Mining Company gestig. 5 Hulle het aanvanklik diamante op veilings in die Kaap verkoop. Later het hulle ook hul eie kleims ontgin.

Die De Beers-monopolie het op die lang duur alle ander diamanthandelaars uit Kimberley verdryf. Marks-hulle het daarna plase aan die noordelike oewer van die Vaalrivier gekoop. Van hier af het hulle die delwerye van brandhout voorsien. 2

Diamantmark op delwerye

Besigheid met die regering van die ZAR

Marks het in 1881 na Pretoria gereis en Paul Kruger, die president van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR), ontmoet.

Die ZAR het geld in Marks se besighede belê. 4 Hierna het Marks se ondernemings voordeel getrek uit konsessies van die Transvaalse regering. 2 Hy het die Boereleiers se guns behou deur lenings en geskenke. Hy het byvoorbeeld vir Kruger gehelp om ‘n eiendomstransaksie wat hom ryk gemaak het, te beklink. 4

Paul Kruger

Marks se besigheidsaktiwiteite

Vir die volgende meer as dertig jaar was Marks nou by die Transvaalse besigheidswêreld betrokke.

Dit het by goud begin, maar Marks se besigheidsbelange het gou uitgebrei. Hy was betrokke by bedrywe soos landbou, lewende hawe, steenkool, bosaanplanting en vervaardiging.

Hy het sy ondernemings in die 1980’s uitgebrei met die oog op die reuse-verbruikersmark wat ná die ontdekking van goud op die Witwatersrand ontstaan het. 2

Aansig van die Randse goudmyn

Goud

Ná die 1885 Barbertonse goudstormloop het Lewis & Marks hulself as belangrike sakeonderneming gevestig. Hulle het The Sheba Gold Mining Company Ltd – in ’n stadium waarskynlik die mees winsgewende besigheid in Transvaal – beheer. 2

Marks en Lewis het die African and European Investment Company Co Ltd geskep. Dit het gou ’n belangrike finansieringsmaatskappy in die Witwatersrand geword, met ’n beherende aandeel in verskeie goudmyne. 5

Steenkool en Vereeniging

Marks se een besigheid was om steenkool aan Kimberley te lewer. 2 Die Zuid-Afrikaansche en Oranje Vrystaatsche Mineralen en Mijnbouvereeniging is hiervoor gestig. Dit het die basis geword van die stad Vereeniging, wat rondom die firma se steenkoolmyn ontwikkel het. 5

Teen die einde van eeu was Marks druk besig om ‘n yster- en staalnywerheid aan die gang te kry. Ná baie teleurstellings en terugslae het dit in 1911 op die stigting van die Unie-Staalkorporasie van Suid-Afrika uitgeloop. 2

Marks het baie in meganiese nuwighede belang gestel. Hy het tydens besoeke na Brittanje fabrieke besoek, na nuwe tegnieke gekyk en toerusting aangekoop wat hy na Suid-Afrika teruggestuur het. 2

Oorspronklike kantore van Yskor, Pretoria, op die hoek van Pretorius- en Paul Krugerstraat

Vervoer

Marks was nie by die bou van spoorwegprojekte betrokke nie. Hy het egter die regerings van die ZAR en die Oranje-Vrystaat (OVS) gedruk om ’n spoorverbinding oor die Vaalrivier te voltooi.

Dít het hy gedoen deur ’n opname te laat doen: hy het mense by die driwwe laat sit, wat dag en nag gemeet het hoeveel ton goedere die rivier oorgesteek het. Hy het bewys dat genoeg goedere vervoer is dat ’n spoorverbinding die moeite werd was. As gevolg hiervan is die spoorverbinding vroeër aangelê as beplan. Marks was dan ook ’n geëerde gas by die inwyding van die spoorverbinding in 1892.

Toe daar met die Johannesburg-Delagoabaaispoorlyn besig was, het hy met ’n steenkoolmyn in Oos-Transvaal op die plaas Schoongezicht begin. Toe die spoorlyn in 1894 voltooi is, kon hy brandstof aan die lokomotiewe, asook steenkool aan die skepe in Delagoabaai, verskaf. 2

Landbou

Marks het na oplossings vir uitdagings in landbou en nuwe landboutegnieke gesoek.

Na hy die konsessie vir die stook van alkohol gekry het, het hy rog nodig gehad vir die brouproses. Transvaalse boere het egter nie genoeg rog geproduseer nie. Hy het dus hoë kwaliteit saad aangekoop en dit gratis aan boere uitgedeel. Hy het ook beloof om als wat hulle geproduseer het, teen ’n goeie prys te koop. Hy het dieselfde reëling getref vir boere om vrugteboorde te plant vir sy konfytfabriek.

Hy het ook sy eie akkerbosse en vrugteboorde aangeplant, muil- en perdeplase aangelê en die Transvaalse mieliebedryf begin.

Ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het hy in geriewe vir koelbewaring, wat bederfbare voedsel kan stoor, belê.

Op sy eie plaas, Swartkoppies, wat oos van Pretoria geleë is, het hy baanbrekerswerk in wetenskaplike landbou gedoen. Hy het melkbeeste van hoë gehalte geteel, moderne ploegmetodes ontwikkel en Transvaal se eerste pomelo’s gekweek. 2

1899

Ander besighede en nywerhede

Marks het met ’n reeks nuwe nywerhede by Eerste Fabrieken naby Pretoria begin. Dit het ’n glasfabriek, leerlooiery en skoenfabriek, vrugte- en vleisinmaakfabrieke, ’n brouery en stokery ingesluit. 2 Teen die 1890’s het sy moderne steenmaakfabriek, Vereeniging Brick & Tile Company Ltd, groot hoeveelhede stene van goeie gehalte gelewer. 3

Sommige van hierdie bedrywe het misluk, maar ander het die grondslag vir ’n goeie nywerheidsektor in Transvaal gelê. 2

Marks en Kruger

Marks was goeie vriende met en ’n bewonderaar van Paul Kruger. 5 Hy het die Boere en veral Kruger se uitkyk op die lewe verstaan. 1

Hy was ’n gereëlde en welkome besoeker by Kruger se huis. Hulle het mekaar se geselskap geniet. Dit was altyd ’n lewendige geredekawel. Hulle het graag oor die Bybel geargumenteer – Kruger was ’n Christen en Marks ’n Jood – en Kruger het graag met Marks gekgeskeer oor sy kastige hardkoppigheid oor godsdienskwessies. 4

Kruger en ander hoogwaardigheidsbekleërs is ook gereeld op Marks se plaas ontvang. Die plaashuis het 40 kamers gehad sodat hy mense kon onthaal.

Marks het vir Kruger ’n standbeeld laat maak om hom te eer. Dit is kort voor die uitbreek van die oorlog deur Anton van Wouw, die beroemde Suid-Afrikaanse beeldhouer, voltooi, maar jare later eers opgerig.

Kruger het Marks toegelaat om die Transvaalse munt te gebruik om goue munte as aandenkings vir Marks se vriende te munt. 2

Paul Kruger-monument

Anglo-Boereoorlog

Marks was nie werklik ’n Uitlander nie, omdat hy lank voor die ontdekking van goud reeds in die Transvaal was. Hy het aanvanklik nie in politiek belang gestel nie. Dit het egter met die Jamesoninval van 1895 verander.

Hy was skerp teen oorlog gekant en het sy bes probeer om die vrede te bewaar. In 1896 het hy selfs Engeland besoek om die Britse regering te probeer oortuig dat oorlog lank en duur sou wees. 2

Toe die oorlog wel uitgebreek het, het Marks dit as ’n ramp en dwase fout van die Britse regering bestempel. Hy het ’n suksesvolle draadsitter gebly. Voor die besetting van Pretoria het hy sy plig as lojale burger van die Kruger-regering gedoen. Daarna het hy die eed van neutraliteit afgelê en Brittanje gedien. 4

Hy het sy bes probeer om ’n vreedsame skikking te bereik en het met beide die Britse en Boereleiers gekommunikeer.

Marks het geld ingesamel vir behoeftige gesinne wat deur oorlog ontwortel is. Hy was ook lid van ’n komitee wat gestig is om die myne te beskerm. 2

Toe die Boeregeneraals in 1902 oor vrede onderhandel, het hulle hul planne met Marks bespreek. Die vredesberaad in Vereeniging is op sy eiendom gehou. 4

Naoorlogse politieke betrokkenheid

Ná die oorlog verby is, het hy vir ’n kort rukkie Milner se verengelsingsplan ondersteun. Tog het hy daarna vir generaal Louis Botha ondersteun, 4 en ’n getroue lid van Botha se Het Volk-party, wat in 1904 gestig is, geword. 6

Tydens Uniewording het hy by die Suid-Afrikaanse Party aangesluit. Hy was lid van die senaat, al het hy selde in die parlement gepraat. Hy het wel ’n sterk invloed in die wandelgange gehad, deur sy verhouding met leiers soos Botha, generaal Jan Smuts en generaal Koos De la Rey. 2

Marks het tot aan die einde van sy lewe in die senaat gedien. 2

Jan Smuts
Generaal Koos de la Rey

Joodse betrokkenheid

Marks het Joodse onderwys- en godsdiensinrigtings ondersteun. Hy het geld na Litaue teruggestuur vir die restourasie van ’n sinagoge. Hy het ook befondsing voorsien vir die stigting van ’n Hebreeuse skool in Pretoria, en twee leerstoele vir Hebreeus aan die Universiteit van Kaapland en Witwatersrand befonds. 2

Siekte en sterfte

Marks het in 1920, in die ouderdom van 76 jaar, ná siekte gesterf. 4

Hy is in die in die begraafplaas aan Rebekkastraat, Pretoria-Wes begrawe. 2

Sammy Marks-plein

Persoonlike lewe

Marks was met Bertha Guttman getroud. Hulle het twee dogters en vier seuns gehad wat hom oorleef het.

Marks was liggaamlik sterk met ’n uitstekende geheue. Hy was ’n uitstekende besigheidsman, maar het nie van die roetine van besigheid gehou nie. 2

Sammy Marks en sy gesin

Hy het ‘n gekruide sin vir humor gehad, maar ook graag Bybelverse aangehaal. 1

Hy was alomgewild, bekend vir sy liefdadigheid en gasvryheid. 2

Sammy Marks-museum

Woordbank

afwerking Om iets tot in die fynste besonderheid te voltooi.
algemene handelaar Winkel waarin daar ’n groot verskeidenheid artikels verkoop word, amper soos die groot afdelingswinkels wat ons vandag ken, net baie kleiner.
alomgewild Oral gewild; as almal van ʼn persoon/iets hou.
baanbrekerswerk Werk wat nuwe terreine ontsluit; voorloper; pionier.
bederfbare Kos wat gou sleg of vrot word.
beherende aandeel Om die grootste deel van iets te beheer of te bestuur.
behoeftige Arm, gebrekkig; het hulp nodig.
beklink Deurvoer; afhandel.
belê Om geld vir ’n besigheid te gee met die hoop op ’n wins.
brouproses Die proses waartydens bier gemaak word.
delwersbenodighede Gereedskap wat delwers gebruik soos panne, pikke en grawe.
draadsitter Iemand wat nie wil (of kan) kant kies nie.
driwwe ’n Vlak plek in ’n rivier waar dit meestal vir mense en diere maklik is om deur te kom.
eed ’n Verklaring waarby ’n mens God as getuie aanroep; ’n baie ernstige belofte.
finansieringsmaatskappy Maatskappye wat aan iemand/’n saak geld gee.
firma Maatskappy of sakeonderneming.
geëerde Iemand wat baie eer en agting geniet.
geëmigreer Jou land verlaat om in ’n ander land te gaan woon.
gehalte Hoe goed of sleg iets is.
gekgeskeer Om grappies te maak of die spot te dryf.
gekruide Iemand wat kleurvolle taal gebruik, soms met vloekwoorde in.
gesmous Om van plek tot plek te gaan en goedere te verkoop.
geteel Diere bymekaarbring om kleintjies te kry.
goudstormloop Die tyd toe mense holderstebolder na ’n plek gereis het om goud te soek.
grondslag Dit waarop iets berus; die beginsel of fondament.
hardkoppigheid Eiesinnig, iemand wat nie graag na raad luister nie en dinge doen soos hy of sy dit wil doen.
hoogwaardigheidsbekleërs Iemand wat ’n hoë amp of posisie beklee.
inwyding Om by ’n formele geleentheid iets in gebruik te neem.
Jamesoninval Poging deur Britse amptenare en Uitlanders om die regering van die ZAR omvêr te werp.
Jiddisj Taal van Jode in Sentraal- en Oos-Europa.
Jood Iemand wie se godsdiens die Judaïsme is.
kastige Nie werklik nie.
kleims ʼn Stuk grond waarin daar moontlik waardevolle edelstene of minerale kan wees. So ʼn stuk grond word dan deur ʼn delwer (iemand wat na goud of diamante soek) vir homself afgepen of uitgehou om daarin te soek.
koelbewaring Om bederfbare produkte in koelkamers te bewaar sodat dit nie sleg of vrot word nie.
kolonie Gebied wat aan ’n ander staat/moondheid onderhorig en daarvan afhanklik is.
konsessies Wanneer die regering die reg om sekere goedere of dienste te lewer aan een private individu of maatskappy toeken.
leerlooiery ’n Fabriek waar leer berei word sodat dit bruikbaar is.
leerstoele Nie ’n fisieke stoel nie; die posisie van die professor met die hoogste gesag in ’n bepaalde vakgebied aan ’n universiteit.
lewende hawe Diere of vee.
liefdadigheid Die handeling van steun/geld/goed/ens. te gee aan mense wat arm/siek/ens. is en hulp nodig het.
meganiese Werktuiglik; om iets met behulp van werktuie te doen.
monopolie Dis die reg of beheer wat ʼn maatskappye het om alleen met ʼn sekere produk en/of in ʼn sekere gebied handel te dryf.
munt Die plek waar geld (munte) gemaak word.
neutraliteit Nie kant kies nie.
nywerheidsektor Daardie deel van die ekonomie waarin die bedrywe is wat grondstowwe verwerk.
ontgin Delf, myn.
onthul Met ‘n seremonie bekendstel aan die publiek.
ontwortel Om iets uit die bekende los te ruk.
op die lang duur Op die ou end of uiteindelik.
ortodokse Om streng vas te hou aan die leer van jou geloof.
parlement Daardie liggaam in ’n land wat die wette maak.
geredekawel Om van iemand te verskil.
restourasie Die opknap/herstel/herbou van die hele of ʼn belangrike deel van ʼn ou gebou/kunswerk om dit so noukeurig moontlik terug te bring na die vorm wat dit oorspronklik of in ʼn vorige tyd gehad het.
rog ’n Soort graan waarvan mens sterk drank kan maak.
senaat Die kleiner en minder belangrike deel van die parlement (die liggaam wat wette maak).
sinagoge Plek waar Joodse mense hul godsdienstige byeenkomste hou.
skikking ’n Saak oplos deur van albei kante toe te gee.
spoorverbinding Wanneer twee spoorlyne met mekaar verbind word.
stokery ’n Fabriek waar sterk drank gemaak word.
stook Om alkoholiese drank te maak deur dit te kook en dan te laat afkoel.
tafelgerei Dit wat gebruik word tydens ʼn ete, soos messegoed, tafellinne, glas- en porseleinware, ens.
tegnieke Bedrewenheid om iets te doen.
toerusting Dit wat nodig is om iets te vervaardig/maak.
tradisie Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk.
Uitlander Goudsoekers in die Witwatersrand wat van ander lande afgekom het. Meeste van hulle was Britte.
veilings Openbare verkoping aan die persoon wat die hoogste bod maak; vandisie; vendusie.
vennoot Een van twee of meer eienaars van ’n besigheid/onderneming.
verbruikersmark Mark van mense wat goedere of dienste vir persoonlike gebruik koop.
verengelsingsplan Die Britse regering wou probeer om die Afrikaners almal net Engels te laat praat.
voordeel getrek Wanneer iets vir jou goed is.
vredesberaad Konferensie waar vrede bespreek word.
wandelgange Breë gange in ’n gebou waar belangrike vergaderings gehou word, soos die parlementsgebou.
Witwatersrand Gebied in Suid-Afrika waar goud in die 1880’s ontdek is. Die stad Johannnesburg het daar rondom ontstaan.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Sammy Marks

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Sammy Marks

Wie was Sammy Marks?

Die Sammy Marks Museum in Pretoria

Die geskiedenis van Kimberley se diamantmyn, die Groot Gat

Kruger en Marks was besonder goeie vriende

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 April 2024 | Bygewerk op 12 April 2024