Vinnige feite

Stadsaal van Pretoria, Suid-Afrika, met die standbeelde van Marthinus W. Pretorius (staande) en Andries Pretorius (ruiterbeeld)
  • Pretorius se persoonlike dokumente, soos sy briewe, is deur Britse troepe op sy skoonseun se plaas verniel. 1
  • Pretorius is die enigste persoon in die geskiedenis wat die verkose president van twee afsonderlike republieke in dieselfde tyd was. 2
  • Jan Bantjes, Andries Pretorius se sekretaris, het nog tot op sy oudag vir Pretorius onderrig gegee. 1
  • Die stigting van Pretoria, die hoofstad van die Republiek van Suid-Afrika, was in die eerste plek aan hom te danke.
  • Op 4 Desember 1913 is daar ʼn gedenkteken ter ere van hom op sy graf in die Potchefstroomse begraafplaas onthul, deur generaal Louis Botha, die eerste minister van die Unie. 1
Foto: iStock

Marthinus Wessel (M.W.) Pretorius (17 September 1819 tot 19 Mei 1901) was ʼn Boereleier en staatsman. Hy was die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), en ook vir ʼn kort rukkie in die negentiende eeu president van die Oranje-Vrystaat. Hy het die politieke toneel van die ZAR in die onstuimige eerste twintig jaar van dié Republiek se bestaan oorheers.

Vroeë jare

Pretorius was die oudste seun van die beroemde Voortrekkerleier Andries Pretorius en sy vrou, Christina Petronella de Wit. Hy is in die Graaff-Reinet-distrik in die Kaapkolonie gebore. Soos omtrent almal van sy tyd, het hy maar min skoolopvoeding ontvang. 1

Andries Pretorius

Groot Trek

Pretorius was 19 toe hy saam met sy pa aan die Groot Trek deelgeneem het. Hulle het die Kaapkolonie aan die einde van Oktober 1838 verlaat – die laaste groot groep wat getrek het. Hy was nie ʼn lid van die sogenaamde Wenkommando wat die Zoeloes by Bloedrivier verslaan het nie, maar het in opdrag van sy pa by die walaer gebly om sy moeder te bewaak. 1

Natalia

Ná die oorwinning oor die Zoeloes, het Pretorius hom op ʼn plaas sowat tien kilometer van Pietermaritzburg af gevestig. Ná die Britse besetting van Natal, het die Pretorius-familie Natal in September 1847 verlaat, en in die eerste paar maande van 1848 in Transvaal aangekom. Hy het op die plaas Kalkheuwel naby die Magaliesberg, so twintig kilometer wes van vandag se Pretoria, gaan woon. 1

Pretorius word ʼn leiersfiguur van die Transvaal

Pretorius het in 1851 sy eerste amptelike werk vir die Volksraad gedoen, toe hy gehelp het om die grondslag te lê vir die Sandrivierkonvensie. Dit was hiervolgens wat die Transvaal sy onafhanklikheid van Brittanje gekry het, en hy het gehelp om ontmoetings te reël tussen sy pa en die Britse regering se verteenwoordigers in die destydse Oranjerivierkolonie, die latere Vrystaat. 1

Andries Pretorius is op 23 Junie 1853 oorlede, kort ná die Sandrivierkonvensie onderteken is. In Augustus is M.W. Pretorius eenparig in sy pa se plek as kommandant-generaal en voorsitter van die Volksraad verkies. 1

Vroeë probleme

Pretorius se groot droom was om die Transvaal en die Vrystaat te verenig, ʼn droom wat deur baie inwoners in beide gebiede gedeel is. In 1853, toe die Britte aangedui het dat hulle ook die Vrystaat se onafhanklikheid sou erken, was daar ʼn kans op vereniging, maar die onderlinge verdeeldheid tussen die Transvalers het dié kans in die wiele gery. Hierdie verdeeldheid onder die Transvalers sou vir Pretorius nog baie probleme gee. 1

Daar was drie groepe in die Transvaal: die Pretorius-groep in die Magaliesberg; die Lydenburgers; en ʼn groep in die Soutpansberge wat oorspronklik onder leiding van die vroeë Voortrekkerleier Hendrik Potgieter was. Hulle het verskillende idees oor kerklike en regeringskwessies gehad.

Hendrik Potgieter

Kerklike verdeeldheid

In 1853 het daar ʼn skeuring ontstaan, toe ds. Dirk van der Hoff, ʼn Hollander wat aan die Hervormde Kerk behoort het, in die Transvaal aangekom het. 1 Hy het met die Pretorius-groep geassosieer. Dit was nie vir die Gereformeerde Kerk – die sogenaamde Doppers – aanvaarbaar nie, en hulle het hul eie leraar, ds. Dirk Postma, bekom. 2

Die spanning tussen die groepe het opgebou, en Pretorius het dit swak hanteer. As leier moes hy objektief bly – so neutraal as moontlik – maar in plaas daarvan het hy homself toegelaat om persoonlik betrokke te raak. Deels as gevolg van sy optrede was die eenheid van die Transvaal nou in gevaar, want die Lydenburgers wou nie meer die gesag van die Volksraad aanvaar nie. 1

Monument ter herdenking aan ds. Dirk van der Hoff, Potchefstroom

Die Mokôpane-veldtog

In 1854 is twee groepe wit reisigers deur Ndebele-krygers in die omgewing van die Strydpoortberge uitgewis. Pretorius en kommandant-generaal Piet Potgieter, die seun van Hendrik Potgieter, het kommando’s byeengeroep om hulle te straf. Die Ndebele het in ʼn grot – wat vandag as Makapaansgat bekend staan – in die Strydpoortberge gaan skuil. Die burgers het die grot beleër, met ander woorde met hulle kommando’s die grot omring, en geëis dat Mokôpane – die leier van die Ndebele – uitgelewer word. Die Ndebele het geweier, en die beleg het so lank aangehou dat die meeste Ndebele van honger en dors gesterf het. Dit was die einde van ʼn sterk Ndebele-mag in die Transvaal. 2

Politieke verwikkelinge en die optrek van ʼn aanvaarbare grondwet

Die situasie het onstabiel gebly. In die middel van die 1850’s het Pretorius die Vrystaat besoek en toe ʼn strawwe longsiekte ontwikkel. Pretorius was ook intussen by ander intriges betrokke, wat hom van die Lydenburgers in die Volksraad vervreem het. 1

In 1855 het die Volksraad ʼn kommissie gestig wat ʼn grondwet – die reëls vir hoe die staat regeer sou word – vir die Transvaal moes voorberei. Pretorius was nie ʼn lid van die kommissie nie, maar hy het hulle geesdriftig ondersteun, en hard gewerk om die Volksraad te oortuig om die grondwet wat hulle opgestel het, te aanvaar. Dít het die Volksraad wel gedoen – in November 1855 te Potchefstroom. 1

Volgens die grondwet moes daar ʼn staatspresident verkies word, en op 15 November 1855 is Pretorius verkies. Enkele dae later het die Volksraad as ʼn teken van goeie gesindheid teenoor hom, goedgekeur dat daar op twee plase wat Pretorius twee jaar vantevore gekoop het, ʼn dorp aangelê kon word. Die nuwe dorp is na sy vader vernoem: Pretoria. 1

Pretoria, Esselenstraat, Trevenna, Sunnyside

Die drama was egter nog lank nie verby nie. Die Lydenburgers was opstandig, en Stephanus Schoeman, die nuwe leier van die Soutpansberg-groep, het die nuwe grondwet verwerp. Pretorius het probeer om toenadering tot beide groepe te soek. Deur sy toedoen het al die groepe wat betrokke was, in Desember 1856 op Potchefstroom vir ʼn vergadering ontmoet. ʼn Nuwe grondwet is voorberei. Pretorius is weer tot staatspresident verkies, en Schoeman, wat nie aanwesig was nie, tot kommandant-generaal – die hoof van die gewapende magte. Pretorius het op 6 Januarie 1857 die eed as president afgelê, en die Transvaalse vlag, die Vierkleur, is die eerste keer amptelik gehys. 1 Pretoria is as hoofstad verklaar. 2

Die onenigheid het egter voortgeduur. Lydenburg het op 17 Desember 1856 besluit om van die republiek af te skei, en Schoeman het die besluite van die Volksraad geïgnoreer. 1

Toe maak Pretorius ʼn fout, deur te besluit om die Vrystaat te besoek voor hy Schoeman se verhouding met die Volksraad herstel het. Met Pretorius in die Vrystaat het die Volksraad Schoeman as rebel – ʼn vyand van die regering – verklaar. Schoeman se reaksie was om die hele Noord-Transvaal in ʼn blokkade te plaas – hy het die hele gebied omsingel om te keer dat enigiemand daar kan inkom. 1

Stephanus Schoeman

In die Vrystaat het Pretorius ʼn swak poging aangewend om die republieke te verenig. Sy poging is deur die Vrystaters verwerp, en dit het bande tussen hom en die Vrystaters gebreek. Hierna het hy Natal besoek om met die regering daar oor die grens tussen Transvaal en Natal te onderhandel. In sy afwesigheid het die Vrystaatse president, J.N. Boshof, toenadering tot Schoeman en die Lydenburgers gesoek. Dit het amper tot oorlog gelei, voor Pretorius teruggekom en weer vrede met die Vrystaters gemaak het. 1

Hierna was dinge vir ʼn rukkie kalmer. Pretorius het met Schoeman ooreengekom om hulle verskille opsy te sit. Die landswette is hersien, en die grondwet wéér aanvaar. Pretorius is vir ʼn derde keer tot staatspresident verkies, en Schoeman het hierdie keer sy verkiesing as kommandant-generaal aanvaar. 1

Die verhouding met Lydenburg moes ook opgeknap word, en ʼn kommissie waarvan Pretorius die hoof was, het dit teen November 1859 reggekry om hulle met die Transvaal te herenig. 3 Lydenburg het toe ook die grondwet aanvaar, en aan die eerste verenigde Volksraadsitting in April 1860 deelgeneem. 1

Dubbelpresidentskap

In Desember 1859 het Pretorius se strewe om die Transvaal en die Vrystaat te verenig, hom weer ʼn fout laat begaan: Hy het homself laat verkies as president van die Vrystaat. Die Transvaalse Volksraad het in reaksie sy presidentskap opgeskort. Toe Pretorius besef dat die Transvaalse Volksraad hom nie sou toelaat om president te wees van beide republieke nie, het hy besluit die Vrystaat het hom meer nodig, en daarom het hy in 1860 as Transvaalse president bedank. 1

Pretorius was vir ongeveer drie jaar president van die Vrystaat, en hy het daar verdienstelike werk gedoen. Hy het goeie verstandhoudings met swart groepe, soos die Sotho onder Moshoeshoe verseker. Hy het ook redelike sukses gehad met die godsdiensbeleid en finansies. 1

Die Transvaalse “burgeroorlog”

Pretorius se aandag was egter verdeeld. In Transvaal het die spanning tussen twee kompeterende groepe – die staatsleër en die volksleër – opgebou. In 1862 het Pretorius verlof as Vrystaatse president gevra, sodat hy na die Transvaal kon terugkeer. Sy aankoms het gemoedere kalmeer, en hy het samesprekings tussen dié twee groepe gereël. Teen April 1963 het hy as Vrystaatse president bedank, sodat hy sy volle aandag aan die konflik kon gee. 1

In die presidentsverkiesing hierna was Pretorius genomineer, maar W.C. Janse van Rensburg is verkies. Daar was egter soveel gerugte van knoeiery en verneukery dat kommandant Jan Viljoen met ʼn kommando van die volksleër opgeruk het. Hulle het met die staatsleër gebots en enkele burgers is in die geveg dood. Hierdie botsing het almal só laat skrik, dat vrede gesluit is. Na afloop hiervan, in Maart 1864, is Pretorius weer as president verkies. 1 Die konflik het hierna tot ʼn groot mate bedaar.

Jan Viljoen

Kwessies in sy presidentskap

In terme van verhoudings met inheemse groepe, het daar geen groot oorlog tydens Pretorius se presidentskap plaasgevind nie. Pretorius het ʼn beleid van gebiedskeiding tussen wit en swart gemeenskappe voorgestaan. 2

Die Transvaal ekonomiese posisie was uiters swak. Pretorius het heelwat planne gehad om die ekonomie te bevorder. Hy wou ʼn handelsbank daarstel, handelsroetes uitbrei, en het probeer om papiergeld te implementeer. Verder wou hy ekonomiese ontwikkeling aanmoedig, deur maatskappye te stig vir myne, grond en immigrasie, landbou en veeteelt. Hy het ook immigrasie aangemoedig. Geen van hierdie planne was besonder suksesvol nie. 1

In buitelandse beleid het hy groter welslae behaal. Die Transvaal is as onafhanklike republiek deur Nederland, Frankryk, België, die VSA en Duitsland erken. Hy het verteenwoordigers in dié lande, asook in die Kaapkolonie en Natal, geplaas om die Transvaal se belange te bevorder. 1

Die Transvaal se verhouding met Brittanje het egter ʼn uitdaging gebly. Brittanje het in die 1860’s besluit dat dit ʼn fout was om Transvaal se onafhanklikheid te erken. Hulle het die Transvalers daarvan beskuldig dat hulle slawerny beoefen het, maar Pretorius het suksesvol bewys dat dit nie waar was nie. Die Britte het dit egter wel reggekry om die Transvaal in ʼn ekonomiese wurggreep te hou, deur beheer oor die hawens in Natal en die Kaapkolonie. Dit het vir Pretorius en die Volksraad genoodsaak om noordooswaarts te kyk vir ʼn toekomstige hawe. 1 Sulke poginge was egter onsuksesvol, en dit het die Britte nog verder vervreem. 3

Teen die einde van die 1860’s was Pretorius weer in die spervuur – ʼn tyd waar daar baie druk op hom was. Hy het op ʼn stadium as president bedank, maar toe weer sy bedanking teruggetrek. Alhoewel die Volksraad hom nie altyd goedgesind was nie, was die burgers wel. In die vyfjaarlikse verkiesing van 1869, het hy met meer as dubbel soveel stemme as al 13 ander kandidate sáám gewen. 1

Die Diamantveldkwessie

Toe diamante rondom 1870 naby die samevloeiing van die Vaalrivier en die Oranjerivier ontdek is, het die Transvaal ʼn aanspraak gehad op ʼn gedeelte van die diamantvelde. Dit sou natuurlik inkomste vir die land beteken het. Pretorius se swak hantering van die Transvaal se aanspraak, het egter in ʼn ramp vir die ZAR geëindig. Hy het die fout gemaak om arbitrasie voor te stel – wanneer iemand aangestel word om ʼn geskil op te los wat nie betrokke is by die kwessie nie – maar nie aan te dring op ʼn onafhanklike arbiter nie, én dit sonder om die Volksraad se toestemming te kry. 2

Diamantmark op delwerye

ʼn Britse arbiter het in 1871 téén die Transvaal se aanspraak bevind. ʼn Storm van kritiek het oor Pretorius se kop losgebars. Die Volksraad het bevind dat hy nie opgewasse was vir die presidentskap nie,1 en hy is gedwing om te bedank. 2

Hierna het hy van die politieke toneel af verdwyn. 1

Anneksasie van Transvaal, 1877 en die Eerste Vryheidsoorlog

Ná die anneksasie van die Transvaal deur Brittanje in 1877, toe die Britte die Transvaal oorgeneem het, het Pretorius onverwags weer na vore getree. Hy is gekies as voorsitter van volksvergaderings waar die Transvaal se reaksie op die anneksasie bespreek is. Vir sy aksies, is hy deur die Britte van hoogverraad – ʼn poging om die regering omver te werp – aangekla. Hy het selfs enkele nagte as politieke gevangene in die tronk deurgebring, maar daar het niks van gekom nie, omdat die Boere die oorlog gewen het. 1

Pretorius was ʼn lid van die Driemanskap (saam met Paul Kruger en Piet Joubert), wat tydens die Eerste Vryheidsoorlog die Transvaal regeer het, en hy was ʼn medeondertekenaar van die Konvensie van Pretoria in Augustus 1881, die vredesverdrag ná die Eerste Vryheidsoorlog. 1

Pres. Kruger en genl. Joubert

Laaste jare

Ná 1881 het Pretorius weer uit die politiek getree, al was hy maar in sy vroeë sestigs en dus betreklik jonk. Hy het in Potchefstroom gaan woon. 1

Pretorius het hierna ʼn pos as die amptelike Transvaalse historikus aanvaar. Baie van die werk wat hy in hierdie tyd gedoen het, en die dokumente wat hy versamel het, het ongelukkig tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) verlore geraak. 1

Dood

Gedurende die Anglo-Boereoorlog was Pretorius in Potchefstroom toe Britse soldate hom een koue nag in Mei 1901 wakker gemaak en vir twee uur lank in die buitelug ondervra het. Dit was te veel vir sy 81-jarige gestel. Die volgende oggend het hy begin kla van siekte, en is ʼn paar dae later oorlede. 1

Ou fort en begraafplaas, Potchefstroom

Persoonlike lewe

Pretorius het in 1841 met Aletta Magdalena Smit getrou. Hulle het ʼn paar kinders gehad, maar net een dogter, Chrissie Pretorius, het oorleef. Die dorpie Christiana is na haar vernoem. Hy het in 1890 weer getrou met die weduwee Hartog(t). 1

Christina Petronella Meyer (later mev. Roode) Enigste kind en dogter van M.W. Pretorius

Tot op sy oudag was Pretorius ʼn forse gestalte, met helderblou oë, ʼn welgevormde hoof en sterk gelaatstrekke. Ten spyte van sy gebrekkige skoolopvoeding, kon hy goed skryf en het hy ʼn buitengewone talent vir taal gehad. Hy het sy lewe lank ʼn student gebly. Sy duidelik leesbare handskrif en taalvaardigheid was baie ongewoon vir sy tyd. 1

Pres. M.W. Pretorius wat sit en sy tweede eggenoot

Evaluering van Pretorius se lewe

Pretorius sal nooit gesien word as die belangrikste figuur in Suid-Afrika se geskiedenis nie. Hy het waarskynlik nie die aanleg gehad om die hoof van ʼn staat te wees onder sulke moeilike omstandighede nie. Hy was oorhaastig en impulsief, en kon baasspelerig optree, en dit het mense van hom vervreem. Omdat hy nie altyd sterk persoonlike standpunte gehad het nie, is hy maklik deur ander oortuig, en was hy soms die slagoffer van selfsugtige raadgewers. 1

Huis van president M.W. Pretorius, Potchefstroom
Leefarea van president M.W. Pretorius se huis
Pretorius se studeerkamer

Tog verdien hy ʼn ereplek in die Transvaalse geskiedenis. Onder baie moeilike omstandighede – ʼn arm, verdeelde samelewing tussen vyandige groepe – het hy dit reggekry om die Transvaal verenig te hou. Hy het die vermoë gehad om nasionale probleme op te los. Hy hét wel foute gemaak, maar was grootmoedig genoeg om dit te erken. Sy sterk roepingsbewustheid – sy gevoel dat hy bedoel was om vir die Transvaal te werk – het hom laat deurdruk in moeilike omstandighede. Hy het oorvloedige vaderlandsliefde gehad, en met beperkte middele ʼn sterker grondslag gelê as waartoe enigiemand anders in die Transvaal in daardie tyd in staat was. 1

M.W. Pretorius

Woordbank

anneksasie Om ʼn gebied oor te neem. 4
arbitrasie Die werk van ʼn onpartydige arbiter om ʼn geskil tussen twee partye te besleg.
beleër Met ʼn leër omsingel met die doel om tot oorgawe te dwing.
blokkade Die omsingeling van ʼn gebied deur soldate om te keer dat enigiemand of enigiets daar in- of uitkom.
eenparig ʼn Besluit waar al die mense wat betrokke is, met mekaar saamstem.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ʼn staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers oor beskik.
hoogverraad Misdadige optrede om die regering van die staat waaraan die persoon trou verskuldig is, omver te werp.
knoeiery Bedrog; konkelry.
kommandant-generaal Die opperste bevelhebber van ʼn weermag.
objektief Wat op feite gebaseer is, eerder as op wat iemand glo of hoe hy/sy voel; so neutraal as moontlik.
rebel Iemand wat teen sy/haar land se wettige regering veg.
spervuur Omstandighede waar dit besonder druk gaan en wat moeilik is om te hanteer of te oorkom.
wurggreep Iemand in jou mag hê.

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Oktober 2022 | Bygewerk op 10 Januarie 2024