Vinnige feite

  • Vier van die stigterslede van Sanlam het ook iets te doen gehad met De Nationale Pers (vandag Naspers), ʼn uitgewery (maatskappy) wat boeke, tydskrifte en koerante gedruk het. Hofmeyr was voorsitter, Piet Malan ʼn stigterslid en Fred Dormehl die algemene bestuurder van Nasionale Pers. Antoon Benning het die Nasionale Pers-kantoor in Kaapstad gebou. Willie Hofmeyr was ook die stigterslid van die koerant De Burger (vandag Die Burger) in die Kaap. Die eerste advertensies van Sanlam het in De Burger verskyn. 12 ʼn Advertensie is ʼn bladsy of plakkaat wat mense vertel van produkte wat hulle kan koop. 13
  • Hendrik Rothman, ʼn Sanlam-agent van Bredasdorp, het ʼn lewensversekeringspolis aan ʼn boer verkoop wat sy perd as die begunstigde benoem het. Hy het die poliskontrak namens hom én namens die perd “geteken”. 1
  • Baie maatskappye sê vir hul werkers watter klere hulle mag dra en nie mag dra nie. In die 1950’s mag die vroue wat by Sanlam gewerk het, nie hoepeloorbelle (groot ronde sirkelvormige oorbelle) en gekleurde kouse gedra het nie. Tot in 1971 mag vroue ook nie broekpakke (klere vir vroue wat uit ʼn langbroek en ʼn baadjie bestaan) gedra het nie. 1
  • In 1953 het Sanlam woonstelle naby die nuwe hoofkantoor in Bellville, Kaapstad gebou. Hulle het die gebou en woonstelle Sanlamhof genoem. Werknemers kon nou naby hul werk bly. Sanlamhof het sy eie poskode, biblioteek en fliek gehad. Daar was ʼn swembad, netbalbane en rugbyvelde. Sanlamhof se sportspanne het selfs teen ander spanne meegeding. Met die koms van televisie het die mense nie meer so baie gelees of aan sport deelgeneem nie. Hulle wou nou eerder op ander plekke bly. Die swembad is toegemaak en in parkeerplekke verander en die woonstelle is verkoop. 1
  • Sanlam het in 1958 met sy eerste rekenaar gespog. Dit het 12 000 kg (so veel soos twee olifante of vier renosters!) geweeg en het in ʼn afsonderlike kamer gestaan. 1
  • In die Verenigde State van Amerika (VSA) is daar glo ʼn lewensversekeringsmaatskappy wat versekering verkoop in geval die polishouer deur ruimtewesens ontvoer word. 14
  • Ilja Gort, een van die voorste wynmakers in Europa, het die duurste neus in die wêreld. In 2008 het hy sy neus vir €5 miljoen (sowat R100 miljoen!) verseker. Dit het hy gedoen toe hy gehoor het van iemand wat hul reuksin ná ʼn ongeluk verloor het. 15
  • Die grootste kontrak in die wêreld is ʼn versekeringspolis wat 9 m x 6 m groot is. Dit is in 2008 deur Bram Boom van Roemenië onderteken. 15

Het jy al ooit gewonder wat sal gebeur as een of albei jou ouers skielik sterf of nie meer kan werk nie? Waar gaan julle geld kry vir kos of klere? Gaan daar geld wees vir skool of as jy eendag verder wil studeer?

Dit is aaklig om net aan die moontlikheid van só iets te dink en ‘n mens hoop dat dit nooit met jou gebeur nie, maar vir die afgelope meer as 100 jaar het die versekeringsmaatskappy Sanlam gesinne gehelp met wie dit wel gebeur het.

Stigting van Sanlam

Die Suid-Afrikaanse Lewens Assuransie Maatskappy Beperk (Sanlam) se verhaal begin op 5 Desember 1917 toe sewe mans by die Royal Hotel in Kaapstad bymekaargekom het. Die groep het bestaan uit ses Afrikaanse mans van die Kaapprovinsie en een Skot (iemand wat in Skotland gebore is) wat met ʼn Afrikaanse vrou getroud was. 1

Alfred MacDowall van Skotland, wat lank vir banke en versekeringsmaatskappye gewerk het, het die idee gehad om ʼn nuwe Suid-Afrikaanse versekeringsmaatskappy te stig. Hy wou sy idee met die ander mans deel, want hulle het die kapitaal (geld) gehad om die maatskappy te begin.

ʼn Versekeringsmaatskappy is ʼn onderneming (of besigheid) wat jou belowe (die versekering gee – vandaar die naam) dat hulle vir al die skade (die verlies wat jy gely het) sal betaal as iets soos ʼn brand, diefstal of ʼn ongeluk gebeur. In ruil daarvoor moet die versekerde (die kliënt oftewel die persoon wat die versekering uitneem) ʼn sekere bedrag geld (premie), gewoonlik elke maand, betaal. 2

As die polishouer (die kliënt of versekerde) dus elke maand getrou die premie betaal, sal die versekeringsmaatskappy die geld uitbetaal as iets byvoorbeeld gesteel of beskadig word. Die bedrag wat uitbetaal word, is die bedrag waarvoor die goedere verseker is. Die kliënt kan dan daardie geld gebruik om iets nuuts in die plek van die gesteelde of beskadigde goed te koop. ’n Mens noem dié soort versekering ook korttermynversekering en dit geld veral vir besittings soos motors en huise. 1

In 1918 was daar reeds meer as dertig lewensversekeringsmaatskappye in Suid-Afrika, maar die meeste van hierdie maatskappye se hoofkantore was in Engeland geleë. Hierdie maatskappye het reeds vir jare versekering gedoen en het baie geld daarmee gemaak. Die verskil tussen hierdie maatskappye en die maatskappy wat MacDowall en die ander ses stigterslede wou begin, was dat dit vir hulle belangriker was om mense wat ná die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog baie arm was, te help om weer op die been te kom. 1 [Lees meer hier oor die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog.]

Op 1 Mei 1918 begin die Suid-Afrikaanse Trust en Assuransie Maatskappy (Santam) besigheid doen. Aan die begin het Santam korttermyn- én lewensversekering verkoop. 3

Met lewens- of langtermynversekering koop ʼn persoon versekering op sy of haar lewe. As die persoon iets oorkom, word daar geld aan jou begunstigdes uitbetaal. Die kontrak tussen die polishouer en die maatskappy bestaan baie langer as met korttermynversekering. Lewensversekering betaal byvoorbeeld eers uit as jy die dag sterf. Dit is gewoonlik een groot bedrag wat uitbetaal (in geselstaal verwys ons sommer na ʼn lompsom) en wat gebruik kan word om enige skuld van die oorledene te betaal. Dit kan ook deur sy/haar gesin gebruik word om ʼn inkomste te ontvang of vir die kinders te betaal as hulle verder wil studeer. 4

Die ooreenkoms tussen die kliënt en die versekeringsmaatskappy, wanneer hy of sy korttermynversekering koop, is vir ʼn korter tydperk as ʼn lewensversekeringspolis.

Korttermynversekering het niks met ʼn persoon se lewe te doen nie. Die polis betaal ʼn bedrag uit as daar iets met die versekerde besittings gebeur. Daar is verskillende soorte korttermynversekering soos byvoorbeeld vir brandskade, haelskade of diefstal. As jou juwele byvoorbeeld gesteel word, sal ʼn korttermynpolis die waarde van die juwele aan jou gee sodat jy weer nuwe juwele kan koop óf die versekeringsmaatskappy sal die gesteelde of beskadigde goedere vervang. 4

Kort ná die stigting van Santam het die bestuur (die mense wat aan die hoof van ʼn maatskappy is en belangrike besluite neem) besluit dat dit beter gaan wees as daar ʼn afsonderlike maatskappy is wat lewensversekering verkoop. In Junie 1918 begin Sanlam as ʼn aparte maatskappy lewensversekering verkoop. 3

Santam het steeds die grootste gedeelte van Sanlam besit en vir die volgende twintig jaar het hulle saamgewerk as ʼn span en byvoorbeeld sekretaresses gehad wat vir albei maatskappye gewerk het. 1

Die Spaanse griep

Skaars twee maande nadat Sanlam sy deure oopgemaak het, tref ʼn verskriklike ramp die wêreld en Suid-Afrika. 1

 ʼn Baie aansteeklike siekte, die Spaanse griep of Groot Griep, breek uit en veroorsaak die dood van tussen 250 000 en 300 000 Suid-Afrikaners. 5 Suid-Afrika word die land wat die vyfde meeste in die hele wêreld deur hierdie siekte getref is. Sanlam word direk deur die Spaanse griep getref toe die maatskappy se eerste besturende direkteur, Fred Dormehl, op 20 Oktober 1918 aan dié siekte sterf. Skielik het Sanlam nie ʼn baas gehad nie. Willie Hofmeyr moes by Fred Dormehl oorneem, al het hy nie baie van versekering geweet nie. 1

Die Spaanse griep het ʼn negatiewe, maar tog ook positiewe invloed op Sanlam aan die beginjare gehad. Met die uitbreking van die dodelike siekte het niemand geld vir polisse gehad nie, maar toe die epidemie verby is, het polisverkope die hoogte ingeskiet. Suid-Afrikaners het eerstehands beleef wat gebeur as die persoon wat werk en geld vir die gesin inbring (verdien), skielik sterf.

In die eerste jaar is ʼn rekordgetal van 3 228 polisse verkoop. Twintig jaar later was Sanlam die vierde grootste lewensversekeraar in die land. 6

Sanlam se eerstes

Oor die jare heen het Sanlam altyd polisse verkoop wat pas by dít wat Suid-Afrikaners nodig gehad het.

Hier is ʼn paar van die produkte wat eerstes of net heeltemal anders was:

  • Sanlam was die eerste versekeringsmaatskappy wat kontrakte (die dokumente wat die polis beskryf) in Afrikaans gehad het. Dit was wel ook in Duits en Engels beskikbaar. 6
  • Sanlam het aan sy polishouers behoort. As die maatskappy wins gemaak het, het Sanlam se kliënte ook ʼn deel van hierdie wins gekry. Hoewel dit nie iets nuuts was dat ʼn versekeringsmaatskappy winste (ook bonusse genoem) met hul polishouers gedeel het nie, was Sanlam die eerste plaaslik gestigte maatskappy wat dit een keer per jaar reeds vanaf September 1919 gedoen het. 6

  • In 1922 stel Sanlam Die Ideale Polis bekend. Die maatskappy het dit ook geadverteer as Die Ideale Geskenk, want dit het saam met die groot bedrag wat uitbetaal word as die broodwinner (die persoon wat werk en ʼn inkomste vir die gesin verdien) sterf, ook maandelikse paaiemente betaal sodat die polishouer se naasbestaandes (gewoonlik ʼn vrou of ʼn man en die kinders) maandeliks ook geld het vir al hul uitgawes soos kos en klere. 1
  • Die oorspronklike Sanlam-sentrum (deesdae die Media24-gebou) is op Vrydag 18 Mei 1962 amptelik as Kaapstad se eerste wolkekrabber op die drooggelegde strandgebied van Roggebaai geopen. Met sy 26 verdiepings was die sentrum indertyd die hoogste gebou in Afrika! 7
  • Tering, wat ook tuberkulose of TB genoem word, is ʼn longsiekte wat mynwerkers gereeld opgedoen het. Mense met tering kon dikwels nie meer werk nie en baie het hieraan gesterf. Sanlam het die Mynteringpolis ontwikkel wat reeds die helfte van die versekerde bedrag (die totale bedrag wat sou uitbetaal as die versekerde sou sterf) uitbetaal het wanneer die persoon siek word en nie verder kan werk nie. 1
  • Die Een Polis is in 1985 bekendgestel. Vandag word hierdie polis van Sanlam as dié produk beskou wat die grootste verandering in die langtermynversekeringswese gebring het. Voor hierdie polis was dit nie moontlik vir ʼn kliënt om ʼn lewenspolis te verander nie. Met Die Een Polis het kliënte geen ander lewenspolis nodig gehad nie. Die polishouer kon voordele (dinge waarvoor daar uitbetaal word soos ongeskiktheid as jy nie meer kan werk nie) byvoeg en wegneem soos hul lewensomstandighede verander. As ʼn kliënt byvoorbeeld kinders kry, kon jy geld vir skool en universiteit byvoeg sodat daar geld is as die broodwinner om een of ander rede nie meer daarvoor kon betaal nie. Hierdie polis was ook baie gewild omdat daar verskillende maniere was waarop kliënte hulle premies kon betaal. 8

  • In 2013 het Sanlam die eerste groot lewensversekeraar in Suid-Afrika geword wat MIV (menslike immuniteitsgebreksvirus) as deel van ʼn gewone lewensversekeringspolis beskou. Voorheen het mense met MIV “spesiale versekering” gehad omdat almal gedink het dit is ʼn siekte waarvan jy nie kan genees nie. Vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom), aan die ander kant, is wel ’n dodelike siekte wat kan ontwikkel by mense wat MIV het.

  • Sekere maatskappye wou glad nie eens lewensversekering aan ʼn MIV-lyer verkoop nie, want hulle het gedink hulle gaan vinnig geld verloor omdat die persoon nie meer lank gaan leef nie. Navorsers het nou bewys dat iemand met MIV net so lank soos mense sonder MIV kan leef as hulle die regte medisyne kry en goeie eet- en oefengewoontes het. Hulle kans om versekering te kry, is net soveel soos enige ander persoon. 9
Sanlam se handelsmerk in 1953.
Sanlam se handelsmerk in 1968.

ʼn Sakereus

Sanlam het die wins wat die maatskappy oor die jare gemaak het, in die Suid-Afrikaanse ekonomie belê. Wanneer daardie ondernemings goed gevaar het, het Sanlam ook geld gemaak.

Tussen 1953 en 1989 het Sanlam baie geld in die Suid-Afrikaanse ekonomie belê:

Federale Volksbeleggings Bpk. (FVB)

Hierdie afdeling van Sanlam het geld aan groot en klein maatskappye in Suid-Afrika gegee sodat hulle kon groei. Teen 1970 het Sanlam reeds meer as dertig maatskappye in Suid-Afrika beheer. Hulle het onder meer belê in landbou-implemente soos trekkers (Massey Ferguson), ʼn vismaatskappy (Marine Products aan die Weskus), ʼn bierbrouery (ʼn maatskappy wat bier maak) en Nola, wat onder meer mayonnaise en slaaisouse gemaak het. 1

Bonuskor Bpk. en Sankorp

Een van die doelwitte wat die stigters van Sanlam reeds in 1918 gehad het, was om veral Afrikaners ekonomies sterker te maak. Een manier om ekonomies sterker te word, is deur beleggings in maatskappye te maak en dan te deel in die wins as hierdie maatskappye suksesvol is en geld maak. Afrikaners het egter nie genoeg geld gehad om in groot maatskappye te belê nie. Al manier hoe Afrikaners kapitaal in groot ondernemings kon belê, was as ʼn klomp mense se klein bedrae geld saamgevoeg word. Bonuskor is in 1946 gestig.

Sanlam het hul kliënte die keuse gegee om die jaarlikse bonus wat hulle gekry het óf in kontant te laat uitbetaal óf hulle kon daardie bonusse gebruik om aandele in maatskappye te koop. Die polishouers was só opgewonde oor hierdie kans om aandele in groot maatskappye te hê, dat Bonuskor ná nege maande reeds £250 000 gehad het om in sakeondernemings te belê. 10 In 1960 gee Sanlam aan sy polishouers die geleentheid om in groot fabrieke te belê toe hy die Sanlam Beleggingskorporasie (Sankorp) stig. 1

Myne

Al het baie arm Suid-Afrikaners in die myne gewerk, het hulle nie gedeel in al die geld wat bekom is uit Suid-Afrika se minerale (goud, diamante en ander waardevolle stowwe) nie. Die geld het veral na Brittanje (Engeland) gegaan omdat Engelse maatskappye aandele in die myne gehad het. As Suid-Afrikaners ook in die rykdom van die land se minerale wou deel, moes hulle beleggings in die groot myne maak. In 1953 word Federale Mynbou Beperk (Fedmyn) deur Sanlam gestig vir hul mynbelange (die aandele wat hulle in myne het). In die 1960’s neem Fedmyn die myngroep General Mining oor wat in daardie stadium ʼn klomp goudmyne besit het.

Dit was ook die grootste produsent (verskaffer) van uraan en het belange in asbes-, koper– en platinummyne gehad. In 1976 neem General Mining (Fedmyn se naam het nie gebly nie) Union Corporation oor wat een van die oorspronklike groot maatskappye in die mynbedryf was. In 1980 word die naam na Gencor verander. Sanlam se belange in Gencor het gehelp dat Sanlam ook ʼn groot aandeel in Suid-Afrika se florerende mynwese gehad het. 1

Banke

As ʼn maatskappy wat met mense se geld gewerk het en mense op ʼn manier gehelp het om geld vir hul oudag of dood te spaar, was dit nie vreemd dat Sanlam betrokke geraak het by banke nie. Sanlam en die FVB het die geld gegee vir die stigting van Trust Bank in 1956. Trust Bank het baie goed gedoen en in die vroeë sewentigerjare was dit die vierde grootste bank in Suid-Afrika. 1 Bankorp word in 1978 gestig, maar het nie so goed gedoen soos Trust Bank nie. In 1985 het die Suid-Afrikaanse Reserwebank geld aan Bankorp geleen. Dit het nie regtig gehelp nie. 1 Sanlam verkoop Bankorp later aan Absa vir ʼn 25%-aandeel in dié bank. 11

Sanlam vir meer as net Afrikaners

Aan die begin van die 1980’s het Sanlam probeer om sy sake na ander bevolkingsgroepe as net hoofsaaklik wit Afrikaanssprekende kliënte uit te brei. Dit was eintlik eers ná die einde van apartheid wat Sanlam dit werklik reggekry het. [Lees meer hier oor apartheid.] Die nuwe Suid-Afrikaanse regering wou seker maak dat die land se rykdom ook veral met swart Suid-Afrikaners gedeel word. Maatskappye is deur landswette gedwing om ʼn sekere aantal bruin, swart en Indiërmense in poste aan te stel. Groot maatskappye soos Sanlam moes ook dele van die maatskappy met swart mense deel. In 1993 het Sanlam ʼn groot aandeel van Metropolitan Life, wat aan Sanlam behoort het, oorgegee aan MetLife Investments Holdings wat grootliks deur swart mense beheer is. 10

In 2004 het Sanlam sy droom vergroot om álle Suid-Afrikaners as kliënte te kry toe hulle nog 10% van hul aandele aan Ubuntu-Botho Investments, ʼn swart beheerde groep maatskappye, verkoop het. 7

Sanlam vandag

Vanaf die 1980’s het Sanlam se maatskappye wat nie met lewensversekering te doen gehad het nie, nie goed gevaar nie. Stadig maar seker het Sanlam hierdie maatskappye losgemaak van die lewensversekeringsgroep. In 1998 het Sanlam al sy belange wat nie met versekering te doen gehad het nie, na ʼn maatskappy met die naam Gensec geskuif. 10

In November 1998 is Sanlam as ʼn publieke maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer. Dit beteken dat die publiek ʼn gedeelte van Sanlam kon besit deur aandele te koop. Die aandele het almal dieselfde gekos en ʼn aandeelhouer kon soveel aandele koop as wat hy of sy wou. Die aandele kan ook later verkoop word. ʼn Persoon maak geld as die aandele verkoop word teen ʼn hoër prys as wat die aandeel gekoop is. In daardie stadium was die notering van Sanlam op die aandelebeurs die grootste van sy soort in Suid-Afrika. 7

In dieselfde tyd toe Sanlam van sy belange verminder het in maatskappye wat nie met versekering te doen gehad het nie, het hy die besigheid na ander finansiële dienste uitgebrei. Die maatskappy se ander finansiële dienste sluit onder meer in batebestuur (bestuur van geld, eiendom, besitting en aandele om geld te maak) en boedelbeplanning (help mense om te beplan wat met ʼn persoon se besittings en bates gaan gebeur as hy of sy sou sterf). Waar ander lewensversekeringsmaatskappye aan die begin van hierdie eeu hulle besigheid na ander lande uitgebrei het, het Sanlam op Suid-Afrika gefokus. 10

Vandag is Sanlam en van die grootse lewensversekeraars in Suid-Afrika. Die maatskappy bestaan uit verskeie afdelings wat verskillende soorte finansiële dienste aan kliënte bied. 3

Sanlam het ook na ander lande uitgebrei en is op vyf vastelande en 40 lande reg oor die wêreld teenwoordig. 1

Woordbank

aandeel Een van die gelyke dele waarin die kapitaal van ʼn maatskappy verdeel is.
agent Persoon wat vir ʼn ander optree, veral ʼn verteenwoordiger van ʼn firma.
Anglo-Boereoorlog Oorlog tussen die twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ou Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, en die Britse Ryk wat van Oktober 1899 tot Mei 1902 in Suid-Afrika geveg is.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is.
begunstigdes Iemand wat deur ʼn handeling/verandering bevoordeel word.
beleggings Uitlening van geld teen rente.
Eerste Wêreldoorlog Die eerste oorlog waarby lande van die hele wêreld betrokke was; 1914 tot 1918.
MIV MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) is ‘n virus wat die liggaam se immuunstelsel aanval. As MIV nie behandel word nie, kan dit tot Vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) lei. Met behoorlike mediese sorg kan MIV beheer word en MIV-lyers wat effektiewe MIV-behandeling kry, kan lang, gesonde lewens lei.
kapitaal Som geld wat belê is om rente te verdien.
paaiemente Elkeen van ʼn aantal (gelyke) bedrae wat op vasgestelde tye betaal moet word totdat ʼn bepaalde groter som of bedrag geld vereffen is.
polishouer Kontrak tussen ʼn versekeringsmaatskappy en ʼn versekerde waarvolgens daar finansieel vir die versekerde se aftrede voorsiening gemaak word, of vir sy/haar afhanklikes sou hy/sy te sterwe kom, of waarvolgens die versekerde se eiendom finansieel teen skade of verlies gedek word, op voorwaarde dat die versekerde gereeld ʼn bepaalde premie aan die versekeraar betaal.
premie Vasgestelde bedrag wat ʼn versekerde persoon volgens ʼn bepaling in sy/haar polis op bepaalde tye aan die versekeraar moet betaal.
Reserwebank Sentrale bank van Suid-Afrika, onder meer verantwoordelik vir die druk en uitgee van note en die beheer van geld en krediet.
versekering Ooreenkoms waarby teen betaling van ʼn premie ʼn uitkering op ’n sekere leeftyd of ná die dood gewaarborg word of skadevergoeding in die geval van ʼn ongeluk of brand/diefstal/haelskade/ens.
vigs Aftakelende en uiteindelik dodelike siektetoestand veroorsaak deur ʼn retrovirus wat hom tuismaak in witbloedselle en daardeur die slagoffer van die vermoë ontneem om teen algemene infeksies weerstand te bied (afkorting van verworwe immuniteitsgebreksindroom).
wins Ekstra geld wat jy maak deur iets te verkoop of sake te doen nadat jy al jou onkoste betaal het.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Kyk hoe beseer dié mense hulself en sodat hul versekering kan uitbetaal!

 

Daar is verskillende soorte lewensversekering

Sanlam het hul eerste rekenaar in die 1950’s gekry. Kyk hoe groot was hierdie “besigheidsmasjiene”, soos rekenaars toe genoem is

Is jy nog nie seker hoe versekering werk nie? Hierdie video kan jou help

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Julie 2022 | Bygewerk op 3 April 2024