Vinnige feite

  • Bartho Smit was baie bedrewe met tale en kon ná slegs ’n paar maande in Europa vlot Frans praat.
  • Hy was ’n baie knap vertaler en het veral daarin uitgeblink om dramatekste uit Duits en Frans na Afrikaans te vertaal.
  • Hy het as skoolkind sy hand aan beeldhouwerk gewaag en het glo ’n beeld van C.J. Langenhoven gemaak. Daar word gesê dat hy met die laaste afronding ’n stukkie van die snor afgebreek het en hy kon dit nie weer vasplak nie. Hy was so gefrustreerd dat hy die beeld met ’n byl stukkend gekap het.
  • Barto was passievol oor Afrikaans. Hy het glo gesê: “Ek sal mos nooit in ’n ander taal as Afrikaans kan skryf nie. Vir my beteken ’n “tree” Maar ’n “boom” sê vir my soveel. Daar lê ’n hele ervaringswêreld daarom verweef. Ander tale is vir my net woorde. Afrikaans is vir my, my ervaring, my verlede, my hede, my toekoms.”
  • Barto het ’n groot invloed op bekende dramaturge, soos Reza de Wet, gehad.

 

Bartho Smit was ’n bekende Suid-Afrikaanse dramaturg, skrywer, digter, vertaler, uitgewer, redakteur en regisseur, wat van 1924 tot 1987 geleef het. Hy was deel van die Sestigers, ’n literêre groep van Afrikaanse skrywers, digters en dramaturge.

Hy was ’n stigterslid en leierfiguur van hierdie beweging, waarvan bekende name soos André P. Brink, Chris Barnard, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach en Jan Rabie, deel was.

Barto is bekend daarvoor dat baie van sy werk gedurende die ou apartheidsbeleid se dae verban is. Daar word oor hom gesê dat hy die eerste dramaturg was “wat Suid-Afrika se rassepolitiek verhoog toe geneem het”. Hy het selfs al in die jare vyftig kortverhale oor die rassesituasie gepubliseer en was dus sy tyd vooruit. 1

Van skool tot studies

Die dramaturg is op 15 Julie 1924 as Bartholomeus Jacobus Smit  op Klerkskraal in die distrik Ventersdorp in die ou Wes-Transvaal gebore. Sy pa se naam was Hermanus Johannes Smit en hy was ’n polisiesersant en lid van ’n plaaslike amateurdramagroep. Sy ma se naam was Gerta Jacoba Christina Smal en dis nie bekend of sy ’n beroep gevolg het nie. Hy was een van drie kinders met ’n ouer suster en jonger broer.

Barto het op Standerton grootgeword en was glo van jongs af lief vir lees en drama. Hy het reeds in standerd agt (vandag graad 10) ’n toneelvereniging gestig en gedigte geskryf.

Hy het nie net in kultuur uitgeblink nie, maar was ook sportief. Hy was ’n Suid-Afrikaanse junior kampioen in paalspring en werpskyf en het geboks. Hy wou selfs in ’n stadium as jong seun ’n beroepsbokser geword het.

Barto het op Standerton gematrikuleer en ná skool aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Hy het in 1949 sy BA-graad behaal en in 1951 sy MA. Hy was deel van die universiteit se toneelvereniging en het in 1945 vir hulle drie kort eenbedrywe geskryf. Dis egter nooit opgevoer nie.

Hy het nadat hy sy magistergraad voltooi het, in 1946 by die koerant Die Vaderland begin werk. Hy het sy loopbaan as verslaggewer afgeskop en het later kunsredakteur en teaterkritikus geword. Nadat hy vir Kita Redelinghuys ontmoet het, is hulle in 1949 getroud. Sy was ’n jong onderwyseres wat ook as aktrise aan talle amateur-toneelproduksies deelgeneem het.

Oorsese reise

Barto het hom aan die Universiteit van Stellenbosch (nou net Universiteit Stellenbosch) vir sy doktorsgraad ingeskryf en hy en Kita het in 1952 na Europa gereis om verdere navorsing vir sy proefskrif te doen. Hulle was uiteindelik vyf jaar lank in onder meer Parys, München en Londen, en hy het hom in studies oor drama en filosofie verdiep.

Hy het sy doktorale studie laat vaar en hom op die studie van teater toegespits. Hy het veral in Duitsland hul prosa en drama bestudeer en groot bewondering vir die werk van Bertol Brecht gekoester. Hulle het daar vriende met allerhande Afrikaanse skrywers gemaak wat ook deel van die Sestigers sou word. Dink hier aan groot name soos Chris Barnard, Jan Rabie en Elsa Joubert.

Terwyl Barto in die buiteland was, het hy as korrespondent vir die koerante Dagbreek en Sondagnuus opgetree. 1

Kita het tydens hul Europese reise dramaklasse in Parys en in Londen bygewoon. Sy het daarna verskeie rolle in Suid-Afrika vertolk. 2 Die egpaar het nooit kinders gehad nie.

Sy loopbaan en skryfwerk

Die paartjie het in 1957 na Suid-Afrika teruggekeer en Barto is as subredakteur, kunsredakteur en teaterkritikus by die Dagbreek- en Sondagnuus-koerante aangestel. Hy het tot 1962 daar gewerk en is toe as die uitgewer by die Afrikaanse Persboekhandel (Perskor) aangestel. Hy is in 1964 tot bestuurder van algemene publikasies by Perskor bevorder. Daar het hy ’n groot rol gespeel in die publikasie van boeke en digbundels wat voorheen afgekeur is, soos Breyten Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet. Hy het uiteindelik 37 jaar by Perskor gewerk en het in 1983 afgetree. 3

Barto se skryfwerk het vroeg-vroeg al begin en hy het aanvanklik werk vir tydskrifte gelewer. Sy eerste digbundel, Mure (Unie-Boekhandel), is in 1950 gepubliseer. Hy het sy eerste werk as dramaturg in 1951 gelewer met ’n eenbedryf genaamd Meisies van vervloë jare. Dit is deur Moeder Hanna opgevolg.

Moeder Hanna is van 1954-1955 geskryf, toe Barto nog in Europa was. Dis ook in Engels vertaal en is in 1963 deur die SAUK in die program Playhouse aangebied met Anna Neethling-Pohl in die rol van Moeder Hanna. Moeder Hanna se teks het ook in die literêre tydskrif Standpunte verskyn en daarna is dit op radio en die verhoog opgevoer. Barto het self as regisseur in een van die opvoerings opgetree. Moeder Hanna was baie gewild en dit was ook vir skole voorgeskryf.

Hy was ook redakteur van tydskrifte soos 60, Kol en Sestiger, en ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde. 4

Smit en sensuur

Barto het in ’n tyd geleef toe die apartheidsregering aan bewind was en daar streng beheer was oor wat op die verhoog, televisie of rolprentskerm vertoon is. Rassekwessies was byvoorbeeld taboe en omdat Barto nie bang was om oor politieke onderwerpe te skryf nie, is sy dramas dikwels afgekeur en het dit nie op die planke verskyn nie.

Die verminktes is een voorbeeld hiervan. Dit is al in 1960 gepubliseer, maar mense was te skrikkerig om dit op te voer en dit is eers in 1977 in Suid-Afrika opgevoer. Dit is egter al in 1960 in Engeland onder die titel The Maimed opgevoer en is met die gesogte Encyclopaedia Britannica-toekenning bekroon.

Nog ’n voorbeeld is Don Juan onder die boere wat in 1960 gepubliseer is. Daar is in 1958 besluit om die Bloemfonteinse Stadskouburg met die stuk te open en Smit sou self die regie behartig het. Daar is egter besluit dat sekere tonele nie geskik vir die gehoor was nie, en die vertoning is gekanselleer. Die stuk is eers in 1985, dekades later, opgevoer.

Smit het ook rassekwessies in sy 1961-drama Putsonderwater aangeraak en ook dié opvoering is verbied. Dit is egter in 1968 met groot sukses in België opgevoer.

Smit was gefrustreerd omdat sy dramas nie op die planke verskyn het nie en het ’n komedie-riller sonder politieke temas geskryf, genaamd Die man met die lyk om sy nek.  Die 1966-stuk is darem deur die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (Truk) op die planke gebring en is daarna deur verskeie geselskappe opgevoer. Nog een van sy bekende stukke was Christine (1971), maar die opvoering daarvan is ook deur owerhede gekanselleer. Die stuk is uiteindelik in 1973 deur Truk opgevoer, maar met sekere wysigings aan die teks.

Christine is in Vlaams, Duits en Engels vertaal. Nog een van sy opvoerings, Bacchus in die Boland (1974), is in 1975 vir ’n Kaapstadse fees geskryf, maar die stuk is ook verbied. Dis wel in 1977 deur bruin mense van Eersterus, Pretoria, aangebied.

Die Hertzogprys

Almal het verwag dat Barto in 1975 die Hertzogprys vir drama sou wen, maar daar is besluit om daardie jaar geen Hertzogprys toe te ken nie. Skrywers het hul misnoeë daarmee te kenne gegee en Barto was baie ontsteld daaroor. Hy het op ’n keer gesê: “Al wat ek vra, is dat my goed opgevoer moet word, en dit word nie gedoen nie. Waarteen moet ek veg?”

Hy het besluit om ’n sprokie as grondslag vir ’n nuwe drama te gebruik en het gesê “mense sal voel dat iets iewers krap, maar hulle gaan nie weet wat nie”.

Die keiser (1977) is met groot sukses opgevoer en is ook telkens bekroon. Dit het in 1978 ’n Perskor-prys gekry en is ook in 1978 saam met sy ander dramas met die Hertzogprys bekroon.

Dié stuk is gebaseer op Hans Andersen se sprokie, “Die keiser se nuwe klere”. Dit gaan oor twee skelms wat maak asof hulle vir ’n keiser ’n wonderkostuum maak, maar eintlik maak hulle niks nie. Almal gee dan voor dat hulle die keiser se “spoggerige klere” sien, terwyl daar geen klere is nie. Dit is uiteindelik ’n kind wat dan uitroep dat die keiser kaal is.

Barto se weergawe gaan oor ’n keiser en keiserin wat in weelde in ’n Afrikaland leef, terwyl hul volk van armoede krepeer. Hulle dink hul mense is gelukkig terwyl hulle eintlik ’n opstand beplan. Die keiser hou ’n groot fees en twee kleremakers word gestuur om vir hom ’n kostuum te maak, maar hulle is eintlik rebelleleiers. Die stuk is deur Truk opgevoer en dis ook in 1989 deur die Kaaplandse Raad vir Uitvoerende Kunste (Kruik) by die Nico Malan-teater (vandag Kunstekaap-teater) opgevoer. 1

Nog bekronings

Barto moes lank vir sy Hertzogprys gewag het. Hy was ses keer vir die gesogte prys benoem, maar het dit eers in 1978 vir sy hele oeuvre gewen.

Sy ander pryse sluit die Encyclopaedia Britannica-toekenning in 1960 in, vir sy Engelse vertaling van sy teks Die Verminktes (The Maimed).

Hy het ook in 1979 die Perskor-prys vir Letterkunde vir sy toneelstuk Die keiser ontvang.

Barto het vele dramatekste na Afrikaans vertaal en in 1985 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Akademie-prys vir Vertaalde Werk aan hom toegeken.

Met sy 60ste verjaardag is hy met ’n bundel deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gehuldig. Hulle het die bundel Spel en spieël saamgestel en hy het dit in 1985 in ontvangs geneem. Perskor het ook ’n bundel opstelle getiteld Bartho aan hom as geskenk gegee. Dit is deur sy beste vriende, soos Chris Barnard, Rosa Keet, Jan Rabie, André P. Brink, W.F. van Rooyen, Nel Erasmus en Abraham de Vries, saamgestel. Hulle het oor Bartho se karakter en werk geskryf.

In 2023 is ’n huldigingsboek, getiteld ’n Huldiging. Barto Smit: Koorddanser tussen triomf en tragedie, deur Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris vrygestel. Dit het deel van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsreeks vir Hertzogpryswenners gevorm.

Afsterwe

Barto het tot kort voor sy dood nog geskryf. Hy wou glo nog twee dramas skryf wat saam met Putsonderwater ’n trilogie sou vorm. Hy was ook glo besig om aan ’n drama genaamd Hagar te skaaf.

Hy is op 31 Desember 1986 in sy huis in Melville, Johannesburg, aan longkanker oorlede. Die kanker het ook sy brein aangetas. Sy vrou, Kita, is in 1994 aan hartversaking oorlede.

Smit se oeuvre

Naam Tipe Publikasiedatum Uitgewer
Mure: verse Poësie 1950 Unie-Boekhandel

 

Moeder Hanna Drama 1955, 1959, 1969, 1973 Afrikaanse Persboekhandel
Die verminktes Drama 1960, 1976 Perskor

 

Don Juan onder die boere Drama 1960, 1975 Human & Rousseau
Putsonderwater: ’n toneelstuk in vier dele Drama 1972, 1970, 1979, 1980, 1985

 

Afrikaanse Persboekhandel

Kaapstad: Tafelberg

 

Die man met die lyk om sy nek: ’n moord-komedie Drama 1967 Afrikaanse Persboekhandel
Christine Drama 1971, 1975, 1981

 

Tafelberg
Die man met die alibi

 

Drama 1971, 1977, 1978, 1988, 1991

 

Afrikaanse Persboekhandel

Perskor

 


Losgoed
 
Sketse 1974 Perskor
Bacchus in die Boland Drama 1974, 1975, 1987, 1988

 

Perskor
Die keiser: variasies op ’n sprokie van Hans Andersen Drama 1977, 1979, 1980, 1981, 1988, 1991, 1994, 1997

 

Perskor

Woordbank

amateurdramagroep ’n Groep toneelspelers wat geen formele opleiding gehad het nie.
apartheidsbeleid Die amptelike beleid wat die Nasionale Party-regering (1984-1994) gevolg het en wat Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei en afgesonder het.
bedrewe Goed of vaardig.
doktorsgraad Hoogste kwalifikasie wat iemand aan ʼn universiteit kan behaal.
dramaturg Skrywer van toneelstukke; iemand wat dramas skryf.
eenbedrywe Toneelstukke met een bedryf.
filosofie Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek.
geselskappe Verskeie groepe mense/kunstenaars wat saam optree.
grondslag Dit waarop iets berus, die beginsel of fondament.
kultuur Dit is al die lewenswyses insluitend kunste, oortuigings en instellings van ’n bevolking wat van geslag tot geslag oorgedra word.
krepeer Swaar kry, ʼn ellendige bestaan voer.
literêre Wat met literatuur/letterkunde verband hou.
magistergraad ’n Gevorderde universiteitsgraad; meestersgraad.
misnoeë Ontevredenheid.
oeuvre Al sy/haar werke.
op die planke Om ʼn toneelstuk op die verhoog op te voer.
proefskrif Wetenskaplike verhandeling (dokument/boek) wat mens indien om jou doktorale graad te verwerf (te kry).
prosa Geskrewe taalgebruik, veral as letterkundige genre.
publikasies Die gedrukte uitgawes van boeke of geskrifte.
rassepolitiek Politiek gebaseer op ’n bepaalde identiteit, soos ras, nasionaliteit, godsdiens, geslag, seksuele oriëntasie, sosiale agtergrond, ens.
redakteur Iemand wat rigting gee en toesig hou oor die beleid van ’n publikasie.
regisseur Iemand wat die regie van byvoorbeeld ’n toneelstuk behartig.
repetisie Herhaalde of finale oefening, ook kleedrepetisie genoem.
sprokie ’n Storie wat dikwels van geslag tot geslag vir kinders oorvertel word. Denkbeeldige wesens soos drake, kabouters, feetjies en dies meer speel dikwels ’n rol.
taboe Iets/dinge wat mens nie mag doen nie.
teaterkritikus ʼn Persoon wat optredes bywoon en ʼn kunswerk/opvoering/ens. beoordeel.
toneelproduksies Teaterproduksies; die beplanning, repetisie en aanbieding van ‘n werk.
triomf   Oorwinning; groot/besonderse sukses.
uitgewer Iemand wat boeke laat druk en versprei.
werpskyf Diskus; ’n spel waar ’n ronde skyf geslinger word.
verban Uitstoot; verdryf.
vertolk Om jou in te leef in die storie en dit te lees asof jy werklik die karakter is.
verslaggewer Iemand wat artikels skryf.

Lees hierdie artikels om nog meer oor Smit te leer

Kyk hierdie video oor Bartho Smit

Wie was Bartho Smit?

Die keiser se nuwe klere

Foto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2024 | Bygewerk op 22 Februarie 2024