Die woord drama beteken “handeling” in Grieks en kan verwys na ʼn dramateks, sowel as die opvoering van ʼn dramateks. Hoewel hierdie inskrywing meestal na eersgenoemde betekenis verwys, is dit baie belangrik om te onthou dat ʼn dramateks oorspronklik geskryf word met die doel om opgevoer te word. Die skrywer van ʼn dramateks word ʼn dramaturg genoem. Die geskiedenis van die Westerse drama begin by die Grieke wat tragedies en komedies by feeste ter ere van die Griekse god Dionysus opgevoer het, en deur die eeue heen het hierdie literêre teks en kunsvorm verskeie ontwikkelings ondergaan met bekende dramaturge soos William Shakespeare, Molière, Goethe en Bertolt Brecht.

Kenmerke van ʼn drama

Die dramateks word gewoonlik verdeel in die dele wat dialoog bevat en die dele wat die didaskalia bevat. Didaskalia verwys na die titel van die drama, karakterlyste, voorwoorde, epiloë, proloë en toneelaanwysings. ʼn Dramateks moet gewoonlik binne twee tot drie ure opgevoer word en kan daarom nie so lank soos ʼn roman wees nie. Dit kan dus beskryf word as ʼn uiters gekonsentreerde verhaal.

Die handelinge in ʼn drama kan uiterlik of innerlik wees. Uiterlike handelinge verwys na die fisieke bewegings, gebare en gesigspel van die karakters, terwyl innerlike handelinge kan verwys na gevoelens, verskillende drange in ʼn karakter, meningsverskille en teenstrydige standpunte. Konflik is ʼn belangrike kenmerk van die drama. Botsings tussen karakters bring die sentrale tema van die drama, sowel as karakters se karaktertrekke na vore.

ʼn Drama is gewoonlik in bedrywe en/of tonele ingedeel, maar omdat hierdie indeling meer uiterlik in die dramateks is, word dramas eerder in fases verdeel.

Die algemene struktuur van ʼn drama sien soos volg daar uit:

  1. Eksposisie (uiteensetting): Die stand van sake aan die begin van die drama word hier weergegee om die leser/toeskouer in staat te stel om die res van die gebeure te volg. Die milieu (agtergrond), tyd en vernaamste karakters word ook in hierdie fase bekendgestel.
  2. Motoriese moment: Tydens hierdie fase vind ʼn gebeurtenis plaas wat die handelinge aan die gang sit.
  3. Verwikkeling: Die handeling wat deur die motoriese moment aan die gang gesit is, word verder gevoer deurdat die situasie komplekser word en die botsings hewiger. Die sogenaamde krisis kan ook in hierdie fase gevind word.
  4. Hoogtepunt (klimaks): In hierdie fase kom die konflik/botsings byeen in ʼn dramatiese hoogtepunt.
  5. Wending: Ná die hoogtepunt neem die handelinge ʼn beslissende wending.
  6. Afwikkeling: Die handelinge ontwikkel verder in die rigting van die wending.
  7. Ontknoping: Die drama bereik sig eindpunt, hetsy met ʼn geslote of oop einde.

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie formule nie altyd op alle dramas van toepassing hoef te wees nie. Die intrige of plot van ʼn drama is die volgorde waarin gebeure en situasies op mekaar volg.

Die karakters in ʼn drama (ook dramatis personae genoem) is gewoonlik die hoofrolspeler (protagonis) en teenspeler (antagonis). Die teenstrydige en opponerende sienswyses en handelinge tussen hierdie twee karakters het gewoonlik konflik tot gevolg. Daar kan ook ʼn derde speler (tritagonis) teenwoordig wees wat die intrige veroorsaak. Benewens hierdie drie hoofsoorte, kan daar ook ander hulpspelers teenwoordig wees. Vanweë tydsbeperking is die getal karakters gewoonlik beperk en kan daar nie uitgebreide karakterontwikkeling plaasvind nie.

Een van die belangrikste kenmerke van die drama is die dialoog. Karakters praat met mekaar, hulself of die gehoor. Wat die karakter sê, is net so belangrik as die manier waarop hy/sy/sig dit sê aangesien dit help om die beeld wat die leser/toeskouer van die karakter het, te bepaal. Net so is dit wat die karakter doen, net so belangrik soos die manier waarop die handeling uitgevoer word. Dramatiese ironie verwys na die kontras tussen skyn en werklikheid en manifesteer wanneer ʼn karakter byvoorbeeld onbewus van iets is waarvan die gehoor en ander karakters wel bewus is.

Verskillende soorte dramas sluit in die tragedie, komedie, tragikomedie, klug, hoorspel, eenbedryf, absurde drama en versdrama.

Voorbeeld van ʼn drama

Die volgende voorbeeld van ʼn dramateks kom uit Chris Barnard se 1964-drama Pa, maak vir my ʼn vlieër, Pa:

VROU:           Wat staan jy so voor die venster?

ORG:              Ek kyk of hy nog nie kom nie.

VROU:           Hoe kan jy kyk? Jy ken hom nie.

ORG:              [Na ʼn kort pouse] Ek kyk maar net, Ma.

VROU:           Jy staan elke aand so voor die venster.

[Org kyk nie na haar as hy praat nie. Sy oë bly gerig op iets buite, oorkant die straat, effens hoër as sy gesig.]

VROU:           [Los haar breiwerk en probeer omkyk na hom toe.]

ORG:             Los die venster en praat met my.

ORG:              [Hy kyk nog ʼn oomblik na buite, draai dan om en kom tot agter haar.] Ja, Ma.

VROU:           Maak toe die venster – dis koud. Wat kyk jy so uit heeltyd?

ORG:              Ek kyk net, Ma. Kan mens dan nie by jou eie venster uitkyk nie?

VROU:           Jy kyk elke aand.

ORG:              Nie elke aand nie, Ma.

VROU:           Wat het hy gesê hoe laat kom hy?

ORG:              Hy’t nie gesê nie.

VROU:           Dis nou ook weer vir jou te sê. Stuur ʼn telegram en sê hy kom. Vrá nie eens nie. Sê sommer net hy kom. En hy sê nie eens hoe laat nie.

ORG:              Ja, Ma.

Dramas en dramaturge

 Vroeër Afrikaanse dramaturge sluit in J.F.W. Grosskopf, H.A. Fagan, Chris Barnard, Peter Snyders, Henriëtte Grové, Pieter Fourie, Corlia Fourie, Reza de Wet, Bartho Smit, Hennie Aucamp, A.S. van Straten. Die Hertzogprys word elke derde jaar aan ʼn dramaturg wat werke van hoogstaande gehalte skryf, toegeken. Onlangse dramaturge wat met hierdie prys bekroon is, sluit in Nicola Hanekom vir In glas (2018), Pieter Dirk-Uys vir sy hele oeuvre, Tertius Kapp vir Rooiland en Oorsee (2014), Adam Small vir sy hele oeuvre, Deon Opperman vir Kaburu (2008). Ander onlangse dramatekste sluit in Ont- (2022) deur Wessel Pretorius, Wild/Klippe wat val (2020) deur Philip Rademeyer, Nêrens Noord-Kaap (2020) deur Nico Scheepers en Samsa-masjien (2015) deur Willem Anker.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Februarie 2022 | Bygewerk op 22 Februarie 2024