Poësie verwys na die digkuns. ʼn Gedig is ʼn letterkundige teks in versvorm, met of sonder rym, waarin die digter ʼn sekere gedagte of gevoel deur middel van taalsimbole wil oordra. In gedigte word uitdrukking gegee aan intense, emosionele of diepsinnige ervarings of insigte.

Kenmerke van poësie

 ʼn Gedig het gewoonlik ʼn titel, maar dit hoef nie noodwendig een te hê nie. Sommige gedigte het ook subtitels of aanhalings (motto’s) wat die gedig geïnspireer het.

Die woorde in ʼn gedig word in versreëls gerangskik. Wanneer versreëls saamgegroepeer word, word dit ʼn strofe genoem. Strofes van spesifieke lengtes het spesifieke name: twee versreëls is ʼn koeplet, drie versreëls is ʼn tersine, vier versreëls is ʼn kwatryn, vyf versreëls is ʼn kwintet, ses versreëls is ʼn sestet, sewe verseëls is ʼn septet en agt versreëls is ʼn oktaaf. Daar is ook gewoonlik ʼn spreker in ʼn gedig teenwoordig, maar die leser kan nie net aanneem dat die digter en die spreker dieselfde mens is nie.

Gedigte is oorspronklik geskryf om voorgedra te word en daarom is die vernaamste elemente van ʼn gedig klank, beweging, ritme, gevoel en suggestie. Wat klankeffekte betref, word onderskei tussen eindrym (herhaling van klanke in die laaste lettergrepe of woorde van versreëls) en halfrym (herhaling van vokale of konsonante in ʼn versreël). Voorbeelde van eindrym is paarrym (met die rymskema aabb ccdd), kruisrym (abab cdcd), omarmde rym (abba cddc) en gebroke rym (abcde). Voorbeelde van halfrym is assonansie (herhaling van vokale) en alliterasie (herhaling van konsonante). Klanknabootsing (of onomatopee) word ook dikwels as klankeffek ingespan om ʼn gedig meer treffend te maak.

Benewens hierdie effekte gebruik digters ook beeldspraak (soos vergelykings, metafore, personifikasie) en stylfigure (soos hiperbole, kontras, ironie, satire, humor, sarkasme, simboliek). Die tipografie van ʼn gedig verwys na die uiterlike bou van die gedig, met ander woorde hoe dit op die bladsy gerangskik en gedruk is.

Soorte poësie

Kwatryn

 ʼn Kwatryn is ʼn selfstandige gedig wat uit vier versreëls bestaan, en waarin die digter baie kernagtig uitdrukking aan ʼn bepaalde wysheid of insig gee.

Duiwe

 

Bali se singende duiwe

Omsingel die maan in hul vlug

En hang, ‘n tros donkerblou druiwe,

Aan die hoë prieel van die lug.

Uit: Kwatryne (1941) deur I.D. du Plessis

Sonnet

Daar word breedweg tussen twee soorte sonnette onderskei, naamlik die Engelse of Shakespeariaanse sonnet en die Italiaanse of Petrarkaanse sonnet. Beide bestaan uit veertien versreëls, maar die manier waarop hierdie versreëls gerangskik word, verskil.

Die veertien versreëls van ʼn Engelse sonnet word in drie kwatryne en ʼn koeplet gerangskik. Die rymskema van die kwatryne is altyd abab cdcd efef en van die koeplet altyd gg.

Eerste sneeu

 

Die blydskap het oornag soos nuwe sneeu

die laagste hellings van my vroeë smart

tot skoonheid omgeskep waar elke skreeu

soos ’n sweep in die blink lug van die klowe hard

 

en helder klink. Die ronde aarde staan

wit oopgekelk en suiwer soos ’n blom –

een glinstering waar die nuwe waters gaan,

verwagtingloos, want alles het gekom.

 

O hart, sal vreugde hoër gaan, en jy

nie sterf? Daar kom in my ’n stil vermoede,

dat alle lewe só sy volheid kry

en heerlik gaan in die rustige dood se hoede,

 

dat jy sal spoel en breek en uitgestort

in hierdie wit golf van die vreugde word.

 

Uit: Die halwe kring (1937) deur N.P. Van Wyk Louw

Die veertien versreëls van die Italiaanse sonnet word in ʼn oktaaf en ʼn sestet verdeel. Die rymskema van die oktaaf is altyd abbaabba. Die rymskema van die sestet is gewoonlik cdcdcd of cdecde.

Sonnet

 

My hande was van altyd af onpaar:

skraal, vroulik en beskeie is die linker,

haar maat is ferm, grofgekneukeld, flinker,

maar net so links met greep, groet of gebaar.

 

Verwonderdheid, besinning, wanhoop, angs,

die dinge wat die bloedstroom plotseling strem,

dryf hul soms saam in asemlose klem,

maar dan los elk, verleë, gou sy vangs.

 

Selfs in die voorgeboortelike vog

het hulle onafhanklik rondgeroei

en was nooit waarlik aan mekaar verknog.

 

Ek twyfel of hul ooit behoorlik tuis

kan raak of tot eenparigheid sal groei

vóór iemand hulle oor my borskas kruis.

 

Uit: Die helder halfjaar (1956) deur Elisabeth Eybers

Vrye vers

 ʼn Vrye vers het geen vaste struktuur of rymskema nie. Narratiewe gedigte waarin ʼn storie vertel word, word gewoonlik in vrye vers geskryf.

ek wou

dat jy ʼn gewone gedig

moet wees:

net so netjies

soos ʼn sonnet

 

ek wou

jou vorm

soos ek jou wou.

 

ek weet nou:

jy sou dit nie wou nie.

 

want jy het losgebreek

tot meer

as veertien reëls

en somtyds

rym jy glad nie.

 

nou

ken ek jou

nou nog nie.

 

Deur: Valda Jansen

Haikoe

Die haikoe is ʼn Japannese vers wat tradisioneel uit 17 lettergrepe bestaan. Die lettergrepe word verdeel in 5 lettergrepe in die eerste versreël, 7 lettergrepe in die tweede versreël en 5 lettergrepe in die derde versreël.

brose skoenlapper

klap vir die eerste keer vlerk

die aarde sidder

 

Uit: Stipstaar (2020) deur Gerard Scholtz

Limeriek

 ʼn Limeriek (of limerick) is ʼn grappige of spottende gediggie wat dikwels woordspelings en onsinnighede bevat. Dit bestaan gewoonlik uit vyf versreëls met die rymskema aabba.

Daar’s vyf reëls in ʼn limeriek:

Hul’s snaaks of stout, of effens siek.

Hul het iets om die lyf

En die angel in vyf

Is die fyn draai van die briek

 

Uit: Die Worcester asporcester (1989) deur Philip de Vos

Benewens hierdie digvorme, is daar ook die ballade, beeldgedig, cinquain, elegie, epos, parodie, pantoen, rondeau, triolet en vilanelle.

Digters en bundels

 “Winternag” (1905) deur Eugène Marais word allerweë as die eerste literêr-volwaardige gedig in Afrikaans beskou. Daarna het vele digters in Afrikaans begin skryf en van die eerste digbundels word deur Jan F.E. Celliers, Totius en C. Louis Leipoldt gepubliseer. Ander bekende Afrikaanse digters sluit in N.P. Van Wyk Louw, Sheila Cussons, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Johann Lodewyk Marais, Ingrid Jonker, Diana Ferrus, Peter Snyders, Stephan Bouwer, Joan Hambidge, Adam Small, Lina Spies, Hennie Aucamp en Ronelda Kamfer.

Die Hertzogprys word elke derde jaar aan ʼn digter wat werke van hoogstaande gehalte skryf, toegeken. Onlangse digters en bundels wat met hierdie prys bekroon is, sluit in Johan Myburg met Uittogboek (2017), Antjie Krog met Mede-wete (2014), Marlene van Niekerk met Kaar (2013), Johann de Lange met Die algebra van nood (2009) en  met Die windvanger (2007). Onlangse digbundels sluit in Soe rond ommie bos (2021) deur Veronique Jephtas, pienk ceramic-hondjies (2020) deur Ryan Pedro, Jan, Piet, Koos en Jakob (2019) deur Loftus Marais, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (2018) deur Pieter Odendaal, Krap uit die see (2017) deur Fourie Botha en Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers.

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 1 Maart 2022 | Bygewerk op 22 Februarie 2024