Vinnige feite

  • P.G. het in 1987 sy eie rolprentmaatskappy – Sommatel – gestig, waarvoor hy die draaiboeke van rolprente soos Nag van die negentiende, Liewe hemel, Genis! en Koöperasie-stories: die moewie geskryf het. 1
  • P.G. was groot vriende met Jan Spies. Hulle het dikwels in die nag buite op die plaas na die sterre gelê en kyk en dan het Jan die hele nag die sterrestelsels uitgelê. 3
  • P.G. het ’n grenslose bewondering vir N.P. van Wyk Louw gehad. Hy het handgeskrewe gedigte van Van Wyk Louw gehad, elk geraam agter glas en in ’n houtkissie bewaar. 3
  • Hy het self sy studeerkamer op sy plaas met groot klippe gebou nadat mense vir hom gesê het mens kan nie met daardie soort klippe bou nie. 9
  • Op hierdie plaas het sy vrou Marie geboer en P.G. kon hom met houtwerk besig hou, iets waarvoor hy ’n groot liefde gehad het. 4
  • P.G. het dinge op die ou manier gedoen – joernaliste moes na sy plaas toe gaan vir onderhoude, hy het nie vrae per telefoon of per e-pos beantwoord nie. 2

Suid-Afrika is geseën met talle besonderse mense wat vele hoede dra en nie net op een terrein uitblink nie. So ’n mens was P.G. du Plessis ook – dosent, navorser, joernalis, koerantredakteur, humoris, aanbieder van ’n geselsprogram op televisie, vervaardiger van rolprente en TV-programme en les bes – uitblinkerskrywer wat talle toekennings vir sy skryfwerk ontvang het.

Die jong P.G.

Pieter Georg du Plessis is op 14 Julie 1934 in die dorp Boshof in die Vrystaat gebore. Hy het sy matriek aan die Hoër Volkskool in Heidelberg (Gauteng) geskryf. 1

Hy was baie gesteld op die regte spelling van sy tweede naam, Georg, sonder ’n e aan die einde! 2

Hy het in sy jong dae by die skoolhoof se dogter gekuier en later met die einste dogter getrou – haar naam was Marie en hulle was getroud tot en met P.G. se dood. Haar pa was skoolhoof by die Hoërskool Fakkel in Johannesburg waar P.G. ook skoolgehou het. P.G. vertel van die eerste dag toe hy op die plaas by Marie gaan kuier het. Haar pa het hom gevra om ’n akkerboom te gaan plant, sommer met sy eerste kuier daar! P.G. en Marie is getroud en het twee kinders gehad – Marita en Fritz.

Daardie boom was ’n reuseboom toe P.G. in 2014 die storie vertel het. Hy het later die plaas by sy skoonpa gekoop. 3

Hoewel hy algemeen as P.G. bekendgestaan het, het hy eintlik verkies om Pieter genoem te word. 4

Studies en ’n veelsydige loopbaan

Sy BA-graad het hy in 1955 aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal met Afrikaans-Nederlands en geskiedenis as hoofvakke. 1

In 1957 het hy ook ’n onderwysdiploma aan die Pretoriase Onderwyskollege behaal en hy was vir ’n tyd lank onderwyser aan die Hoërskool Fakkel in Johannesburg. 5

Hy het sy BAHons in 1960 aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi 6 en in 1966 het hy sy doktorsgraad onder leiding van N.P. van Wyk Louw behaal met die onderwerp Die verwysing in die literatuur”. 1

Hy was ’n direkteur by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), op die redaksie van die tydskrif Standpunte, assistentredakteur van die daaglikse koerant Die Transvaler en redakteur van die koerant Hoofstad. 1

P.G. het as televisiepersoonlikheid verder bekend geword in die land met programme soos Spies en Plessie, Maak ’n las en P.G. gesels met. 6

Kyk na dié indrukwekkende lys van sy skryfwerk

Publikasie oor literêre kritiek

1968 Die verwysing in die literatuur

Toneelopvoerings

1969 Die nag van Legio

1971 Siener in die suburbs

1973 Plaston: DNS-kind

1977 ’n Seder val in Waterkloof

1985 Vereeniging, vereniging 6

1999 Inkleurboek vir twee

2006 Bedevaart vir drie aktrises

2004 Nagkantoor

2007 Sophia Mentz beredder haar boedel 4

Prosa – kort stories

1980 Koöperasie-stories op Donderdag

1983 Hier sit die manne…

1985 Nog koöperasie-stories

1991 Koöperasie-stories: die omnibus

1997 Tussen die riewe

1998 Tweehonderd stories

2006 120+ sommerstories

2009 Kortetjies en ’n lange

 

Prosa – sketse

1987 Het olifante elmboë?

1993 Neklis

 

Prosa – novelles

1998 The Married Man’s Guide to Adultery: A Study of Adulterations

2008 Fees van die ongenooides

P.G. en Sandra Prinsloo

Vertalings

Die nag van Legio (1969) vertaal na Engels – My name is Legion 1

TV-reekse en -dramas

Anderkant Sesriem – die storie van ’n jong man se ondervinding in die Namibwoestyn

’n Rand ’n droom

TJ7

Maplotters

Andries Plak

Dryfsand 

Feast of The Uninvited (’n verwerkte vertaling van sy boek Fees van die ongenooides).

Mattewis en Meraai (Mikro se stories verwerk in hierdie hoogs suksesvolle en gewilde TV-reeks)

Pandjieswinkelstories 7

Rolprente

Nag van die 19de

Liewe hemel, Genis! 

Weerskant die nag 

The Devil And The Song 7

P.G. het die hart van die platteland en mense op die platteland verstaan. Daarom was sy stories en reekse wat in die platteland afgespeel het, uiters gewild onder lesers en kykers. Hierdie boeke en skryfwerk was onder meer Koöperasiestories, Mattewis en Meraai en Pandjieswinkelstories. 6

P.G. vertel self oor sy lewe en skryfwerk

Hy vertel dat hy die toneelstuk Siener in die suburbs op verskillende lughawens geskryf het. Hy was op ’n toer vir die RGN en hy het altesaam 27 vlugte tydens hierdie toer gehad! Hy het ’n ou bandopnemertjie by hom gehad en het die storie daarop opgeneem. 8

Hy sê die volgende oor sy skryfwerk: “Jou hartseer skuif oor na jou karakters toe, die snaaksighede skuif oor na jou karakters toe. Al my hartseer is in Fees van die Ongenooides ingeskryf. 3

P.G. du Plessis en en sy vrou, Marie, op hul plaas – 20 Junie 2013

Hy sê ook die: “Dit was nog nooit vir my maklik om te skryf nie. Die oomblik as dit maklik raak, dan moet jy weet jy is in die moeilikheid.” 2

Op die vraag oor of hy Fees van die ongenooides as sy beste werk beskou, antwoord hy: “Niemand weet hoe die langtermynoordeel gaan lyk nie. Maar ek is nie skaam vir daardie boek nie.” 9

P.G. was na aan sy ouers. Toe sy pa en ma nie meer alleen in hul huis in die dorpie Cornelia, in die noordoostelike deel van die Vrystaat, kon bly nie en na P.G. se suster op die plaas moes verhuis, het sy vir hom gevra watter van sy boeke sy vir hom plaas toe moet vat. Toe antwoord hy: “Vat net vir my Boet se boeke”. 3

Oor sy vrou Marie het P.G. telkens in onderhoude gesê dat sy die beste vrou in die wêreld vir hom was. Toe hy haar gevra het of sy kans sien daarvoor om saam met hom arm te wees as hy besluit om by sy werk te bedank om voltyds te skryf, was haar antwoord dat sy nie op 70 sal wil luister na sy verwyte oor alles wat hy toe nié geskryf het nie! Volgens P.G. het Marie verstáán hoe ’n skrywer se kop werk. 9

P.G. en Hans du Plessis

Toekennings

P.G. se skrywersloopbaan is gekenmerk deur talle pryse en toekennings. Hierdie is enkele daarvan:

  • W.A. Hofmeyr-prys (1970) – Die nag van Legio
  • CNA-prys (1971) – Siener in die suburbs
  • Hertzog-prys vir Drama (1972) – Die nag van Legioen Siener in die suburbs 
  • WA Hofmeyr-prys (1973) – Siener in die suburbs 1
  • SAUK-prys vir Afrikaanse TV-drama – ’n Rand ’n droom (1978) 7
  • FAK-prys vir Fiksie (1988) – Het olifante elmboë?
  • Insig Afrikaans Onbeperk Pioniersprys (2002)
  • ATKV Televisie-prys vir die Beste Teks (2007) – Vir die TV-reeks Dryfsand
  • In 2011 is P.G. deur die Innibos Kunstefees vereer vir sy skrywersbydrae tot die Afrikaanse kultuurskat. In daardie jaar is sy drama ’n Seder val in Waterkloof ook by die fees opgevoer. 9
  • Helgaard Steyn-prys: Fees van die ongenooides (2012) 1
P.G. en Alexa Strachan

’n Groot skrywer se woorde droog op

P.G. is op 7 Junie 2017 oorlede toe hy 82 was. Hy het tot met sy dood saam met sy vrou Marie op hulle plaas, Sémoèr, in die omgewing van Rysmierbult, in die distrik Ventersdorp (Noordwes) gewoon.

Die skrywer Chris Barnard het vir P.G. raak beskryf toe hy in 2011 die volgende oor hom gesê het:

“Hy is vinniger met die mond as Eitemal, hy is aardser as Opperman, hy is so gevat soos Kaspaas, hy is slimmer as die houtjie van die galg. Hy is ’n méns in die volste sin van die woord. En hy leef die lewe.” 4

P.G. en Chris Barnard tydens Du Plessis se 80ste verjaardag

Woordbank

bedevaart Geestelike reis.
beredder Om ’n boedel af te handel.
boedel Dit is die versamelnaam vir al die besittings en geld wat ʼn persoon met sy sterfte besit het.
direkteur Persoon wat bestuur of beheer uitoefen, veral een van ʼn groep persone (die direksie) wat die sake van ’n bedryf/maatskappy bestuur.
DNS Deoksiribonukleïensuur; die stof in die selle van die liggaam wat elke individu se unieke genetiese inligting bevat.
einste Dieselfde.
gesteld op Om iets presies op die regte manier gedoen te wil hê.
gevat Skerpsinnig, snel van begrip.
humoris Persoon wat ’n goeie aanvoeling vir humor het.
koöperasie ’n Koöperatiewe/samewerkende onderneming.
kortetjies en ’n lange Hier verwys die titel van die boek na die plaaslyne van jare gelede – verskeie mense het dieselfde telefoonlyn gedeel en die luitone was ’n kombinasie van kort en lang luie, elke nommer het dus sy eie luitoon gehad.
les bes Laaste, maar nie die minste nie.
novelles Kort prosaverhale wat langer is as ’n kortverhaal, maar korter as ’n roman.
omnibus Lywige (groot) boek wat verskillende boekdele van ʼn skrywer/oor ʼn onderwerp bevat.
pandjieswinkel Winkel waar jy ’n artikel kan gaan “verpand” wanneer jy geld nodig het. Jy kry dan ’n sekere tyd om die artikel weer te gaan terugkoop sodra jy geld het om dit te doen, anders word dit verkoop.
prosa Geskrewe taalgebruik, veral as letterkundige genre.
raak beskryf Baie goed/presies beskryf.
redakteur Iemand wat rigting gee en toesig hou oor die beleid van ’n publikasie.
riewe Delwerswoord vir uitgestrekte rotsbanke of riwwe waar delwers na diamante soek.
sketse Kort stukkies prosa wat nie ’n verhaal is nie, maar eerder ’n beskrywing.
slimmer as die houtjie van die galg Baie slim, maar met ʼn slegte doel in gedagte; baie geslepe, slinks.
uitblink Om besonder goed te presteer.
veelsydige Iemand wat baie (verskillende) dinge goed kan doen.
vele hoede dra Om meer as een ding of werk gelyktydig te kan doen.
Vereeniging ʼn Dorp in die Vrystaat.
vereniging Versoening, vredemaking.

Lees hier

Foto’s oor P.G. se lewe

Video’s oor die veelsydige P.G.

Kyk hier vir meer inligting oor Die Nag van Legio

P.G. gesels oor hoe karakters hom raak

Siener in die suburbs (1973) – die volledige rolprent

Siener in die suburbs (1973) – kort uittreksel

P.G. gesels oor Siener in die suburbs

Hier kan jy kyk na ’n episode van die program Spies en Plessie waarvan P.G. een van die aanbieders was

Lokprent van die TV-reeks Koöperasiestories

Koöperasiestories – Kyk na ’n episode uit hierdie gewilde reeks. Die drie karakters wat elke dag op die stoep van die kafee gesit het om die lief en leed van die mense van die dorp te bespreek, was Mietie, Veldsman en Genis.

Luister hoe PG ’n gedeelte uit Fees van die ongenooides voorlees

P.G. gesels in 2013 oor sy Fiësta-toekenning

Coenie de Villiers gesels met P.G. du Plessis

Kunstenaars gesels oor P.G. ná afloop van sy begrafnisdiens

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 Maart 2024 | Bygewerk op 20 Maart 2024