Vinnige feite
- “Solis”: Ons sonnestelsel word in Engels genoem, “Solar System”. Dit is verkry vanaf die Latynse naam vir die son, “Solis”. Alles wat verwant is aan die son in die sterrekunde, word “Solar” genoem.
- So ‘n swaar son: Dit bestaan uit die ligste elemente in die heelal: waterstof en helium. Ten spyte hiervan is die son ten minste 333 000 keer swaarder as die planeet aarde.
- Swaartekrag: Die son is die grootste en swaarste voorwerp in die sonnestelsel, daarom oefen dit ook die grootste hoeveelheid swaartekrag op die planete uit. Die swaartekrag veroorsaak dat al die planete in elliptiese wentelbane om die son beweeg.
Ons is baie gelukkig om so baie sonskyndae in Suid-Afrika te hê dat ons die son amper as ‘n vanselfsprekende deel van elke dag aanvaar. Ons kan buite speel en baljaar en besef dikwels nie dat die son eintlik net ‘n deeltjie (én die middelpunt) van ‘n hele stelsel in die hemelruim vorm nie! Ons noem dié stelsel die sonnestelsel.
Die sonnestelsel bestaan uit die son en al die planete wat rondom die son wentel. Dit sluit ook asteroïede, meteore, komete en die planete se mane in. Die sonnestelsel is dus die son en alles wat dit omring. Daar is agt planete in die sonnestelsel wat in ‘n elliptiese (ovaalvormige) wentelbaan om die son beweeg. Die planete hou nooit op beweeg nie en word deur swaartekrag (gravitasie) in hul onderskeie bane gehou. Dit is amper soos atlete wat elkeen in sy eie baan en teen sy eie tempo of spoed hardloop (beweeg). 1 2
Die son
Die son is ‘n reusebal warm gas. Die son se strale is só fel (sterk of helder) dat dit nie veilig is vir ‘n mens se oë om direk na die son toe te kyk nie. Die temperatuur in die middelpunt van die son is ongeveer 15 000 000 °C! 1
Reaksies diep binne-in die son stel kernkrag vry wat die oppervlak verhit tot om en by 6 000 °C. Dit is ses keer warmer as vulkaniese lawa! Groot gedeeltes warm gas bars uit die son se oppervlak en vloei in sy atmosfeer in. Hierdie gedeeltes is almal baie groter as die aarde. 4
Die son is nie ‘n planeet nie, maar ‘n ster. Dit is omdat die son sy eie energie opwek. Dit lyk ook groter en helderder as al die ander sterre omdat dit baie nader aan die aarde is as die ander sterre. Die son is ongeveer 150 miljoen kilometer weg van die aarde, maar nog steeds die naaste ster. Die son is ongeveer 420 keer groter as die aarde en 1 700 keer groter as die aarde se maan.
Ons sonnestelsel word “solar system” in Engels genoem. Dit kom van die Latynse naam vir die son, “Solis”. Alles in die sterrekunde wat verwant is aan die son, word “solar” genoem.
Die son bestaan uit die ligste elemente in die heelal, naamlik waterstof en helium. Ten spyte hiervan is die son minstens 333 000 keer swaarder as die aarde.
Die son is die grootste en swaarste voorwerp in die sonnestelsel, daarom oefen dit ook die grootste hoeveelheid swaartekrag op die planete uit. Die swaartekrag veroorsaak dat al die planete in elliptiese wentelbane om die son beweeg. 1
Die planete
Die name van die planete in die sonnestelsel:
Naby tot ver van die son | Groot na klein |
Mercurius | Jupiter |
Venus | Saturnus |
Aarde | Uranus |
Mars | Neptunus |
Jupiter | Aarde |
Saturnus | Venus |
Uranus | Mars |
Neptunus | Mercurius |
Nota: Afgesien van hierdie planete is daar nog vyf dwergplanete. 2 5
Die vier binneplanete
Die agt planete wat deel van die sonnestelsel vorm, word in binneplanete en buiteplanete verdeel. Die vier planete die naaste aan die son word die binneplanete genoem. Hulle bestaan almal uit rots en sommige van hulle het ‘n dun laag atmosfeer om die buitekant. Die planete wentel elk in sy eie baan om die son.
Mercurius
Mercurius is die naaste aan die son en die kleinste planeet. Dit het geen atmosfeer nie en sy grys oppervlak is oortrek met duisende kraters en wye vlaktes vulkaniese lawa. ‘n Krater is die merk (holte of gat) wat ons sien waar ‘n rots die planeet getref het. Die planeet se dae is bloedig warm en sy nagte weer ysig koud. Die rede hiervoor is dat Mercurius feitlik geen isolerende atmosfeer het om hitte te behou nie. Dieselfde deel van die planeet wys ook altyd na die son. 6
Vinnige feite oor Mercurius:
Deursnee | 4 875 km |
Gemiddelde afstand van die son | 57,9 miljoen km |
Getal mane | 0 |
Daglengte | 1 408 uur |
Getal dae wat dit neem om om die son te beweeg | 88 aarddae |
Venus
Venus is die tweede naaste planeet aan die son. Dit is amper dieselfde grootte as die aarde, lyk wit en skyn baie helder in die aande of vroegoggend. Venus is een van die planete wat baie mooi lyk vanaf die aarde, maar die eintlike rede vir die helder lig is omdat dit bedek is met ‘n dik wolkmantel swaelsuur. Volgens die Romeinse mitologie is Venus die naam van die godin van liefde en skoonheid, en omdat dié planeet so mooi en helder skyn, is dit na haar vernoem. Die digte atmosfeer bestaan hoofsaaklik uit koolstofdioksied. Dit vang só baie hitte vas dat die lawabedekte oppervlak van die planeet ‘n skroeiende 464 °C bereik, wat Venus die warmste planeet in die sonnestelsel maak. Dit is warm genoeg om lood te smelt! Anderkant die digte wolk van koolstofdioksied is al vulkane en berge waargeneem. Venus verskil van die aarde en die meeste ander planete deurdat dit in die teenoorgestelde rigting roteer. 7
Vinnige feite oor Venus:
Deursnee | 12 104 km |
Gemiddelde afstand van die son | 108,2 miljoen km |
Getal mane | 0 |
Daglengte | 5 832 uur |
Getal dae wat dit neem om om die son te beweeg | 255 aarddae |
Aarde
Die aarde is die enigste planeet in die sonnestelsel met vorme van lewe. Die ander planete is te warm of te koud en het nie groot hoeveelhede vloeiende water soos die aarde nie. Die aarde is die enigste planeet met oseane water wat 72% van sy oppervlak bedek. 4
Die aarde wentel voortdurend om sy eie as. Hierdie denkbeeldige as lê min of meer noord-suid (van die Noordpool na die Suidpool). Die aarde draai ook nie in ‘n regop posisie nie, maar op ‘n as wat ‘n hoek van 23,5° met die vertikale as vorm. Dit is hierdie helling van die aarde se as wat meebring dat ons seisoene op aarde het. 4
Een wenteling van die aarde om sy eie as duur 24 uur en dit is hoekom daar in elke 24 uur ‘n dag en ‘n nag is. Ons noem dit die aarde se aswenteling.
Vinnige feite oor die aarde:
Deursnee | 12 756 km |
Gemiddelde afstand van die son | 149,6 miljoen km |
Getal mane | 1 |
Daglengte | 24 uur |
Getal dae wat dit neem om om die son te beweeg | 365 ¼ dae |
Mars
Mars, ook bekend as die rooi planeet, is net die helfte so groot soos die aarde en het te min swaartekrag om veel atmosfeer te behou. Die atmosfeer is dus dun. Droë rivierbeddings en vloedvlaktes wys dat daar eens op ‘n tyd water op dié planeet gevloei het. Al die oorblywende water is gevries by die planeet se Noord- en Suidpool, of onder die planeet se droë, stowwerige, klipbestrooide oppervlak. Mars het ‘n rooi kleur wat van ysteroksied, dieselfde materiaal as roes, verkry word. 4 8
Vinnige feite oor Mars:
Deursnee | 6 780 km |
Gemiddelde afstand van die son | 227,9 miljoen km |
Getal mane | 2 (Phobos en Deimos) |
Daglengte | 25 uur |
Getal dae wat dit neem om om die son te beweeg | 687 aarddae |
Die vier buiteplanete
Die vier buiteplanete is die verste van die son en staan ook as die gasreuse bekend. Hulle het nie ‘n soliede oppervlak nie, maar is reusegasballe. Wetenskaplikes reken dat die drukking van die gasplanete van só aard is dat daar een of ander soliede kern by sommige van dié planete voorkom, hoewel hulle nie seker is waaruit dit bestaan nie.
Jupiter
Jupiter, wat hoofsaaklik uit waterstof en helium bestaan, is die gasreus die naaste aan die son en die grootste van al die planete. Van die aarde af lyk dit helder wit, maar van nader gesien, is dit eintlik ‘n ligte pienkbruin kleur. Dit is baie groter as al die ander planete saam en sy massa is twee keer meer as al die ander planete saam. Jupiter draai die vinnigste van al die planete en een dag op dié planeet is minder as tien uur lank (in vergelyking met die aarde se 24 uur in ‘n dag). Jupiter het ‘n area wat as die Groot Rooi Kol bekendstaan – ‘n reusagtige storm wat ongeveer twee keer die grootte van die aarde is. Dit woed al vir jare op die oppervlak van Jupiter. Een van Jupiter se rotsagtige mane, Europa, is bedek met ys wat moontlik vloeibare water versteek. 4
Vinnige feite oor Jupiter:
Deursnee | 142 984 km |
Gemiddelde afstand van die son | 778,3 miljoen km |
Getal mane | Meer as 75 |
Daglengte | 10 uur |
Getal dae wat dit neem om om die son te beweeg | 12 aardjare |
Saturnus
Saturnus is amper net so groot soos Jupiter, en dus die tweede grootste planeet. Dit het meestal ‘n ligte geel kleur en bestaan hoofsaaklik uit waterstof en helium, nes Jupiter. Die meeste gas is egter in vloeistofvorm omdat Saturnus so ver van die son af is. Teen sulke lae temperature verander waterstof en ander gasse na vloeistowwe. Saturnus se sewe kenmerkende ringe (om die planeet) bestaan uit miljoene ys- en rotsdeeltjies. Hulle wissel in grootte, van stofagtige spikkels tot groot stukke rots. Die ander buiteplanete het ook ringe, maar is nie so ooglopend en indrukwekkend soos Saturnus s’n nie. 9 10
Vinnige feite oor Saturnus:
Deursnee | 120 536 km |
Gemiddelde afstand van die son | 1,4 biljoen km |
Getal mane | 53 bevestig; 29 wat tans ondersoek word as deel van Saturnus se mane |
Daglengte | 11 uur |
Getal dae wat dit neem om om die son te beweeg | 29 aard jare |
Uranus
Uranus met sy blouerige kleur, bekend as die Ysreus, word bedek deur koue metaanwolke op sy oppervlak. Hierdie planeet bestaan uit gas (metaan en ammoniak) en water (ys) en is gekantel op sy as sodat sy Noord- en Suidpool feitlik in lyn met die son is. Sy as is teen 97⁰ gekantel en daar word gereken dat dit as gevolg van ‘n botsing met ‘n ander planeet was. Soos Venus, roteer Uranus ook van oos na wes. Dit beteken dat Uranus se rotsagtige mane lyk of hulle bo en onder die planeet wentel in plaas van om die middel. Uranus het 13 ringe. Die binneste ringe is smal en donker, terwyl die buitenstes helderkleurig is. 11
Vinnige feite oor Uranus:
Deursnee | 51 118 km |
Gemiddelde afstand van die son | 2,9 biljoen km |
Getal mane | 27 |
Daglengte | 17 uur |
Getal dae wat dit neem om om die son te beweeg | 84 aardjare |
Neptunus
Die verste planeet van die son af is Neptunus. Hierdie planeet bestaan ook soos Uranus uit ‘n mengsel van bevrore gasse, onder meer metaan wat hom sy diepblou kleur gee. Neptunus het ‘n baie stormagtige atmosfeer met windsnelhede van tot 2 100 km/h wat al aangeteken is. Beelde van die planeet wys gereeld groot storms en winde. Neptunus het ten minste vyf ringe en nog vier dowwer ringe wat uit stofdeeltjies bestaan. 12
Vinnige feite oor Neptunus:
Deursnee | 49 532 km |
Gemiddelde afstand van die son | 4,5 biljoen km |
Getal mane | 14 |
Daglengte | 16 uur |
Getal dae wat dit neem om om die son te beweeg | 165 aardjare |
Dwergplanete
Vyf rotsagtige planete is deur astronome as dwergplanete benoem:
- Ceres;
- Pluto;
- Haumea;
- Makemake; en
- Eris.
Hoewel hulle kleiner as die agt hoofplanete is, is hulle groter as die duisende ander klein wêreldjies in die sonnestelsel. Pluto het ‘n maan, Charon, wat omtrent die helfte so groot soos Pluto is. Die twee wentel om mekaar.
‘n Dwergplaneet is ‘n planeet wat:
- Genoeg swaartekrag het om ‘n sferiese vorm aan te neem;
- Om die son wentel; en
- Nie ‘n obstruksievrye wentelbaan het nie.
Wetenskaplikes weet vandag dat Pluto se wentelbaan met dié van Neptunus s’n kruis. Om hierdie rede is Pluto van ‘n planeet na ‘n dwergplaneet afgegradeer.
Asteroïedegordel
Die binne- en buiteplanete word deur ‘n asteroïdegordel – wat tussen die bane van Mars en Jupiter lê – geskei. Asteroïede is stukke rots, yster en nikkel wat so groot soos klein planete, of onsigbaar klein soos stofdeeltjies kan wees. Die asteroïede wentel ook om die son soos die planete, maar is baie kleiner as die planete. Daar is miljoene asteroïede in die sonnestelsel, waarvan die meeste in die asteroïedegordel voorkom.
Sommige asteroïede beweeg voor en agter Jupiter en word Trojaanse asteroïede genoem. Soms beweeg asteroïede naby aan die aarde en word “Near Earth Objects” of NEO’s genoem. Die Amerikaanse Ruimteagentskap NASA, oftewel die National Aeronautics and Space Administration, hou hierdie voorwerpe fyn dop. 13
Woordbank
astroïede | Stukke rots, yster en nikkel wat so groot soos klein planete, of onsigbaar klein soos stofdeeltjies kan wees en in die ruimte wentel. |
meteore | Stukke rots wat van ‘n asteroïed of komeet weggebreek het. Dit is gewoonlik net so groot soos ‘n tennisbal. Soms kan ‘n mens ‘n meteoor vinnig oor die hemelruim sien skiet. Dit is ook bekend as “verskietende sterre”, al is dit eintlik glad nie sterre nie. |
meteoriet | ‘n Meteoor wat die aarde tref, word ‘n meteoriet genoem. Meeste meteore brand uit terwyl hulle deur die hemelruim skiet. Die grootte van ‘n meteoriet wissel van klein klippies tot stukke ruimterots so groot soos vragmotors. |
komete | Komete is bevrore stukke gas (ys) en stof wat soos ‘n vuil sneeubal lyk. Terwyl dit om die son wentel, begin dit smelt. So vorm ‘n gloeiende stofstert agter die komeet wat miljoene kilometer lank kan wees. |
wentel | Om iets beweeg of draai. 3 |
swaartekrag | Dit is die krag waarmee twee voorwerpe mekaar aantrek. Dit is dieselfde krag waarmee die aarde voorwerpe aantrek. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Lus om kreatief te wees? Maak jou eie 3D-sonnestelsel!
Ontdek ons sonnestelsel