Vinnige feite

  • Die son is 93 miljoen km van die aarde af. Die lig van die son neem net agt minute om na die aarde te reis, maar dit sal Usain Bolt (die vinnigste man op aarde) 450 jaar neem om van die son na die aarde te hardloop. 13
  • Vanaf 2008 staan Pluto, Ceres, Eris, Makemake en Haumea as dwergplanete bekend. Ons sonnestelsel het agt planete, vyf dwergplanete, 181 mane, 552 894 asteroïdes en 3 083 komete! 14
Foto: iStock

Die aarde is ons woonplek, en soms vergeet ons dat daar benewens die aarde, son en maan – dinge wat ons baie goed ken én kan sien – ook baie ander dinge in die ruimte is wat ons dalk nie met die blote oog kan sien nie. Die bekendste ander hemelliggame wat bestaan, is planete. 1

Ons planetêre stelsel (een van 500 sonnestelsels) is meer as 4,6 miljard jaar gelede gevorm! Die idee dat die aarde net een van klomp planete in die stelsel is, het rondom die 17de eeu gewild geword. Trouens, die son is maar net een van meer as 200 miljard sterre wat in die Melkweg rondbeweeg! 2

Ons sonnestelsel bestaan uit agt planete (wat soos ronde balle lyk) wat almal in sirkels (wentelbane) om ons tuisster, die son, wentel. Dié agt planete is Mercurius, Venus, aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Pluto was eers deel van dié groep planete, maar sterrekundiges het uitgevind dat dit in werklikheid ʼn dwergplaneet is en het hom van die lys hoofplanete verwyder. ʼn Maklike manier om die name van die planete (en hulle volgorde van die son af) te onthou, is met die rympie: “Meneer van As, my jas sal u nie [pas].”

Die vier planete wat die naaste aan die son is – Mercurius, Venus, aarde en Mars – word die binneste planete genoem. Dit is rotsagtige planete wat min of meer so groot of kleiner as die aarde is. Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus is die buitenste planete en word gasreuse genoem, want hulle bestaan meestal uit gasse en het geen vaste oppervlaktes nie. Hulle is almal baie groter as die aarde. Die gasreuse het ook baie mane en ringe rondom hulle. 3

Die planete

Mercurius

Mercurius is die naaste planeet aan die son en ook die kleinste. 4 (Dit is egter nie die warmste planeet nie – Venus is die warmste.) Mercurius is ʼn twaalfde van die grootte van die aarde. Mercurius het nie ʼn atmosfeer nie en daar is ook geen water hier nie. Daar wissel die temperatuur tussen -180 °C en 430 °C. Mercurius is die “vinnigste” planeet en beweeg teen 50 km per sekonde. (Omdat hy die naaste aan die son is, neem dit slegs 88 dae om rondom die son te roteer.) As jy op Mercurius bly, sou jy dus elke drie maande verjaar! Mercurius het egter net een sonsopkoms vir elke 180 dae op aarde. 5

Mercurius

Venus

Venus is vernoem na die Romeinse godin van skoonheid en staan ook as die aand- of oggendster bekend. Geel wolke van swael en swaelsuur bedek die hele planeet, wat veroorsaak dat lig van die oppervlak af weerkaats. Dit maak Venus die tweede helderste voorwerp in die lugruim naas die maan. Venus is die warmste planeet in die sonnestelsel met temperature wat tot 460 °C bereik. Venus se oppervlak huisves duisende vulkane, kraters en baie hoë bergreekse. Die Sowjetunie het gedurende die 1970’s en 1980’s agt suksesvolle ruimtesendings na Venus gehad. 6

Venus

Aarde

Die aarde is die vyfde grootste planeet van ons sonnestelsel en het een groot natuurlike satelliet – die maan. Alle planete behalwe die aarde is na Romeinse en Griekse gode en godinne vernoem, daarom word dit nie met ʼn hoofletter geskryf nie. Die naam “aarde” is meer as 1 000 jaar oud en beteken ‘grond’. Dit is die enigste plek in die sonnestelsel waarvan ons weet wat daar lewe bestaan. Die grootste deel van die aarde se oppervlak (ongeveer 70%) is met water bedek.

Aarde

Mars

Mars – die waarskynlikste alternatiewe planeet waar mense dalk eendag sal kan woon – word deur groot stofstorms wat so nou en dan voorkom en die hele planeet oordek, geraak. Dié planeet is baie koud en droog, maar daar is water in die vorm van ys aan die noord- en suidpool. Die oppervlak van Mars het baie kraters, diep valleie en vulkane, en die grootste piek op die “rooi planeet” is ʼn vulkaan genaamd Olympus Mons, wat drie keer hoër as die berg Everest (die hoogste berg op aarde) is. “Mons” is die Latynse woord vir “berg”. Daar is twee rovers (verkenningsvoertuie) op die oppervlak van Mars en ses ruimtetuie wat om Mars wentel, wat onder meer die taak het om te soek na water en bewyse van lewe. 7

Mars

Jupiter

Jupiter is die grootste planeet in die sonnestelsel. Die bekendste kenmerk op die oppervlak van dié planeet is die groot rooi vlek, wat eintlik ʼn storm is wat al ongeveer 350 jaar waai, indien nie langer nie. Jupiter het van die grootste mane in die sonnestelsel, en veral een (Europa) kan moontlik lewe in ʼn oseaan onder sy ysige oppervlak onderhou. Daar is tans een ruimtetuig wat om Jupiter wentel, genaamd Juno. Juno probeer uitvind hoe die planeet gevorm het en inligting te kry oor die winde wat hier waai. 8

Jupiter

Saturnus

Saturnus is ʼn gasreus, net soos Jupiter, Neptunus en Uranus. Dit beteken dat dit nie regtig ʼn behoorlike vaste oppervlak het nie, aangesien dit hoofsaaklik uit gasse met ʼn klein rotsagtige kern bestaan. Saturnus is die tweede grootste planeet en is bekend vir sy ringe. Hoewel die ander gasreuse ook hierdie soort ringe het, kan Saturnus se ringe die duidelikste gesien word. Saturnus se maan, Titan, is die tweede grootste in die sonnestelsel. 9

Saturnus

Uranus

Uranus is die tweede verste planeet van die son af en moet dus lank reis om een keer om die son te wentel. Dit neem Uranus ongeveer 84 jaar om een keer om die son te wentel. Uranus is ʼn (lig)blou planeet, nie as gevolg van water nie, maar vanweë gasse wat dit blou laat lyk. Uranus wentel om sy sy, wat beteken dat sy seisoene heeltemal anders as ons sʼn is. Somer en winter neem elk 21 jaar aan die noord- en suidpool! Dit is die koudste planeet, en die temperatuur daal tot -220 °C. 10

Uranus

Neptunus

Neptunus is nou verwant aan Uranus; die atmosfeer bestaan uit byna dieselfde gasse, en net soos Uranus lyk Neptunus ook blou. Neptunus kry sy naam van die Romeinse god van die see as verwysing na sy diepblou kleur. Neptunus is die verste planeet van die son af, en dit neem 165 jaar vir Neptunus om een keer om die son te wentel. Geen ruimtesendings het Neptunus of sy buurman Uranus nog ooit besoek nie, maar ʼn verbyvlug is in 1989 deur die Voyager 2-ruimtetuig gemaak. 11

Neptunus

Interessante syfers

Planeet Deursnit Afstand van die son af Lengte van ‘n jaar*
Mercurius 4 879 km 57 909 227 km 88 dae
Venus 12 104 km 108 209 475 km 225 dae
Aarde 12 742 km 149 598 262 km 365,24 dae
Mars 6 779 km 227 943 824 km 1,9 jaar
Jupiter 139 822 km 778 340 821 km 11,9 jaar
Saturnus 116 464 km 1 426 666 422 km 29,5 jaar
Uranus 50 724 km 2 870 658 186 km 84 jaar
Neptunus 49 244 km 4 498 396 441 km 164,8 jaar

* Die lengte van ʼn jaar wat hier aangedui word, is teen die aarde se dae en jare gemeet. 12

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die planete

Die planete in ons sonnestelsel

Ontdek ons sonnestelsel

Sonnestelsel: die kort en lank

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Februarie 2022 | Bygewerk op 16 April 2024