Vinnige feite

  • Mars se deursnit is 6 794 km.
  • Mars is gemiddeld 227,9 miljoen km van die son af. 7
  • Die gemiddelde temperatuur op Mars wissel tussen -133 ᵒC en 27 ᵒC.
  • Mars het twee mane, genaamd Phobos en Deimos.
  • Die lengte van een dag op Mars is gelyk aan een aarddag, plus 37 minute.
  • Een jaar op Mars is die ekwivalent van 687 aarddae. 8
  • Die grootste vulkaan in die ganse sonnestelsel is op Mars geleë. Olympus Mons is drie keer hoër as die aarde se Mount Everest, met sy basis so groot soos die staat Mexico. 9
  • Omdat dié planeet se atmosfeer so dun is, ontsnap die son se hitte blitsvinnig. Sou ʼn mens op die planeet se oppervlak staan, naby die ewenaar in die middag, sou dit voel of jou voete in die lente is teen 24 °C met jou kop in die ysige winter teen 0 °C. 10
  • Die gereelde winderige storms op Mars is só sterk dat dit stofstorms veroorsaak wat die grootste deel van die planeet bedek. Ná só ʼn storm kan dit maande neem vir al die stof om weer te gaan lê.
Foto: iStock

Mars, ook bekend as die rooi planeet, is een van agt planete wat rondom die son wentel en deel van die sonnestelsel vorm. Die planete in die sonnestelsel beweeg in ʼn sirkel om die son. Die planete hou nooit op beweeg nie en word deur swaartekrag (gravitasie) in hulle bane gehou. Mars is die vierde planeet vanaf die son. 1 2

Swaartekrag tussen die planete en die son

Die son is die grootste en swaarste voorwerp in die sonnestelsel, daarom oefen dit ook die grootste hoeveelheid swaartekrag op die planete uit. Die swaartekrag veroorsaak dat al die planete in sirkels om die son beweeg, dus ook Mars. Die son bevat 99% van ons sonnestelsel se massa.

Al die planete*

Die name van die planete in die sonnestelsel

Naaste tot verste van die son

Van die kleinste na die grootste

Mercurius Mercurius
Venus Mars
Aarde Venus
Mars Aarde
Jupiter Neptunus
Saturnus Uranus
Uranus Saturnus
Neptunus Jupiter

* Afgesien van hierdie planete is daar nog vyf dwergplanete, waarvan Pluto sekerlik die bekendste is. 4

Die binneplanete van die sonnestelsel

Die agt planete wat deel van die sonnestelsel vorm, word verdeel in binneplanete (die planete die naaste aan die son) en buiteplanete (die planete die verste van die son). Die vier binneplanete, waarvan Mars een is, bestaan almal uit rots, en sommige van hulle het ‘n dun laag gas om die buitekant. Die aarde het ‘n baie dun laag water en grond ook. Die planete wentel elk in sy eie baan om die son. 2

Meer oor Mars

Mars – ook bekend as die rooi planeet – is net die helfte so groot soos die aarde en het te min swaartekrag om veel atmosfeer te behou. Dit is vernoem na Ares – die Griekse god van oorlog – vanweë sy rooi kleur. Sy atmosfeer is dun en bestaan meestal uit koolstofdioksied (CO2), argon (Ar), stikstof (N2) en ʼn klein bietjie suurstof (O2) en waterdamp. 5

Droë rivierbeddings en vloedvlaktes wys dat daar eens op ʼn tyd water op dié planeet gevloei het. Al die water wat vandag oor is, is gevries by die planeet se Noord- en Suidpool, of onder die planeet se droë, stowwerige, klipbestrooide oppervlak.

Die planeet het ʼn rotsagtige oppervlak as gevolg van vulkane, winderige toestande, beweging in die oppervlak en chemiese reaksies. Mars het ʼn rooi kleur wat verkry word van ysteroksied, dieselfde materiaal as roes. 3

Mars se mane

Mars het twee klein mane – Phobos en Deimos – wat heel moontlik gevange asteroïde is. Dit beteken dat dit asteroïde is wat die planeet gemis het terwyl dit op pad was om op die planeet neer te val. In die proses het dit snelheid (spoed) en rigting verloor en gevange (vasgevang) geraak in die planeet se wentelbaan.

Die mane lyk nie rond soos ons die aarde se maan ken nie, maar albei lyk soos ʼn aartappel! Hulle massa is te min en daarom kan die swaartekrag hulle nie in die vorm van ʼn sfeer (rond) verander nie.

Phobos, die maan wat die naaste aan Mars is en ook die grooste maan tussen die twee, het baie kraters met diep groewe op sy oppervlak. Dit beweeg baie stadig in Mars se rigting en kan moontlik oor 50 miljoen jaar met Mars bots of heeltemal wegbreek.

Deimos is net die helfte van Phobos se grootte en is twee en ʼn half keer verder weg van Mars as Phobos. Die vreemd gevormde Deimos, is heeltemal bedek met los grond wat gewoonlik die kraters op die oppervlak vul. Dit laat Deimos se oppervlak gladder as die growwe Phobos vertoon. 5

Gaan mense dalk op Mars woon?

Daar is verskeie praatjies daaroor dat die toestande van Mars ondersoek word vir menslike bewoning. Meertallige tuie is al na die planeet toe gestuur om navorsing oor Mars te doen en inligting oor Mars se verlede te probeer insamel, asook om toekomstige potensiaal vir lewe daar te bepaal. Tans word Mars as die enigste ander planeet gesien waar lewe moontlik mag wees omdat die toestande daar die naaste is aan dié wat op aarde is. Op die oomblik is lewe op Mars – soos ons dit op die aarde ken – egter nog onmoontlik. 5

Die heel eerste suksesvolle sending Mars toe is in 1965 uitgevoer, toe die Mariner 4 verby Mars beweeg het en die eerste materiaal kon insamel. Die onlangste sending Mars toe is gedoen deur die National Aeronautics and Space Administration (NASA) met die uitstuur van die Perseverance Rover. Dit is die grootste en mees gevorderde tuig wat NASA tot op hede die ruimte ingestuur het. Hierdie tuig het op 18 Februarie 2021 op Mars geland. 6

Ander sendings van suksesvolle Marslandings sluit die volgende in:

Mars Pathfinder 4 Julie 1997
Mars Polar Lander/Deep Space 2 3 Desember 1999 (het nooit op die aarde geland)
Mars Exploration Rovers 4 Januarie 2004
Mars Phoenix 25 Mei 2008
Mars Science Laboratory 6 Augustus 2012
InSight Mission 26 November 2018

Woordbank

asteroïde Stukke rots, yster en nikkel wat so groot soos klein planete – of onsigbaar klein soos stofdeeltjies – kan wees. 1
sonnestelsel Die sonnestelsel bestaan uit die son saam met al die planete wat rondom die son wentel. Dit sluit ook astroïede, meteore, komete en die planete se mane in. Die sonnestelsel is dus die son en alles wat dit omring. 2
wentel Om iets te beweeg of te draai. 3

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Mense op Mars

Curiosity Rover-animasie

Perseverance Rover-landingsanimasie

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 September 2021 | Bygewerk op 16 April 2024