Vinnige feite

  • Jupiter se swaartekrag is anders as op die aarde. As jy 45 kg op die aarde weeg, sal jy meer as dubbeld (115 kg!) op Jupiter weeg.
  • Jupiter is een van die buitenste planete van die sonnestelsel en is daarom baie verder van die son af as wat die aarde en die ander binneste planete is. Sy wentelbaan lê tussen die hoofasteroïedgordel en Saturnus se wentelbaan.
  • Omdat Jupiter so groot is, het dit ’n swaartekrageffek op ander elemente in die sonnestelsel. Dit vorm byvoorbeeld gapings in die asteroïedgordel en verander die roetes van komete.
  • Galileo Galilei (1564-1642) word die vader van die moderne wetenskap genoem. Hy het ’n teleskoop ontwikkel waarmee hy Jupiter se mane, Saturnus se ringe en Venus se fases waargeneem het.
  • Wetenskaplikes bestudeer die maan genaamd Europa om te kyk of daar dalk vloeibare water voorkom wat lewe kan ondersteun. Daar word vermoed dat Europa dalk ’n oseaan van water het wat min of meer 100 km diep is en onder sy yskors geleë is.

 

Wat is enorm, vol gas en word deur ’n swetterjoel mane omring? Die antwoord is die planeet Jupiter. Dit is die grootste planeet in ons sonnestelsel, en as dit groter was, kon dit selfs ’n ster gewees het!

Jupiter bevat baie waterstof – wat sterre as brandstof gebruik – en as die planeet se massa 80 keer meer was, sou ontploffingsreaksies in sy kern plaasgevind het, en dit sou dan daarvan ’n brandende ster gemaak het. 1

Dit is inderdaad só groot en helder dat dit met die blote oog gesien kan word en Antieke astronome het dit al duisende jare gelede opgemerk en na die Romeinse oppergod Jupiter vernoem. Jupiter was in Romeinse mitologie die heerser oor die ander gode. Daardie astronome het dalk nie geweet hoe groot die planeet Jupiter was nie, maar hulle het beslis die regte naam gekies, want dié planeet is beslis baas van die planeetplaas. Dit is immers groter as al die ander planete in ons sonnestelsel sáám! 2

Jupiter se ontdekking

Soos reeds genoem, het astronome die planeet duisende jare gelede raakgesien en gedoop. Die bekende astronoom en wetenskaplike Galileo Galilei het in 1610 vier van die helderste mane van Jupiter met sy teleskoop ontdek. Dit was die eerste keer wat voorwerpe in die sonnestelsel met ’n teleskoop ontdek is. 2

Galileo Galilei het in 1610 vier van Jupiter se helderste mane met sy teleskoop ontdek.

Posisie in ons sonnestelsel

Uranus is die vyfde planeet vanaf die son en die grootste planeet in die sonnestelsel.

Sterrekundiges het die agt planete van ons sonnestelsel in die binneplanete en die buiteplanete verdeel. Die vier binneplanete is die naaste aan die son, en die buiteplanete is die ander vier – Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Die buiteplanete is die reuseplanete. 3

Hierdie tabel behoort jou te help om Jupiter ten opsigte van die ander planete in ons sonnestelsel te plaas.

Naaste tot verste van die son Van die kleinste na die grootste
Mercurius Mercurius
Venus Mars
Aarde Venus
Mars Aarde
Jupiter Neptunus
Saturnus Uranus
Uranus Saturnus
Neptunus Jupiter

Jupiter se eienskappe

Gemiddelde temperatuur -108° C
Gemiddelde afstand vanaf die son 778 miljoen km
Deursnee 143 000 km (die aarde kan meer as 1 300 in Jupiter pas!)
Een dag (duur van ’n omwenteling om sy eie as) 9,8 aardse uur
Sonjaar (duur van ’n omwenteling om die son) 4 333 aardse dae of 12 aardse jare
Atmosfeer 86% waterstof; 14% helium

Waaruit bestaan dit?

Jupiter is een van die planete wat ons die gasreuse noem. Die planete Saturnus, Uranus en Neptunus is ook gasreuse. Jy kan nie daarop loop nie, want daar is geen soliede oppervlak nie, en bestaan meestal uit gasse.

Jupiter se atmosfeer is slegs ’n klein persentasie van die planeet, en wetenskaplikes kan nie onder die atmosfeer die planeet sien of ontleed nie. Hulle maak slegs op teorieë staat en vermoed dat die kern van die planeet baie warm is, tot so warm soos 25 000 °C. Hulle dink ook die kern se grootte is omtrent ’n derde van die aarde se grootte. Daar word vermoed dat Jupiter ’n interne hittebron het, want die planeet stel amper dubbeld soveel energie vry as wat dit van die son af kry. Ons weet nie presies waarom nie, maar wetenskaplikes glo die meeste hitte moes verkry geword het toe dit sowat 4,6 duisend miljoen jaar gelede gevorm is.

Soos die planeet afkoel, stel dit ook minder hitte vry. 4

Belangrike kenmerke

  • Die planeet het veelkleurige strepe wat eintlik wolke is en wat deur sterk winde aangedryf word. Die wolke het verskeie lae en is daarom ook verskillende kleure wat wissel van wit, geel en bruin tot blougrys. Wetenskaplikes vermoed dat die wolke se kleur verskil omdat dit verskillende chemikalieë bevat. Die hoogste wolke is wit en bestaan uit gevriesde ammoniakkristalle.
  • Jupiter het ’n hoogs reaktiewe en stormagtige atmosfeer en sy wolkstelsels vorm en verander binne ure of dae. Sterk winde waai van oos na wes en daar is plek-plek groot stormstelsels.
  • Jupiter se herkenbaarste kenmerk is ’n oranjerooi ovaalvorm wat die “Groot Rooi Kol” genoem word. Dit is ’n storm wat al honderde jare op die planeet woed en dis selfs breër as die aarde. Die Groot Rooi Kol is egter besig om kleiner te word. Die kol word sedert 2021 meer sirkelvormig en verloor ongeveer 900 km in breedte per jaar.
  • Die planeet het ringe, maar dis baie kleiner en minder opmerklik as Saturnus se ringe. Die ringe bestaan uit klein rotse en stof. Die ringstelsel is in 1979 deur die Voyager 1-ruimtetuig ontdek. Die ringe bestaan uit klein stofdeeltjies wat om die planeet wentel. Die hoofring is ongeveer 6 400 km wyd en 30 km dik.
  • Jupiter is nie net die grootste planeet in ons sonnestelsel nie, maar dit het ook die grootste en sterkste magnetiese veld van al die planete. Dit is glo te danke aan die planeet se vinnige rotasie om sy eie as. Jupiter se magnetiese veld het nes die aarde s’n twee pole, die noorde en suide. Die oriëntasie daarvan is net teenoorgesteld as dié van die aarde, en ’n kompas sal dus suid op Jupiter wys.
  • Auroras (poolligte, soos suider- en noorderligte), wat soortgelyk is aan dié van die aarde, verskyn van tyd tot tyd naby Jupiter se pole. 3

Jupiter se mane

Jupiter het só baie mane dat dit amper lyk asof hy sy eie klein sonnestelsel het. Daar is in Julie 2023 bevestig dat nog mane ontdek is, en die huidige telling staan op 95. Baie van hierdie mane is baie klein met ’n deursnee van minder as 8 km en word sedert die jaar 2000 met behulp van kragtige teleskope ontdek. Die grootste vier mane se name is Io, Europa, Callisto en Ganymede en is, soos vroeër genoem, deur Galilei ontdek.

Die vier mane is só groot dat dit as planete gesien sou kon word as dit nie om ’n planeet gewentel het nie. Wat verder besonders is, is dat al die mane verskil. Die maan Callisto se oppervlak is vol kraters, terwyl Ganymede die grootste maan in ons sonnestelsel is. Dit is selfs groter as die planeet Mercurius en het ook sy eie magnetiese veld, net soos ’n planeet.

Daar word geglo dat Europa, Callisto en Ganymede dalk ys onder hul oppervlakke het. Wetenskaplikes vermoed dat Europa dalk ’n vloeibare oseaan onder sy yskors het en dat daar dalk elemente van lewe daarin kan wees. Daar is weer vulkane op die maan Io, en dit spuit wolke van geel swael tot 500 km hoog die lug in! 5

Jupiter se agt binneste mane – Metis, Adrastea, Amalthea en Thebe plus Galilei se vier groot mane – wentel in sirkelvormige wentelbane om Jupiter. Die wentelbaan is baie dieselfde as Jupiter se wentelbaan om die son. Daar word geglo dat dié mane saam met Jupiter ongeveer 4,6 duisend miljoen jaar gelede gevorm is. Die ander mane was moontlike komete of asteroïdes wat naby genoeg aan die planeet beweeg het en toe deur sy swaartekrag aangetrek is en in sy wentelbaan beland het.

Jupiter se besoekers

Die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie, of NASA, het al sedert die jare sewentig ruimtetuie na Jupiter gestuur om die planeet van naderby te bekyk.

Pioneer 10 was in 1973 die eerste tuig om verby Jupiter te vlieg en vir ons beelde daarvan te stuur. Voyager 1 het in 1979 ook ’n draai by die planeet gemaak en vir die eerste keer gewys dat daar vulkane op een van Jupiter se mane is. Wetenskaplikes was verras dat daar minstens agt aktiewe vulkane op Io gevind is.

Die ruimtetuig Galileo het in 1995 die eerste ruimtetuig geword om rondom een van die buitenste planete te wentel. Dit het 34 keer om Jupiter gewentel en het ’n ruimteverkenningstuig in sy atmosfeer vrygestel om Jupiter se gasse te ontleed. Dit was die eerste mensgemaakte voorwerp wat direkte kontak met Jupiter gemaak het.

Die ruimtetuig New Horizons het in 2007 nuwe data oor Jupiter se atmosfeer en ringstelsel versamel. Die ruimtetuig Juno het Jupiter se wentelbaan in 2016 binnegedring en was in 2024 nog in ’n wentelbaan om die planeet. Die tuig stuur foto’s en inligting na wetenskaplikes op die aarde toe. Die tuig het vyf jaar geneem om by Jupiter uit te kom. 6

Woordbank

Antieke Ou Griekse of Romeinse tyd.
asteroïedgordel ’n Gebied duskant Mars waar heelwat asteroïdes voorkom.
asteroïdes Stukke rots, yster en nikkel wat so groot soos klein planete – of onsigbaar klein soos stofdeeltjies – kan wees.
astronome Wetenskaplikes wat die ruimte, sterre, planete en ander ruimtevoorwerpe bestudeer.
auroras Natuurlike lig wat in die winter en in die nag in die poolstreke te siene is, en wat te doen het met die magnetiese veld om ’n planeet.
heerser Regeerder.
kern Binneste gedeelte.
komete Hemelliggame van geringe massa met ’n ligte stert, waarvan die baan ’n ellips of ’n parabool is.
mitologie Tradisionele voorhistoriese verhale, dikwels oor bonatuurlike mense of gedaantes; godeleer; fabelleer.
oppergod Belangrikste/dominante god.
rotasie Draai.
sonnestelsel Die sonnestelsel bestaan uit die son saam met al die planete wat rondom die son wentel. Dit sluit ook asteroïede, meteore, komete en die planete se mane in. Die sonnestelsel is dus die son en alles wat dit omring.
teleskoop Meestal buisvormige, optiese instrument waarmee verafgeleë voorwerpe soos sterre deur middel van ligbreking of ligweerkaatsing van naby/nader bekyk kan word.
wentelbaan Baan waarin hemelliggame of mensgemaakte voorwerpe om ’n ander hemelliggaam draai.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die grootste planeet in die sonnestelsel

Reis saam na Jupiter

Feite oor die planeet

Foto: iStock
Gepubliseer op: 30 April 2024 | Bygewerk op 17 Mei 2024