Vinnige feite

  • Saturnus is 1 349 823 615 tot 1 503 509 229 km weg van die son af.
  • Dit sal jou drie jaar neem om tot by Saturnus te reis.
  • Die swaartekrag op Saturnus is effens anders as die swaartekrag op die aarde. As jy 45 kg op die aarde weeg, sal jy 49 kg op Saturnus weeg. 9
  • In die boonste gedeelte van Saturnus se atmosfeer vind daar elektriese storms so groot soos die Verenigde State van Amerika plaas! Dié storms is ’n duisend keer kragtiger as dié wat op die aarde plaasvind!

Dit is ’n enorme planeet, maar nie so groot soos Jupiter nie, sy swaartekrag is sterk, maar ook nie so sterk soos Jupiter s’n nie, erge storms kom daar voor, maar Jupiter s’n is erger, en een van sy mane is massief, maar steeds nie so groot soos Jupiter se grootste maan nie. Dit lyk asof Jupiter vir arme Saturnus met alles kan uitstof, maar Saturnus het wel iets wat al die ander planete in die stof laat byt: Sy ringe is beslis die aanskoulikste in die sonnestelsel.

Saturnus is die sesde planeet van die son af en die tweede grootste planeet in ons sonnestelsel. Dié besonderse planeet is sekerlik die bekendste vir sy opmerklike stel ringe. Omdat dit so ’n groot planeet is, kan jy Saturnus met die blote oog sien, maar ’n mens sal die ringe slegs met ’n teleskoop kan bekyk. 1

Saturnus se ontdekking

Antieke astronome het Saturnus met die hemelruim raakgesien en na Saturnus, die Romeinse god van landbou en rykdom (wat volgens oorlewering Jupiter se pa was), vernoem. Dit was egter die bekende wetenskaplike en astronoom Galileo Galilei wat in 1610 die eerste een was om Saturnus met ’n teleskoop te bekyk. Hy het besef die planeet lyk anders as ander planete, maar sy teleskoop was ongelukkig te swak om die ringe te onderskei. In 1655 het ’n Nederlandse astronoom Christiaan Huygens ’n kragtiger teleskoop gehad en raakgesien dat Saturnus ’n dun, plat ring het. Vandag weet ons dat baie planete ringstelsels het. Huygens het ook in 1610 Saturnus se grootste maan, Titan, ontdek. Die Italiaanse astronoom Giovanni Cassini het vier van Saturnus se mane ontdek en tussen die verskillende ringstelsels onderskei. 2

Galileo Galilei was die eerste persoon om Saturnus met ‘n teleskoop te bekyk.

Posisie in ons sonnestelsel

Saturnus is die sesde planeet vanaf die son en die tweede grootste planeet in die sonnestelsel.

Sterrekundiges het die agt planete van ons sonnestelsel in die binneplanete en die buiteplanete verdeel. Die vier binneplanete is die naaste aan die son, en die buiteplanete is die ander vier – Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Die buiteplanete is die reuseplanete. 3

Hierdie tabel behoort jou te help om Saturnus ten opsigte van die ander planete in ons sonnestelsel te plaas.

Naaste tot verste van die son Van die kleinste na die grootste
Mercurius Mercurius
Venus Mars
Aarde Venus
Mars Aarde
Jupiter Neptunus
Saturnus Uranus
Uranus Saturnus
Neptunus Jupiter

Saturnus se eienskappe

Gemiddelde temperatuur -178° C 4
Gemiddelde afstand vanaf die son 1,4 duisend miljoen km
Deursnee 120 500 km (nege keer meer as die aarde)
Een dag (duur van ’n omwenteling om sy eie as) 10,7 uur
Sonjaar (duur van ’n omwenteling om die son) 29,5 aardse jare 5
Atmosfeer waterstof (75%); helium (25%)

Saturnus se ringe

Saturnus is, soos hierbo genoem, nie die enigste planeet wat ringe het nie, maar wel die enigste wat so ’n mooi en opmerklike stel ringe het. Dit is omtrent ’n aanskoulike gesig! Die ringstelsel is enorm en strek amper so ver in die ruimte in as wat die afstand tussen die aarde en sy maan is. Dit word mettertyd kleiner, namate stukke rots en ys deur Saturnus se swaartekrag ingetrek word.

Saturnus het sewe ringe wat van A tot G genoem word. Die grootste ringe is ongeveer 9 m dik en die hoofringe staan as A, B en C bekend. Die binneste ring word slegs D genoem en is nie so sigbaar soos die res nie. Daar is ’n gaping van ongeveer 4 700 km tussen die ringe wat A en B genoem word.

Saturnus se ringe bestaan uit stukke ys en rots, en wetenskaplikes vermoed dat dit van komete, asteroïdes en selfs eertydse mane afkomstig is. As ons sê stukke, dan praat ons van massiewe stukke, want sommige is inderdaad so groot soos berge. Elke ring vertoon wit as ’n mens na hulle kyk vanaf die Saturnus se wolke, en interessant genoeg wentel elke ring om die planeet teen ’n ander spoed. 2

Die ringe is eintlik baie dun in vergelyking met hoe breed dit is. Die ringstelsel loop omtrent 282 000 km weg van Saturnus in die ruimte in, terwyl die vertikale hoogte slegs omtrent 10 m hoog is. 6

Waaruit bestaan dit?

Saturnus is een van die planete wat ons gasreuse noem. Die ander planete wat ook as gasreuse bekend staan, is Jupiter, Uranus en Neptunus. Hulle het geen soliede oppervlak nie, en bestaan meestal uit gasse.

Saturnus het verskeie lae, en almal bestaan grotendeels uit waterstof in verskillende stadiums. Daar word geglo dat Saturnus se kern uit vloeibare metaalwaterstof (in Engels: metallic hydrogen) bestaan. Die atmosfeer en wolke bestaan uit waterstof, helium, water en ’n klein hoeveelheid gasse, insluitende ammoniakgas. 3

Belangrike kenmerke

  • Saturnus is nege keer breër as die aarde. As ’n mens die aarde met Saturnus vergelyk, kan jy dink aan die aarde as die grootte van ’n muntstuk en Saturnus as die grootte van ’n sokkerbal.
  • ’n Mens sien pragtige geel en goue stroke in Saturnus se atmosfeer, en dit is te danke aan supervinnige winde in die boonste gedeelte van die atmosfeer. Die winde is só sterk dat dit 1 800 kilometer per uur kan bereik! 7
  • Dit neem sonlig omtrent 80 minute om Saturnus te bereik.
  • Hoewel Saturnus baie groot is, is dit die enigste planeet in ons sonnestelsel wat minder dig as water is. Dit beteken dat as daar ’n groot genoeg oseaan was, kon Saturnus daarop dryf.
  • Aanskoulike auroras (poolligte) is al op Saturnus raakgesien. Dit is soortgelyk aan die poolligte wat op die aarde gesien word.

Saturnus se mane

Saturnus het ’n klompie mane en daar word konstant nog ontdek en deur die Internasionale Sterrekundige Vereniging benoem.

Daar is op 8 Junie 2023 bevestig dat Saturnus al 146 mane het. 1

Saturnus se grootste maan word Titan genoem. Dit is die tweede grootste maan in die sonnestelsel en net-net groter as die planeet Mercurius. Die grootste maan in ons sonnestelsel is Jupiter se Ganymede-maan.

Titan is die enigste maan in ons sonnestelsel (waarvan ons weet!) wat wolke en ’n digte atmosfeer het. Dit het ’n deursnee van 5 150 km en bestaan glo meestal uit klipperige en ysmateriale, heel moontlik bestaan die ys uit water, ammoniak en metaan. Titan se atmosfeer bestaan uit ongeveer 95% stikstof. 8

Saturnus het talle interessante mane, soos die mane Pan en Atlas, wat soos vlieënde pierings lyk. Dan is daar Iapetus waarvan een kant so helder soos sneeu is, terwyl die ander kant so donker soos steenkool is, en Enceladus het weer meer as ’n 100 geisers wat ysige materiale uitspuit! 4

Saturnus se besoekers

Vier ruimtetuie het Saturnus al besoek. Daar was Pioneer 11 in 1979, Voyager 1 en 2 in 1980 en 1981, en die Cassini-Huygens-ruimtetuig wat in 2004 daar aangekom en 13 jaar daar bestee en die planeet, sy ringe en mane bestudeer het.

Die eerste drie sendings was kort, en die ruimtetuie het eintlik net verby die planeet gevlieg. Dit was net Cassini wat ’n lang besoek aan die planeet gebring het en wat in ’n wentelbaan om Saturnus gestuur is. Sy Huygens-tuig het deur die atmosfeer van Titan gedring en só die eerste tuig geword wat op ’n ander planeet se maan geland het.

Woordbank

asteroïde Stukke rots, yster en nikkel wat so groot soos klein planete – of onsigbaar klein soos stofdeeltjies – kan wees.
astronome Wetenskaplikes wat die ruimte, sterre, planete en ander ruimtevoorwerpe bestudeer.
auroras Natuurlike lig wat in die winter en in die nag in die poolstreke te siene is, en wat te doen het met die magnetiese veld om ’n planeet.
astronome Wetenskaplikes wat die ruimte, sterre, planete en ander ruimtevoorwerpe bestudeer.
geisers Warmwaterbronne waar water uitspuit.
helium  ’n Element wat ’n kleurlose, reuklose en smaaklose gas is.
metaalwaterstof Waterstof wat as ’n metaal optree as gevolg van die druk en temperatuur binne die reuseplanete. In hierdie planete neem metaalwaterstof altyd die vorm van ’n vloeistof aan.
metaan ’n Kleurlose, reuklose gas wat deur die ontbinding van organiese materie gevorm is.
rotasie Draai.
sonnestelsel Die sonnestelsel bestaan uit die son saam met al die planete wat rondom die son wentel. Dit sluit ook asteroïede, meteore, komete en die planete se mane in. Die sonnestelsel is dus die son en alles wat dit omring.
stikstof Kleurlose, smaaklose en reuklose gasbestanddeel van die lug; ’n chemiese element wat noodsaaklik vir lewe is.
teleskoop Meestal buisvormige, optiese instrument waarmee verafgeleë voorwerpe soos sterre deur middel van ligbreking of ligweerkaatsing van naby/nader bekyk kan word.
wentelbaan Baan waarin hemelliggame of mensgemaakte voorwerpe om ’n ander hemelliggaam draai.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Saturnus: die juweel van die sonnestelsel

Feite oor die ligste planeet in die sonnestelsel. Hier kan jy ook asemrowende foto’s sien wat deur NASA geneem is

Hoe het die ringe gevorm?

Jupiter vs. Saturnus

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 April 2024 | Bygewerk op 17 Mei 2024