Vinnige feite

  • Die vorming van veen is die eerste stap in die vormingsproses van bruinkool, steenkool en antrasiet.
  • Veen bevat baie water, maar kan ook gedroog word om as bemesting vir plante aangewend te word.
  • Veengrond is skaars in Suid-Afrika in vergelyking met die res van die wêreld, as gevolg van ons droë klimaat.
  • Veen word ook soms as ʼn stadig hernubare energiebron beskou. Dit word eerder as vaste fossielbrandstof geklassifiseer as biomassabrandstof. Hoewel veen nie eintlik ’n fossielbrandstof is nie, is sy emissie van kweekhuisgasse vergelykbaar met dié van fossielbrandstowwe.
Foto: iStock

Oor duisende jare heen verander afgebreekte rots geleidelik en baie stadig in grond weens die effek wat wind en water daarop het. Na gelang van die omgewing en die tipe rotslae, vorm daar dan ʼn spesifieke grondsoort. 1

Veengrond is sponsagtige grond wat uit ontbinde plantmateriaal bestaan en bakterieë wat daarop inwerk. Die ligging van die veen speel ’n rol ten opsigte van die watertafel (ondergrondse water) – daarbo of daaronder – en so word daar tussen hoogveen en laagveen onderskei. Albei het hul eie, kenmerkende plantegroei.

Veengrond is ’n klein bydraer tot die wêreld se energiebronne en word meestal aangetref in die gebiede wat tydens die Pleistoseen (2 500 000 – 10 000 jaar gelede) deur ys bedek was, en wat as gevolg daarvan reliëf toon. Dit sluit groot dele van die toendra en die naaldbosgordel in die noorde van Kanada, asook China, Indonesië, Rusland, Skandinawië en die VSA in. Vroeg in die 21ste eeu was Finland, Ierland, Belarus en Swede die vier topvervaardigers en verbruikers van veen, waarby ander Noord-Europese lande ook ingesluit word.

Meer suidwaarts kom veen in reënryke streke met ʼn gemiddelde jaartemperatuur van ongeveer 12 ˚C voor. Veengrond bestaan uit ʼn dik laag organiese materiaal wat vanweë stilstaande water en die gevolglike suurstofgebrek in die grond, nie heeltemal vergaan het nie. Bowendien vertraag die dikwels hoë suurinhoud van die grond die minerale werking van die bakterieë en skimmels.

In sommige gebiede binne die poolsirkel bestaan daar ʼn wankelende ewewig tussen bos en veen. Die veengrond, wat aanvanklik net die laer liggende komme in die terrein vul, neem geleidelik toe namate die water aan die rand van die kom deur die son verhit word en die harde, bevrore onderlaag begin ontdooi. 2

Aangesien die smeltwater (van die ys en sneeu) nie kan wegvloei nie, word die grond moerasagtig en verander die plantegroei na sipergras, mosse en ander veenplante. Met verloop van tyd is die veenlaag dik genoeg en die groei van bome weer moontlik maak. Die groeiende bome veroorsaak skaduwee wat die moslaag daaronder dikker laat word en só baie water vashou. Wanneer dit vries, sit die hele massa uit sodat die grond oplig en waarop ʼn bosplantegroei weer gevestig kan word. Hierdie tipe plantegroei met afwisselende bos en moeras word taigas (sneeuwoude) genoem.

In Amerika word sulke gebiede muskegs (moerasse) genoem. In die trope is die temperatuur in veral die laaglande, meestal só hoog dat die afbraak van dooie plantmateriaal deur bakterieë en skimmels vinnig geskied en die meeste vog verdamp. Waar die reënval egter baie hoog is en die grondwater bowendien min minerale bevat, kom veenvorming soms wel voor – hoogveen sowel as laagveen. Die plantegroei is weens die gebrek aan voedingstowwe opmerklik baie minder soortryk as dié van die tropiese oerbos (ongerepte oerwoud).

Daar kom meestal immergroen spesies met breë blare voor, waaronder palms en die Pandanus-spesies, soos skroefpalms. In die middel van die veenarea is daar nie bome nie, maar gras en sipergras (waterbiesies) of soms oop water. Veenmos (familie van die Sphagnidae) – die veenvormers by uitstek in die gematigde streke – kom nie in die trope voor nie.

Laagveen

Laagveen word gevorm in komme waar die plantmateriaal onder die watertafel is. Ook klein poele kan deur suksessie na laagveen oorgaan. In hierdie geval is daar aanvanklik net ʼn drywende mat van plante langs die rand van die waterpan wat al hoe dikker word omdat daar voortdurend nuwe plante bo-op groei, terwyl die onderliggende lae dooie plantemateriaal nie vergaan nie.

Van tyd tot tyd breek stukke van hierdie materiaal af, wat na die bodem van die pan afsak en dit geleidelik opvul. Omdat daar nie ʼn vaste substraat (die bodem waarop ‘n organisme leef, groei en vermeerder) is nie, beweeg dit op en af wanneer ʼn mens daarop loop. Wanneer die veenlaag ʼn bepaalde dikte bereik, word dit van die grondwater afgesluit en daarna word dit net deur reënwater gevoed. Op hierdie manier kan dit in hoogveen verander. 3

Hoogveen

Hoogveen word gevorm op plekke waar die plantegroei geheel en al deur reënwater gevoed word en die vlak van die watertafel laag is. Hierdie veengrond is gewoonlik baie onvrugbaar en min plantspesies kom voor. Die plantegroei bestaan hoofsaaklik uit mosspesies van die genus Sphagnum.

Die mosse aan die bokant groei voortdurend, terwyl dit aan die onderkant doodgaan en lae van etlike meters dik ontstaan. Van die hoër plante wat in die hoogveen aangetref word, is, onder meer, heideagtige plante (familie van Ericaceae) en sipergras, oftewel waterbiesies (familie van die Cyperaceae). Saadplante en die veenmosspesies wat ʼn relatief droë staanplek verkies, groei op die hoër dele, terwyl die holtes met lewermosse en “nat” veenmosspesies gevul word.

Gebruike

  • Veen word dikwels as ʼn alternatief vir vuurmaakhout gebruik. Dit word ook soms as brandstof vir industriële ketels gebruik.
  • ʼn Klein hoeveelheid elektrisiteit word ook met veen opgewek. 4
  • Veen word ook in tuinbou en landbou gebruik. Dit verbeter die waterhouvermoë van sandgrond en help met die dreinering van kleigrond. Veen word dikwels in potplantgrond bygevoeg, omdat dit uitstekende waterhouvermoë het.
  • Daarbenewens is veen ʼn uitstekende waterfiltreerder. Stedelike afloop en gryswater word in sekere gebiede deur middel van veenfiltrasie gesuiwer.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023