Vinnige feite

  • Die toename in die soutinhoud van oppervlakwater berokken groot skade aan landbougewasse en skep probleme in die voorsiening van drinkwater.
  • Deur die verwarming van die water neem die suurstofgehalte af, wat die lewensomstandighede van die diere nog verder benadeel.
  • Huishoudelike afvalwater is oor die algemeen nie ’n probleem vir die oseane nie, maar ten opsigte van kuswaters, riviermondings en baaie skep dit wel ʼn probleem. Bakterieë en virusse wat siektes veroorsaak, is in ongesuiwerde rioolwater aanwesig.
  • Dit is baie gevaarlik om rou skulpdiere uit besoedelde seewater te eet omdat skulpdiere bakterieë saam met water inneem en dit in hul weefsels behou. Oesters moet byvoorbeeld gedurig gekontroleer word.
Foto: iStock

Sonder water is géén lewe moontlik nie – hoe dikwels vergeet mens dit nie! Ons gebruik water daagliks – om mee te was, kos voor te berei, te drink en om plante en alles wat groei aan die lewe te hou. Vuil (besoedelde) water is nie bruikbaar nie; dit sal ons baie siek maak en diere, plante en/of bome kan vrek. Maar hoe kom ‘n mens dit agter? Soms kan jy dit glad nie met die blote oog sien nie, maar wanneer daar voorwerpe daarin ronddryf wat nie daar hoort nie, moet jy maar liewer ver wegbly en dit sommer ook rapporteer (aanmeld).

Wat kan water besoedel?

Dit kan een van die volgende drie dinge wees:

  • Onoplosbare stowwe is stowwe wat nie in die water kan oplos nie (byvoorbeeld olie en rioolafval).
  • Oplosbare stowwe sluit in chemiese stowwe soos seep, skoonmaakmiddels en gifstowwe.
  • Lewende organismes: Dit is onder meer bakterieë wat mense en diere baie siek kan maak. 1

Waterbesoedeling is nie ʼn nuwe probleem nie. Deur die eeue heen het cholera-, tifus-, en disenterie-epidemies dikwels voorgekom weens besmette drinkwater. Dié besoedeling was egter tot ‘n spesifieke area of gebied beperk, terwyl waterbesoedeling vandag wêreldwyd ʼn enorme probleem is.

Oorsake van waterbesoedeling

Die vernaamste oorsake van besoedeling kan toegeskryf word aan die landboubedryf, nywerhede, riolering, en ontspanningsgeriewe en -aktiwiteite. Baie riviere, damme en mere het verander in troebel rioolwater waarin weinig (min) lewe moontlik is en waarin die mens nie kan swem of visvang sonder om sy gesondheid op die spel te plaas nie.

In Suid-Afrika met sy beperkte waterhulpbronne hou besoedeling ʼn bedreiging in vir ons belangrikste lewensaar, wat toenemend in aanvraag is en waarsonder die land geen ekonomiese bestaan sal kan maak nie.

Die stelselmatige vernietiging van die fauna en flora in die see as gevolg van besoedeling is kommerwekkend en kan verreikende gevolge vir alle lewe op land hê omdat dit onder meer die produksie van suurstof belemmer.

Ons aandeel in waterbesoedeling

Water wat in die natuur voorkom, bevat altyd ʼn hoeveelheid organiese en anorganiese stowwe, waarvan die konsentrasie in ʼn dinamiese ewewig verkeer en deur ʼn komplekse (ingewikkelde) reeks prosesse gehandhaaf word. Dit noem ons die water se selfsuiweringsvermoë.

Sodra hierdie balans sodanig versteur is dat die water nie sonder nadelige gevolge gebruik kan word nie, is dit besoedel. Oorsake kan van natuurlike oorsprong wees, soos byvoorbeeld erosie waardeur groot hoeveelhede grond in die water beland, of uitloging van die ondergrond waardeur anorganiese soute en sure in die water opgelos word.

Oormatige waterbesoedeling is ongelukkig kenmerkend van die groei in bevolkings en toenemende industrialisasie.

Huishoudelike en nywerheidsafvalwater beland in riviere en damme, terwyl chemikalieë (soos gifstowwe teen goggas) wat op landbougewasse gebruik word, nie net die grond besoedel nie, maar later in spruite, damme, riviere en die see gevind word. Dit beteken dat nie net die visse nie, maar ander waterdiere en -plante ook vernietig word.

Ontspanning het ook al ʼn bydraende faktor tot besoedeling geword: rommel wat deur hengelaars in die water gegooi word en olie afkomstig van motorbote is van die grootste oorsake van besoedeling van natuurlike waterbronne. Waterbesoedeling is nie net nadelig vir menslike verbruik nie, maar is ook nadelig vir die omgewing.

Benewens biologiese besware kan estetiese en etiese besware aangevoer word omdat vuil, lewelose water groot afbreuk aan die natuurskoon doen. In talle dele van die wêreld (onder meer Suid-Afrika) is water skaars en daarom moet die beskikbare water ten volle benut word. Om besoedeling in Suid-Afrika te bekamp, is streng wetgewing, soos die Waterwet, ingestel ingevolge waarvan die samestelling van nywerheids- en riooluitvloeisels wat in riviere gestort word, streng beheer word.

Só word water besoedel

Organiese besoedeling

Daar word ʼn onderskeid getref tussen biologiese en chemiese besoedeling. Biologiese besoedeling is wanneer water met menslike en dierlike afvalstowwe besmet word en virusse, bakterieë en ander siektedraende mikroörganismes in die water voorkom.

Groot konsentrasies paratifus- en tuberkulosebakterieë kom in die rioolwater van groot stede en in die afvalwater van nywerhede voor. Onsuiwerhede van natuurlike oorsprong in water word deur sommige aërobiese bakterieë afgebreek. Oliebesoedeling is nie net tot die see beperk nie: olie en olieprodukte word weens lekkasies en die uitspoel van oliehouers deur riole na waterbronne gevoer. ʼn Olielaag op die wateroppervlak belemmer die suurstoftoevoer na lewende organismes onder die oppervlak. Watervoëls kry dodelike hoeveelhede olie in wanneer hulle hul vere probeer skoonmaak.

Die aktiewe bestanddele van wasmiddels wat in waterbronne beland, breek die drywende olie op in klein druppels, wat deur visse en waterdiere opgeneem kan word. Landbouchemikalieë kan akute en chroniese vergiftiging by diere en plante veroorsaak. Sommige giftige stowwe hoop op in dierlike weefsel, wat vrektes kan veroorsaak, soos die geval was met die groot visvrektes in die Rynrivier in 1969.

Rioolafval is veronderstel om by ʼn rioolaanleg behandel te word voordat dit byvoorbeeld in die see gestort word. Wanneer dit nie gebeur nie, kan bakterieë afgebreek word en indien dit groot hoeveelhede water is, kan dit rampspoedige gevolge hê. Alge word hierdeur gevoed en sodra die alge doodgaan, word die water verder besoedel. Die bakterieë in die water wat die afval opbreek, gebruik al die suurstof in die water en dit lei dan tot visvrektes. Die baie alge op die water keer dat lig inkom en dat fotosintese plaasvind, wat ook weer nadelige gevolge inhou vir waterplante.

Gevoelige plant- en diersoorte dien as biologiese aanwysers waarvolgens die giftigheidsgraad van water bepaal kan word. Hulle dui die aanwesigheid, maar nie die aard nie, van gifstowwe aan. Sekere gifstowwe, soos DDT (Dikloordifenieltrichlooretaan), is só skadelik dat die gebruik daarvan streng beheer word. Navorsing het getoon dat gebiede wat ver van enige menslike aktiwiteit geleë is, reeds met DDT besmet is: dit is byvoorbeeld in visweefsel by Ross-eiland in die Noordpool gevind.

Anorganiese besoedeling

Die anorganiese besoedeling van water, byvoorbeeld deur soute, sure en ione van swaar metale, lei tot vergiftiging, versouting en eutrofisering. Die grootste sondebokke is nywerhede en myne wat groot hoeveelhede koper, kwik, sink, chroom, lood, sianied en suur in water laat beland. Suurreën, die gevolg van lugbesoedeling, kan plante en dierelewe vernietig, soos in die Noordelike Halfrond waar salm en forelle al in groot getalle as gevolg van suurreën gevrek het.

Die landbousektor is eweneens skuldig aan besoedeling deur kunsmis, terwyl huishoudelike afvalwater stowwe soos fosfate en wasmiddels bevat. Nie net die oppervlakwater nie, maar ook grondwater word hierdeur besoedel.

Rommel lewer ook ʼn groot bydrae tot waterbesoedeling. Jaarliks beland daar miljoene ton afval in die oseane vanuit skepe en mense wat rommel strooi. Seediere raak verstrengel in plastieksakke, houers en ander plastiekvoorwerpe, of hulle vreet dit omdat hulle dit as kos beskou. Die seediere vrek dan van verstopping of vergiftiging.

Vleilande is die natuur se eie “filters” wat water suiwer. Water word in die somermaande teruggehou en in die droë wintermaande deurgestoot. Die vernietiging van vleilande skep nuwe probleme omdat dit die habitat van baie dierspesies is en vleilande ʼn natuurlike manier is om fosfor en swaar metale op te gaar en af te breek, en die vermoë het om koolstof te stoor.

Vergiftiging

Vergiftiging word veral deur swaar metale veroorsaak. Metaalione word opgeneem deur skulpdiere soos mossels, wat weer deur die mens geëet word. In die 1950’s is talle mense in Minamatabaai in Japan aan kwikvergiftiging dood omdat hulle vergiftigde vis geëet het.

Versouting

Die toename in die soutinhoud van oppervlakwater berokken groot skade aan landbougewasse en skep probleme in die voorsiening van drinkwater. Die belangrikste oorsaak van versouting in Wes-Europa is die groot hoeveelhede sout afkomstig uit myne in Frankryk wat deur die Rynrivier weggevoer word.

Dieselfde probleem word in Suid-Afrika ondervind, veral in die Hartbeespoortdam. Suiwer rivierwater het ʼn soutinhoud van minder as 10 dele in 1 miljoen dele water. Die soutinhoud van die Hartbeespoortdam is besig om aansienlik te styg.

Eutrofisering

Eutrofisering vind plaas wanneer binnelandse water met fosfaat- en stikstofverbinding (afkomstig van landbou- en huishoudelike afvalwater) “verryk” word. Die kunsmatige verryking van water bring sekere fisiese en chemiese veranderings mee.

Die gasbalans in varswater (O2-CO2-verhouding) word deur fotosintiserende bakterieë en alge, wat suurstof produseer en koolsuurgas gebruik, in stand gehou. Indien daar ʼn skielike toevloei in voedingstowwe soos nitrate en fosfate is, neem alge só drasties toe dat dit mekaar verdring.

Groot hoeveelhede sterf en stel sodoende nog voedingstowwe aan die aërobiese heterotrofe bakterieë beskikbaar. Dié bakterieë, wat suurstof gebruik en koolsuurgas produseer, vermeerder vinnig. Dit versteur die gasbalans en veroorsaak dat baie plante en diere doodgaan en sodoende nog meer organiese voedingstowwe aan die bakterieë beskikbaar stel.

Ná ʼn tydperk is daar geen suurstof meer in die onderste lae van die water oor nie, wat weer toestande vir die anaërobiese saprofitiese bakterieë gunstig maak (hulle kan nie in die aanwesigheid van suurstof leef nie). Die water se suurstofkonsentrasie is dus besonder laag, die pH daal (water word suurder) en mettertyd oorleef net ʼn paar vissoorte in die boonste lae van die water.

Eutrofisering kan beheer word deur te verhoed dat riooluitvloeisel in damme of mere beland of deur die nutriënte uit rioolafval te verwyder voordat dit in die rivier of dam vloei. Die probleem kan verder bekamp word deur landboupraktyke met betrekking tot die toediening van kunsmis te verbeter en deur fosfate uit waswater te verwyder.

Besoedeling deur afvalwater

Huishoudelike afvalwater is oor die algemeen nie ’n probleem vir die oseane nie, maar ten opsigte van kuswaters, riviermondings en baaie skep dit wel ʼn probleem. Bakterieë en virusse wat siektes veroorsaak, is in ongesuiwerde rioolwater aanwesig.

Dit is baie gevaarlik om rou skulpdiere uit besoedelde seewater te eet omdat skulpdiere bakterieë saam met water inneem en dit in hul weefsels behou. Oesters moet byvoorbeeld gedurig gekontroleer word. Nitrate en fosfate wat nie vooraf uit huishoudelike en nywerheidsafvalwater verwyder word nie, het ʼn ernstige uitwerking op die gehalte van seewater. Duisende ton fosfor beland jaarliks in die Noordsee.

Dié oormaat plantvoedingstowwe kan ʼn oordadige groei van alge meebring en uiteindelik veroorsaak dat die suurstofkonsentrasie daal, wat die eutrofiseringsproses aan die gang sit. Giftige stowwe soos DDT en chemiese stowwe (swaar metale, sure en gasse) word deur middel van grondwater of afvalwater na die see gevoer. DDT word nog steeds in plankton in die oseane en in weefsel van robbe en pikkewyne in die poolstreke gevind.

Seebesoedeling

Seebesoedeling word veroorsaak deur besoedelde water van riviere wat in die see uitmond, afvalstowwe wat van nywerhede en stede langs die kus afkomstig is, afval van skepe en giftige stowwe in die lug wat in die water oplos.

Daar is ʼn wanopvatting dat die groot watermassa van oseane die besoedelingsprobleem self kan oplos. Seebesoedeling het egter al sulke ernstige afmetings aangeneem dat die gevolge daarvan nie meer onderskat kan word nie.

Seebesoedeling uit die lug

Tot in die 1970’s is geglo dat slegs die radioaktiewe afval van kernproewe die see via die dampkring besoedel. Dit blyk egter dat ander stowwe ook op dié manier in die water beland. Duisende ton lood (hoofsaaklik afkomstig van motors se uitlaatgasse) en kwik beland jaarliks in die see.

Water wat met kwik besoedel is, kan dodelike gevolge hê, soos die talle sterftes van mense in Minamatabaai getuig. ʼn Chemiese nywerheid in Minamata het onder meer van kwikverbindings gebruik gemaak en die afval in die baai laat vloei. Die uitwerking daarvan het in 1950 duidelik geword toe dooie visse in die baai begin uitspoel het. Twee jaar later het katte begin doodgaan en teen 1953 het die inwoners simptome van verlamming, blindheid en breinskade begin toon.

Teen 1976 is 120 inwoners aan kwikvergiftiging dood, 800 het breinskade opgedoen en teen 1978 is altesaam 1 500 vir kwikvergiftiging behandel. Die nywerheid se jarelange weiering om verantwoordelikheid te erken en die besoedeling te staak, het die tragedie vererger.

Oliebesoedeling

Oliebesoedeling is ʼn toenemende verskynsel wat dwarsoor die wêreld kommer wek. Dit is nie net afkomstig van raffinaderye aan die kus en olietenkskepe wat vergaan nie, maar ook van tenk- en vragskepe wat toevallig of moedswillig olie in die see laat loop wanneer die tenks skoongespoel word.

Olieprodukte word verdeel in ligte, middelswaar en swaar fraksies en ru-olie bestaan uit ʼn mengsel van al drie. Die ligte fraksies soos petrol en bensien is maklik brandbaar, relatief oplosbaar in water, verdamp vinnig en veroorsaak nie langdurige waterbesoedeling nie. Hierdie fraksies is nie skadelik vir die gesondheid nie, maar dit kan die smaak van vis bederf.

Middelswaar fraksies soos stook- en gasolie is moeilik brandbaar, kan nie in water oplos nie en verdamp baie stadig. Dit bevat ook giftige bestanddele en veroorsaak ernstige besoedeling. Swaar fraksies soos teer en bitumien is nie brandbaar nie, onoplosbaar in water en vorm harde klonte wat jare later eers deur bakterieë afgebreek word. ʼn Oliekol op die see is nie soseer ʼn bedreiging vir die waterlewe nie, maar dit hou gevare in vir seevoëls omdat hul vere met olie oortrek word. Die olie belemmer die vere se isoleringsvermoë en die voëls verkluim of verhonger omdat hulle nie behoorlik kan vlieg of swem nie.

Olie naby die kus kan ook katastrofiese gevolge vir die visbedryf, oesterkwekery en ontspanning inhou. Die voortbestaan van sekere pikkewynspesies word ernstig deur oliebesoedeling bedreig. In die Esso Essen-ramp is tussen 14 000 en 19 000 pikkewyne dood. Oliebesmeerde pikkewyne kan gered word deur hulle een-een met spesiale spuitmiddels te behandel wat die olie op hul vlerke oplos. Gewoonlik duur dit drie tot vier weke voordat hulle volkome herstel het. Verskeie metodes is ontwikkel om oliebesoedeling op die see te bestry, maar die meeste metodes kan net in kalm waters toegepas word.

Drywende sperbome is nie altyd doeltreffend nie omdat die water en olie dikwels verby die sperbome dryf. Chemiese middels help as dit binne 24 uur op die olie gespuit word. Dit kan egter meer skade as die olie aan see-organismes doen, soos bevind is met die stranding van die Torrey Canyon in 1967 in die Engelse Kanaal. Die Franse het ʼn waterkering ontwerp wat uit versterkte touweefsel van 23 000 m bestaan en gemobiliseer kan word in noodgevalle.

Voorkomende maatreëls is uiters noodsaaklik. Suid-Afrika beskik oor sleepbote om tenkskepe wat in moeilikheid verkeer op sleeptou te neem. ʼn Waarskuwingstelsel is by alle hawens ingestel en kuswagskepe word gebruik om olielekkasies op te spoor. 2

Maatreëls teen seebesoedeling

Nasionale maatreëls ter beskerming van kuswaters is dikwels doeltreffend. Teen 1957 was alle fauna en flora in die mondingsgebied van die Teemsrivier feitlik uitgesterf. Ná 12 jaar van biologiese en chemiese suiwering van huishoudelike en nywerheidsafvalwater was daar weer groei van meer as 50 soorte organismes in die water aanwesig.

Internasionale maatreëls is onvoldoende en moeilik om af te dwing. Volgens die Verdrag van Oslo (1972) is die storting van ru-olie, stookolie, swaar dieselolie, kwik, kadmium en radioaktiewe stowwe verbode. Stowwe soos lood, koper en sink mag egter in beperkte konsentrasies en in bepaalde gebiede gestort word.

Onwettige storting kom dikwels voor omdat maatreëls nie streng genoeg toegepas (kan) word nie. Streng internasionale maatreëls om die see van algehele besoedeling te red, het noodsaaklik geword, want onherstelbare skade word nog steeds berokken. 3

Hittebesoedeling

Hitte- of termiese besoedeling is ʼn fisiese vorm van waterbesoedeling. In die meeste fabrieksprosesse en met die opwekking van krag word hitte vrygestel waarvan daar ontslae geraak moet word. Dit geskied meestal deur verkoelingswater waarin die hitte opgeneem word. Kragsentrales word om hierdie rede verkieslik op rivieroewers of by mere gebou. ʼn Middelslagsentrale met ʼn vermoë van 1 000 mW vereis 40 m3 verkoelingswater per sekonde, oftewel 144 000 m3 per uur.

Biologiese gevolge

Wanneer die water die sentrale verlaat, is die temperatuur 5˚C tot 10˚C hoër as dié van die water waarin dit afgevoer word. Prosesse soos asemhaling en fotosintese is temperatuursensitief en sodra die temperature te hoog is, word hierdie prosesse ontwrig, wat die uiteindelike sterfte van organismes kan beteken.

Dit is moeilik om die optimale of voorkeurtemperatuur van die meeste waterbewegende waterorganismes definitief te bepaal, want baie kan hulle by temperatuurskommelings aanpas. ʼn Skielike styging (byvoorbeeld 1˚C per uur) is baie skadeliker as ʼn geleidelike styging van byvoorbeeld 1˚C per dag. Verskille in watertemperatuur, of die minimum temperatuur, beïnvloed die paar- en migrasiegewoontes van ʼn groot aantal waterdiere.

In die winter, wanneer die aanvraag na elektrisiteit hoër is as in die somer, word meer koelwater afgevoer en dit kan veroorsaak dat die natuurlike seisoenverskille ten opsigte van die watertemperatuur kleiner word en selfs kan verdwyn. Aan die een kant word die voortplanting en voortbestaan van ʼn aantal soorte waterorganismes bedreig, en aan die ander kant bied die hoër watertemperatuur nuwe leefgebiede vir ander. 4

Só word die tropiese guppie (Poecilla reticulata), wat voortplant in water met ʼn temperatuur van ongeveer 28˚C, deesdae op baie plekke aangetref. Die toename in die getalle van ʼn subtropiese of tropiese diersoort gaan meestal gepaard met die verdwyning van ʼn groot deel van die inheemse fauna. Deur die verwarming van die water neem die suurstofgehalte af, wat die lewensomstandighede van die diere nog verder benadeel.

Ondersoeke na visse, week- en skaaldiere het aan die lig gebring dat hulle nadelig geraak word nog voordat ’n temperatuur van 30˚C bereik is. Uit ʼn biologiese oogpunt sou ʼn temperatuurgrens van maksimum 21˚C wenslik wees.

Algemene maatreëls

Sodra ʼn gemeenskap meer bewus is van besoedeling, sal almal kan saamwerk om besoedeling te bekamp. Daar moet spaarsamig met water gewerk word sodat minder water gesuiwer hoef te word. Dit verlaag dan die onkoste om die water te suiwer en maak dat die plaaslike owerhede meer geld tot hul beskikking het om dienste vir die gemeenskap te verbeter (soos byvoorbeeld die vervanging van puttoilette met spoeltoilette omdat ʼn puttoilet kan oorloop tydens swaar reën en só bakterieë versprei). Dit is elke persoon se plig om nie rommel te strooi nie, elke moontlike druppel water te bespaar en lekkende toilette, pype en krane aan te meld. 5

Nie almal is dit eens dat gryswater (water wat reeds vir iets anders gebruik is) goed is vir plante nie omdat dit die absorbsievermoë van grond nadeling beïnvloed. Dit kan ook bakterieë versprei en mense of diere siek maak, maar die gebruik daarvan in en om die huis, soos vir die spoel van toilette, kan die vraag na varswater verminder. Die effektiewe en veilige gebruik van gryswater kan die druk op varswaterbronne verminder. 6

Woordbank

bakterieë Klein organisme wat infeksie en besmetlike siektes veroorsaak.
cholera Besmetlike/bakteriese ingewandsiekte veroorsaak deur die kommabasil.
epidemies Besmetlike siekte wat vinnig oor ‘n groot gebied uitbrei en ná ‘n tyd weer verdwyn.
erosie Wegvreet/wegkalwe/verweer deur byvoorbeeld wind en water.
lewensaar Bron van krag.

Lees dié om meer oor waterbesoedeling te leer

Kyk dié leersame video’s oor waterbesoedeling

Die verreikende gevolge van waterbesoedeling

Hoe kan ons waterbesoedeling keer?

Wat veroorsaak waterbesoedeling?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 Desember 2021 | Bygewerk op 3 April 2024