Die woord mite het meer as een betekenis. Eerstens verwys dit na antieke verhale oor gode, halfgode en heldefigure. In sulke verhale word belangrike gebeure uit die verlede oorvertel om natuurverskynsels of menslike ervarings te probeer verklaar. Dit word ook dikwels aangewend om abstrakte begrippe te verduidelik. Tweedens verwys dit na ʼn ideaal of lewensbeskouing wat deur gemeenskappe gedeel word, byvoorbeeld die Afrikanermite wat met sekere stereotipiese idees gepaard gaan.

Derdens verwys dit na enige idee of verhaal wat nie waar is nie, byvoorbeeld die mite dat alle millenniërs lui is. In hierdie inskrywing word slegs die eerste soort bespreek. Die versamelnaamwoord mitologie verwys na al die mites van ʼn volk waarin hul herkoms, geskiedenis, gode, voorvaders en helde beskryf word. Mitologieë word regoor die wêreld gevind. Die bekendste is die Griekse/Romeinse, Noorse en Egiptiese mitologieë. In Suid-Afrika word veral kennis geneem van die inheemse Zoeloe- en San-mitologieë.

Elke mitologie het ʼn eie stel gode, halfgode en heldefigure met verskillende simboliese, verklarende, helde- en oorsprongmites. Die Afrikaanse letterkunde bevat ook vele verwysings na verskillende mitologieë.

Kenmerke van ʼn mite

Daar word breedweg tussen die volgende vier soorte mites onderskei:

  • Simboliese mites, in die vorm van ʼn godeverhaal, probeer om strukture in die heelal of samelewing te interpreteer. Hierdie soort mite speel af in ʼn onbepaalde verlede.
  • Verklarende mites ontstaan wanneer die tradisionele maniere waarop mense dinge doen, verklaar word aan die hand van mites.
  • Heldemites het ʼn historiese kern wat tydens oorvertellings so uitbrei en verander dat dit ʼn mite word.
  • Oorsprongmites probeer om die ontstaan van die wêreld en die mensdom te verklaar.

Mites begin dikwels by die oorsprong van die wêreld, waarna die fokus verskuif na die stryd tussen gode en mense. Die verhale speel gewoonlik op die emosies van die luisteraar of leser in stede van rasionele denke. Die agtergronde waarteen en ruimtes waarin mites gewoonlik afspeel, vervul dikwels ʼn belangrike rol in die mite. Landskappe soos berge, grotte, seë, riviere en woude in die land of omgewing waar die betrokke mite afspeel, word dikwels baie duidelik in woorde geskilder.

Nes by volksverhale, waarvan mites ʼn subgenre is, is die oorspronklike verteller of skrywer van die mite onbekend en word dit van geslag tot geslag oorgedra. Hoewel die oorsprong van mites en volksverhale dieselfde is, verskil die twee genres ten opsigte van die karakters en die doel wat dit wil bereik. Die karakters in volksverhale is gewoonlik persone, terwyl die karakters in mites bonatuurlike wesens is. Die doel van volksverhale is gewoonlik om te vermaak of om menslike gedrag te verklaar, terwyl mites gewoonlik ʼn morele les aan die hand van religie of spiritualiteit wil oordra of natuurverskynsels of menslike ervarings probeer verklaar. Baie volksverhale word beskou as kamma-mites.

Mites moet ook nie met legendes (ʼn ander vorm van volksverhale) verwar word nie, want die verskil tussen ʼn mite en ʼn legende is dat legendes altyd ʼn historiese kern bevat. Daar is dus ʼn groter element van die waarheid in ʼn legende as in ʼn mite, maar ʼn legende hoef ook nie waar te wees nie.

Voorbeelde van mites

Hier volg ʼn lys van bekende mites:

Baldur se dood (Noors)
Die diere vra om kos en water (San)
Die epos van Gilgamesj
(Mesopotamies)
Die heldedade van Herakles
(Grieks)
Die groot waterslang (San)
Die reis van die son (Egipties)
Die val van Icarus
(Grieks)
Isis en die sewe skerpioene (Egipties)
Jason en die Argonoute
(Grieks)
Koning Midas
(Grieks)
Loki se straf
(Noors)
Odin se oog
(Noors)
Pandora se kissie
(Grieks)
Thor se hamer
(Noors)
Ragnarok
(Noors)

Die volgende weergawe van ʼn Griekse mite verskyn in ʼn bloginskrywing deur Jana Luther op VivA se webtuiste:

In die Griekse mitologie word die lourierboom veral met die god Apollo geassosieer. In een van verskillende mites wat oor hierdie episode handel, is Apollo agter die nimf Daphne aan (wie se naam ook “lourier” beteken), maar Daphne wil niks van hom weet nie. Sy vra die riviergod Peneus om haar van die opdringerige Apollo te help ontsnap, en Peneus verander haar in ’n lourierboom. Vir Apollo is die lourierboom daarna dus van besondere betekenis.

In Afrikaans verskyn, onder andere, die volgende mitologieversamelings: Uit die Griekse heldewêreld (1924) deur C.D. Keet; Heldesages uit die Griekse mitologie (1931) deur F.J. Eybers; Kinders van die Noorderlig: verhale uit die Germaanse mitologie (1940) deur S.J. du Toit; Waar Asgard blink: verhale uit die Germaanse mitologie (1953) deur P.V. Pistorius; Avonture van die Griekse helde en gode (1964) deur P.J. Conradie en Griekse legendes (1967) deur L.C. de Jager. Meer onlangs verskyn Fantastiese verhale uit die Griekse mitologie (2003) en Griekse gode en godinne uit die mitologie (2004) vertaal deur Daniel Hugo, sowel as ʼn heruitgawe van G.R. von Wielligh se Versamelde Boesmanstories (2009).

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 April 2024