Vinnige feite
- Die Namibwoestyn, waarna Namibië vernoem is, word as die oudste woestyn in die wêreld beskou. 8
- Namibië was die eerste land op aarde wat die beskerming van die omgewing in sy grondwet ingeskryf het. 1
- Anders as die res van Namibië, is Walvisbaai eers in 1994 deur Suid-Afrika aan Namibië teruggegee. 7
- Die Caprivistrook wat in die noordooste uitsteek, is deel van Namibië omdat die Duitsers toegang tot die Zambezirivier wou hê. Dit was gebaseer op ’n wanopvatting dat die Zambezirivier hul toegang tot Indiese Oseaan sou gee. 7
Die Republiek van Namibië, meestal bekend as slegs Namibië, is ’n land in Suider-Afrika. Dit grens aan Angola in die noorde, Zambië in die noordooste, Botswana in die ooste, Suid-Afrika aan die suide en suidooste en die Atlantiese Oseaan in die weste.
Die woord “Namib” beteken “groot plek” in die Nama- en Damara-tale. 1
Oorsig
Amptelike naam | Republiek van Namibië. Plaaslik: Republic of Namibia. |
Engelse naam | Namibia/Republic of Namibia. |
Ook/voorheen bekend as | Namibië; Southwest Africa; Suidwes-Afrika; Duitswes-Afrika. |
Leiers | President: Dr. Nangolo Mbumba (tussentyds) (sedert 4 Februarie 2024.) 1
Eerste minister: Saara Kuugongelwa-Amadhila (sedert 21 Maar 2015.) 2 |
Hoofstad | Windhoek. |
Grootste stad | Windhoek (bevolking 268 132). 3 |
BBP (bruto binnelandse produk) | $12 607 436 976 (2022), groeikoers 4,56%. 4 |
BBP per capita | $4 358 (2022). 4 |
Bevolking (en posisie op wêreldlys) | 2 637 645 miljoen (145ste). 3 |
Bevolkingsdigtheid | 3 mense per km2. |
Regeringsvorm | Republiek met tweekamerstelsel. 5 |
Amptelike taal | Engels. 5 |
Totale oppervlakte (wêreldrang) | 825 615 km3 (35ste). 6 |
Geldeenheid | Namibiese dollar (NAD), opgedeel in 100 sent. Die Suid-Afrikaanse Rand (ZAR) word ook aanvaar. |
Internet kode | .na |
Skakelkode | +264 |
Tydsone | UTC +2 |
Byvoeglike naamwoord | Namibiese. |
Inwoner | Namibiër. |
Geskiedenis
Daar woon sedert 26 000 jaar v.C. jagter-versamelaargroepe soos die San in die gebied.
Bantoe
Die Nama, en kort daarna die Damara en Herero, was die eerste Khoi-Khoi-groepe in die gebied. In die noorde het Bantoesprekende boere ryke soos die Ovambo-koninkryk gestig. 7
Europese kolonisasie
Namibië het een van die wêreld se mees onherbergsame kuslyne. Dit het die gebied afgesluit gehou van ontdekkingsreisigers, handelaars en sendelinge. 2 Daar was dus tot in die 1860’s amper geen kontak met Europeërs nie.
In die 1870’s het Transvaalse boere, die sogenaamde Dorslandtrekkers, deur die gebied getrek, maar dit nie bewoon nie. Hulle het wel die eerste handelsroetes gestig en vuurwapens bekendgestel.
Die nuwe wapens het bestaande konflik tussen die bewoners aangeblaas, wat vererger is deur die aankoms van die Oorlam-Nama-groep uit die Kaapkolonie. Daar was veral konflik tussen die Herero wat suid en die Nama wat noord beweeg het. 7
Namibië is in 1884 deur Duitsland gekoloniseer. Dit was ’n bloedige proses wat met twyfelagtige verdrae en diefstal gepaard gegaan het. Teen die eerste dekade van die 20ste eeu het Duitse setlaars op groot skaal die gebied binnegestroom.
Tussen 1904 en 1907 het die Herero en Nama weerstand teen Duitse indringing gebied. In die volksmoord wat hierop gevolg het, 8 het die Duitsers die Herero-bevolking met 90% verminder en twee derdes van die Nama uitgewis. 7 Die oorlewendes is uit die gebied verdryf of vir dwangarbeid gebruik. 8
Die Duitsers het die vrugbare grond vir hulself uitgehou en die oorblywende Afrikane in reservate geplaas. 7
Suid-Afrikaanse besetting
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het Suid-Afrikaanse troepe Namibië, toe bekend as Suidwes-Afrika, as deel van die stryd teen Duitsland ingeval en oorgeneem. 7 Aan die einde van die oorlog is Namibië aan Suid-Afrika gegee om as mandaat te bestuur. 1 Namibië sou vir die volgende om en by 70 jaar onder Suid-Afrikaanse beheer bly. 2
Van 1947 af het Namibiese groepe op groot skaal by die Verenigde Nasies (VN) en ander begin aandring om Suid-Afrikaanse beheer te beëindig. Toe dit onsuksesvol was, het die Suidwes-Afrikaanse Volksorganisasie (Swapo) in 1966 hul bevrydingstryd afgeskop. Aanvanklik was dit vir Suid-Afrika niks meer as ’n oorlas nie. 7
Intussen het Namibië se ekonomie begin agteruitboer. Dit was nie meer vir Suid-Afrika die moeite werd om aan die kolonie vas te klou nie. 7 Die bevrydingstryd het voortgeduur, en in 1988 het die Suid-Afrikaanse regering ingestem om hul beheer te beëindig. 8
Sedert onafhanklikheid
Die eerste demokratiese verkiesing is in 1989 gehou, en Namibië het amptelik op 21 Maart 1990 afhanklik geword. 2 Swapo het die verkiesing gewen, met Sam Nujoma as die eerste president. 8
Swapo is tot vandag toe aan bewind. Daar is wel hier en daar aantygings van outokrasie, 7 maar oor die algemeen is Namibië polities en ekonomies ’n vreedsame, stabiele republiek. 2
Geografie
Namibië is die 15de grootste land in Afrika. Dit is meestal vierkantig, met ’n klein, dun strook genaamd die Caprivi wat in die noordooste uitsteek. Dit is ongeveer 965 km van die noorde tot die suide, en so tussen 480 en 725 km van die ooste na die weste. 7 Namibië is rofweg so groot soos Suid-Afrika sonder die Noord-Kaap. 9
Landskap
Namibië word in drie geografiese gebiede verdeel:
- Die Namibwoestyn aan die kus.
- Die Sentrale Plato.
- Die Kalahariwoestyn.
Die hoogste punt in Namibië is die Brandberg, wat 2 573 m bo seevlak uitstyg. 7
Namibië se kuslyn is net so oor die 1 500 km lank. 1 Namibië het twee belangrike hawestede: Walvisbaai en Lüderitz. 2
Die enigste noemenswaardige riviere is op Namibië se grense. 7 Dit sluit die Oranjerivier aan die suidelike grens en die Okavangorivier aan die noordelike grens in. 1 Die Caprivistrook in die noordooste gee vir Namibië toegang tot die Zambezirivier. 7
Klimaat
Namibië is in die Suidelike Halfrond geleë, en die Steenbokskeerkring sny deur die land. 8
Namibië is in die suidelike tropiese streek, en het duidelike seisoene. 7 Winter is tussen Junie en Augustus en is oor algemeen droog. Namibië lê in ’n somerreënvalstreek, 8 maar reënval is min en wisselvallig. 1 Dit wissel van minder as 50 mm per jaar in die kusstrook tot om en by 600 mm in die Caprivi. 7
Op die Sentrale Plato en die Kalahari wissel daaglikse temperature tussen meer as 30 °C in die somer en minder as 10 °C in die winter. 7
Omgewingsprobleme en gevare
Namibië het probleme soos afname en verswakking van water en seehulpbronne, verwoestyning, afname van grondkwaliteit, stroping en verlies aan biodiversiteit.
Die grootste natuurlike bedreiging is lang tydperke van droogte. 1
Landmerke
Namibië se bekende landmerke sluit die volgende Wêrelderfenisterreine in:
- Twyfelfontein (of /Ui-//aes), ’n groot versameling rotstekeninge.
- Namib-sandsee, ’n kuswoestyn. 10
Ander bekende landmerke is die Etosha Nasionale Park in die noorde, en veral die Etosha-pan, die grootste soutpan in die wêreld! 11 Sossusvlei in die suide van die Namibwoestyn en die Visrivier-skeurvallei, die grootse skeurvallei (in Engels: canyon) in Afrika, is ook beroemd. 8
Sowat 15% van Namibië se oppervlak word deur natuurreservate beslaan. 2 Die Namib-Naukluft Nasionale Park is die grootse wildreservaat in Afrika en een van die grootstes ter wêreld! 1
Regering
Namibië is ’n unitêre presidensiële grondwetlike republiek.
Regeringstrukture
Namibië se grondwet is in 1990 aanvaar en maak voorsiening vir skeiding van magte tussen die uitvoerende, wetgewende en regsprekende takke van die regering. 2
Die president is die staatshoof en word direk vir ʼn termyn van vyf jaar verkies. 8 Die president stel die visepresident en kabinet aan. 7
As dit kom by die parlement, het Namibië ’n tweekamerstelsel. Die hoërhuis bestaan uit 24 lede wat indirek deur die gebiedsrade verkies word en vir vyfjaartermyne dien. Die laerhuis bestaan uit 104 lede – 96 lede word direk verkies, en agt lede sonder stemreg word deur die president aangewys. Hulle dien ook vir vyfjaartermyne. 1
Administratief word Namibië in 14 gebiede opgedeel. 1
Politieke partye
Die vernaamste politieke partye in Namibië is:
- Suidwes-Afrikaanse Volksorganisasie (SWAPO), tans die party aan bewind.
- Popular Democratic Movement (PDM).
- Landless People’s Movement (LPM). 1
Buitelandse verdrae
Namibië is lid van die Verenigde Nasies (VN), die Statebond, die Afrika-Unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). 8
Ekonomie
Namibië word in die boonste helfte van middelinkomstelande gegroepeer. Die ekonomie maak meestal op uitvoere staat. Namibië het goeie minerale hulpbronne, en kan in die toekoms genoeg hernubare krag opwek om energieonafhanklik te wees (met ander woorde energie hoef nie ingevoer te word nie).
Namibië lok maandeliks duisende toeriste.
Die bevolkingsgetalle is egter laag en daar is ’n tekort aan geskoolde arbeid. Die armoedesyfer is 17,4%. 1 Hierdie armoede word deur stadige ekonomiese groei, nadelige weersomstandighede, hoë vlakke van ongelykheid en hoë werkloosheid (20% in 2022, maar meer as 40% onder jong mense) veroorsaak. 8 Omtrent helfte van Namibiërs leef in plattelandse gebiede as bestaansboere. 1 Namibië se vlak van inkomste-ongelykheid is een van die hoogste ter wêreld. 8
Ekonomiese bedrywighede
Namibië se ekonomie se hoofsektors is mynbou, visvang, toerisme en landbou. 2
As dit kom by mynbou, is die belangrikste natuurlike hulpbronne diamante, koper, uraan, goud en silwer.
Omtrent die helfte van Namibië se grondgebied word vir landbou aangewend, maar daarvan is meer as 95% vir weiding. Slegs 1% van die land se grond is ploegbaar. Die belangrikste landbouprodukte wat geproduseer word, is beesvleis, melk, giersgras, mielies en skaapvleis. 1 Landbou is die sektor wat die meeste mense in diens neem.
Die vinnig groeiendste ekonomiese sektor is toerisme. 2
Invoere en uitvoere
Namibië se vernaamste handelsvennote is Suid-Afrika, China, Zambië, Botswana en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). 8
Namibië is saam met Suid-Afrika, Botswana, Lesotho en Eswatini deel van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU), wat verseker dat goedere maklik en goedkoop tussen die lande vervoer kan word. 7
Namibië se vernaamste uitvoerprodukte is diamante, uraan, koper, goud en vliegtuie. Die grootste invoere is koper, geraffineerde petroleum, afleweringsvoertuie, kobalt en motors. 1
Mense
Namibië is ’n multikulturele land, maar beleef min etniese spanning.
Etniese groepe en taal
Die meeste Namibiërs is swart Afrikane. Die Ovambo is die grootste groep en sluit omtrent helfte van alle Namibiërs in. 1 Ander groot etniese groepe is die Herero en Himba. Daar is ook aansienlike Khoi-San-groepe en Angolese vlugtelinge. Sowat 6% van die bevolking is wit. Dit is die tweede grootste groep mense (ná Suid-Afrika) van Europese afkoms in Afrika suid van die Sahara. 8
Namibië se amptelike taal is Engels. 2 Voor 1990 was dit Duits en Afrikaans. 8 Daar word om en by 16 tale en dialekte gepraat. 2 Die grootste moedertaal is Oshiwambo, wat deur net onder 50% van die bevolking gepraat word. Die tale wat die meeste mense verstaan, is Afrikaans, en Engels onder die jeug. 8
Opvoeding
Om en by 83% van Namibië se bevolking is geletterd. Dit is een van die hoogste geletterdheidsvlakke in Afrika. 2
Skoolopvoeding is gratis en verpligtend vir almal tot op 16-jarige ouderdom. 8
Namibië het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word verskaf deur die Universiteit van Namibië en die Namibiese Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (voorheen bekend as Polytechnic of Namibia), beide in Windhoek. 7
Demografie en bevolkingsverspreiding
Demografiese gegewens:
- Lewensverwagting: 59,5 jaar.
- Fertiliteitsvlak: 3,2 geboortes per vrou per jaar.
- Mediane ouderdom: 21,4 jaar.
- Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 31,6 per 1 000 geboortes.
- Sterftes onder vyf jaar oud: 43,8 per 1 000 geboortes. 12
Omtrent 60% van die bevolking bly in stedelike gebiede. 12 Meeste woon in die noorde en noordooste, waar daar genoeg water is.
Alhoewel baie Namibiërs tydelik tussen Namibië en Suid-Afrika, Angola, Zambië en Zimbabwe migreer, is daar min Namibiërs wat wil emigreer. Hulle verkies die veiligheid van hulle tuisland, het ’n sterk gevoel van nasionalisme en is goed voorsien van verbruikersprodukte.
Siektes en ander probleme
Namibië is swaar deur die MIV/vigs-pandemie getref, en dra vandag nog die gevolge. In die jaar 2 000 het 1 uit elke 5 Namibiërs aan vigs gely. 7 Ander siektes wat probleme veroorsaak is diarree, hepatitis en tifus. 1
Geloof
Om en by 90% van die bevolking is Christene. 2
Kultuur en sport
Namibië se mense is ’n mengelmoes van kulture. Verskillende etniese groepe het elkeen hul eie kos, tradisies en gebruike. Daar is ook ’n lewendige multikulturele atmosfeer in die groot stede.
Die gewildste sport in Namibië is sokker. Rugby en krieket is ook gewild. 8
Namibië neem sedert 1992 aan die Olimpiese Spele deel. Hulle het al twee medaljewenners gehad. Frankie Fredericks het vier silwermedaljes by die Olimpiese Spele gewen in die mans 100 m en 200 m in 1992 en 1996. Christine Mboma het ook silwer gewen in die vroue 200 m by die 2020 Olimpiese Spele. 13
Simbole
Namibië het die volgende nasionale simbole:
- Vlag: Rooi staan vir die mense se heldhaftigheid en vasberadenheid om ’n toekoms met gelyke geleenthede vir almal te bou; wit verteenwoordig vrede, eenheid en harmonie; blou simboliseer die Namibiese lug en die Atlantiese Oseaan, die land se waardevolle waterbronne en reën; die goudgeel son dui op mag en bestaan; groen verteenwoordig die plantegroei en landbouhulpbronne.
- Nasionale dier: Gemsbok.
- Nasionale kleure: Blou, rooi, groen, wit, geel.
- Volkslied: “Namibia, Land of the Brave”. (Namibië, land van die Dapperes). 2
Woordbank
aangeblaas | Iets aan te wakker, aan te hits, te laat opvlam; op te stook. |
aantygings | Beskuldigings. |
afgeskop | Begin. |
AU | Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder. |
BBP | Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word. |
bestaansboere | Boere wat op hul plase slegs kos vir hul eie gebruik produseer, en nie om te verkoop nie. |
biodiversiteit | Dit is die groot verskeidenheid van lewe (diere, plante, ens.) op die aarde en die prosesse wat alles aan die lewe hou. Dit word dus gesien as die diversiteit ten opsigte van lewende organismes en die verskillende ekosisteme waarin hulle voorkom en in interaksie met mekaar verkeer. |
dwangarbeid | Wanneer iemand gedwing word om werk te doen, gewoonlik word dit gebruik om werk wat in ʼn gevangenis gedoen word, te beskryf. |
etniese | Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou. |
gekoloniseer | Wanneer ’n land onder die oorheersing/besit van ’n ander land gebring word. |
geletterd | Om te kan lees en skryf. |
geraffineerde | Gesuiwerde petroleum. |
geskoolde arbeid | Werkers wat opgelei is en dus kennis en ervaring het. |
giersgras | ’n Soort gras waarvan mense die sade kan eet. |
groeikoers | Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word. |
grondwetlike | Iets wat ’n grondwet het, met ander woorde die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
harmonie | Eensgesindheid, goeie verstandhouding, samewerking, onderlinge begrip; welwillendheid, vreedsaamheid, vriendskaplikheid, wedersydse liefde. |
hepatitis | Ontsteking van die lewer. |
kabinet | Al die ministers wat saam die regering van die land vorm. |
kobalt | Gryserige magnetiese metaal. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/partye/lande. |
mandaat | Die reg of volmag om iets te doen of namens ’n instansie/regering/land besluite te neem. |
mediane ouderdom | Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom. |
MIV/vigs-pandemie | MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) is ’n virus wat die liggaam se immuunstelsel aanval. As MIV nie behandel word nie, kan dit tot vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) lei. Vigs is ʼn baie ernstige siekte, deur bloed en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer teen infeksies kan weerstand bied nie (uit die afkorting “verworwe immuniteitsgebreksindroom”). |
multikulturele | “multi” beteken “baie”, dus baie kulture; verwys na die manier waarvolgens ʼn groep mense leef, hul gewoontes en godsdiens. |
onherbergsame | Woes, wat geen skuiling/herberg bied nie; kaal en sonder beskutting. |
oorlas | Iets/iemand wat pla of hinder. |
outokrasie | Om alleen met onbeperkte mag te regeer. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
per capita | Per persoon. |
plato | Plat, hoogliggende streek, hoogland, tafelland. |
regsprekende | Daardie tak van die regering wat met die howe te doen het. |
republiek | ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. |
reservate | Gebied wat vir ’n spesiale doel opsygesit word. |
SAOG | Organisasie van 16 lande in Suider-Afrika wat groei en ontwikkeling bevorder deur samewerking tussen lidlande aan te moedig. |
sektor | ’n Afdeling of gebied van iets. |
setlaars | Iemand wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon. |
simboliseer | ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken. |
skeurvallei | Diep rivierbedding of aardtrog met steil wande; rivierkloof. |
Steenbokskeerkring | Suidelike grens van die trope; presies 23½ º suid van die ewenaar; ook bekend as die Suiderkring. |
stroping | Wild jag sonder verlof van die eienaar. |
termyn | Vasgestelde beperkte periode, tydsduur; ampstyd, sitting. |
tersiêre | Opvoeding ná skool by akademiese instelling soos ’n universiteit. |
tifus | Benaming vir verskillende besmetlike siektes wat met hoë koors, bewussynsverlies en delirium (ylende koors, waansin) gepaardgaan; luiskoors; rotkoors. |
tropiese | Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreef- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit in die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië. |
tweekamerparlement | Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit twee huise bestaan, gewoonlik ’n hoër- en ’n laerhuis. |
uitvoerende | Die tak van die regering wat gewoonlik die president en ministers insluit, wat take moet uitvoer wat met die bestuur van die land te doen het. |
unitêre | In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het. |
uraan | Radioaktiewe metaal wat meestal in kernkragopwekking gebruik word. |
verbruikersprodukte | Produkte wat deur mense gebruik word in die huis. Dis gewoonlik dinge wat nie nodig is nie, soos mikrogolfoonde of wasmasjiene, maar die lewe makliker maak. |
verdrae | Ooreenkomste tussen twee of meer lande. |
verwoestyning | Wanneer ’n stuk land wat nie voorheen een was nie, ’n woestyn word. |
volksmoord | Wanneer mense van een groep sistematies uitgemoor word, gewoonlik oor ʼn kort tydperk. |
wanopvatting | Wanneer jy dink iets wat nie waar is nie, is waar. |
wetgewende | Die tak van die regering wat wette maak. |
wisselvallig | Iets wat onbestendig is of dikwels verander. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Namibië
Kyk hierdie video’s oor Namibië
Die woestyn – kyk hier na ’n direkte stroming (in Engels: live stream)
Kyk hier na ’n direkte stroming by die Okaukuejo-watergat in die Etosha Nasionale Park
Die Kalahariwoestyn is deel van Namibië – kyk hier na ʼn direkte stroming
Die Skedelkus een is een van die min plekke op aarde waar die kus die woestyn ontmoet
Hoe lyk Namibië?
Kan jy verskillende diere se name in Oshiwambo sê?
As jy lus is om die Damara-taal aan te leer, is hierdie jou kans!