Vinnige feite

  • Klippe is vroeër gebruik om sagte rots mee te verpoeier en daarna is dit met water, bloed, plantsappe of eierwit gemeng.
  • Wit verf is van klei gemaak en om ʼn swart kleur te kry het hulle houtskool gebruik.
  • Die San het nie noodwendig op rotse geskilder om uiting aan kreatiwiteit te gee nie, maar eerder om die visioene te skets van die geesteswêreld wat hulle gesien het as hulle in beswyming was.
Foto: iStock

Die San is een van die oudste bevolkingsgroepe in Afrika. Hulle is jagters en versamelaars en is as die beste jagters in Afrika erken. Die San is afstammelinge van die Vroeë Steentydperk. Aanvanklik is aanvaar dat hulle uit sowel Noord- as Midde-Asië afkomstig is.

Die San het as groep migreer agter voedsel en weiding aan. hulle het medisinale gebruike vir plante gevind asook duisende plantsoorte in verskillende kategorieë geplaas.

Elande

Deurboorde stene wat die San as gewigte vir hul graafstokke gebruik het, is selfs tot in Uganda en Suid-Soedan gevind. Hul woongebied het egter ook die hele Suid-Afrika omvat. In Suid-Afrika is daar baie rotstekeninge, hoofsaaklik in die Drakensberge in KwaZulu-Natal en die bergagtige streke van die Oos-en Wes-Kaap. Rots- en grottekeninge word ook in die bergagtige dele van Gauteng, die Vrystaat en Namibië en op enkele plekke in die Karoo aangetref. 1

Die San se leefwyse

Die San voer ʼn buitengewoon harde bestaan. Die grootste deel van hul lewe wy hulle daaraan om rond te trek op soek na wild, veldkos en water. Die San plant en saai nie en hulle ou ook geen vee aan nie. Die mans doen die jagwerk, terwyl die vrouens veldkos en hout versamel en kalbasse en volstruiseierdoppe soek om water in te bêre. Die San, as beoefenaars van die jagters- en versamelaarskultuur, bewoon die ontoeganklikste gebiede soos die Kalahari-woestyn waar hulle met groot vernuftigheid aan die lewe bly. 1

‘n San-vrou berei strooi voor om saam te neem huis toe

Daar is tientalle plante waarvan die wortels, knolle en stingels geëet kan word – dit is die San se veldkos. Dan is daar ook nog die wilde tsamma- en naba-vrugte, karkoere en wilde komkommers waarmee die San in die droë tye hulle dors les.7

‘n Voorstelling van hoe die San water drink deur boombas. Vandag kom die San slegs voor in die noordwestlike deel van Suid-Afrika, die noorde van Namibië en Botswana.

Die San as jagters

Die San is uitstekende jagters en gebruik die pyl en boog. Die pyle is gewoonlik van riet en die pylpunte van vuurklip of been, en later is glas en yster ook begin gebruik. Die pylpunte word in dodelike gif gedoop wat van slange of plante verkry word. Dikwels word die gif verkry van die larwe ʼn bepaalde klein groen kewer wat op net een struik, die Commiphora dinternie, voorkom. Hulle druk so ʼn larwe op die pylpunt uit, byna soos ʼn mens verf of tandepasta uit ʼn buisie druk. Klein diere vrek baie gou van die gif. Die groot wild soos hartbeeste, springbokke, koedoes, wildebeeste en kameelperde vrek soms nie dadelik nadat hulle getref is nie, maar vlug partykeer nog dae lank voor hul agtervolgers uit. 3

Sangemeenskap

Die pyle veroorsaak egter diep wonde sodat die dier uiteindelik nie meer verder kan nie. Die pyle word gewoonlik in ʼn pylkoker gedra. Dit word gemaak van die veselagtige stam van die kokerboom Aloe dichotoma of van sagte bokvel. As hulle gaan jag, vat hulle gewoonlik baie pyle saam. Die boog is gewoonlik van bamboes of ʼn sterk houtsoort, en die boogsnaar van die senings van wilde diere. Verder vang die San ook wild met wippe, valstrikke, valkuile en vangnette. As die San gaan jag, gaan selde meer as drie of vier op ʼn keer saam. As wild geskiet word, word die vleis op ʼn vaste en ingewikkelde, maar regverdige wyse verdeel. Die ouer seuns vergesel gewoonlik hul pa’s om bedrewe te raak in die jagkuns. 3

Sommige meisies kan die vrouens ook help kos versamel. ʼn Botanis, Brian Maguire, van die Bernard Price-instituut vir paleontologiese navorsing, het vasgestel dat baie San-meisies tot 75 verskillende plantspesies kan uitken. As hulle agt jaar oud is, is hulle as’t ware volwaardige botanici. Die bejaarde San sit gewoonlik om die vuur, besig om iets gaar te maak. Laatmiddag maak die vrouens en die meisies gewoonlik vuurmaakhout bymekaar en soek water. Teen dié tyd het die mans ook moontlik vleis in die hande gekry en kan die voedselbereiding begin. 3

‘n San-man besig om te jag

Jaggebied

Elke man het ook sy eie jaggebied wat deur ander lede van die groep gerespekteer word. In só ʼn gebied het elke man ook sy eie watervoorraad. ʼn Ander man se gebied word net met jagsessies binnegedring as wild moontlik oor die gebied se grens beweeg het. As die wild dan in ʼn ander man se gebied geskiet word, is dit gebruik om ʼn goeie en groot stuk vleis aan die “gasheer” te gee.

Die San jag ook graag hase, skilpaaie, patryse en ystervarke. Geroosterde sprinkane en rysmiere beskou hulle as lekkernye. Behalwe hul jagtoerusting soos die pyl en boog en die graaf en drastokke waarmee hulle knolle en plante uitgrawe, het hulle ook soms potte of panne wat hulle geruil het. 3

Braai springkane

Die San is voortreflike nabootsers

Die San het besonder skerp oë en ʼn baie fyn waarnemingsvermoë. Hulle kan wild kilometers ver sien en dan met hul agtervolging begin. Hulle kan ook baie goed onthou en as hulle eers een keer op ʼn plek was, vergeet hulle die omgewing nooit weer nie. Die San kan mense en diere, hul houdings en geluide en eienaardighede besonder goed naboots.

Daar is selfs ʼn rotstekening van ʼn San-man wat soos ʼn volstruis vermom is en ʼn volstruis nader. Omdat hulle as jagtersvolk so afhanklik is van die natuur en diere, het daar ʼn gevoel van verborgenheid tussen mens en dier by die San ontstaan, as’t ware ʼn kosmiese eenheid tussen die jagter en dié wat gejag word. Dit word weerspieël in die talle rotstekening, wat ook hul kunstigheid toon. 3

Die San se weelde-artikels

Die enigste weelde-artikels wat die San ken, is tabak of hennop wat feitlik in die hele Afrika gerook word. Die San is strawwe rokers en hulle ruil graag hul goed gelooide bokvelle aan ander volke vir tabak. Hulle plant egter nooit self tabak nie.

Hulle maak ook geen alkoholiese drank van vrugte nie. Hul enigste drank is water, wat meestal in volstruisdoppe en leë kalbasse bewaar word. Die San begrawe gewoonlik die volstruisdoppe vol water op bepaalde plekke in die woestynsand as reserwe – of noodvoorrade. Geen persoon van ʼn ander groep sal ooit waag om die water in so ʼn eierdop te drink as hy daarop afkom nie. 3

Die San se klere

Die San-mans dra min klere. Behalwe ʼn driehoekige lendeskort van diervel, dra die mans soms ook ʼn mantel van vel. Die vrouens dra ʼn leerrokkie wat agter langer as voor is, en soms ook ʼn karos. Dis ʼn soort mantel van leer. Die mantel is so kundig geplooi dat hulle ook veldkos daarin kan dra. Die vrouens en kinders se versiersels is mooi stringe wit krale of ringetjies wat hulle maak van stukkies volstruiseierdop. 4

Die San se musiekinstrumente

Musiekinstrumente is die eensnarige viool en die sanza, wat hulle die Te Kna noem. Die San is dol daaroor om musiek te maak, te sing en te dans, veral in die maanlig. Die maan en al die ander hemelliggame word vereer. Die San is ook puik storievertellers, en al die San-legendes word van die een geslag na die ander oorgedra deur storievertellery. 4

Sosiale organisasie

By die San is daar geen stamme in die ware sin van die woord nie. Die woord “bende” word gebruik omdat “stam” gewoonlik ʼn mate van formele organisasie onder ʼn stamhoof insluit. By die San is dit meer ʼn geval van bepaalde taalkundige groeperinge. Geleerdes onderskei tussen die Naron- en die Kung-sprekende San. Verder is daar onder andere die Heikoem, die Auen, die Hoekwe, die Tannekwe, die Sarwa en die Hiechware. Sommige groepe, veral in die noorde, het met die ander Afrika-stamme vermeng. Hulle het ʼn donkerder velkleur en is ook langer. 4

Ongeveer 1650

Die San se taal

Die San se taal is besonder moeilik en kan nie maklik deur ander bevolkingsgroepe aangeleer word nie. Dit is bekend as die klik-klak- of Khoisan-tale. Dit kan ook moontlik daarop dui dat daar vroeër vermenging tussen die San en Khoi en swart volke plaasgevind het. Baie van die klik-klanke in die Xhosa-taal is afkomstig van die San- en Khoi-tale.

Die taalgroepe beteken nie baie vir die San nie. Dit vorm ook geen sosiale eenheid nie. Vir hulle bestaan die grootste groep uit ʼn bende, wat weer onderverdeel is in gesinne. Elke bende is outonoom en bestaan uit 50 tot hoogstens 100 mense. Wat leiers betref, is dit die oudste en mees ervare jagter. Wanneer hy sterf, volg die man van die oudste dogter hom op. 4

Rituele en godsdiens

Die San glo in die grootheid van een god, maar terselfdertyd erken hulle ook die teenwoordigheid van kleiner gode. Offergawes word gebring aan die geeste van oorledenes. Sommige San-groepe verwys ook baie na die maan. Seuns moet hul volwassenheid behaal deur ʼn wilde dier te skiet, verkieslik ʼn eland. Elande word geteken en nageboots wanneer ʼn seun sy eerste bok gejag het, wanneer ʼn meisie se puberteit bereik het en wanneer ‘n huwelik bevestig word. 4

Die San se woonplek

Die San het ook geen kamp in die ware sin van die woord nie. Hierdie klein maar taai mense maak gewoonlik bloot ʼn skuiling as tydelike woonplek. As die groep rus, steek die vrouens soms net ʼn paar stokke of takke in die grond en bedek dit met blare en takke.

Dit staan bekend as ʼn windskerm en ʼn hele klomp daarvan vorm ʼn “werf”. Soms word in die plek van die skerm ook bol- of halfmaanvormige hutte gebou. Die hutte is van ʼn redelike stewige struktuur in teenstelling met die tydelike windskerm.

Die San voel veilig agter hul skerms. Hulle beskerm hulself teen moontlike nagtelike aanvalle van roofdiere soos leeus deur ʼn mengsel van water en poeier wat van ʼn spoordraende plant of swam verkry word en waarvan leeus nie hou nie, naby hulle woonplek te sprinkel. 4

Kalahari, Botswana – ‘n San-vrou berei strooi voor om saam te neem huis toe

Die San en sy kuns

Nie een van die oorblywende San-groepe doen nog rots- of graveerkuns nie, omdat hulle in gebiede bly waar daar nie geskikte rotsoppervlakke is nie, behalwe miskien een of twee soos die Tsodilo-heuwels in die noordweste van die Kalahari.

Klippe is vroeër gebruik om sagte rots mee te verpoeier en daarna is dit met water, bloed, plantsappe of eierwit gemeng. Wit verf is van klei gemaak en om ʼn swart kleur te kry het hulle houtskool gebruik. Die San het nie noodwendig op rotse geskilder om uiting aan kreatiwiteit te gee nie, maar eerder om die visioene te skets van die geesteswêreld wat hulle gesien het as hulle in beswyming was. 4

Die San vandag

Ongelukkig is die San vandag onder die indruk dat hulle primitiewe bestaan moet aanpas by ʼn Westerse leefstyl. Omdat baie groepe nie verblyfreg het nie, is hulle verdryf en het begin leef op die laagste sosiale vlak waar hulle met struikelblokke soos drank, geweld, siekte en prostitusie te make het.

Die San, wat ʼn vreedsame nasie is en al langer as 20 000 jaar bestaan, is aan die uitsterf en binnekort gaan ons net van hulle kan lees of in museums gaan sien. Die San leef vandag feitlik nog net in die noordelike deel van Namibië, in die suide van Angola en in die Kalahari-woestyn.

Slegs ‘n klein deel van die oorblywende San kan volgens hul tradisionele leefstyl vandag leef. Die meerderheid van die San-mense het as gevolg van die moderne kultuur hul tradisies opgesê. Die meeste is vandag arbeiders op plase of werk as natuurbewaarders, terwyl ander staatmaak op staatspensioene as inkomste. Die toerismebedryf maak ook gebruik van die San-mense se kennis van jag en medisinale gebruike van plante. 5

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Augustus 2021 | Bygewerk op 20 Februarie 2024