Vinnige feite

  • Een van die plekke in die wêreld waar dit die meeste reën, is Mount Waialeale in Hawai. Hier reën dit bykans elke dag van die jaar, of sowat 170 cm jaarliks. Een van die droogste plekke op aarde is die Atacama-woestyn in Chili. Dit kry minder as 0,1 cm reën per jaar. In sommige dele van hierdie woestyn het dit honderde jare laas gereën.
  • Water bly langer op sommige plekke as ander. ’n Druppel water kan meer as 3 000 jaar in die oseaan deurbring voordat dit na ’n ander deel van die watersiklus gaan. ’n Druppel water bring gemiddeld 8 dae in die atmosfeer deur voordat dit weer op die aarde val.
  • Reën kom ook op ander planete in ons sonnestelsel voor, maar dit verskil van die reën wat ons hier op aarde ervaar. Die neerslag op Venus is byvoorbeeld gemaak van swaelsuur en vanweë die intense hitte verdamp dit voordat dit die oppervlak bereik. 7
  • Die hoogste reënvalsyfer wat nog ooit binne 24 uur aangeteken is, is 182,5 cm (71,9 dm) in Foc-Foc, op die Réunion-eiland. Dit het tydens die tropiese sikloon Denise op 8 Januarie 1966 plaasgevind. Die meeste reën wat tot nog toe in een jaar aangeteken is, is 25,4 m (1 000 dm) in Cherrapunji, Indië. 8
  • Sommige mense gaar reën in ’n reënwatertenk op. Mense gebruik reënwater vir drinkwater, om plante mee nat te maak, vir huisskoonmaak of om in te was. Onthou, dit is nie altyd veilig om reënwater te drink nie. Dit kan bakterieë, parasiete, virusse en chemikalieë bevat wat mense kan siekmaak.
Foto: iStock

Water het drie vorme. Dit kan ’n vloeistof wees, ’n vaste stof wat ys genoem word, of ’n gas wat waterdamp of stoom genoem word. Neerslag is die vloeibare vorm van water wat in druppels uit die lug val. Neerslag kan ook uit die lug val in die vorm van hael, kapok of sneeu.

Neerslag vul mere, damme, riviere en strome. Dit voorsien die vars water wat mense, diere en plante benodig. As dit nie vir neerslag was nie, sou die grootste deel van die aarde ’n woestyn gewees het! 1 As daar egter te veel reën of sneeu val, kan daar gevaarlike oorstromings, modderstortings of sneeustorms plaasvind.

Hoe vorm reën?

Reën is deel van die aarde se eindelose watersiklus. Aan die begin van die siklus verhit sonlig water op die aarde se oppervlak. Die hitte laat die water verdamp en waterdamp word gevorm. Hierdie waterdamp styg in die lug op. Namate die waterdamp afkoel, verander dit weer in water, in die vorm van druppels. Die druppels vorm rondom stof- en ander deeltjies deur middel van kondensasie. 2

Wolke vorm uit groot getalle van hierdie druppels. In ’n wolk kom druppels saam met ander druppels om groter druppels water te vorm. Uiteindelik word die druppels te swaar om in die wolk te bly en hulle val dan op die aarde as reën. Dan begin die watersiklus weer van vooraf.

Soms vries druppels water in die wolke en vorm yskristalle, en soms smelt die yskristalle as hulle na die grond toe val. Dit is nog ’n manier waarop reën vorm.

Soorte reën

Konveksiereën

As die son die aarde se oppervlak verhit, verhit die grond die lug daarbo. Konveksie laat die lug styg en afkoel. Wanneer dit tot op doupunt afkoel, vorm daar wolke en reën volg, wat gewoonlik op plat gebiede voorkom. Hierdie soort reënval veroorsaak dikwels somerbuie en donderstorms. 3

Reliëfreën

Reliëfreën kom gewoonlik voor langs kusgebiede waar ’n heuwel of berg langs die kus loop. As wind vanaf die see ’n berg, heuwel of enige ander “versperring” ontmoet, word dit gedwing om langs die helling op te styg en af ​​te koel. Wanneer lugtemperatuur tot doupunt daal, kondenseer waterdamp om wolke te vorm. Wanneer die wolke nie meer die waterdruppels kan hou nie, begin daar reën op die berg se helling val.

Frontale of sikloniese reën

Frontale reën vind plaas wanneer koel lug en warm vogtige lug in ’n weerfront bymekaarkom. Die minder digte warm lug styg op en kondenseer om wolke te vorm. Hierdie wolke word groter en veroorsaak uiteindelik reën. Op sommige plekke in die noordelike gematigde sone kom die kouefront meestal uit die noordweste en die warmfront uit die suidweste.

Wat is suurreën?

Reën spoel stof en vuilgoed uit die lug uit. Maar reën self is nie altyd suiwer nie. Soms word besoedelde chemikalieë van motors, fabrieke en kragstasies in wolke vasgevang. Die reën van hierdie wolke bevat skadelike chemikalieë. Hierdie besoedelde reën, bekend as suurreën, is skadelik vir plante, diere en mense en kan eiendom beskadig.

Hoe groot is reëndruppels?

Reëndruppels is baie kleiner as wat ons dink! Reëndruppels wissel van 0,01 tot 0,65 cm. 4

Hoe word reën gemeet?

Reën word met toestelle wat reënmeters genoem word, gemeet. Die eenheid waarin ons reën meet, is millimeter. 1 mm reën beteken dat 1 m2 1 liter water ontvang.

Indien dit 10 mm op 1 ha (min of meer 2 rugbyvelde) reën, is dit ongeveer 100 000 liter water.

Hoe vinnig val reëndruppels?

Reëndruppels val teen gemiddeld 3 tot 8 m per sekonde (as daar nie sterk wind is nie). Die snelheid hang af van die grootte van die reëndruppel. Lugwrywing breek reëndruppels op as dit 28 km/h oorskry.

Wat is ’n vloed?

’n Vloed is die gevolg van langdurige swaar reën oor ʼn groot gedeelte van ʼn opvangsgebied en/of sneeu wat smelt – dan oorstroom die rivieroewers. Kitsvloede is skielike oorstromings wat voorkom wanneer vloedwater vinnig opkom sonder enige waarskuwing binne ’n paar uur van swaar reën. Dit kom dikwels voor ná swaar reënval weens stadig bewegende donderstorms. ’n Donderstorm kan winde van tot 160 km/h oplewer. 5

Kitsvloede kom meer dikwels in stedelike gebiede voor. Dit is omdat daar meer harde oppervlaktes soos dakke, paaie, en parkeerterreine is. Reënwater kan nie in die grond wegsak nie en vorm dadelik afloopwater. Riviere se oewers word dan maklik oorstroom.

Wat is weerlig?

Weerlig is ’n vorm van elektrisiteit. Dit gebeur wanneer die negatiewe en positiewe ladings van elektrisiteit in wolke bymekaarkom. Dit gebeur ook wanneer die ys en waterdeeltjies in ’n wolk met mekaar bots. Die negatiewe atome aan die onderkant van die wolk gaan soek na die positiewe atome aan die bokant van die wolk. As hulle bymekaar kom … BOOM! As ’n wolk baie dig gepak is, word dit dikwels ’n donderwolk genoem. 6

Woordbank

opvangsgebied Gebied van waar reënwater in ’n rivier of dam inloop.
chemikalieë Stof wat verkry of gebruik word in chemiese reaksies.
kragstasies Die stelsel wat elektrisiteit deur die hele land vervoer. Dit begin by die steenkoolkragstasie en eindig by die verbruiker.
suurreën Reën wat vol suur is as gevolg van fabrieke of nywerhede. Suur is ’n stof wat skadelik vir mense is.
gematigde Nie baie groot of klein, baie warm of koud, baie vinnig of stadig, ens. nie.
kondenseer Wanneer materie van die gastoestand na die vloeistoftoetstand verander.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is reën?

Hoekom reën dit?

Hoe water in reën verander

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Januarie 2022 | Bygewerk op 9 September 2024