Vinnige feite

Die misterie van miljoene

Wetenskaplikes raam dat daar ongeveer 8.7 miljoen spesies plante en diere bestaan. Daar is wel tot dusver slegs 1.2 miljoen spesies geïdentifiseer en omskryf, waarvan die meeste insekte is. Miljoene ander organismes is dus steeds ’n totale misterie.

Die eerste groeperingstelsel

Aristoteles was ’n Griekse filosoof en denker wat omtrent 2 400 jaar gelede geleef het. Hy het ’n groeperingsisteem ontwerp wat tot omtrent 2 000 jaar ná sy dood nog gebruik is. Hy het alle organismes verdeel in plante en diere. Toe verdeel hy alle diere in dié “met bloed” en dié “sonder bloed”. Laastens is diere verdeel in drie groepe, gegrond op hul manier van beweging: stappers, vlieërs of swemmers.

Kundig met ’n klassifikasiestelsel

In die 1700’s het Carl Linnaeus die klassifikasiestelsel ontwikkel wat organismes klassifiseer op grond van hul ooreenkomste, funksies en verwantskappe met ander organismes. Vandag kan ons deur die gebruik van moderne mikroskope en ons kennis van genetika, organismes baie akkuraat klassifiseer. Op hierdie manier kan ons organismes klassifiseer op grond van die eienskappe wat hulle gemeen het.

Hoe organismes hul wetenskaplike name kry

Carl Linnaeus het ’n spesiale naamgewingstelsel ontwikkel wat binomiale nomenklatuur genoem word, om alle organismes name te gee. Alle organismes het dus twee (bi- beteken twee) woorde in sy naam. Die eerste deel van die naam verwys na die genus waaraan die organisme behoort. Dit word altyd met ’n hoofletter geskryf. Die tweede deel van die naam verwys na die spesie in die genus. Dit word altyd met ’n kleinletter geskryf. Die wetenskaplike naam van die Afrika-olifant is byvoorbeeld Loxodonta africana. Mense behoort aan die genus Homo en aan die spesie sapiens, dus Homo sapiens.

Ongewerweldes oorheers

Van alle diere op aarde is 97% ongewerweldes.

Foto: iStock

Biodiversiteit is ’n term vir die groot verskeidenheid van lewe op aarde asook vir die prosesse wat alles aan die lewe hou. 1 Dit word gesien as die diversiteit ten opsigte van lewende organismes en die verskillende ekosisteme waarin hulle voorkom en in interaksie met mekaar verkeer.

Die term biodiversiteit kan ook verwys na al die spesies in een streek of ekosisteem. Alle lewende dingeplante, bakterieë, diere en mense – word ingesluit onder die term biodiversiteit. 2

Klassifikasie van lewende dinge

Alle lewende organismes word verdeel in koninkryke. Elke koninkryk word verdeel in kleiner groepe wat filums genoem word. Organismes met soortgelyke eienskappe val in dieselfde filum. In elke filum is weer kleiner verdelings wat klasse genoem word en elke klas word verder verdeel in ordes, families, genera en dan spesies. 3

Alle lewende organismes word verdeel in vyf koninkryke

Fungi

Fungi speel ’n baie belangrike rol in die biosfeer omdat hulle dooie organiese materiaal afbreek en die voedingstowwe terugplaas in die grond sodat plante dit kan gebruik. 4 Sommige fungi kan siektes veroorsaak terwyl ander, soos penisillien (’n antibiotikum), baie nuttig is vir die mens. 3

Voorbeelde:

  • Gis waarmee ’n mens kan brood bak en bier en wyn laat fermenteer
  • Broodskimmel (muf)
  • Sampioene
  • Penisillien

Protista 

Alle protista is eukaryotes wat beteken dat dit organismes is met ‘n nukleus en ‘n selmembraan. Dit kan mikroskopies klein wees of so groot as 100 meter lank. Sommige protista kan hul eie kos vervaardig terwyl ander afhanklik is van ander organismes vir voeding. Hierdie organismes plant voort deur middel van verdeling. 7

Voorbeelde:

  • Fitoplankton van die Antarktiese See.
  • Verskillende gekleurde Amoebas.

Bakterieë (Monera)

Bakterieë is eensellige organismes wat gewoonlik nie ‘n nukleus en ‘n selmembraan bevat nie. Dit kan op enige plek voorkom: skadelike bakterieë kan siekte veroorsaak, terwyl sekere bakterieë goeie kwaliteite bevat en noodsaaklik is vir ‘n lewende organisme se voortbestaan. Bakterieë kan onder andere help om materiaal af te breek, asook met die vertering van voedsel in mens en dier se spysverteringskanaal. 7 Organismes in hierdie koninkryk is mikroskopies, wat beteken dat ’n mens dit nie met die blote oog kan sien nie, maar slegs deur ‘n mikroskoop. 3

Voorbeelde:

  • Escherichia coli-bakterieë wat algemeen in die ingewande van diere voorkom.
  • Actinomyces bakterieë wat mondinfeksies veroorsaak.

Diere (Animalia)

Alle diere in die wêreld vorm deel van die diereryk. Daar is twee duidelik onderskeibare groepe diere in die diereryk. 3

Vertebrate (gewerweldes)

Diere wat ’n werwelkolom (ruggraat) het met ’n holte waarin senuweeselle aangetref word, is vertebrate. Hierdie diere het ’n endoskelet. 3

Byvoorbeeld: Dolfyne, honde, perde en bokke.

Alle vertebrata behoort aan een filum, naamlik Chordata.

Vertebrata word onderverdeel in vyf klasse:

Visse

Visse word verdeel in twee groepe:

  • Kraakbeenvisse met skelette wat bestaan uit kraakbeen. Byvoorbeeld: Haaie
  • Beenvisse se skelette is van been gemaak.

Byvoorbeeld: Karpers

Amfibieë

Die woord amfibieë kom van twee Griekse woorde – amphi wat albei beteken en bios wat lewe beteken. ’n Amfibieër is dus ’n dier wat sowel in die water as op die grond kan leef. Amfibieë is ektotermies (koudbloedig – kan nie eie liggaamstemperatuur reguleer nie en is afhanklik van die omgewing vir hitte).

Byvoorbeeld: Paddas

Reptiele

Die meeste reptiele leef op land, hoewel sommiges, soos krokodille en seeskilpaaie, ook gedeeltes van hul lewe in water deurbring. Reptiele is met droë skubbe bedek en is ook ektotermies.

Byvoorbeeld: Akkedisse, slange

Voëls

Voëls kan verdeel word in vlieënde voëls en nie-vlieënde voëls. Voëls wat kan vlieg, het kleiner, vaartbelynde lywe met groter vlerke, terwyl voëls wat nie kan vlieg nie groter lywe het. Voëls lê eiers, soos reptiele. Voëls is endotermies (warmbloedig – gepaardgaande met die opneem of verbruik van hitte).

Byvoorbeeld: Volstruise, pikkewyne (nie-vlieënd); Duiwe, suikerbekkies (vlieënd)

Soogdiere

Soogdiere gee geboorte aan lewende kleintjies en die kleintjies drink melk. Die melk word deur die ma se melkkliere geproduseer. Soogdiere het ook hare op hul liggame en hulle het tande. Alle soogdiere haal asem deur longe en daarom leef die meeste soogdiere op land. Walvisse en dolfyne wat in die water leef, moet na die oppervlak van die water kom om asem te haal. Soogdiere is endotermies.

Byvoorbeeld: Honde, katte, koeie, ape

Invertebrata (ongewerweldes)

Invertebrata het nie ’n skelet van been nie. Dié diere het meestal ’n eksoskelet omdat hulle ’n harde dop het wat hul sagte liggame beskerm. Nie alle invertebrate het egter ’n eksoskelet nie. Alle ongewerweldes is ektotermies. 3

Byvoorbeeld: Sprinkane en krappe

Die invertebrata (ongewerweldes) word verder in verskillende filums verdeel:

Porifera, byvoorbeeld seesponse

Cnidaria, byvoorbeeld jellievisse

Mollusca, byvoorbeeld slakke

Arthropoda, byvoorbeeld insekte, spinnekoppe en krappe

Echinodermata, byvoorbeeld seesterre

Annelida, byvoorbeeld gesegmenteerde wurms soos erdwurms

Platyheilminthes, byvoorbeeld platwurms

Plante

Klassifisering van plante

Plante kan op grond van hul eienskappe vergelyk word. Eienskappe wat vergelyk kan word, is byvoorbeeld: blaargrootte en vorm, of daar blomme is of nie en hoe die blomblare lyk, hoe lank en diep die wortels is, die soort wortelsisteem, ens.

Plante word verder gegroepeer op grond van hul geslagtelike voortplanting. Daar word onderskei tussen plante met sade en plante sonder sade.

Saaddraende plante

Hierdie plante kan sade in blomme of in keëls vorm. Die meeste plante is saadvormend.

Plante wat sade in blomme vorm, word angiosperme genoem.

Byvoorbeeld: Agaphanthas

Plante wat sade in keëls vorm, word gimnosperme genoem.

Byvoorbeeld: Broodboom

Spoordraende plante

Hierdie plante produseer nie saad nie, maar vervaardig spore. Die spore ontwikkel gewoonlik in strukture aan die onderkant van die blare. Nuwe plante ontwikkel en groei uit ’n spoor.

Byvoorbeeld: Varings, mosse, alge

Menslike impak op biodiversiteit

Daar is konstante interaksie tussen organismes en tussen organismes en die omgewing. Wanneer mense in wisselwerking is met die omgewing om hul behoeftes te bevredig, kan mense deur hul optrede ’n negatiewe invloed op die omgewing hê. 5

Die grond, water en atmosfeer word besoedel. Al hierdie dinge kan ’n negatiewe impak op die biodiversiteit van die aarde hê. Dit is belangrik om daadwerklike oplossings te vind om te voorkom dat nog dierespesies en plante uitsterf. 6

Woordbank

ekosisteem ’n Ekosisteem is al die diere en plante in ’n bepaalde gebied en hul verhouding met mekaar en hul omgewing. Dit word gesien as ’n biologiese sisteem met organismes wat saam- en op mekaar inwerk, asook die omgewing waarin dit plaasvind. 1
biosfeer Die biosfeer is die plek op die aarde waar lewe voorkom, insluitende die grond, rotse, water en lug. 3
fermenteer Iets laat staan sodat suiker in alkohol kan omsit. 1

Lees meer oor die mens se invloed op biodiversiteit

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is biodiversiteit?

Verskeie video’s oor biodiversiteit

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Desember 2021 | Bygewerk op 6 Maart 2024