Vinnige feite

J.H. Marais-standbeeld deur beeldhouer Coert Steynberg, Universiteit Stellenbosch
  • Op die kampus van die Universiteit Stellenbosch staan ’n groot standbeeld van Jannie Marais. Die idee vir die oprigting van ’n standbeeld ter ere van Marais het in 1949 by die Raad van die universiteit ontstaan. Die bekende Suid-Afrikaanse beeldhouer Coert Steynberg het dié beeld uit marmer gemaak. Die standbeeld is op 10 Oktober 1950 op die Jan Marais-plein deur Marais se weduwee onthul. Die plein se naam is intussen verander na die Rooiplein. Die woorde op Marais se standbeeld dui op die groot bydrae wat Marais gemaak het. Dit lui: “J.H. Marais, ons weldoener.” 29
  • In 2016 was daar verskeie protesaksies op die kampus van die universiteit waarin sekere mense daarop aangedring het dat die standbeeld verwyder moet word. 30

Jy ken dalk ’n paar Jan van der Merwe-stories, maar het jy al die storie oor Jan Marais gehoor? Hierdie man is eintlik veel meer bekend vir dit wat ná sy dood danksy hom gebeur het, as dit wat hy tydens sy lewe gedoen het.

Jan, of Jannie soos wat baie mense hom genoem het, was ’n parlementslid, boer, besigheidsman en veral ’n weldoener. Hoekom het dié man van Stellenbosch bekend geword as “Jan die Gewer”? En hoekom staan sy standbeeld op die terrein van die Universiteit Stellenbosch? Dié vrae word alles hier beantwoord.

Jeugjare

Johannes Henoch (Jan) Marais is op 8 September 1851 op die familie se plaas Coetzenburg buite Stellenbosch gebore. Hy was die jongste van Petrus Johannes Marais en Johanna Susanna Neethling se tien kinders. Marais het sy opvoeding by Stellenbosch Gymnasium (die voorloper van die Victoria-kollege en Universiteit Stellenbosch) ontvang. 1

Jan op skool

Op die diamantvelde

In Augustus 1870, kort vóór sy negentiende verjaarsdag, verlaat Marais Stellenbosch saam met sy drie broers, Petrus, Abraham en Christiaan, om hul geluk te beproef by die diamantdelwerye aan die oewers van die sameloop van die Vaal- en Oranjerivier. Hier het Christiaan ’n ryk kleim afgepen. 2

Die broers het spoeldiamante gedelf en as eenvoudige delwers gewerk wat aan die begin van hul onderneming die diamante alles self gewas én gesorteer het. 3 Die volgende jaar het die diamantdelwery op Kimberley die Marais-seuns gelok. Dis hier waar een van die rykste diamantvelde in 1871 op die De Beer-broers se plaas Vooruitzicht gevind is. 4

In Kimberley het die Marais-broers hul suksesvolle vennootskap uitgebrei en talle kleims op die diamantryke Colesbergkoppie opgekoop. 5 Dié koppie is later so diep gemyn dat ’n reusegat ontstaan het – ons ken dit vandag as Kimberley se Groot Gat.

Kimberley markplein 1888

Die broers het baie suksesvolle besigheidsmanne geword. Hulle het nie net diamante gedelf nie, maar ook verskeie plase gekoop en in ’n stadium 17 plase in die Kimberley-omgewing besit. 6 Hulle het aandele in die Kimberley Central Mining Company gehad, en toe die maatskappy in 1888 met De Beers saamgesmelt het om die De Beers Consolidated Mines Ltd. te vorm, het hulle ook aansienlike aandele hierin gehad. 7

Jannie Marais was bekend as ’n vernuftige planmaker in die ondernemings waarby hy betrokke was – hierdie eienskap was sy lewe lank een van sy bekendste eienskappe. 8

Terug na die Boland

In 1892, 22 jaar nadat die Marais-broers noord getrek het agter diamante aan, keer Jannie Marais terug na die Boland. Teen dié tyd was hy ’n vermoënde man. 9

Sy ma sterf in Januarie daardie jaar en teen Maart 1893 neem Jannie en sy broer Frederik die plaas Coetzenburg oor as gesamentlike eienaars. 10 In 1905 trou Jannie met Elizabeth Johanna Hendrika de Villiers en ’n jaar later koop hy Frederik se aandeel in Coetzenburg uit en bou die plaas uit tot ’n baie suksesvolle boerdery. 11

Jannie Marias Huis

Jannie het ook verskeie ander plase elders in die Kaapprovinsie, sowel as in die Vrystaat en Transvaal, besit. Op Coetzenburg was nagenoeg 60 000 wingerdstokke waaruit sowat 100 leggers (omtrent 60 000 ℓ) wyn gemaak is.

Coetzenburg is as ’n gemengde boerdery bedryf en buiten vir die wingerde was daar ook sowat 400 vrugtebome, koring-, hawer-, lusern- en mielielande, ’n klein melkery met jersey- en frieskoeie, ’n aantal perde en selfs springbokke. 12

In die huwelik bevestig met Elizabeth Johanna Hendrika de Villiers

In die jare sedert Jannie se terugkeer na die Boland, het hy by verskeie sakeondernemings in die Kaap betrokke geraak. Hy maak ook ’n naam vir homself in die politiek en word ’n gewaardeerde gemeenskapsleier. 13

Jannie se sakebelange was uiteenlopend en hy was, onder meer, die medestigter van die Lion Distillery op Vlottenburg, direkteur van die Malmesbury Voogdy- en Assuransiemaatskappy en ook direkteur van die Stellenbosse distriksbank. 14

Hy het voorts ook gedien op die bestuur van die plaaslike hospitaalraad sowel as verskeie ander rade. 15

Jannie het ook sy merk in die politiek aan die Kaap gemaak en is in 1899 as kandidaat van die Afrikanerbond gekies tot lid van die Kaapse wetgewende vergadering vir Stellenbosch. Met Uniewording in 1910 word hy lid van die Unievolksraad – ’n posisie wat hy tot met sy dood in 1915 beklee het. 16

Op 30 Mei 1915 sterf “Oom Jannie” Marais op Montagu. In daardie stadium was die Eerste Wêreldoorlog aan die gang, die Rebellie van 1914 het misluk en die Afrikanergemeenskap was aan die stry vir ’n plek vir Afrikaans. Danksy Jannie het Afrikaans ’n plek gekry en kan daar vandag nog gewerk word in en vir Afrikaans.

Jannie is op 3 Junie 1915 in Stellenbosch begrawe. Sy vrou is in Augustus 1953 oorlede. Die egpaar het nie kinders gehad nie. 17

Jannie die weldoener 

Jannie se liefde vir Stellenbosch, sy taal (Hollands – en Afrikaans wat daaruit tot stand gekom het) en hoër onderwys is duidelik in die skenkings wat hy gemaak het terwyl hy nog geleef het én dit wat hy in sy testament bemaak het. Hy was ’n regte weldoener!

Hieronder volg ’n paar van die belangrikste skenkings wat Jannie gemaak het:

  • Hy was van 1914 tot 1915 deel van ’n Stellenbosse groep wat hulle vir die stigting van ’n Afrikaanse koerant beywer het. Die oprigting van die Kaapse koerant De Burger (later bekend as Die Burger) en die stigting van Nasionale Pers het hierop gevolg – iets wat waarskynlik nie moontlik sou wees sonder Jannie se hulp nie. Hy het borg gestaan vir ’n groot bedrag wat benodig was vir die aankoop van die koerant se drukpers. Die eerste uitgawe van dié koerant het egter eers twee maande ná Jannie se dood verskyn. 18
  • Jannie en sy broers Christiaan en Frederik het aansienlike bydraes tot die uitbou van die Victoria-kollege gemaak. Hulle het, onder meer, medaljes vir studente se prestasie in Hollands gegee. Dit is in 1898 in beurse en in 1902 in ’n leningsfonds omskep. Uiteindelik is sowat £70 000 in die fonds gestort. 19 Die broers het ook die oprigting van verskeie van die kollege se geboue finansier en bygedra tot die aankoop van die instelling se sportgronde. 20
  • In Jannie se testament is onder meer voorsiening gemaak vir die bou van ’n stadsaal in Stellenbosch en die aanlê van ’n park (tans bekend as die Jan Marais Natuurreservaat) in Stellenbosch. Bemakings is ook aan die NG kerk Stellenbosch (vandag die Moedergemeente), die Instituut vir Dowes en Blindes op Worcester en die Queen Victoria Gedenkhospitaal (voorganger van die Stellenbosch-hospitaal) gemaak. 21
  • Twee trusts is ingevolge Jannie se testament opgerig, naamlik Het Jan Maraisfonds (ter waarde van £100 000) en Het Jan Marais Nationale Fonds (£40 000). Die eersgenoemde fonds was veral opspraakwekkend en is geskep vir die vestiging van ’n universiteit in Stellenbosch – hiermee het hy toegesien dat “selfs indien hy te sterwe sou kom, sy ideaal van ’n Afrikaanse universiteit nie vernietig sou word nie”. 22 Die res van sy boedel (nagenoeg £40 000) is in ’n trust gestort. Dié bedrag is gebruik vir die oprigting van die Het Jan Marais Nationale Fonds. 23
Stadsaal, Stellenbosch

Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF)

Dié fonds is volgens Jannie se testament geskep “vir en ter bevordering van die nasionale belange van die Hollandssprekende bevolking van Suid-Afrika in enige deel van die Unie, maar veral in die dorp en distrik van Stellenbosch”. 24

Daar word vandag nog waardevolle steun vir die behoud en uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur deur dié fonds gegee. Teen 2015 was die fonds sowat R1 miljard sterk. 25

Die HJMNF skenk steeds jaarliks miljoene rande aan Afrikaanse instellings oral in Suid-Afrika insluitende skole, tehuise vir bejaardes en gestremdes en kunsteprojekte in Stellenbosch. 26

Jan H. Marais-prys

In 2015 is die Jan H. Marais-prys geskep om erkenning te gee aan mense wat ’n uitsonderlike bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal lewer deur wetenskaplike werk en publikasies in Afrikaans te skep. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns administreer dié prys wat jaarliks toegeken word.

Die prys is in 2016 vir die eerste keer toegeken. Teen 2022 was die wenners van dié gesogte prys soos volg:

  • 2016: Hermann Giliomee
  • 2017: Jan van der Watt en Jaap Steyn
  • 2018: Marinus Wiechers en Christo van Rensburg
  • 2019: Fransjohan Pretorius
  • 2020: Jean Christoph Sonnekus
  • 2021: Ina Wolfaardt-Gräbe en Hennie van Coller

Buiten ’n finansiële prys, ontvang wenners ook die Helpende Hand-beeld wat oorspronklik in 1950 deur die beeldhouer Coert Steynberg geskep is in opdrag van Jannie se vrou. Hermann Giliomee was in 2016 die eerste ontvanger van dié beeldjie. 27

Wat sê ander van “Oom Jannie”

“Oom Jannie – soos hy in sy later lewe vir een en almal op Stellenbosch was – het, sy groot vermoë ten spyt, altyd die toonbeeld van eenvoud, opregtheid en nederigheid gebly. Of ’n man ryk was of arm, wit of gekleurd, dit het vir hom geen saak gemaak nie; teenoor almal was hy vriendelik en hartlik,” 28 aldus prof. HB Thom, voormalige rektor en oudpresident van die Konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch.

Woordbank

beeldhouer ’n Persoon wat beelde maak.
diamantvelde ’n Gebied waar diamante gevind word.
drukpers ’n Masjien wat gebruik word om afdrukke op papier te maak, veral vir koerante, boeke en tydskrifte.
kleim ’n Stuk grond waarin moontlik waardevolle minerale of edelstene (soos diamante of goud) kan wees. 31
leggers ’n Historiese Nederlandse inhoudsmaat wat veral in die wynbedryf gebruik is. Dit is ook algemeen in die Kaapkolonie gebruik. Een legger is gelykstaande aan sowat 600 ℓ. 32
vernuftige Talentvol of vindingryk.
vermoënde Ryk of welgesteld. 33
weldoener Iemand wat goed doen aan ander, ook genoem ’n filantroop.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk die volgende video’s om nog meer te leer

Die Het Jan Marais Nationale Fonds

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 Oktober 2022 | Bygewerk op 18 September 2024